Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 2/8 bl. 10-14
  • ’n Einde aan gesinsgeweld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Einde aan gesinsgeweld
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Die nuwe persoonlikheid”
  • Leer om iemand in jou vertroue te neem
  • Medelydende opsieners
  • God se beskouing van die huwelik
  • Wat God se wet toelaat
  • ’n Einde aan gesinsgeweld
  • Jy kan probleme te bowe kom wat ’n gesin skade berokken
    Die geheim van gesinsgeluk
  • Wat veroorsaak gesinsgeweld?
    Ontwaak!—1993
  • Wanneer geweld die huis tref
    Ontwaak!—1993
  • Jou gesin kan gelukkig wees
    Wat kan die Bybel ons leer?
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 2/8 bl. 10-14

’n Einde aan gesinsgeweld

“Die voorkoming van geweld in die huis en die vermindering van gesinsgeweld verg groot strukturele veranderinge in die gemeenskap sowel as in die gesin.”—Behind Closed Doors.

BY DIE eerste moord in die mensegeskiedenis was daar broers betrokke (Genesis 4:8). Gedurende al die millenniums sedertdien het die mens met alle vorme van gesinsgeweld te kampe gehad. Talle oplossings is al voorgestel, maar aan baie van hulle is daar nadele verbonde.

Rehabilitasie bereik byvoorbeeld net oortreders wat hulle probleem erken. Een vroueslaner wat besig is om sy probleem te bowe te kom, het gekla: “Vir elkeen van ons [wat gerehabiliteer word], is daar drie mans daar buite wat sê: ‘Jy moet jou vrou op haar plek hou.’” Iemand wat sy vrou mishandel, moet dus erken dat hy ’n probleem het. Waarom het hy sy vrou begin mishandel? Dit sal hom moontlik help om sy probleem te oorkom as hy hulp soek om sy eie foute reg te stel.

Maar daar is te min personeellede om met die uitvoering van maatskaplike programme te help. Na raming was daar in 90 persent van die gevalle van kindermoord in die Verenigde State gevaarlike gesinsituasies voor die moord aangemeld. Daar is gevolglik perke aan wat maatskaplike programme en polisie-organisasies kan doen. Iets anders is dringend nodig.

“Die nuwe persoonlikheid”

“Wat nodig is, is niks minder nie as ’n drastiese verandering van die verhouding tussen gesinslede”, sê een navorsingspan. Gesinsgeweld is nie net ’n probleem van die vuiste nie; dit is hoofsaaklik ’n probleem van die gemoed. Dit spruit voort uit hoe gesinslede—huweliksmaats, kinders, ouers, broers of susters—mekaar beskou. Die verandering van hierdie verhoudings beteken dat ’n mens jou moet beklee met wat die Bybel “die nuwe persoonlikheid” noem.—Efesiërs 4:22-24, vgl. NW; Kolossense 3:8-10.

Kom ons ondersoek ’n paar gesinsverwante Bybelbeginsels wat ons help om ons met die nuwe Christelike persoonlikheid te beklee en wat tot ’n beter verhouding onder gesinslede kan bydra.—Sien Mattheüs 11:28-30.

Jou beskouing van kinders: Daar is meer by ouerskap betrokke as om ’n baba in die lewe te bring. Maar ongelukkig beskou baie hulle kinders vandag as ’n las en neem hulle gevolglik nie hulle rol as ouers ernstig op nie. Dit is húlle wat hulle kinders moontlik sal mishandel.

Die Bybel noem kinders “’n erfdeel van die HERE” en “’n beloning” (Psalm 127:3). Ouers is aan die Skepper verantwoordelik om na daardie erfdeel om te sien. Dié wat kinders as ’n las beskou, moet in hierdie opsig die nuwe persoonlikheid aankweek.a

Jou realistiese verwagtinge van kinders: Een studie het aan die lig gebring dat baie moeders wat hulle kinders mishandel, verwag dat babas teen die tyd dat hulle een jaar oud is, moet weet wat reg en wat verkeerd is. ’n Derde van die moeders onder wie die opname gedoen is, het ses maande gesê.

Die Bybel toon dat almal onvolmaak gebore word (Psalm 51:7; Romeine 5:12). Dit sê nie dat onderskeidingsvermoë by geboorte verkry word nie. Dit sê eerder dat ’n mens se geestesvermoëns “deur die gewoonte geoefen” word “om goed van kwaad te onderskei” (Hebreërs 5:14). Die Bybel praat boonop van “die dinge van ’n klein kindjie”, die “dwaasheid” van die kinderdae en die “nietigheid” van adolessensie (1 Korinthiërs 13:11, NW; Spreuke 22:15, NW; Prediker 11:10). Ouers moet hierdie beperkings ken en nie meer verwag as wat volgens die kind se ouderdom en vermoë moontlik is nie.

Hoe om kinders te dissiplineer: In die Bybel beteken die Griekse woord wat as “tugtiging” vertaal word “onderrig”. Die doel van dissipline is dus hoofsaaklik, nie om te pynig nie, maar om te onderrig. Baie van hierdie onderrigting kan sonder slae gegee word hoewel slae dalk soms nodig is (Spreuke 13:24). Die Bybel sê: “Luister na tug en word wys” (Spreuke 8:33). Paulus het ook geskryf ’n mens moet jou “onder die kwaad in bedwang hou” en in “lankmoedigheid” vermaan (2 Timotheüs 2:24, NW; 4:2). Dit sluit woede-uitbarstings en die gebruik van buitensporige krag uit selfs wanneer ’n pak slae nodig is.

Met die oog op hierdie Bybelbeginsels kan jy jou afvra: ‘Onderrig my dissipline of oefen dit net beheer uit deur seer te maak? Skerp my dissipline regte beginsels in of boesem dit net vrees in?’

Gedragsbeperkings vir volwassenes: Een man wat sy vrou mishandel, het gesê hy het eenvoudig “beheer verloor” en sy vrou geslaan. ’n Raadgewer het die man gevra of hy sy vrou al ooit met ’n mes gesteek het. “Ek sal dit nooit doen nie!” het die man geantwoord. Die man is gehelp om te besef dat hy wel binne perke opgetree het, maar die probleem was dat dit nie die regte perke was nie.

Waar stel jy jou perke? Hou jy op voordat ’n meningsverskil in mishandeling ontaard? Of verloor jy jou humeur en begin jy skreeu, beledig, stamp, slaan of dinge rondgooi?

Die nuwe persoonlikheid stel streng perke wat glad nie emosionele mishandeling of fisiese geweld toelaat nie. “Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie”, sê Efesiërs 4:29. Vers 31 voeg by: “Alle bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering moet van julle verwyder word, saam met alle boosheid.” Die Griekse woord vir “toorn” dui op ’n “impulsiewe geaardheid”. Die boek Toxic Parents sê interessant genoeg dat ’n gemeenskaplike karaktertrek onder diegene wat hulle kinders mishandel “’n verskriklike gebrek aan impulsbeheer” is. Die nuwe persoonlikheid stel streng beperkings op fisiese sowel as woordelikse impulse.

Die nuwe persoonlikheid geld natuurlik vir die man sowel as die vrou. Sy moet probeer om nie ’n rusie met haar man uit te lok nie, om waardering te toon vir sy pogings om vir die gesin te sorg en om hom haar samewerking te gee. En albei moet nie van mekaar vereis wat nie een van hulle kan gee nie—volmaaktheid. Hulle moet albei eerder 1 Petrus 4:8 toepas: “Bo alles moet julle mekaar vurig liefhê, want die liefde sal ’n menigte sondes bedek.”

Eerbied vir bejaardes: Levitikus 19:32 sê ’n mens moet “eerbied bewys aan oumense en hulle met respek behandel” (NAV). Dit kan ’n uitdaging wees wanneer ’n bejaarde ouer siek is en miskien te veel van jou verwag. Eerste Timotheüs 5:3, 4 sê dat ouers “eer” en die “vergoeding wat hulle toekom”, moet ontvang (NW). Dit kan finansiële voorsienings asook respek insluit. Met die oog op alles wat ons ouers vir ons gedoen het toe ons hulpelose babas was, moet ons soortgelyke sorgsaamheid teenoor hulle betoon wanneer dit nodig is.

Oorwin wedywering tussen broers en susters: Voordat Kain se vyandigheid daartoe gelei het dat hy sy broer Abel vermoor het, het hy hierdie raad ontvang: “Die sonde wag jou in daarbuite en hy wil jou in sy mag kry. Maar jy moet oor hom heers” (Genesis 4:7, NAV). Gevoelens kan beheers word. Leer om geduldig met mekaar te wees en “maak mildelik toegewings vir mekaar omdat julle mekaar liefhet”.—Efesiërs 4:2, Phillips.

Leer om iemand in jou vertroue te neem

Baie slagoffers van gesinsgeweld ly in stilte. Maar dr. John Wright maan: “Geslane vroue moet emosionele en fisiese beskerming soek by iemand anders wat ’n verantwoordelike persoon is.” Dieselfde geld vir enige mishandelde gesinslid.

’n Slagoffer vind dit soms moeilik om iemand anders in sy of haar vertroue te neem. Vertroue binne die hegste sosiale eenheid—die gesin—het al op stuk van sake pyn tot gevolg gehad. Maar “daar is ’n vriend wat sterker aanhang as ’n broer”, sê Spreuke 18:24. Om daardie vriend te vind en te leer om hom met oorleg in jou vertroue te neem, is ’n waardevolle stap om die nodige hulp te verkry. Die een van wie die mishandeling kom, het natuurlik ook hulp nodig.

Elke jaar word honderdduisende mense Getuies van Jehovah. Hulle aanvaar die uitdaging om hulle met die nuwe persoonlikheid te beklee. Onder hulle is daar mense wat hulle vroeër aan gesinsgeweld skuldig gemaak het. As hulle enige neiging wil teëwerk om in die ou gewoonte te verval, moet hulle voortdurend gebruik maak van die Bybel sodat dit “nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing” kan wees.—2 Timotheüs 3:16.

Om hulle met die nuwe persoonlikheid te beklee, is vir hierdie Getuies ’n voortdurende proses, want Kolossense 3:10 sê dat dit “vernuwe word”. Volgehoue inspanning is dus nodig. Gelukkig het Jehovah se Getuies die onderskraging van ’n menigte geestelike “broers en susters en moeders en kinders”.—Markus 10:29, 30; sien ook Hebreërs 10:24, 25.

Dan is daar ook in al die sowat 70 000 gemeentes van Jehovah se Getuies oor die hele wêreld liefdevolle opsieners wat soos “’n toevlug teen die wind en ’n skuilplek teen storms” is. Hulle “oë en ore sal op die behoeftes van die mense gerig wees” (Jesaja 32:2, 3, TEV). Vir nuwer Getuies van Jehovah, asook vir dié met meer ondervinding, is daar dus ’n wonderlike bron van hulp in die Christengemeente beskikbaar terwyl hulle daarna strewe om hulle met die nuwe persoonlikheid te beklee.

Medelydende opsieners

Wanneer mense by Christenopsieners in gemeentes van Jehovah se Getuies gaan raad soek, is hierdie opsieners opgelei om onbevooroordeeld na elkeen te luister. Hulle word aangemoedig om elkeen, veral die slagoffers van ernstige mishandeling, met groot medelye en begrip te behandel.—Kolossense 3:12; 1 Thessalonicense 5:14.

’n Geslane vrou is moontlik wreed beseer. In baie lande sou die een wat haar mishandel het vandag in die tronk kon beland as hy iemand buite die gesin so aangerand het. Die slagoffer moet dus met buitengewone goedhartigheid behandel word, soos in die geval van slagoffers van alle ander soorte mishandeling, soos seksuele mishandeling.

Daarbenewens moet diegene wat hulle aan misdade teen God se wet skuldig maak tot verantwoording geroep word. So word die gemeente rein gehou en ander onskuldige mense beskerm. En die vloei van God se gees word nie belemmer nie, wat baie belangrik is.—1 Korinthiërs 5:1-7; Galasiërs 5:9.

God se beskouing van die huwelik

Wanneer mense Getuies van Jehovah word, onderneem hulle om te leef volgens die beginsels van ’n Christelike lewe wat in God se Woord aangetref word. Hulle leer dat die man as die gesinshoof aangewys is om die gesin in ware aanbidding te lei (Efesiërs 5:22). Maar hoofskap gee hom nooit die reg om sy vrou wreed te behandel, haar persoonlikheid te onderdruk of haar wense te ignoreer nie.

Inteendeel, God se Woord maak dit duidelik dat mans ‘hulle eie vrou moet liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het. Mans behoort hulle eie vrou lief te hê soos hulle eie liggaam. Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief; want niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar hy voed en koester dit’ (Efesiërs 5:25, 28, 29). Trouens, God se Woord sê duidelik dat vrouens “eer” bewys moet word.—1 Petrus 3:7; sien ook Romeine 12:3, 10; Filippense 2:3, 4.

Daar is beslis geen Christenman wat in opregtheid kan redeneer dat hy werklik sy vrou liefhet of haar eer bewys as hy haar woordeliks of fisies mishandel nie. Dit sal geveinsdheid wees, want God se Woord sê: “Manne, julle moet jul vroue liefhê en nie teen hulle verbitter word nie” (Kolossense 3:19). Wanneer God se oordele binnekort by Armageddon oor hierdie goddelose stelsel kom, sal geveinsdes dieselfde uiteinde as teenstanders van God se heerskappy hê.—Mattheüs 24:51.

’n Godvresende man moet sy vrou soos sy eie liggaam liefhê. Sal hy homself slaan, homself met die vuis in die gesig slaan of sy eie hare met geweld trek? Sal hy homself met minagting en sarkasme voor ander verneder? Iemand wat sulke dinge doen, sal, om die minste te sê, as geestelik versteurd beskou word.

As ’n Christenman sy vrou mishandel, maak dit al sy ander Christelike werke waardeloos in God se oë. Onthou dat “’n slaner” nie vir voorregte in die Christengemeente in aanmerking kom nie (1 Timotheüs 3:3, NW; 1 Korinthiërs 13:1-3). ’n Vrou wat haar man so behandel, oortree natuurlik ook God se wet.

Galasiërs 5:19-21 noem “vyandskap, twis, . . . toornigheid” onder die werke wat deur God veroordeel word en sê dat “die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie”. Die mishandeling van ’n mens se huweliksmaat of kinders kan dus nooit geregverdig word nie. Dit is gewoonlik teen die landswet en is beslis teen God se wet.

Die Wagtoring, ’n tydskrif wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word, het ’n skriftuurlike beskouing van die saak voorsien en van diegene wat sê dat hulle Christene is, maar wat ander mishandel, gesê: “Dus kan enigeen wat beweer dat hy ’n Christen is en herhaaldelik en onboetvaardig aan gewelddadige toorn toegee, uit die gemeente uitgesit word”, of geëkskommunikeer word.—1 September 1975, bladsy 406; vergelyk 2 Johannes 9, 10.

Wat God se wet toelaat

God sal uiteindelik diegene oordeel wat sy wette oortree. Maar watter voorsiening maak sy Woord intussen vir dié Christenhuweliksmaats wat mishandel word as die skuldige nie veranderinge aanbring nie, maar sy mishandeling voortsit? Is onskuldige slagoffers verplig om voortdurend hulle fisiese, verstandelike en geestelike gesondheid, miskien selfs hulle lewe, in gevaar te stel?

Die Wagtoring, wat geweld in die huis bespreek het, sê wat God se Woord toelaat. Dit sê: “Die apostel Paulus se raad was ‘dat die vrou nie van die man moet skei [haar man moet verlaat, NW] nie; en as sy tog van hom skei, moet sy ongetroud bly, of haar met haar man versoen; en dat die man sy vrou nie moet verstoot [verlaat, NW] nie’.” Die artikel sê voorts: “As die mishandeling ondraaglik word of ’n persoon se lewe in gevaar gestel word, sal die gelowige huweliksmaat dalk verkies om die ander maat te ‘verlaat’. Maar hulle moet probeer om mettertyd ‘versoen’ te raak (1 Korinthiërs 7:10-16). Die ‘verlating’ is egter op sigself nie skriftuurlike grond om te skei en weer te trou nie; ’n wettige egskeiding of ’n geregtelike skeiding kan nietemin ’n mate van beskerming teen verdere mishandeling bied.”—1 Junie 1983, bladsye 25-6; sien ook die nommer van 1 November 1988, bladsye 22-3.

Wat ’n slagoffer verkies om onder hierdie omstandighede te doen, moet ’n persoonlike besluit wees. “Elkeen sal sy [of haar] eie pak dra” (Galasiërs 6:5). Niemand anders kan so ’n besluit vir haar neem nie. En niemand moet haar probeer dwing om terug te gaan na ’n gewelddadige man by wie haar gesondheid, lewe en geestelikheid bedreig word nie. Dit moet haar eie keuse, uit vrye wil, wees en nie omdat ander hulle wil aan haar probeer opdwing nie.—Sien Filemon 14.

’n Einde aan gesinsgeweld

Jehovah se Getuies het geleer dat gesinsgeweld kenmerkend is van wat die Bybel vir hierdie laaste dae voorspel het, wanneer baie mense “beledigend”, “sonder natuurlike liefde” en “wreed” sou wees (2 Timotheüs 3:2, 3, The New English Bible). God belowe dat hy ná hierdie laaste dae ’n vreedsame nuwe wêreld sal inlui waar mense ‘veilig sal woon sonder dat iemand hulle verskrik’.—Esegiël 34:28.

In daardie wonderlike nuwe wêreld sal gesinsgeweld vir ewig tot die verlede behoort. “Die ootmoediges daarenteen sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede.”—Psalm 37:11.

Ons spoor jou aan om meer omtrent die Bybel se toekomsbeloftes te leer. Trouens, jy kan selfs nou voordeel daaruit trek as jy Bybelbeginsels in jou gesinslewe toepas.

[Voetnoot]

a Die boek Hoe om ’n gelukkige gesinslewe op te bou, wat deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc. uitgegee word, bevat baie goeie raad oor doeltreffende ouerskap in hoofstukke 7 tot 9: “Kinders—’n verantwoordelikheid en ’n beloning”, “Julle rol as ouers” en “Lei kinders van kleins af op”.

[Prente op bladsy 10]

Bybelbeginsels help om gesinskonflikte te beëindig

[Prent op bladsy 13]

Slagoffers moet ’n vriend wat ’n verantwoordelike persoon is in hulle vertroue neem

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel