Sal jy wyse keuses maak?
“My ouers se musiek is so vervelig”, kla die 17-jarige Jordan.a
“My seun se musiek is vol angs en woede”, sê sy ma, Denise.
WAAROM bots ouers en tieners dikwels oor musiek? Een rede is dat mense se smaak kan verander namate hulle ouer word. ’n Ander rede is dat musiek self verander. Wat dus vandag gewild is, word dalk môre as outyds beskou.
Hoe dit ook al sy, musiek het ’n invloed op ons. Het jy al opgelet watter uitwerking musiek op jou emosies het? Wanneer koning Saul van eertydse Israel ontsteld gevoel het, het strelende musiek hom gekalmeer (1 Samuel 16:23). In sekere opsigte kan liedjies wees soos die mense met wie ons assosieer. Party bring ons positiewe emosies, soos vreugde en liefde, na vore. Ander laat slegte gevoelens, soos woede en haat, in ons opkom.—Spreuke 13:20.
Aangesien musiek so ’n kragtige invloed op ons uitoefen, moet ouers en kinders selektief wees in hulle keuse van musiek. Stel jy as ’n ouer opreg belang in die musiek waarna jou kinders en tieners luister en hoeveel tyd hulle daaraan bestee? Voorsien jy riglyne in dié verband?
Dit beteken nie dat jy hulle bloot moet verbied om na sekere albums of soorte musiek te luister nie. Jy moet jou tieners ook help om aanvaarbare alternatiewe te kies. Die boek On Becoming Teenwise sê: “Jy kan nie iets waarvoor iemand lief is, net wegneem en ’n leemte laat nie. Dit moet met iets anders vervang word, iets nuuts wat die persoon in die plek daarvan kan stel, andersins sal hy na sy ou weë terugkeer.”
Nog ’n faktor wat oorweeg moet word, is die volgende: Hoeveel tyd bestee jou kinders daaraan om na musiek te luister? Maak dit inbreuk op die tyd wat aan belangriker dinge bestee moet word, soos huiswerk, geestelike bedrywighede of verantwoordelikhede by die huis? Soos die Bybel sê: “Vir alles is daar ’n vasgestelde tyd.”—Prediker 3:1.
Afsondering kan ook ’n probleem wees. Ons het natuurlik almal privaatheid nodig en moet tyd opsysit om in stilte na te dink sodat ons nie oppervlakkig word nie (Psalm 1:2, 3). Maar te veel afsondering kan ’n persoon selfbehep en selfsugtig laat word (Spreuke 18:1). Felipe, wat nou 20 is, het dit as sy ‘alleentyd’ beskou wanneer hy na musiek geluister het. “Maar my ma was bekommerd dat ek my afsonder”, sê hy.
Wat kan jongmense, soos Felipe, en hulle ouers help om ’n potensiële geskilpunt in ’n aanknopingspunt te verander? Hoe kan ons almal wyse keuses maak wat musiek betref? Baie het al gevind dat Bybelbeginsels help. Bespreek gerus die volgende drie vrae met jou kinders.
● Watter boodskap dra die musiek oor? “Laat hoerery en elke soort onreinheid of hebsug nie eens onder julle genoem word nie” (Efesiërs 5:3). Baie liedjies het onskuldige lirieke. Maar ander, hetsy op subtiele wyse of openlik, keur gedrag goed wat heilsame waardes, soos Bybelbeginsels, skend—of bevorder selfs sulke gedrag. Trouens, party soorte musiek is daarvoor bekend dat dit oor growwe onsedelikheid, haat en geweld handel. “Die lirieke van rapmusiek is soms skokkend, wreed en deurtrek van vrouehaat en vloekwoorde”, sê die skrywer Karen Sternheimer. Die lirieke van heavy metal-musiek handel dikwels oor geweld en die okkulte. Selfs gewilde popmusiek bevorder soms verkeerde gedrag. Wanneer jy musiek kies, moet jy dus jou “denkvermoë” gebruik om wyse keuses te maak (Romeine 12:1). Moenie net blindelings musiek kies wat gewild is of goed klink nie.
● Watter uitwerking het die musiek op my gevoelens? “Bewaak jou hart . . . , want daaruit is die oorspronge van die lewe” (Spreuke 4:23). Jou keuse van musiek weerspieël nie net wat in jou verstand en hart aangaan, oftewel watter soort persoon jy innerlik is nie. Dit kan ook jou verstand en hart beïnvloed. “Sekere soorte musiek het my kwaad en aggressief gemaak”, sê Jordan, wat vroeër aangehaal is. Vra jou af: ‘Watter uitwerking het my musiek op my gedagtes en gemoedstemming? Laat dit my ontspanne en verkwik voel, of gespanne en ontsteld? Laat dit onsedelike gedagtes by my opkom?’ (Kolossense 3:5). As ’n sekere liedjie ongewenste gevoelens of verkeerde gedagtes by jou laat opkom, sal dit verstandig wees om daarvan ontslae te raak (Matteus 5:28, 29). Hannah, 17, sê: “Ek het gesien hoe skadelik slegte musiek is, en ek wil niks daarmee te doen hê nie.”
● Sal die musiek my waardes beïnvloed? “Haat wat sleg is, en wees lief vir wat goed is”, sê Amos 5:15. Vandag is dit moeilik, want soos die Bybel voorspel het, is mense oor die algemeen “liefhebbers van hulleself . . . , liefhebbers van geld, aanmatigend, hoogmoedig, lasteraars, ongehoorsaam aan ouers, ondankbaar, dislojaal, sonder natuurlike geneentheid, nie bereid tot enige ooreenkoms nie, kwaadsprekers, sonder selfbeheersing, wreedaardig, sonder liefde vir die goeie, . . . liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God” (2 Timoteus 3:1-4). Daarom sê vers 5: “Keer jou van hierdie mense af.”
Hoe keer jy jou van sulke mense af? Jy moet natuurlik meer doen as om net van hulle af weg te bly. Jy moet ook produkte verwerp wat hulle goddelose weë weerspieël (Efesiërs 4:25, 29, 31). Maar sal dit jou keuse van musiek onnodig beperk? Glad nie!
Brei jou musieksmaak uit
In baie gesinne geniet ouers en tieners dit om mekaar se musiek te leer ken. Lena sê: “My 13-jarige dogter het my na haar gunstelingmusiek laat luister, en nou geniet ek dit.” Heather, 16, en haar ouers geniet mekaar se musiek en ruil gereeld CD’s uit.
Regoor die wêreld geniet miljoene Getuies van Jehovah van alle ouderdomme en kulture ’n groot verskeidenheid musiek, insluitende die geestelik opbouende melodieë in die liedereboek Sing vir Jehovah.b In party kulture verskil die melodieë wel van plaaslike style.
Hetsy jy ’n ouer of ’n tiener is, jy kan jou die volgende vrae afvra wanneer jy ’n album wil koop of musiek wil aflaai: ‘Wie het my die vermoë gegee om musiek te geniet? Is dit nie my Skepper, Jehovah God, nie? Hoe kan ek dan vir hom wys dat ek sy gawes werklik waardeer? Sal dit nie wees deur sy standaarde van wat reg en verkeerd of wys en onwys is, hoog op prys te stel nie?’ As jy oor hierdie vrae nadink, sal dit jou help om jou musiek wyslik te kies, wat jóú hart sowel as jou Skepper se hart sal bly maak.—Spreuke 27:11.
[Voetnote]
a Van die name is verander.
b Die musiek kan afgelaai word van die webwerf www.pr2711.com.
[Lokteks op bladsy 7]
Party soorte musiek is daarvoor bekend dat dit oor growwe onsedelikheid handel
[Lokteks op bladsy 8]
Daar is ’n groot verskeidenheid musiek wat jy kan geniet
[Venster op bladsy 7]
Waarom ek veranderinge aangebring het
“Ek het net vae herinneringe aan my tienerjare omdat alkohol- en dwelmmisbruik en geweld my lewe oorheers het”, sê Ashley, 24, “en die musiek wat dit alles aangevuur het, was heavy metal en rap. Die vulgêre, haatgevulde lirieke en stampende, woeste ritme het my sterk laat voel. Die musiek was ook iets wat ek met my dwelmverslaafde vriende in gemeen gehad het. Rapsangers en heavy metal-groepe was ons mentors en helde.
“Maar kort voor lank was my lewe heeltemal buite beheer. Toe ek 17 was, is ek amper dood weens ’n oordosis dwelms. Toe ek wakker geword het, het ek tot God gebid om my te help. ’n Seun het eenkeer vir my gesê dat God se naam Jehovah is, wat ek met Jehovah se Getuies verbind het. Ek het die Getuies dus in die telefoonboek opgesoek, hulle gebel en die Bybel saam met hulle begin studeer.
“Ek het met my slegte gewoontes gebreek en van my musiek ontslae geraak. Maar toe ek my CD’s in die vullisblik gegooi het, het ek daarna gestaan en staar. My hart was in twee geskeur. Ek het my dus daaraan herinner dat hierdie musiek, tesame met my slegte gewoontes, besig was om my te vernietig. Ek het omgedraai en weggestap.
“Vandag, jare later, het heavy metal en rap nog steeds vir my ’n aantrekkingskrag. Daarom vermy ek dit asof dit verslawende dwelms is. Nou geniet ek baie ander soorte musiek, insluitende ballades, ligte rockmusiek en party soorte klassieke musiek. Maar die beste van alles is dat ek in beheer is.”
[Venster op bladsy 9]
Nuttige wenke vir ouers
Is jy bekommerd oor jou kind se musiekkeuse? Hoe kan jy hom of haar help sonder om ’n oorlog te begin? Kyk na die volgende wenke:
Wees ingelig Voordat jy praat, moet jy die feite kry. Luister na die musiek, let op die lirieke en ondersoek die omslag. Vra jou af: ‘Het ek rede om bekommerd te wees of is ek net foutsoekerig?’ Die Bybel sê: “Intelligente mense dink voordat hulle praat; wat hulle sê, het dan meer oorredingskrag.”—Spreuke 16:23, Today’s English Version.
Lê onderskeidingsvermoë aan die dag Musiek kan jou insig gee in jou kind se wêreld en hart. Kry hom op taktvolle wyse om oor sy gevoelens te praat. Vra hom: “Hoekom hou jy van hierdie musiek? Gaan dit oor dinge wat jou dalk bekommer?” Luister dan aandagtig na die antwoord. Spreuke 20:5 sê: “’n Persoon se gedagtes is soos water in ’n diep put, maar iemand met insig kan dit uitskep.”—TEV.
Wees konstruktief Jou doelwit is nie net om ’n tiener te kry om ’n onaanvaarbare CD weg te gooi nie. Jy wil eerder sy “waarnemingsvermoëns [oefen] om te onderskei wat reg sowel as verkeerd is” sodat hy self wyse besluite kan neem (Hebreërs 5:14). Gee jou kind dus ’n blywende nalatenskap: Leer hom om navorsing te doen en oor Bybelbeginsels te redeneer. So sal jy hom help om denkvermoë sowel as goddelike wysheid te ontwikkel, wat baie waardevoller is as al die goud in die wêreld!—Spreuke 2:10-14; 3:13, 14.
Wees ferm, medelydend en liefdevol “Beklee julle . . . met die tere geneenthede van medelye, goedhartigheid, ootmoed, sagmoedigheid en lankmoedigheid” (Kolossense 3:12). Moenie dogmaties of stryerig wees wanneer jy met jou tiener redeneer nie. Onthou dat jy eens op ’n tyd ook ’n tiener was.
[Prent op bladsy 8]
Handhaaf hoë standaarde wanneer jy musiek kies