Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 2/22 bl. 22-24
  • Smake wat die wêreld beïnvloed het

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Smake wat die wêreld beïnvloed het
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Romanse met speserye
  • Geskik vir speserye
  • Nie net voedselgeursels nie
  • Geskenke wat geskik is vir ’n koning
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
  • Hoe ver oos kon sendelinge gaan?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Die soektog na speserye, goud, bekeerlinge en roem
    Ontwaak!—1992
  • Die merkwaardige seereis van Vasco da Gama
    Ontwaak!—1999
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 2/22 bl. 22-24

Smake wat die wêreld beïnvloed het

Deur Ontwaak!-medewerker in Indië

IN DIE 13de eeu het Marco Polo dit in oorvloed gesien. Christophorus Columbus het oor die see gevaar om dit te vind, maar in plaas daarvan het hy die Nuwe Wêreld ontdek. In die 15de eeu het Vasco da Gama Indië eindelik per see bereik en dit na gretige kopers in Europa teruggebring. Speserye was voorwaar só kosbaar dat mense hulle lewe gewaag het om dit te bekom!

Toe politieke veranderinge karavaanroetes oor land versper het, het dit Vasco da Gama twee jaar geneem om ’n heen-en-terugreis van 39000 kilometer te voltooi wat hom van Portugal af, om die punt van Afrika, na Indië en terug geneem het. Twee van sy skepe het deur die reis behoue gebly en het teruggekeer met ’n vrag speserye en ander goedere wat 60 keer die reiskoste werd was! Maar die sukses wat met sy reis behaal is, het Europese nasies in konflik gedompel. Portugal, Spanje, Frankryk, Holland en Groot-Brittanje het die volgende drie eeue om die beheer van die speserybronne meegeding.

Een skrywer het die geskiedenis van speserye opgesom as “’n verhaal van avontuur, ontdekking, verowering en verbete vlootmededinging”. Frederic Rosengarten jr. het in The Book of Spices gesê: “Speserye was polities sowel as ekonomies so nuttig, trouens so onontbeerlik, dat konings ekspedisies gestuur het om daarna te soek, handelaars hulle lewe en rykdom gewaag het om daarmee handel te dryf, oorloë as gevolg daarvan gevoer is, hele beskawings slawe gemaak is, ontdekkingsreise oor die wêreld onderneem is en sulke verreikende veranderinge soos die renaissance teweeggebring is deur die rustelose, wrede mededinging.”

Toe die Hollanders die speseryhandel beheer het, het hulle die prys van peper met vyf sjielings per pond verhoog wanneer hulle dit aan Brittanje verkoop het. In 1599 het ’n groep Londense handelaars, wat woedend daaroor was, byeengekom om hulle eie maatskappy te stig, wat later as die Oos-Indiese Kompanjie bekend geword het. Die invloed van hierdie kompanjie het uiteindelik tot meer as 300 jaar van Britse heerskappy oor Indië gelei.

Strawwe mededinging het verdwyn, maar die wêreld se liefde vir speserye duur voort. En speserye word moontlik nêrens meer geniet as hier in Indië nie.

’n Romanse met speserye

Speserye en die Indiese kookkuns is so onskeibaar dat ’n mens amper kan sê dat die land ’n romanse met speserye het. Trouens, wie het nog nie gehoor van Indiese kerrie nie—’n brediedis van groente, eiers, rooi vleis, vis of hoender wat met ’n verskeidenheid smaaklike speserye gekrui is? Party van hierdie geure kom ook in nageregte voor, en dit bevestig dat speserye nie altyd brand nie. Selfs die smaak van die melkerige soet tee wat hier so gewild is, word baie keer deur ’n bietjie kardemom, naeltjies, gemmer of ’n kombinasie van geure verbeter. Met so ’n aptyt vir sulke smaakmiddels is dit geen wonder nie dat Indië per capita die meeste speserye verbruik.

Besoek net die kombuis van ’n Indiese kok, en tientalle smaakmiddels in verskillende kleure en vorms sal die oog trek. Onder hulle is piepklein mosterdsaadjies; geurige, bruin pypkaneel; groen kardemompeule; helder, goue borrie; vaal, knoetserige gemmerwortel en skarlakenrooi rissies. Vergelyk hierdie verskeidenheid met ’n enkele bottel kerriepoeier wat in kruidenierswinkels in baie lande te vinde is. Kerriepoeier bevat natuurlik ’n mengsel van verskillende speserye, en dit is van nut. Maar dit is ’n swak plaasvervanger vir die kombinasies van speserye—masalas—wat in Indië gebruik word.

Spesiale, klaargemaakte masalas word gemeng vir verskillende kossoorte, onder meer groentes, vis, hoender en rooi vleis. Maar die afsonderlike speserye word meestal gemeng wanneer die kos gaargemaak word, die soort en hoeveelheid hang van die bepaalde gereg af. Die geoefende Indiese huisvrou ken die regte volgorde waarin en die presiese oomblik waarop elke spesery in die gaarmaakproses bygevoeg moet word. Sy kan selfs verskillende geure uit dieselfde spesery kry deur dit te braai, dit te maal, dit heel in warm olie te gooi of dit met ander smaakmiddels te meng.

Besoekers aan Indië is baie keer verbaas oor die baie maniere waarop kos voorberei word. Benewens die groot verdeling tussen die Noord- en Suid-Indiese kookkuns het die land se streekkulture, soos die Bengaalse, Goanese, Goedjaratiese en Panjabiese kulture, hulle eie unieke maniere om kos voor te berei. Godsdiensopvattings beïnvloed ook die smaak van die kos. ’n Mens kan dus in die staat Goedjarat ’n tradisionele Hindoe-vegetariërmaaltyd eet, maar in die noordelike deel van Indië sal jy dalk ’n vleiserige Mongoolse maaltyd geniet, ’n herinnering aan die dae van die Moslemonderwerping. As jy op verskillende aande by Hindoe-, Moslem-, Sikh-, Djaina-, Parsi- en Christengesinne eet, sal jy dalk nie twee maal dieselfde maaltyd kry nie.

Geskik vir speserye

Hoewel speserye wêreldwyd groei, produseer Indië meer as enige ander land—meer as 60 verskillende soorte. En die land voer speserye en speseryprodukte heel en in poeiervorm uit na meer as 160 lande. Suid-Indië neem die voortou met die land se speseryproduksie. Cochin, aan die Arabiese See, wat dikwels weens sy prag en talle waterweë die “Venesië van die Ooste” genoem word, is ’n direkte toegang tot die speserye wat al lank in die geil, tropiese klimaat langs die Malabarkus floreer.

Cochin se hawe dien al sedert die ou tyd vir Fenisiërs, Egiptenare, Perse, Chinese, Romeine, Grieke en Arabiere as ’n internasionale handelsmark. Die Bybelboek Openbaring maak, interessant genoeg, melding van “die handelaars van die aarde” wie se handel “allerhande voorwerpe van ivoor . . . en kaneel en [Indiese speserye]” ingesluit het.—Openbaring 18:11-13, vgl. NW.

Swartpeper, wat as die “koning van die speserye” bekend staan, was die eerste skat wat die handelaars gesoek het. Dit was nie net ’n smaakmiddel vir kos nie, maar dit was ook ’n onmisbare preserveermiddel vir vleis en ander bederfbare kossoorte. Deur speserye by te voeg, kon kossoorte wat andersins sou bederf en nutteloos sou wees ’n jaar of langer sonder verkoeling behoue bly. Latere handelaars wou benewens peper ook ander speserye hê—kardemom, koljander, vinkel en fenegriek, om maar ’n paar te noem.

Maar nie alle speserye wat in Indië gekweek word, kom oorspronklik hier voor nie. Rissies is byvoorbeeld van Suid-Amerika af ingevoer. Dr. C. V. Raman, Indiese Nobelpryswenner vir fisika, het eenmaal gesê dat ‘alle kossoorte sonder rissies smaakloos en oneetbaar is’. Baie wat op ander kossoorte grootgemaak is, sal moontlik daaroor verskil. Maar ons kan dankbaar wees dat ’n liefdevolle Skepper die aarde se spens goed voorsien het van ’n groot verskeidenheid wat sterk kontrasterende voorkeure bevredig.

Nie net voedselgeursels nie

Speserye het ’n fassinerende geskiedenis. Die Bybel staaf die rol wat speserye in salfolie, wierook en parfuums gespeel het. Dit noem die gebruik van speserye in die heilige salfolie en in wierook wat by Jehovah se tempel in Jerusalem gebruik is en vertel van speserye wat by wyn gevoeg is (Exodus 30:23-25, 34-37; Hooglied 8:2). Die Bybel toon ook verder dat vroeë Christene speserye gebring het om Jesus Christus se liggaam vir sy begrafnis voor te berei.—Johannes 19:39, 40.

In hierdie land het geslagte van Indiese meisies al gebruik gemaak van die helder goudkleurige wortel van ’n plant wat verwant is aan gemmer—borrie. ’n Borriepasta word aan die vel gevryf om die toestand daarvan te verbeter. Die parfuum- en skoonheidsbedryf gebruik vandag die olie van piment, karwy, kaneel, kassia, naeltjies, neut, foelie, roosmaryn en kardemom in die vermenging van vlugtige en nievlugtige olies om tientalle bekoorlike parfuums te maak. Hierdie bestanddele word ook by seep, talkpoeiers, naskeermiddels, Keulse reukwater, mondspoelmiddels en tallose ander items gevoeg.

Daarbenewens word speserye al lank vir mediese doeleindes gebruik. Gemmer, borrie, knoffel, kardemom, rissies, naeltjies en saffraan is van die speserye wat aanbeveel word deur Ajoerveda, die geneeskundige raad wat in die Hindoe-Sanskritgeskrifte, die Vedas, uiteengesit word. As jy vandag na ’n Indiese apteek toe gaan, sal jy steeds ’n borriesalf vir sny- en brandwonde, ’n tandepasta met 13 speserye, en ’n menigte ander speseryprodukte vir verskillende kwale kry.

’n Oorsig van die geskiedenis van speserye toon gevolglik dat voedselvoorkeure anders sou gewees het, medisyne nie dieselfde sou gewees het nie en die geskiedenis anders sou verloop het as daar nie speserye was nie. Die mens se liefde vir speserye het beslis op etlike maniere ’n uitwerking op ons wêreld gehad.

[Prente op bladsy 23]

’n Paar van die baie soorte speserye wat wêreldwyd gewild is

’n Straatverkoper wat speserye vir ’n klant afweeg

Speserye wat in ’n winkel in Cochin op kopers wag

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel