Waarom met hout bou?
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN JAPAN
DIE 22 uivormige koepels van ’n houtkerk glinster soos silwerkleurige visskubbe in die koel son van noordwestelike Rusland. As jy die koepels van naderby beskou, sien jy dat dit bedek is met duisende houtteëls, wat nou deur die tyd verweer is. Hierdie houtgebou op ’n eiland in die Onega-meer trotseer die land se strawwe winters al byna driehonderd jaar lank. Stilswyend getuig dit van die verbasende duursaamheid van hout.
Ander geboue lewer selfs ’n kragtiger getuienis. Dwarsdeur noordelike Europa is daar houtstrukture wat al baie langer in gebruik is. Die handewerk van die Noorweërs wat omstreeks die 12de eeu ’n ruk lank met feitlik niks anders as hout gebou het nie, kan byvoorbeeld nou nog oral op die platteland gesien word. In Engeland staan daar ’n houtgebou wat omstreeks 1013 naby Ongar, Essex, opgerig is en nog steeds die gure weer trotseer. Maar blykbaar is die oudste van hulle almal ’n houttempel in Japan wat eeue ouer is.
Die oudste houtgebou
Hoe is dit moontlik dat hierdie Horjoedji-tempel van hout al so lank kan bestaan? Dit is hoofsaaklik weens die oorspronklike skrynwerkers se voortreflike kennis van hout. Hulle het geweet watter hout om te kies en watter dele om vir bepaalde doeleindes te gebruik. In hierdie geval was hulle keuse hinoki (Japannese sipres), wat ten minste duisend jaar gegroei het voordat dit afgekap is.
Meesterskrynwerker Tsoenekazoe Nisjioka, wat onlangs oorlede is, het ’n groot deel van sy lewe aan herstelwerk aan die tempel bestee. Hy het gesê dat die spykers—wat op dieselfde manier as die samoeraiswaarde deur middel van herhaalde hamer-en-verhittingstegnieke gemaak is—ook ’n belangrike rol in die tempel se lang lewensduur gespeel het. Met die herstelwerk is die ou spykers gebruik, want, soos hy gesê het, “vandag se spykers hou nie 20 jaar nie”.
Party betwyfel dit dalk dat die Horjoedji-tempel werklik 1300 jaar oud is, aangesien 35 persent daarvan in hierdie eeu vervang is. Baie van die hoofpilare, hoofbalke en daklyste is egter van die oorspronklike hout. Nisjioka het gesê: “Ek dink dat die tempel nog 1000 jaar sal staan.”
Met hout van hierdie gehalte wat oral om hulle gegroei het, is dit geen wonder dat die eertydse Japannese so ’n liefde vir timmerhout ontwikkel het nie. Selfs vandag toon hulle huise dat hierdie liefde oorgedra is.
Japannese huise
Aan die binnekant word heelwat hout gebruik, maar dit word nie geverf nie. Pilare, deure, meubels, ensovoorts word só afgewerk dat die natuurlike grein en kleur bewonder kan word. Houtplanke op die veranda word glad nie afgewerk nie. Die onafgewerkte hout vorm ’n natuurlike skakel met die bome en struike in die tuin. Dit bereik ’n effek van harmonie en kalmte eerder as een van stimulasie.
Baie Japannese sê dat dít die soort huis is wat hulle droom om te besit. Timmerhout van goeie gehalte om so ’n huis te bou, is egter nou gans te duur vir die gewone werker. Nogtans hou die Japannese daarvan om hout te gebruik waar hulle kan, want die geskiedenis het hulle geleer dat hout nie net goed lyk nie, maar ook geskik is vir hulle omgewing, met sy herhaalde aardbewings, tifone, warm vogtige somers en koue winters.
Hout is van groot nut vir lande waar aardbewings algemeen voorkom, aangesien dit onder spanning geredelik buig en draai, terwyl boumateriale soos steen sal kraak. Nog uitstekende eienskappe van hout is dat dit vog behou en ’n goeie isoleerder is. Ondanks die reën en klammigheid van Junie tot Augustus in Japan verrot die huise nie. Hout is aanpasbaar en verskaf ’n mate van gemak gedurende hierdie tyd, want dit kan vog uit die lug absorbeer en agterna uitdroog. Maar hout is vir die gewone mens om heeltemal ander redes aantreklik.
Die prag van hout
Dwarsdeur die wêreld kies die meeste mense hout weens die voorkoms daarvan. Albert Jackson en David Day verduidelik in hulle Collins Good Wood Handbook: “Aangesien hout ’n natuurproduk is, is elke stuk uniek. Elke stuk hout wat van ’n boom of selfs van dieselfde plank geneem word, sal verskillend wees. Dit kan dieselfde sterkte of kleur hê, maar nie dieselfde greinpatroon nie. Dit is hierdie verskille in karakter, sterkte, kleur, bewerkbaarheid en selfs reuk wat hout so aantreklik maak.”
Waarom is daar so ’n verskil in houtgreine? Wel, om mee te begin, terwyl sommige bome ’n reguit grein vorm, vorm ander ’n kwasterige grein, en nog ander ’n golf- of selfs krulgrein. En terwyl bome groei, draai of verander hulle dikwels hulle groeirigting, maak hulle takke en kom en gaan insekte. Dit alles het interessante patrone tot gevolg. Boonop lyk die patroon anders na gelang van die rigting waarin die hout gesny word. ’n Rooibruin houtsoort wat só gesny word dat dit ’n duidelike patroon van amperswart strepe het, word sebrahout in sommige lande genoem en tierhout in ander.
Die prag van hout word verder verhoog deur die ontsaglike kleurverskeidenheid daarvan. Nie alle houtsoorte is bruin nie. Swart kernhout van die ebbeboom kom van Indië en Sri Lanka, rooi tot purperbruin kamhout van Wes-Afrika en dieprooi mahoniehout van Sentraal- en Suid-Amerika. Die helder oranjerooi brasielhout, wat ná blootstelling tot ’n diep rooibruin verander, is van Brasilië afkomstig. Party houtsoorte is groen en party is pienk. Alaska voorsien die liggeel hout van die geelseder, en die Europese valsplataan is selfs ligter. Aan die end van die spektrum is die withoutsoorte, so lig dat dit byna kleurloos is.
Baie mense hou ook van die reuk van hout. Sipreshout het ’n aangename reuk en is deur Salomo se skrynwerkers gebruik om die tempelvloer te belê (1 Konings 6:15). Dalk het die reuk van die sipreshout die lug gevul en soms met dié van die reukwerk vermeng (2 Kronieke 2:4). Sipreshout is nie net bekend vir sy aangename reuk nie, maar ook omdat dit duursaam is en teen verrotting bestand is.
Daar kan nog baie meer tot lof van hout gesê word. Dit het soveel voortreflike eienskappe dat ons dalk wonder of enigiets daarteen gesê kan word.
Hout—’n gawe
Dit is waar dat nie alle houtsoorte teen peste bestand is nie, en ook is nie almal teen verrotting bestand of hou hulle honderde jare lank nie. ’n Brand is die grootste bekommernis wanneer daar met hout gebou word. Maar in intense hitte verkool hardehout stadig, verloor dit sy sterkte stadig en neem dit langer as staal om ineen te stort. Vandag is daar egter min huise wat die swaar houtbalke en -pilare van vroeër het. Daarom sal ’n mens ’n brandende huis so gou moontlik moet verlaat.
Hout is nie ’n minderwaardige, swak boumateriaal nie. Inteendeel, hout wat reg gekies en behandel word, kan ’n goed geïsoleerde gebou word wat honderde jare lank gebruik kan word. Sommige kenners beweer dat hout nooit sal verrot as ons dit behoorlik versorg nie. Hoe dit ook al sy, hout is gewis een van die voortreflikste boumateriale wat die Skepper ons gegee het.
[Prent op bladsy 17]
Uivormige koepels van ’n houtkerk op ’n eiland in die Onega-meer
[Erkenning]
Tass/Sovfoto
[Prente op bladsy 18]
Die Horjoedji-tempel van hout in Japan