Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 3/22 bl. 13-15
  • Hoe kan ek musiek op sy plek hou?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe kan ek musiek op sy plek hou?
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Verslaaf aan musiek?
  • Wysig jou luistergewoontes
  • Leer om vir jouself te dink
  • Verruim jou musieksmaak
  • Hoe kan ek musiek op sy plek hou?
    Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2
  • Maak dit saak watter musiek ek kies?
    Jongmense vra
  • Musiek—Jehovah se genotvolle gawe aan ons
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Sal jy wyse keuses maak?
    Ontwaak!—2011
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 3/22 bl. 13-15

Jongmense vra . . .

Hoe kan ek musiek op sy plek hou?

“EK DINK ons is gebore om van musiek te hou”, sê ’n meisie met die naam Jackie, “want daardeur gee jy uiting aan hoe jy voel. Wanneer jy jonk is, maak dit ’n baie groot deel van jou lewe uit.”

Jackie is reg. Hoewel dit lyk of jongmense in die besonder tot musiek aangetrokke is, wil dit voorkom of ons almal met die vermoë gebore is om melodie en harmonie te geniet. En jy hoef net die vrolike sang van ’n sangvoël of die strelende ritme van spoelende golfies te hoor om te weet dat musiek ’n liefdevolle gawe van ons gelukkige Skepper is (1 Timotheüs 1:11, NW; Jakobus 1:17). Dit is nietemin ’n gawe wat baie keer misbruik word. Trouens, as musiek nie op sy plek gehou word nie, kan dit jou meer skade as goed doen.

Verslaaf aan musiek?

Goeie musiek kan gesond, heilsaam, wees. Maar te veel van selfs ’n goeie ding kan vir jou sleg wees. ’n Wyse spreuk waarsku: “Het jy heuning gevind, eet tot jy genoeg het, sodat jy daar nie sat van word en dit uitspuug nie” (Spreuke 25:16). Heuning het bekende genesende eienskappe. Maar “om te veel heuning te eet, is nie goed nie”, en dit kan jou naar maak (Spreuke 25:27, NAV). Die punt? Goeie dinge moet matig geniet word.

Maar musiek oorheers feitlik party jongmense se lewe. ’n Jong vrou met die naam Jodie erken byvoorbeeld dat sy as ’n tiener “so te sê die hele tyd na musiek geluister het”. Probeer jy ook om elke oomblik van die dag wat jy wakker is na musiek te luister? Dan kan dít waarna jy as musiekwaardering verwys dalk eerder musiekverslawing wees.

’n Jong man met die naam Steve sê: “Ek het skoolgegaan saam met kinders wat selfs in die klas na musiek geluister het.” Maar hy erken: “Die feit dat hulle Walkman[oorfone] in hulle ore gehou het, het hulle leerwerk regtig benadeel.” Vind jy eweneens dat jy musiek speel wat jou aandag aftrek selfs wanneer jy jou huiswerk doen? En wat van dié tye wat opsy gesit word om die Bybel te bestudeer of om vir Christelike vergaderinge voor te berei? Speel die ritme van jou geliefkoosde liedjie in die agtergrond?

Kyk ook ’n bietjie hoeveel dit jou kos om al die jongste musiekvrystellings te koop. Hoeveel van jou verdienste of toelae word tans aan plate, kassette of laserplate spandeer? Kan van daardie geld beter bestee word?

Wat van gesinsverhoudinge? Neem jy aan gesinsgesprekke deel, is jy by gesinsmaaltye teenwoordig—of bly jy in jou kamer en luister na musiek? Die Bybel waarsku: “Hy wat hom afskei, soek sy eie begeerte; hy bestry alles wat waarlik tot voordeel strek.”—Spreuke 18:1.

Wysig jou luistergewoontes

As musiek te veel van jou tyd in beslag neem, sal dit goed wees as jy die woorde in Efesiërs 5:15, 16 oorweeg: “Pas dan op dat julle nougeset wandel, nie as onwyse nie, maar as wyse; en koop die tyd uit, omdat die dae boos is.” Dit behels dalk dat jy vir jou perke stel en dat jy matig in jou luistergewoontes moet wees. (Vergelyk 1 Timotheüs 3:2, NW.) Jy moet byvoorbeeld dalk die gewoonte afleer om die musiek aan te skakel die oomblik wat jy tuiskom. Leer om tye van stilte te geniet.

Dit sal jou ten minste met jou punte help. Tye van stilte is bevorderlik vir studie. Jy glo dalk dat dit jou help om te ontspan as jy musiek speel. Maar waarom probeer jy nie sonder musiek studeer nie, en kyk of jou konsentrasie verbeter? “Jy kan dalk [met musiek] studeer”, sê jong Steve, “maar jy sal baie meer daarby baat vind as die musiek af is.”

Jy moet ook tyd uitkoop, of opsy sit, om die Bybel en Bybelse publikasies te lees en te bestudeer. Jesus Christus het soms ’n stil, “eensame plek” gesoek om te bid en te peins (Markus 1:35). Is die plek waar jy studeer ook stil en vreedsaam? Indien nie, onderdruk jy dalk jou geestelike groei.

Leer om vir jouself te dink

Maar die grootste rede tot kommer is moontlik die soort musiek waarna jy luister. Steve stel dit so: “Waarom het al die mooi wysies sulke lelike woorde?” In Bybelse tye was daar liedjies wat strawwe drinkery en hoerery bevorder het (Psalm 69:13; Jesaja 23:15, 16). Baie van die hedendaagse gewilde musiek bevorder eweneens dwelmmisbruik, voorhuwelikse seks en geweld.a

Jou portuurs kan geweldige druk op jou uitoefen om na sulke musiek te luister. Daar is ook druk van die musiekbedryf. Met behulp van die radio en die televisie het rockmusiek ’n invloedryke, multimiljardrandbedryf geword. Kragtige bemarkingsdeskundiges word gehuur om jou musieksmaak te vorm—en te beheer.

Maar wanneer jy toelaat dat jou portuurs of die media vir jou voorskryf waarna jy moet luister, verloor jy jou vryheid om self te kies. Jy word ’n verstandelose slaaf (Romeine 6:16, NAV). Die Bybel spoor ons aan om vir onsself te dink. Dit sê ons moet “beproef wat die Here welbehaaglik is” (Efesiërs 5:10). Ons kan tog sekerlik nie verwag dat die Christengemeente die duisende liedjies moet ondersoek wat elke jaar vrygestel word en vir ons ’n lys goedgekeurde of verbode musiekkeurspelle gee nie. Nee, jy moet jou eie “geestesvermoëns . . . oefen, om goed van kwaad te onderskei”.—Hebreërs 5:14.

Hoe kan jy dit doen? Wel, let op die volgende wenke:

Ondersoek die verpakking: Jy hoef dikwels net na die verpakking of reklamemateriaal te kyk. Seksueel eksplisiete, gewelddadige of okkultafbeeldings moet ’n waarskuwing wees. Die musiek is waarskynlik net so afstootlik. Indien moontlik, lees die aantekeninge op die omslag.

Kyk na die inhoud: ‘Toets die woorde’ van ’n liedjie deur na die titel en lirieke te kyk (Job 12:11). Waaroor gaan dit? Wil jy werklik oor en oor na hierdie gedagtes luister of hulle herhaal? Is hierdie gedagtes in ooreenstemming met jou waardes en met Christelike beginsels?—Efesiërs 5:3-5.

Let op die uitwerking: Wat is die algemene uitwerking wat dit op jou het? Is die musiek geneig om jou terneergedruk of baie opgewonde te maak? Vind jy dat jy aan verkeerde dinge bly dink nadat jy dit gehoor het? Begin slenguitdrukkings wat in die musiek gebruik word in jou gesprekke insypel?—1 Korinthiërs 15:33.

Neem ander in ag: Wat dink jou ouers van jou musiek? Vra hulle opinie. Dink ook aan hoe mede-Christene jou musiek beskou. Sal dit party dalk pla?—Romeine 15:1, 2.

Verruim jou musieksmaak

Jy moet jou musieksmaak dalk ’n bietjie verander. Maar aangesien smaak aangeleer word, kan dit verander word. ’n Prominente musikant sê: “Die meeste kinders was nog nooit in aanraking met enigiets anders as hierdie hoogs verhandelde goed nie.” Die oplossing? Moet jou nie tot net een musiekstyl beperk nie. Probeer jou musieksmaak uitbrei.

Jy moet natuurlik nog selektief wees. Maar binne die gebied van folk-, jazz- en, ja, klassieke musiek is daar oorgenoeg heilsame musiek wat jy kan leer om te geniet. Trouens, jy geniet dalk reeds sulke musiek sonder om dit te besef. Klassieke musiek het byvoorbeeld dalk die stemming bepaal vir party van jou geliefkoosde rolprente en televisieprogramme. Dink net hoe genotvol daardie musiek kan wees as jy dit sonder afleiding hoor.

Party jong Christene het al begin om hulle musieksmaak aan te pas deur te luister na die bandopnames met Kingdom Melodies wat deur die Wagtoringgenootskap uitgegee word. Hierdie melodieë, wat aan alle Getuies van Jehovah bekend is, sluit ’n verskeidenheid heilsame musiekstyle in. Daar is verskeie vorme van goeie musiek wat vriende dalk aanbeveel. “’n Vriend het my geleer om orkesmusiek—soos Beethoven s’n—te waardeer”, sê Michelle. “Ek het dit altyd gehaat”, erken sy.

Nog ’n manier om te verruim, is om self ’n musiekinstrument te leer speel. Dit is nie net uitdagend en bevredigend nie, maar dit kan jou, buiten rock, ook met ander vorme van musiek in aanraking bring. “Dis regtig lekker om musiek te speel”, sê Jackie, “want jy het ’n talent en jy gebruik dit.” Met ’n bietjie inspanning kan jy selfs heilsame vermaak aan ander voorsien.

Musiek is regtig ’n gawe van God, maar jy moet oppas dat jy dit nie misbruik nie. ’n Jong meisie erken: “Ek het musiek wat ek weet ek moet weggooi. Maar dit klink so goed.” Maar dink aan die skade wat hierdie meisie haar verstand en hart berokken deur te luister na wat sleg is! Vermy daardie strik. Moenie toelaat dat jou lewe deur musiek verderf word of dat jou lewe daardeur beheers word nie. Handhaaf hoë Christelike standaarde in jou musiekkeuse. Vra God se leiding en hulp wanneer jy jou musiek kies. Kies maats wat dieselfde oortuigings as jy het.—Romeine 12:2, 12.

Musiek kan jou help om te ontspan. Dit kan help om die leemte te vul wanneer jy eensaam is. Maar wanneer dit ophou, is jou probleme nog daar. En liedjies is geen plaasvervanger vir ware vriende nie. Daarom moet jy nie toelaat dat musiek die belangrikste ding in jou lewe word nie. Geniet dit, maar hou dit op sy plek.

[Voetnoot]

a Sien die Ontwaak! van 8 Februarie en 22 Februarie 1993.

[Prent op bladsy 15]

Maak musiek inbreuk op jou leerwerk?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel