Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 1/22 bl. 3-8
  • Ons vernielde aarde—Die aanslae tref talle gebiede

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons vernielde aarde—Die aanslae tref talle gebiede
  • Ontwaak!—1993
  • Soortgelyke materiaal
  • Die voordele van die reënwoude
    Ontwaak!—1998
  • Waarom die reënwoude red?
    Ontwaak!—1990
  • Wanneer ons atmosfeer beskadig word
    Ontwaak!—1994
  • Die dienste wat woude lewer—Hoe waardevol is dit?
    Ontwaak!—2003
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 1/22 bl. 3-8

Ons vernielde aarde—Die aanslae tref talle gebiede

DIE Aardeberaad oor die omgewing is in Junie verlede jaar in Rio de Janeiro, Brasilië, gehou. Om daarmee saam te val, het India Today daardie selfde maand ’n hoofartikel gepubliseer wat deur sy mederedakteur, Raj Chengappa, geskryf is. Die titel was “Die gewonde aarde”. Sy eerste paar paragrawe het ’n aanskoulike prentjie geskilder:

“Toe Edgar Mitchell in 1971 aan boord van die Apollo 14 maan toe gevlieg het, het sy eerste vlugtige blik wat hy vanuit die ruimte op die aarde gekry het hom in vervoering laat raak. ‘Dit lyk soos ’n skitterende blou en wit juweel . . . Met wit kantsluiers wat stadig daarom warrel . . . Soos ’n klein pêreltjie in ’n digte swart see van geheimsinnigheid’, was sy gevoelvolle beskrywing wat hy na Houston toe teruggesein het.

“As Edgar Mitchell nou, 21 jaar later, na die ruimte toe teruggestuur sou word, hierdie keer met ’n spesiale bril waarmee hy die onsigbare gasse van die aarde se atmosfeer sal kan sien, sal ’n heeltemal ander gesig hom begroet. Hy sal reusagtige gate in die beskermende osoonlaag oor Antarktika en Noord-Amerika sien. Pleks van ’n skitterende blou en wit juweel sal hy ’n vaal, vuil aarde vol donker, warrelende koolstof- en swaeldioksiedwolke sien.

“As Edgar Mitchell sy kamera sou uithaal en foto’s van die aarde se bosbedekking sou neem en dit met dié vergelyk wat hy in 1971 geneem het, sal hy verstom wees oor hoe dit gekrimp het. En as hy sy spesiale teleskoop sou uithaal sodat hy die vullis in die aarde se waters kan ondersoek, sal hy stroke gifstowwe sien wat kruis en dwars deur die landmassas sny en donker teerbolle wat groot dele van die seebodem bedek. ‘Houston’, sou hy teruggesein het, ‘wat op aarde het ons aangevang?’

“Ons hoef in werklikheid nie 36 000 km die ruimte in te gaan om te besef wat ons aangevang het nie. Vandag kan ons besoedeling drink, inasem, ruik en sien. Die mens het die aarde binne ’n bestek van 100 jaar, en veral die afgelope 30 jaar, tot op die rand van vernietiging gebring. Deur te veel hittehoudende gasse in die atmosfeer uit te laat, veroorsaak ons verswakte klimaatsveranderinge. Die gasse wat ons yskaste en lugversorgers gebruik, is nou verantwoordelik vir die uitputting van die beskermende osoonlaag, wat ons aan velkanker blootstel en ’n verandering in kleiner diere se geenstrukture teweegbring. Intussen het ons uitgestrekte landstreke verwoes, woude ten koste van onsself tot niet gemaak en voor die voet tonne gifstowwe in riviere en giftige chemikalieë in ons oseane gestort.

“Die vernietiging van die aarde se omgewing is nou die mens se grootste bedreiging. En ’n wêreldwye verandering in handelswyse en gesindhede is nodig om die slagting te stuit.”

Nadat Raj Chengappa talle probleme opgenoem het waaraan die nasies moet aandag skenk om die omgewingsprobleme op te los, het hy sy hoofartikel met hierdie woorde afgesluit: “Dit moet onmiddellik gedoen word. Want dit is nie meer jou kinders se toekoms wat bedreig word nie. Die bedreiging is nóú en hier.”

Die dokters wat die aarde wil genees, sit derhalwe koppe bymekaar. Samesprekings word gevoer, geneesmiddels word voorgestel, maar die “dokters” kan nie met mekaar saamstem nie. Hulle stry. ‘Die aarde is nie werklik siek nie’, sê party. ‘Hy lê op sy sterfbed!’ roep ander uit. Die retoriek neem toe, die geneesmiddels raak meer, die dokters sloer, terwyl die pasiënt se toestand versleg. Niks word gedoen nie. Hulle moet meer navorsing doen. Hulle skryf voorskrifte uit wat nooit toeberei word nie. Helaas! Soveel daarvan is net ’n taktiek om alles te vertraag sodat die besoedeling kan voortduur en die winste kan toeneem. Die pasiënt ontvang nooit die medisyne nie, sy siekte vererger, die krisis raak ernstiger en die aarde word steeds verniel.

Die aarde en lewe daarop is baie kompleks en vorm ’n ingewikkelde geheel wat onlosmaaklik verbonde is. Daar is al van die miljoene lewende wesens wat onderling verbonde is as die web van die lewe gepraat. Sny een draadjie en die web kan begin losrafel. Stoot een dominosteentjie om en tientalle ander sal omval. Dit word toegelig wanneer ’n tropiese reënwoud afgekap word.

Deur fotosintese gebruik die reënwoud die koolstofdioksied in die lug en stel dit suurstof vry. Dit neem groot hoeveelhede reënwater op, maar gebruik baie min om sy voedsel te produseer. Die meeste daarvan word as waterdamp in die atmosfeer hersirkuleer. Daar vorm dit nuwe reënwolke vir verdere reënval wat nodig is vir die reënwoud en die miljoene lewende plante en diere wat hy onder sy groen wouddak voed.

Dan word die reënwoud afgekap. Die koolstofdioksied bly soos ’n kombers daaroor hang om die son se hitte binne te hou. Min suurstof word tot nut van die diere by die atmosfeer gevoeg. Min reën word weer vir verdere reënval hersirkuleer. In plaas daarvan spoel die bietjie reën wat val die grond weg na riviere en neem dit die bogrond saam wat nodig is vir die hergroei van plante. Riviere en mere word vol modder en visse sterf. Slik word na die see toe afgevoer en bedek tropiese riwwe, wat dan sterf. Miljoene plante en diere wat vroeër onder die groen wouddak gefloreer het, verdwyn, die swaar reëns wat die land vroeër van water voorsien het, neem af en die aarde verander stadigaan in ’n woestyn. Onthou, die groot Saharawoestyn in Afrika was vroeër groen, maar hierdie grootste uitgestrekte sandvlakte op aarde strek nou tot in dele van Europa.

By die Aardeberaad het die Verenigde State en ander welvarende lande op Brasilië en ander ontwikkelende lande druk uitgeoefen om hulle te probeer keer om hulle reënwoude af te kap. “Volgens die Verenigde State”, sê ’n berig in die New York Times, “word woude, veral tropiese woude, in die ontwikkelende lande teen ’n verontrustende tempo tot niet gemaak en sal die hele planeet aan die verloorkant wees. Die Verenigde State sê woude is ’n wêreldwye aanwins wat die klimaat help reguleer deur hittehoudende koolstofdioksied te absorbeer en dit is die bewaarplek vir ’n groot deel van die wêreld se lewende spesies.”

Die ontwikkelende nasies het die Verenigde State gou van skynheiligheid beskuldig. Volgens The New York Times “voel hulle gegrief oor dit wat hulle as ’n poging beskou om hulle soewereiniteit in te kort, en dit deur lande wat hulle eie bome al lank gelede weens winsmotiewe afgekap het, maar wat nou die grootste deel van die las van wêreldwye woudbewaring aan lande wil oplê wat sukkel om ekonomies voort te bestaan”. ’n Maleise diplomaat het reguit gesê: “Ons bewaar beslis nie ons woude vir dié wat hulle eie woude vernietig het en nou op ons s’n wil probeer aanspraak maak as deel van die mensdom se erfenis nie.” In die Pasifiese Noordweste het die Verenigde State nog net 10 persent van sy ou reënwoude oor en dit word steeds afgekap, maar hy wil hê dat Brasilië, wat nog 90 persent van sy Amasonewoude het, alle afkappery moet staak.

Diegene wat vir ander preek: ‘Moenie julle woude vernietig nie’, selfs al vernietig hulle hulle eie, laat ’n mens dink aan diegene wat in Romeine 2:21-23 beskryf word: “Jy dan, wat ’n ander leer, leer jy jouself nie? Jy wat preek dat ’n mens nie mag steel nie, steel jy? Jy wat sê dat ’n mens nie owerspel mag pleeg nie, pleeg jy owerspel? Jy wat ’n afsku van die afgode het, pleeg jy tempelroof? Jy wat jou op die wet beroem, onteer jy God deur die oortreding van die wet?” Of as dit op die omgewing toegepas word: ‘Jy wat preek dat ’n mens nie jou woude mag afkap nie, kap jy jou eie woude af?’

Iets wat ten nouste gekoppel is met die vernietiging van woude is die besorgdheid oor die verwarming van die aarde. Die chemiese en warmtedinamika is kompleks, maar een chemikalie in die atmosfeer wat veral kommer wek, is koolstofdioksied. Dit is ’n belangrike faktor wat tot die verwarming van die aarde bydra. Navorsers van die Byrd Polar-navorsingsentrum het verlede jaar gesê dat “alle berggletsers wat op ’n lae en gemiddelde hoogte geleë is nou smelt en kleiner word—party van hulle smelt taamlik vinnig—en die ysrekord wat in hierdie gletsers vervat word, toon dat die afgelope 50 jaar baie warmer as enige ander 50-jaartydperk was” wat opgeteken is. Te min koolstofdioksied kan kouer weer teweegbring; te veel daarvan kan polêre yskappe en gletsers laat smelt en kusdorpe laat oorstroom.

India Today het oor koolstofdioksied gesê:

“Dit maak moontlik net ’n klein deeltjie van die atmosferiese gasse uit: altesaam 0,03 persent. Maar sonder koolstofdioksied sal ons planeet so koud soos die maan wees. Deur die hitte vas te keer wat deur die aarde se oppervlak uitgestraal word, reguleer dit die aarde se temperature ooreenkomstig ’n lewensonderhoudende temperatuur van 15 grade Celsius. Maar as die hoeveelheid koolstofdioksied toeneem, kan die aarde ’n reusesauna word.

“Te oordeel na die inligting wat van wêreldwye weermonitorstasies verkry word, is die aarde waarlik besig om te verwarm. Die tagtigerjare het die sewe warmste somers gesien sedert daar ongeveer 150 jaar gelede begin is om weerstoestande op te teken. Die klaarblyklike oorsaak: daar is nou sedert die industriële omwenteling 26 persent meer koolstofdioksied in die atmosfeer.”

Die 1,8 miljard ton koolstofdioksied wat jaarliks deur die verbranding van fossielbrandstof vrygelaat word, is blykbaar die oorsaak. By die onlangse Aardeberaad was die verwagte verdrag om groter beheer oor die vrylating van koolstofdioksied uit te oefen so afgewater dat dit na bewering die klimatoloë wat aanwesig was se “temperature opgejaag het”. Een van hulle was so kwaad dat hy gesê het: “Ons kán net nie aangaan asof niks gebeur het nie. Dit is ’n onbetwisbare feit dat die wêreld se gasbankrekening nie meer balanseer nie. Iets moet gedoen word of ons sal binnekort miljoene omgewingsvlugtelinge op ons hande hê.” Hy het van dié gepraat wat uit hulle oorstroomde tuislande sal moet vlug.

Nog ’n dringende aangeleentheid is die sogenoemde gate in die osoonlaag wat die aarde teen ultravioletstrale beskerm wat kanker veroorsaak. Die hoofoorsaak is CFK’s (chloorfluoorkoolstowwe). Dit word gebruik vir verkoeling, lugversorging, in skoonmaakmiddels en in spuitmiddels om skuimplastiek mee te maak. In baie lande word dit steeds deur aërosolspuitstowwe vrygestel. Wanneer dit die stratosfeer bereik, breek die son se ultravioletstrale dit af en suiwer chloor word vrygestel, waarvan elke atoom minstens 100 000 osoonmolekules kan vernietig. In Antarktika sowel as in die noorderbreedtes word gate, dele met drasties verminderde osoonvlakke, in die osoonlaag agtergelaat, wat beteken dat meer ultravioletstrale die aarde bereik.

Hierdie strale vernietig fitoplankton en krille, wat die eerste voedselvlak van die see se voedselketting uitmaak. Dit veroorsaak mutasies in die DNS-molekules wat die genetiese kode van lewensvorme bevat. Dit het ’n uitwerking op gewasse. Die strale veroorsaak oogkatarakte en velkanker by mense. Nadat NASA-navorsers hoë konsentrasies chloormonoksied oor die noordelike gebiede van die Verenigde State, Kanada, Europa en Rusland ontdek het, het een van die navorsers gesê: “Almal behoort verontrus te wees hieroor. Dit is veel erger as wat ons gedink het.” Lester Brown, die president van die Worldwatch-instituut, het gesê: “Wetenskaplikes skat dat ’n verdere 200 000 sterftes weens velkanker gedurende die volgende 50 jaar in die VSA alleen sal voorkom as die osoonlaag in die Noordelike Halfrond gouer uitgeput raak. Miljoene lewens oor die hele wêreld is in gevaar.”

Biodiversiteit, wanneer soveel plante en diere moontlik in hulle natuurlike habitats bewaar word, is nog iets wat tans kommer wek. Die tydskrif Discover het ’n uittreksel gepubliseer uit bioloog Edward O. Wilson se jongste boek The Diversity of Life, waarin hy ’n lys gegee het van duisende voël-, vis- en insekspesies wat uitgesterf het, asook spesies wat gewoonlik as onbelangrik beskou word: “Baie van die uitgestorwe spesies sluit mikorisale fungi in, simbiotiese vorme wat help dat plante se wortelstelsels meer voedingstowwe absorbeer. Ekoloë wonder al lank wat met die grond se ekosisteme sal gebeur as hierdie fungi vernietig word, en ons sal binnekort uitvind.”

In daardie boek het bioloog Wilson ook hierdie vraag oor die belangrikheid van die bewaring van spesies gevra en dit toe beantwoord:

“Watter verskil maak dit as party spesies uitgewis word, as selfs die helfte van alle spesies op aarde verdwyn? Kom ek sê vir julle. Nuwe bronnemateriaal van wetenskaplike inligting sal verlore gaan. ’n Magdom van moontlike biologiese kennis sal vernietig word. Onbekende geneesmiddels, gewasse, farmaseutiese produkte, hout, vesels, pulp, plantegroei wat die grond se toestand herstel, vervangingstowwe vir petroleum asook ander produkte en geriewe sal nooit aan die lig kom nie. In party kringe is dit die gebruik om wat klein en onopvallend is, die insekte en onkruid, as onbelangrik te beskou en te vergeet dat ’n nietige mot van Latyns-Amerika voorkom het dat kaktus te geil groei in Australië se weivelde, dat die tropiese maagdeblom genesing gebied het vir Hodgkin se siekte en vir limfositiese leukemie tydens die kinderjare, dat die bas van die Pasifiese taksus hoop vir diegene inhou wat eierstok- of borskanker het, dat ’n chemikalie in bloedsuiers se speeksel bloedklonte gedurende chirurgie oplos, en so kan die lys aanhou wat reeds lank en luisterryk is ondanks die min navorsing wat daaraan bestee is.

“Dit is ook maklik om die nut wat ekosisteme vir die mens inhou oor die hoof te sien. Dit verryk die grond en bring die einste lug voort wat ons inasem. Sonder al hierdie nuttige dinge sal die mens se voortbestaan op aarde onaangenaam en kortstondig wees.”

Soos die spreekwoord sê—wat al deur herhaling holrug gery is net omdat dit so gepas is—is die voorafgaande inligting net die punt van die ysberg. Wanneer sal die vernieling van die aarde ophou? En wie sal dit beëindig? Die volgende artikel verstrek die antwoorde.

[Lokteks op bladsy 4]

Die groot Saharawoestyn in Afrika was vroeër groen

[Lokteks op bladsy 5]

‘Jy wat preek dat ’n mens nie jou woude mag afkap nie, kap jy jou eie woude af?’

[Lokteks op bladsy 5]

Te min koolstofdioksied—kouer weer

Te veel daarvan—smeltende gletsers

[Lokteks op bladsy 6]

“Watter verskil maak dit as party spesies uitgewis word?”

[Lokteks op bladsy 6]

Sonder mikroörganismes sal die mens se voortbestaan op aarde kortstondig en onaangenaam wees

[Prente op bladsy 7]

Die ongerepte skoonheid van die Amasonereënwoud

Nog ’n reënwoud nadat dit deur die mens geskend is

[Erkennings]

Abril Imagens/João Ramid

F4/R. Azoury/Sipa

[Prent op bladsy 8]

’n Giftige chemiese stortplek wat die lug, water en grond besoedel

[Erkenning]

Feig/Sipa

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel