Die dienste wat woude lewer—Hoe waardevol is dit?
WOUDE bedek nog steeds een derde van die aarde se landoppervlak, maar daardie syfer word al hoe kleiner. Choices—The Human Development Magazine, uitgegee deur die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram, het in 1998 gesê dat daar elke jaar in die ontwikkelende wêreld alleen “tot 4 miljoen hektaar land—’n gebied so groot soos Switserland—ontbos word”.
Waarom ontbossing ’n paradoks is
Party deskundiges sê dat voortgesette ontbossing ’n paradoks is. Dit is omdat woude nog steeds vir ekonomiese redes afgebrand en afgekap word. Tog, soos een gesaghebbende bron sê, is woude “baie meer werd as hulle staan, as wanneer hulle afgekap of afgebrand word”. Hoe so?
Dr. Philip M. Fearnside en dr. Flávio J. Luizão, navorsers by die Nasionale Instituut vir Navorsing in die Amasone, in Manaus, Brasilië, het vir Ontwaak! gesê dat die reënwoude wat nog staan, “dienste aan die wêreld” lewer, soos hulle dit stel. Hierdie dienste behels die absorbering en berging van koolstofdioksied (’n kweekhuisgas), die voorkoming van grondverlies en oorstromings, die herwinning van voedingstowwe, die regulering van reënval, die voorsiening van ’n tuiste aan bedreigde diere en die beskerming van wilde plantgewasse. Woude maak dit ook moontlik om fassinerende natuurtonele te sien en bied ’n plek vir ontspanning. Al hierdie omgewingsdienste het, volgens die navorsers, ekonomiese waarde.
Dink byvoorbeeld aan ’n woud se vermoë om koolstof te berg. Wanneer die woud afgekap word, beland koolstof wat deur die bome vrygestel word nadat dit afgekap is, uiteindelik in die vorm van koolstofdioksied in die atmosfeer, en dit dra by tot aardverwarming. Die geskatte ekonomiese waarde van die woude se “diens aan die wêreld”, naamlik die berging van koolstof, kan bereken word deur vas te stel wat dit kos om koolstofvrylating wat deur mense veroorsaak word, te verminder.
Volgens Marc J. Dourojeanni, ’n omgewingsadviseur by die Brasiliaanse kantoor van die Inter-Amerikaanse Ontwikkelingsbank, toon sulke berekeninge dat “die waarde van woude as koolstofbergplekke baie groter is as die inkomste wat dit deur houtkappery en landbou lewer”. Tog word al hoe meer woude afgekap. Waarom?
’n Dryfveer om te bewaar
Dink aan hierdie vergelyking: ’n Groep mense besit ’n elektriese kragstasie. Die stasie voorsien elektrisiteit aan die omliggende dorpe, maar die verbruikers betaal nie een sent as vergoeding nie. Ná ’n ruk redeneer die eienaars daaroor: ‘Om die stasie toe te maak, al die toerusting uit te haal en dit teen ’n wins te verkoop, maak ekonomies meer sin as om ’n stasie te behou wat niks geld maak nie.’ Party amptenare in woudryke lande dink blykbaar ook so. Aangesien die wêreld se verbruikers nie vir die dienste betaal wat deur woude voorsien word nie, maak dit ekonomies meer sin om die woude af te kap (die kragstasie se toerusting as ’t ware uit te haal) en die bome te verkoop (die toerusting te verkoop) om ’n vinnige, vet wins te maak—of so redeneer hulle.
Die enigste manier om hierdie neiging om te keer, sê Dourojeanni, is om dit ekonomies aanloklik te maak om ’n woud te bewaar. Een idee, wat deur professor doktor José Goldemberg, ’n Brasiliaanse kernfisikus en voormalige kanselier van die Universiteit van São Paulo, voorgestel is, is om ’n “wêreldwye koolstofbelasting” in te stel op gebruikers van wat dikwels fossielbrandstowwe genoem word.
Soos die voorstanders van hierdie benadering dit sien, sal die belasting wat gehef word, afhang van die hoeveelheid brandstof wat ’n land of ’n staat gebruik, sowel as van die volume kweekhuisgasse wat hulle vrystel. Byvoorbeeld, die Verenigde State wat omtrent 5 persent van die wêreld se bevolking uitmaak, stel amper 24 persent van die wêreld se kweekhuisgasse vry. Party beleidbepalers redeneer dat die belastinggeld wat deur so ’n land betaal word, dan gebruik sal word om die nasies te vergoed wat bereid is om ter wille van die bewaring van hulle woude vinnige winste uit houtkappery op te offer. Op hierdie manier, word daar aan die hand gedoen, sal die verbruikers in werklikheid hulle ‘elektrisiteitsrekening’ betaal en die sogenoemde eienaars sal ’n ekonomiese dryfveer hê om hulle ‘kragstasie’ te bewaar.
Maar wie sal die pryse vasstel vir hierdie omgewingsdienste? En wie sal die geld insamel en versprei?
Veranderde gedrag nodig
“Hierdie kwessies”, sê Dourojeanni, “sal die beste aangespreek kan word by ’n wêreldwye woudkonferensie.” So ’n konferensie kan die pryse vasstel vir die omgewingsdienste wat deur woude gelewer word. Dan “kan ’n wêreldwye woudorganisasie gestig word om hierdie internasionale poging te bestuur”.
Hoewel dit dalk sin maak om ’n internasionale instituut te gebruik om aandag te gee aan ’n internasionale probleem, erken Dourojeanni: “Die groot aantal institute en kommissies wat al gestig is om bosboukwessies te hanteer, het sake nie gehelp nie.” Wat regtig nodig is, voeg hy by, is “drastiese veranderinge in sosiale en ekonomiese gedrag”. Ja, woudbewaring vereis meer as nuwe wette—dit vereis nuwe gesindhede.
Sal hierdie probleme ooit opgelos word? Dit sal, belowe die aarde se Skepper, Jehovah God. Die Bybel toon dat hy ’n regering opgerig het wat binnekort oor die hele wêreld sal heers en die aarde se probleme sal oplos. Daardie regering ‘sal nooit vernietig word nie’ (Daniël 2:44). Wat meer is, dit sal toesig hou oor die behoorlike benutting van die aarde se ekosisteme terwyl die aarde se bewoners aanhou leer omtrent hulle Skepper, die een wat die Bybel as Jehovah identifiseer (Jesaja 54:13). Alle mense wat dan lewe sal die aarde, insluitende die woude, ten volle waardeer.
[Foto-erkennings op bladsy 26]
Ricardo Beliel / SocialPhotos
© Michael Harvey/Panos Pictures