Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 3/22 bl. 16-19
  • Tuisgemaakte speelgoed in Afrika

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Tuisgemaakte speelgoed in Afrika
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Seunspeelgoed
  • Hoe om ’n draadkarretjie te maak
  • Afrika-poppe
  • Tye verander
  • Speelgoed—Vandag en in die verlede
    Ontwaak!—2005
  • Die beste speelgoed
    Ontwaak!—2004
  • Meer As net Speelgoed
    Ontwaak!—2008
  • Ouers—Kies julle kind se speelgoed wyslik
    Ontwaak!—1994
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 3/22 bl. 16-19

Tuisgemaakte speelgoed in Afrika

Deur Ontwaak!-medewerker in Sierra Leone

’n Seuntjie wat net in ’n verbleikte kakiekortbroek geklee is, stap aan terwyl hy sy speelgoedvragmotor—’n geroeste sardientjieblik—trek. Sy vrag —’n hopie klippies.

’n Entjie daarvandaan speel ’n groep kaalvoet seuns sokker. Maar hulle bal is ’n klomp lappe wat styf saamgebind is. Hulle doelpale is klippe.

Daar oorkant liefkoos ’n driejarige meisie haar pop—’n bruin stok wat in sagte, rooi lap toegedraai is.

In Afrikalande is dit ’n bekende gesig. Maar dit lyk dalk snaaks vir lesers wat in nywerheidslande woon. Miskien glo jy (soos die reklamebedryf jou al aangemoedig het om te glo) dat speelgoed iets is wat ’n mens koop. Maar lank voor die era van fabriekspeelgoed het kinders hulle eie speelgoed gemaak. En in Afrika is die skeppingstradisie nog iets alledaags.

Seunspeelgoed

Seuns word al sedert die ou tyd deur voertuie bekoor. Griekse en Romeinse seuns het met miniatuurrytuie gespeel. En dit is nie verbasend dat motorvervoer jong seuns steeds fassineer en hulle skeppingsvermoë aanwakker nie.

Abraham, ’n Ghanese skoolseun, kap met ’n lang mes takke van ’n kokospalm af. Hy maak ’n lorrietjie daarvan. Die wiele word uit afvalplastiek gesny.

In Lesotho maak ’n seun met die naam Chepa ’n Land-Rover van bierblikkies en draad. Hy sny die blikkies oop, slaan hulle plat, sny hulle die regte grootte en buig hulle oor ’n draadraam om die karretjie se bak te vorm. Halwe bierblikkies is hierdie voertuig se wiele.

Ja, seuns van Afrika maak van blikkies, rottang, karton, draad en bamboes vliegtuie, busse, fietse, vragmotors, trekkers, karretjies en kano’s. En daar is nie twee wat dieselfde lyk nie!

Hoe om ’n draadkarretjie te maak

Draadkarretjies is seker die beste voorbeeld van hierdie vernuftigheid. Dit is voertuie wat van afvaldraad en -blikkies gemaak word.

Maar eers moet die maker van die draadkarretjie die materiaal kry. Tamba verlaat byvoorbeeld vroeg in die dag die huis om te begin soek. ’n Buurman gee hom ’n paar ou klerehangers—ideaal vir die onderstel en die bak se raamwerk. By ’n stortplek kry hy ’n bietjie elektriese draad. Blikdeksels met ’n deursnee van agt sentimeter sal as wiele dien. En op pad huis toe kry Tamba toestemming om ’n dik stuk draad van 1,2 meter van ’n lendelam heining te vat.

Nou kom die ontwerpstadium. Nadat Tamba ’n ruwe skets op ’n kaart geteken het, is hy gereed om met die bouwerk te begin. Hy gebruik sy pa se tang om die klerehangers volgens die ontwerp te sny, te buig en vas te bind. Wanneer die raamwerk voltooi is, sit hy die asse en blikdekselwiele aan. Dan die besonderhede—deure, vloer, sitplekke, vensterrame, sierrooster, buffers en ligte. Tamba se karretjie sal natuurlik ook ’n paar bykomstighede hê, soos ’n stukkie spieël en ’n mat vir die vloer. Deursigtige lekkergoedpapier word as “glas” vir die vensters gebruik.

Nou is dit tyd om die stuurstang aan te sit wat deur die dak steek en oor die karretjie terugbuig sodat dit tot by Tamba se middel kom. Tamba maak ’n stuurwiel van hierdie punt, en dit sal hom in staat stel om sy kar te “bestuur” deur dit te stoot. Die boutyd? Twee dae. Maar nou kom die eintlike pret—om dit te bestuur! Met sy hand op die stuurwiel stoot Tamba sy karretjie en stuur dit knap om hindernisse. Om in die nag te bestuur, sit party seuns batterykopligte, oftewel flitsliggloeilampies, aan.

Afrika-poppe

Poppe is al “die mens se oudste speelgoed” genoem. Maar Afrika-poppe is baie anders as die poppe wat in winkels gekoop word.a Stel jou byvoorbeeld ’n piesangpop voor! Hulle is gewild onder meisies in Wes-Afrika. Nadat hulle ’n paar oë, ’n mond en ’n neus op die vrug geteken het, word die pop paslik aangetrek. Party kinders dra hulle speelgoedbabas selfs op hulle rug—net soos ma!

Suid-Afrikaanse meisies weet ook hoe om “babas” uit mieliekoppe te maak. Stokke word vir arms en bene bygevoeg. ’n Paar stukkies lap word klere. En die mielieblare se “hare” is ideaal vir vlegsels.

Cynthia, ’n meisie van Sierra Leone, gaan van die een kleremaker na die ander om stukkies lap vir ’n ander soort pop bymekaar te maak. Dit is die lappop. Ná sy ’n skêr, ’n naald en gare by haar ma geleen het, sny sy haar lap en werk haar pop aanmekaar. Klein stukkies lap word as die opstopsel gebruik of word as gelaatstrekke vasgewerk.

Tye verander

Maar in onlangse jare het talle goedkoop fabriekspeelgoed van die Verre Ooste af in Afrika ingestroom. In Wes-Afrika kan plastiekpoppe byvoorbeeld vir net R1,20 gekoop word. Omdat hulle duursaam is en meer na regte babas lyk, verkies meisies hulle baie keer bo mieliestronke of lappoppe.

’n Tienermeisie met die naam Saffie verkoop lappoppe by ’n padstalletjie in Freetown, Sierra Leone se besige hoofstad. Hulle kos maar net R7,40. Haar klante? Saffie erken: “Dis meestal die Amerikaanse en Europese toeriste wat nou lappoppe soek. Die kinders van Afrika verkies plastiekpoppe.”

Maar verkies seuns werklik die winkelspeelgoed? Dertienjarige Raymond het pas ’n hele week aan ’n netjiese draadvragmotor gebou. Ons het gevra: “Sal jy ’n gekoopte lorrie in ruil vir joune neem as iemand dit vir jou aanbied?” Hy het oombliklik geantwoord: “Natuurlik! Dit lyk meer soos die regtes.”

Ja, tuisgemaakte voertuie word minder gewild noudat fabriekskarretjies meer volop word. Patricia Davison sê in die tydskrif African Arts: “Dit wil voorkom of die swak sosio-ekonomiese toestande wat algemeen voorkom in die gemeenskappe waarin hierdie speelgoed gemaak word hierdie vorm van vindingrykheid gestimuleer het en dat materiële oorvloed dit aan die ander kant kan strem.”

Sal fabriekspeelgoed gevolglik die handgemaaktes in Afrika uiteindelik vervang? Die tyd sal leer. Dit is interessant dat ’n aantal organisasies oor die hele Afrika die tradisie van tuisgemaakte speelgoed aan die gang probeer hou deur speelgoedkompetisies te borg. Party museums versamel ook voorbeelde van hierdie handewerk vir hulle uitstallings. Maar as hulle kan kies, sal kinders amper altyd fabriekspeelgoed verkies omdat dit so werklik lyk.

Dit is miskien ’n jammerte. Want anders as die winkelspeelgoed stimuleer tuisgemaakte speelgoed die skeppingsvermoë, oorspronklikheid, vindingrykheid, kunstigheid en verbeeldingsvermoë. Dit is pret om hulle te maak en dit laat jou voel dat jy iets bereik het. En dit kan beswaarlik minder kos.

[Voetnoot]

a Afrika-beelde wat uit hout gekerf word en wat in die verlede dikwels met godsdiens en spiritisme verband gehou het, word selde deur kinders van Afrika as speelgoed gebruik. Mnr. H. U. Cole, die direkteur van die Sierra Leone-museum in Freetown, het Ontwaak! ook vertel dat sulke beelde weens Westerse invloed al hoe meer vir versiering gebruik word.

[Lokteks op bladsy 19]

Lank voor die era van fabriekspeelgoed het kinders hulle eie speelgoed gemaak

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel