Die werklikheid van verkragting
IN DIE tyd wat dit jou neem om tot aan die einde van hierdie bladsy te lees, sal ’n vrou êrens in die Verenigde State verkrag word. Sy sal alleen wees en geterroriseer word deur ’n daad van geweld en vernedering deur iemand wat sy waarskynlik ken. Sy sal dalk geslaan word. Sy sal moontlik weerstand bied. Sy sal ongetwyfeld vir haar lewe vrees.
Verkragting is die gewelddaad wat die vinnigste toeneem in die Verenigde State, wat reeds een van die hoogste verkragtingsyfers ter wêreld het. Volgens polisieverslae is daar elke uur gemiddeld 16 pogings tot verkragting en word 10 vroue verkrag. Voeg daarby die feit dat verkragtings wat nie aangemeld word nie moontlik tien keer meer is!
Die Verenigde State is nie die enigste land met hierdie skrikwekkende statistiek nie. In Frankryk het die aantal slagoffers wat aangemeld het dat hulle verkrag is vanaf 1985 tot 1990 met 62 persent toegeneem. Teen 1990 het seksuele aanrandings wat in Kanada aangemeld is binne net ses jaar tot 27 000 verdubbel. Duitsland het een seksuele aanranding van vroue elke sewe minute gerapporteer.
Verkragting benadeel ook onskuldige mans.a Mans “ly omdat hulle in ’n gemeenskap woon waar die helfte van die bevolking rede het om haatdraend, agterdogtig en bang te wees”, het Elizabeth Powell, ’n sielkundige, gesê. Hulle kan ook slagoffers wees omdat hulle gedurig om hulle vrouens, ma’s, susters, dogters en vriendinne se onthalwe vrees of hulle moet skuldgevoelens en pyn verwerk wanneer iemand vir wie hulle lief is ’n slagoffer van verkragting word.
Waarom die toename?
Verkragting is aan die orde van die dag in gemeenskappe wat geweld en die manipulasie van vroue duld. In ’n aantal lande word mans en vroue van hulle kinderjare af deur die media, die gesin en hulle portuurs met vernietigende boodskappe en die verkeerde inligting oor seks gebombardeer. Hulle leer verkeerdelik dat seks en geweld hand aan hand gaan en dat vroue daar is om mans seksueel te bevredig ongeag wat vroue wil hê.
Let op die gesindheid van Jay, ’n 23-jarige liasseerklerk. “Die gemeenskap vereis dat jy gereeld met verskillende vroue geslagsomgang moet hê om ’n wáre man te wees”, het hy gesê. “Wel, wat gebeur as jy dit nie doen nie? Wat is jy dan?” Weens daardie druk sal hy ’n vrou dalk verkrag as sy hom kwaad maak of frustreer.
Linda Ledray, ’n navorser, glo sulke gewelddadige en aggressiewe gesindhede teenoor vroue kom algemeen voor in gemeenskappe waar verkragting aan die orde van die dag is. “Die verkragter speel grotendeels net die rol wat die gemeenskap aan hom voorskryf”, het sy gesê. Rolprente en die televisie dra by tot daardie vernietigende rol. Verkragting is ’n algemene onderwerp in pornografie, maar dit is nie net pornografie wat die skuld dra nie. Studies het getoon dat gewelddadige rolprente wat geen seks bevat nie aggressiewer gesindhede teenoor vroue tot gevolg het as rolprente wat eksplisiete seks uitbeeld, maar geen geweld bevat nie. Televisie het ook skuld hieraan wanneer dit “die mees manipulerende seks uitbeeld wat daar is”, het Elizabeth Powell gesê. Wat is die boodskap wat deur die media oorgedra word? “Wanneer jy kwaad is, moet jy iemand seermaak.”
Daardie boodskap kom in daaglikse verhoudinge na vore, met tragiese gevolge. In ’n wêreld wat al hoe permissiewer raak, dink mans dikwels dat vroue seks aan hulle verskuldig is, veral as die man geld aan die vrou bestee het of as dit aanvanklik gelyk het asof sy sy toenadering geniet.
“Wanneer ’n vrou ‘nee’ sê vir geslagsomgang is die woord dikwels niksseggend”, het Robin Warshaw, ’n joernalis, gesê. En verkragting is alte dikwels die gevolg.
“Die tweede verkragting”
Kathi was 15 jaar oud toe sy deur drie seuns van haar hoërskoolhokkiespan verkrag is. Toe haar gesin ’n aanklag teen hulle ingedien het, is sy verstoot en lastig geval deur vriende, bure en vreemdelinge. “Seuns bly maar seuns”, is daar vir die gesin gesê. By die skool is Kathi onsedelike name genoem, en dreigende boodskappe is op haar sluitkas geskryf. Haar verkragters is voorwaardelik vrygestel en is met gemeenskapsdiens gestraf en het later die skool se atletiekhelde geword. Kathi is maande lank lastig geval. Sy het haarself uiteindelik om die lewe gebring.
Kathi se geval is ’n tragiese voorbeeld van hoe verkragtingslagoffers dikwels eers fisies deur die verkragter aangerand word en daarna emosioneel deur ander. Baie vroue ondervind dat gesindhede en wanbegrippe ten opsigte van verkragting tot gevolg het dat die slagoffer vir die misdaad geblameer word. Vriende, familie, die polisie, dokters, regters en juries—diegene wat die slagoffer moet help—het dalk dieselfde wanbegrippe en doen die slagoffer amper net soveel pyn aan as wat die verkragter gedoen het. Dié probleem is so ernstig dat party dit “die tweede verkragting” noem.
Mites oor verkragting wek ’n bedrieglike gevoel van sekuriteit. Met ander woorde, as jy die slagoffer se gedrag kan kritiseer—sy het noupassende klere aangehad of sy het alleen in die aand uitgegaan of sy wóú geslagsomgang hê—sal jy of jou geliefdes veilig wees as daardie gedrag vermy word; gevolglik sal jy nooit verkrag word nie. Die alternatief, dat verkragting ’n sinlose gewelddaad is wat met enigiemand kan gebeur, ongeag hoe sy aangetrek is, is te skrikwekkend om te aanvaar.
Een vrou, wat deur iemand verkrag is wat sy gedink het “gaaf en ordentlik” is, pleit: “Die ergste ding wat jy kan doen, is om te glo dat dit nie met jou sal gebeur nie.”
Mites en feite oor verkragting
Die volgende is ’n paar van die wanbegrippe wat reeds lank oor verkragting bestaan en veroorsaak dat die slagoffer geblameer word en wat gesindhede laat voortduur wat die skuldiges in hulle kwaad sterk:
Mite: Verkragting vind net plaas wanneer ’n vrou deur ’n vreemdeling aangerand word.
Feit: Die meeste vroue wat verkrag word, word aangerand deur iemand wat hulle ken en vertrou het. Een studie het bevind dat 84 persent van die slagoffers hulle aanranders geken en dat 57 persent van die verkragtings tydens afsprake plaasgevind het. Een uit elke 7 getroude vrouens sal deur haar eie man verkrag word.b Verkragtings is gewelddadig en emosioneel traumaties, of die aanrander nou ’n vreemdeling, ’n huweliksmaat of iemand is met wie jy ’n afspraak het.
Mite: Dit is net verkragting as ’n vrou agterna kan bewys dat sy weerstand gebied het, soos as sy kneusplekke het.
Feit: Min vroue het sigbare bewyse, soos kneusplekke of snywonde, of hulle nou fisies weerstand gebied het of nie.
Mite: ’n Verkragtingslagoffer is ook in sekere mate skuldig tensy sy fisies weerstand bied.
Feit: Volgens die definisie is dit verkragting wanneer seksuele penetrasie, van watter aard ook al, deur geweld of onder die dreigement van geweld plaasvind. Dit is die verkragter se gebruik van geweld teenoor ’n onwillige slagoffer wat van hom ’n verkragter maak. ’n Verkragtingslagoffer is gevolglik nie skuldig aan hoerery nie. Soos ’n slagoffer van bloedskande kan sy gedwing word om iets teen haar sin te doen omdat sy weet dat die ander persoon sterker as sy is. Wanneer ’n vrou gedwing word om aan ’n verkragter se wense toe te gee omdat sy bang of verward is, beteken dit nie dat sy tot die daad inwillig nie. Inwilliging berus op ’n keuse sonder dat die persoon gedreig word en is aktief, nie passief nie.
Mite: Verkragting is ’n daad van passie.
Feit: Verkragting is ’n daad van geweld. Mans doen dit nie net vir geslagsomgang nie, maar om te voel dat hulle mag oor iemand anders het.c
Mite: ’n Vrou kan ’n man terg of uitlok totdat hy nie meer sy geslagsdrang kan bedwing nie.
Feit: ’n Man wat iemand verkrag, het nie ’n sterker geslagsdrang as ander mans nie. Inteendeel, ’n derde van alle verkragters kon nie die geslagsdaad enduit voer nie. In die meeste gevalle is verkragtings ’n daad wat beplan word, nie ’n impulsiewe daad nie. Of die verkragter ’n onbekende of ’n kennis is, hulle beplan gewoonlik in albei gevalle hulle slagoffer se aanranding—die onbekende deur sy kans af te wag totdat sy slagoffer alleen is, die kennis deur ’n situasie te skep waar sy slagoffer alleen is.
Mite: Vroue vertel ’n leuen en sê dat hulle verkrag is om hulle op ’n man te wreek of omdat hulle skuldig voel dat hulle geslagsomgang gehad het.
Feit: Die aantal valse aanmeldings van verkragting is dieselfde as dié van enige ander gewelddadige misdaad: 2 persent. Aan die ander kant stem navorsers saam dat ’n groot aantal verkragtings nie aangemeld word nie.
Mite: ’n Vrou kan “vra” om verkrag te word deur uitlokkende klere te dra, sterk drank te drink, toe te laat dat ’n man tydens ’n afspraak vir haar betaal of na sy huis toe te gaan.
Feit: As ’n vrou slegte oordeel aan die dag lê, naïef of oningelig is, beteken dit nie dat sy verdien om verkrag te word nie. Verkragters dra die volle verantwoordelikheid vir die verkragting.
[Voetnote]
a Ongeveer 1 uit elke 10 slagoffers van verkragting is van die manlike geslag.
b Verkragting binne die huwelik vind plaas wanneer ’n man sy vrou oorweldig en hom seksueel aan haar opdwing. Party mans meen dalk dat die “mag” wat die apostel Paulus sê ’n man oor sy vrou se liggaam het onbeperk is. Paulus het egter ook gesê ‘mans behoort hul vroue lief te hê soos hul eie liggame’. Die apostel Petrus sê dat mans aan hulle vrouens ‘as die swakkere, eer moet bewys’. Dit sluit geweld of opgedwonge seks uit.—1 Korinthiërs 7:3-5; Efesiërs 5:25, 28, 29; 1 Petrus 3:7; Kolossense 3:5, 6; 1 Thessalonicense 4:3-7.
c “Die misdaad gaan nie oor geslagsomgang nie, maar die skuldige gebruik eerder die geslagsdaad om ’n gewelddadige misdaad te pleeg.”—Wanda Keyes-Robinson, afdelingshoof, Seksmisdaad-eenheid van die stad Baltimore, Maryland.
[Lokteks op bladsy 3]
In die Verenigde State kan 1 uit elke 4 vroue die slagoffer van verkragting of ’n poging tot verkragting wees
[Lokteks op bladsy 4]
Verkragting is aan die orde van die dag in gemeenskappe wat geweld en die manipulasie van vroue duld