Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 2/8 bl. 6-9
  • Wat veroorsaak gesinsgeweld?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat veroorsaak gesinsgeweld?
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Watter rol speel die gesinsagtergrond?
  • Watter rol speel spanning?
  • Verkeerde beskouing van die geslagte
  • Maak alkohol ’n verskil?
  • Hoe die media mense se dade beïnvloed
  • Die uitwerking van afsondering
  • Hulp vir die gewelddadige gesin
  • Wanneer geweld die huis tref
    Ontwaak!—1993
  • Waarom slaan mans aan vroue?
    Ontwaak!—2001
  • Hoe beskou God geweld?
    Ontwaak!—2002
  • Jy kan probleme te bowe kom wat ’n gesin skade berokken
    Die geheim van gesinsgeluk
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 2/8 bl. 6-9

Wat veroorsaak gesinsgeweld?

“Pleks dat die gesin ’n toevlug teen die druk, spanning en redeloosheid van die gemeenskap daar buite is, lyk dit asof dit dikwels hierdie spanning oordra of selfs vergroot.”—The Intimate Environment—Exploring Marriage and the Family.

NAVORSING op die gebied van gesinsgeweld is ’n betreklik nuwe onderneming. Daar is eers gedurende onlangse dekades uitgebreide opnames gemaak. Die resultate van sulke studies is nie altyd konsekwent nie, maar dit het aan die lig gebring dat daar ’n paar basiese faktore is wat tot gesinsgeweld aanleiding gee. Kom ons beskou party van hulle.

Watter rol speel die gesinsagtergrond?

’n Aantal navorsers het die volgende oor hulle bevindinge gesê: “Hoe gewelddadiger die egpaar is met wie ons ’n onderhoud gevoer het, hoe gewelddadiger is hulle kinders teenoor mekaar en teenoor hulle ouers.”

Al is ’n kind net ’n ooggetuie van gesinsgeweld, het dit ’n groot uitwerking op hom. “As ’n kind sien hoe sy ma geslaan word, is dit so goed of hy self geslaan word”, sê die terapeut John Bradshaw. Een jong man, Ed, het dit gehaat om te sien dat sy pa sy ma slaan. Nogtans is hy, hoewel hy dit moontlik nie besef het nie, daardeur gekondisioneer om te glo dat mans beheer oor vroue moet hê en dat mans wat dit wil regkry vroue moet bangmaak, seermaak en verneder. Later het Ed as volwassene hierdie taktiek van mishandeling en geweld op sy vrou gebruik.

Sommige ouers let streng daarop dat hulle kinders nie na geweld op televisie kyk nie, en dit is ’n goeie ding. Maar ouers moet selfs noukeuriger let op hulle eie optrede, wat as rolmodelle vir hulle ontvanklike kinders dien.

Watter rol speel spanning?

Swangerskap, werkloosheid, die dood van ’n ouer, verhuising, siekte en finansiële probleme, sowel as ander dinge, veroorsaak spanning. Die meeste mense verwerk spanning sonder om hulle toevlug tot geweld te neem. Maar vir party kan spanning ’n voorspel tot geweld wees, veral as dit met ander faktore gepaardgaan. Die versorging van ’n bejaarde ouer—veral wanneer die ouer siek is—het byvoorbeeld al dikwels tot mishandeling gelei wanneer die versorger met ander gesinsverantwoordelikhede oorlaai word.

Die grootmaak van kinders veroorsaak spanning. Die waarskynlikheid van kindermishandeling kan gevolglik toeneem namate die grootte van die gesin toeneem. Kinders kan ook veroorsaak dat ’n huweliksmaat meer mishandel word, want “konflik oor kinders is die waarskynlikste oorsaak van rusies tussen ’n egpaar”, sê Behind Closed Doors.

Verkeerde beskouing van die geslagte

Dan Bajorek, wat ’n voorligtingsgroep in Kanada kontroleer, sê dat mans wat hulle vrouens mishandel ’n verkeerde beskouing van vroue het: “Uit watter kultuur hulle ook al kom, hulle is grootgemaak met die idee dat mans Nommer 1 is.” Hamish Sinclair, wat aan die hoof staan van ’n behandelingsprogram vir mans wat hulle vrouens mishandel, sê dat mans geleer word om te glo dat hulle beter as vroue is en dat hulle die reg het om hulle “te straf, te dissiplineer of te intimideer”.

In baie lande bestaan daar ’n algemene beskouing dat die man die reg het om sy vrou as ’n blote voorwerp te behandel, as net nog een van sy besittings. Die feit dat hy oor sy vrou baasspeel en haar oorheers, word as ’n maatstaf vir sy manlikheid en eer beskou. Vrouens word dikwels verskriklik geslaan en op ander maniere mishandel, en die regstelsel doen nie veel daaromtrent nie omdat dit die gedragskode in sulke lande is. Die man is die meerdere en die vrou die mindere; sy moet algehele gehoorsaamheid aan hom betoon ongeag hoe onwaardig, gewelddadig, verdorwe of selfsugtig hy is.

CBS-televisieverslaggewer Morley Safer het van een Suid-Amerikaanse land gesê: “Nêrens in Latyns-Amerika is die macho-kultus opvallender nie . . . Dit dring deur tot die hele gemeenskap, waaronder die hofsaal waar ’n man wat sy waardigheid verdedig, selfs met moord kan wegkom, veral as die slagoffer sy vrou is.” Hy het gesê dat “vrouens nêrens op aarde verneder word” soos in daardie land nie. Maar manlike oorheersing en die vernedering van vroue kom algemeen voor. Dit is nie tot een land beperk nie, hoe erg dit ook al daar mag wees.

Minna Schulman, die direktrise van ’n gesinsgeweld- en wetstoepassingsinstansie in New York, het gesê dat geweld ’n werktuig is wat mans gebruik om in beheer te bly en om hulle mag en gesag oor ’n vrou te toon. Sy het bygevoeg: “Ons beskou gesinsgeweld as ’n misbruik van mag en beheer.”

Party vroueslaners het ’n swak selfbeeld, dieselfde karaktertrek wat hulle in hulle slagoffers veroorsaak. As hulle dit kan doen, word hulle ego gestreel en voel hulle dat hulle ’n mate van meerderwaardigheid en beheer oor ’n ander mens het. Hulle meen dat hulle hulle manlikheid so bewys. Maar doen hulle dit? Bewys dit dat hulle ’n ware man is as hulle vroue, wat fisies swakker as hulle is, geweld aandoen, of bewys dit eerder dat hulle onredelik is? Is dit werklik manlik as ’n man wat sterker is ’n vrou slaan wat swakker en weerloser as hy is? ’n Man van goeie sedelike inbors sal bedagsaamheid en medelye betoon teenoor swakker en weerloser mense, nie van hulle misbruik maak nie.

Nog iets wat bewys hoe onredelik die denke van iemand is wat sy vrou mishandel, is die feit dat hy dikwels sy vrou daarvan beskuldig dat sy die loesings uitlok. Moontlik insinueer hy of sê hy selfs vir haar dinge soos: ‘Jy het dit verkeerd gedoen. Daarom slaan ek jou.’ Of: ‘Aandete was laat, jy kry dus net wat jy verdien.’ Iemand wat sy vrou mishandel, dink dit is haar skuld. Maar geen tekortkoming van die huweliksmaat regverdig mishandeling nie.

Maak alkohol ’n verskil?

Aangesien alkohol beheerstheid verminder en die moontlikheid van impulsiewe optrede vergroot, is dit nie verbasend dat sommige meen dat dit tot mishandeling kan aanleiding gee nie. Dikwels kan iemand sy gewelddadige emosies beheers wanneer hy nugter is, maar ná ’n paar drankies raak hy gewelddadig. Die alkohol het sy denkvermoë aangetas en sy vermoë om sy humeur te beteuel verminder.

Ander beweer egter dat die probleem die gevolg van spanning eerder as die alkohol self is. Hulle sê dat iemand wat alkohol gebruik om spanning te verwerk dieselfde soort mens is as iemand wat moontlik geweld vir daardie doel sal gebruik. Dit beteken dat die drinker moontlik net so gewelddadig sal wees wanneer hy nugter is as wanneer hy besope is. Maar wat die redenasie in hierdie verband ook al is, alkohol help ’n mens beslis nie om jou emosies te beheers nie, maar sal gewoonlik die teenoorgestelde doen.

Hoe die media mense se dade beïnvloed

Party sê dat televisie, sowel as rolprente, ’n macho-beeld vir mans aanmoedig en leer dat geweld ’n geoorloofde manier is om konflik te hanteer en woede te verwerk. “My eie intense reaksie op die rolprent Rambo het my gefassineer”, erken een gesinsvoorligter. “Hoewel Rambo se grootskaalse bloedvergieting die wetsgehoorsame volwassene [in my] met afgryse vervul, moedig die kind [in my] hom aan.”

Aangesien baie kinders blootgestel word aan duisende ure van televisie waar hulle sien hoe ander mense, veral vroue, tallose kere geweld aangedoen, verkrag en verneder word, is dit geen wonder nie dat baie mense later as volwassenes daardie asosiale gedrag teenoor ander openbaar. En dit het nie net ’n uitwerking op kinders nie, maar ook op volwassenes.

Iets wat ook merkbaar toegeneem het, veral in onlangse jare, is die mate van onverbloemde geweld, onsedelikheid en vernedering van vroue wat op televisie en in rolprente uitgebeeld word. Dit sal gesinsgeweld beslis laat toeneem. Soos ’n navorsingsgroep bevind het, bestaan daar “’n duidelike . . . verband tussen die aanskouing van geweld en aggressiewe optrede”.

Die uitwerking van afsondering

Die lewe is vandag vir baie onpersoonlik en eensaam. Die buurt se vriendelike kruidenierswinkel is deur selfdien- en afslagwinkels vervang. Die opruiming van agterbuurte, ekonomiese probleme en werkloosheid verplig gesinne om te begin rondtrek. Daar is ’n hoë voorkomssyfer van gesinsgeweld onder diegene wat nie sterk sosiale bande het nie.

In sy boek Intimate Relationships, Marriage, and the Family verduidelik James C. Coleman waarom hy dink dit die geval is. Hy meen as iemand wat ander mishandel ’n alleenloper is, voer hy minder sinvolle gesprekke en is dit vir hom moeilik om sy situasie objektief te beskou en om ’n vertroueling om hulp te vra. Omdat hy nie vriende en bloedverwante het wat ’n matigende invloed op hom kan uitoefen nie, kan die persoon sy selfsug makliker in dade oorsit, aangesien sy verkeerde denkwyse nie daagliks deur ander ná aan hom teëgewerk word nie. Dit is soos Spreuke 18:1 sê: “Hy wat hom afskei, soek sy eie begeerte; hy bestry alles wat waarlik tot voordeel strek.”

Hulp vir die gewelddadige gesin

Ons het net party van die verduidelikings bespreek wat vir gesinsgeweld gebied word. Daar is ander. Noudat ons party van die oorsake vasgestel het, moet ons die oplossings ondersoek. Hoe kan iemand wat lid van ’n gewelddadige gesin is die patroon van mishandeling beëindig? Wat is die Bybel se beskouing? Sal gesinsgeweld ooit ophou? Die artikel op bladsy 10 sal hierdie vrae bespreek.

[Venster/Prent op bladsy 9]

Emosionele geweld Harde houe met woorde

FISIESE mishandeling is aanranding met die vuiste; emosionele mishandeling is ’n aanval met woorde. Die enigste verskil is die keuse van wapens. Dit is soos Spreuke 12:18 sê: “Daar is een wat onverskillig woorde uitspreek soos swaardsteke, maar die tong van die wyse is genesing.”

Hoe gevaarlik is emosionele geweld, met inbegrip van hierdie “swaardsteke”? Dr. Susan Forward skryf: “Dit het dieselfde uitwerking [as fisiese mishandeling]. Jy is net so bang, jy voel net so hulpeloos en jy verduur net soveel pyn” in emosionele sin.

Emosionele geweld teenoor ’n huweliksmaat: “Huweliksgeweld is nie net fisiese geweld nie. ’n Groot deel daarvan, miskien selfs die grootste deel, is geweld met woorde en emosionele geweld”, het een slagoffer gesê wat sulke behandeling lank moes verduur. Die mishandeling sluit moontlik skelname, ’n geskreeu, alewige kritiek, vernederende beledigings en dreigemente van fisiese geweld in.

Kwaadwillige aanmerkings wat verkleineer, verneder of intimideer, kan ernstige gevolge hê. Soos water wat op ’n rots drup, lyk dit aanvanklik miskien of verkleinerende insinuasies skadeloos is. Maar die persoon se selfbeeld word gou afgetakel. “As ek tussen fisiese en woordelikse mishandeling moes kies, sou ek enige tyd ’n loesing verkies”, het een vrou gesê. Sy het verduidelik: “Jy kan die littekens sien, en mense voel dan ten minste jammer vir jou. Met woordelikse mishandeling voel dit net asof jy van jou kop af kan raak. Die wonde is onsigbaar. Niemand gee om nie.”

Emosionele geweld teenoor ’n kind: Dit kan die gedurige kritisering en verkleinering van ’n kind se voorkoms, intelligensie, bevoegdheid of waarde as persoon insluit. Sarkasme is veral skadelik. Kinders aanvaar sarkastiese aanmerkings dikwels sonder meer en onderskei nie tussen wat in erns en wat “skertsend” gesê word nie. Die gesinsterapeut Sean Hogan-Downey sê: “Die kind voel seergemaak, maar almal lag, en hy leer dus om nie sy gevoelens te vertrou nie.”

In die meeste gevalle steek daar dus waarheid in wat die Skotse geskiedskrywer en essayis Thomas Carlyle eenkeer gesê het: “Ek besef nou dat sarkasme oor die algemeen die taal van die Duiwel is; daarom het ek dit lankal reeds so goed as verwerp.”

Joy Byers, ’n deskundige op die gebied van kindermishandeling, sê: “Fisiese mishandeling kan ’n kind doodmaak, maar jy kan ook die gees doodmaak, en dit is wat ’n voortdurende patroon van negatiewe aanmerkings van die ouers kan doen.” Die tydskrif FLEducator sê: “Anders as die kneusplek wat raakgesien kan word en vervaag, veroorsaak emosionele mishandeling onsigbare veranderinge in ’n kind se gemoed en persoonlikheid, wat sy begrip van die werklikheid en sy interaksie met ander permanent wysig.”

[Prent op bladsy 7]

As ’n kind aan geweld blootgestel word, het dit ’n groot invloed op sy latere gedrag

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel