Ons beskou die wêreld
Herverskyning van aansteeklike siektes
“Die gevaar wat aansteeklike siektes inhou, het nie verdwyn nie. Dit word erger”, sê Robert Shope van die Yale-universiteit oor ’n verslag wat deur Amerika se Nasionale Akademie vir Wetenskappe uitgereik is. “As ons nie opnuut voldoende maatreëls tref om sake onder beheer te bring nie, kan ons voor nuwe krisisse te staan kom wat soortgelyk is aan die HIV-pandemie of die grieppandemie van 1918-1919.” Vier siektes het reeds “oënskynlik uit die niet verskyn en baie lyding en dood veroorsaak”, voeg Joshua Lederberg, Robert Shope se medevoorsitter op die komitee wat die verslag opgestel het, by. Dié siektes is medisynebestande tuberkulose, vigs, Lyme-siekte en ’n dodelike nuwe soort streptokokinfeksie. Hoewel baie geneesmiddels en antibiotikums gedurende die afgelope drie dekades ontwikkel is, het mikrobes op verskeie maniere weerstand daarteen opgebou. Bakterieë kan byvoorbeeld genetiese materiaal, waaronder die gene vir antibiotiese weerstand, uitruil. Gevolglik het hospitale, crèches en skuilings vir die dakloses broeineste van medisynebestande, aansteeklike siektes geword. En ’n toename in internasionale reise het die “superkieme” oor die hele wêreld versprei. Barry Bloom van New York se Albert Einstein College of Medicine sê: “Wat aansteeklike siektes betref, is daar geen plek waarvan ons afgesonder en geen mens van wie ons afgesny is nie.”
Kanada se gewelddadige misdaad
“Dink jy Kanada is ’n vreedsame plek? Dink weer”, sê The Toronto Star. “Kanada se syfer vir gewelddadige misdaad word as die tweede hoogste in die Westerse wêreld beskou”, naas dié van die Verenigde State. ’n Internasionale studie het getoon dat Kanada se misdaadsyfer twee tot drie keer hoër is as Wes-Europa s’n wat op sy beurt drie keer hoër as Japan s’n is. In onlangse dekades het misdaad in Kanada verdubbel en selfs verdriedubbel, en die stede Vancouver, Edmonton en Ottawa het die hoogste misdaadsyfers. Londen, Ontario, is volgende en word deur Toronto en Montreal gevolg. Volgens Irvin Waller, kriminoloog aan die Universiteit van Ottawa, sal gewelddadige misdaad waarskynlik vererger tensy meer gedoen word omtrent die oorsaak van die probleem, soos armoede, behuising, verwaarlosing, werkloosheid en die misbruik van verslawende middels.
Herderlike simfonieë
Melkboere in Japan het na ’n doeltreffender en minder tydrowende manier gesoek om koeie aan te keer wat oor heuwels versprei is waar die sigbaarheid beperk is. Hulle het dus ’n proefneming uitgevoer om te kyk of die koeie deur musiek aangekeer kan word. Hulle het 13 dae lank vir 16 koeie die Japannese deuntjie Haroe no Ogawa (Riviertjie in die Lente) gespeel, drie minute op ’n keer, twee tot vier keer per dag. Onmiddellik daarna het hulle vir die koeie hulle geliefkoosde kos gegee. Ná ’n winteronderbreking waartydens die koeie gekalf het, het hulle tien van die “opgeleide” koeie en hulle nege kalwers in die weiveld losgelaat. Dieselfde deuntjie is weer gespeel. “Binne twee minute”, berig Asahi Evening News, “was die hele kudde terug, byeengebring deur musiek wat hulle sowat vier maande lank nie gehoor het nie.”
Goed bewaarde mediese geheim
Een van die bes bewaarde geheime van die Deense mediese gemeenskap is deur professor Margareta Mikkelsen, ’n konsulterende dokter, verklap. Sy het aan die lig gebring dat mediese personeel wat pasiënte vir ’n oorgeërfde siekte ondersoek gereeld uitvind dat die man wat as ’n kind se pa bekend staan nie die biologiese pa kan wees nie omdat die chromosome nie ooreenstem nie. Volgens die koerant Süddeutsche Zeitung is tussen 5 en 8 persent van die pa’s in Denemarke nie hulle kinders se biologiese pa nie. Dit beteken dat ten minste 3000 uit die 60 000 geboortes per jaar aan ontrou toegeskryf kan word. Die mans word nie van die ontdekking vertel nie, uit vrees dat dit die gesin kan laat verbrokkel.
“Tragedie in die tragedie”
’n Onlangse seminaar wat in Rome deur die Wêreldgesondheidsorganisasie en die Internasionale Navorsing- en Noodlenigingsentrum georganiseer is, het volgens Economia, ’n bylae by die koerant Corriere della Sera, ’n “lang lys wreedhede, verkwistings en ongelooflike foute waaraan die invloedryke internasionale bystandsorganisasies hulle gereeld skuldig maak” aan die lig gebring. Die lys sluit dieetlekkergoed in wat na hongersnoodgeteisterde Ethiopië gestuur is; somertente wat ná ’n aardbewing na Anatolië, Turkye, gestuur is waar die temperatuur minus 12 grade Celsius was; geneesmiddels waarvan die vervaldatum verstryk het en entstowwe waarvoor verkoeling nodig is wat na plekke sonder elektrisiteit gestuur is. Noodlenigingsvoorraad bly dikwels in pakhuise lê of bereik nie diegene wat dit nodig het nie. Waarom word hierdie ernstige foute steeds gemaak? Economia sê: “Internasionale bystand moet sigbare, en indien moontlik, sensasionele resultate lewer.” Dit het ook gesê: “Die openbare mening vereis dit, en dus maak dit nie saak as die internasionale bystand feitlik altyd net geld verkwis nie.” Deskundiges noem dit “’n tragedie in die tragedie”.
Dodelike alge
Die toenemende besoedeling van waterbronne is volgens wetenskaplikes verantwoordelik vir die vermeerdering van giftige alge wat visse wêreldwyd bedreig. Volgens ’n berig in die International Herald Tribune produseer dinoflagellata, ’n soort alge, ’n gifstof wat visse doodmaak. Die alge heg hulle dan aan stukkies vis vas deur middel van ’n stingel waardeur hulle spysverteringsappe afskei om die visstukkies vloeibaar te maak voor hulle dit insuig. Tydens hierdie groot visslagtings het navorsers tot 175 000 dinoflagellata in ’n teelepel water gekry. ’n Konsentrasie van slegs 1500 dinoflagellata per teelepel is genoeg om visse in akwariums dood te maak. Die dinoflagellata word dikwels in nuwe gebiede vrygestel wanneer skepe hulle ballaswater laat uitloop.
Egskeidingsyfer onder geestelikes styg
“Een uit elke drie huwelike in Duitsland loop op ’n egskeiding uit”, sê The German Tribune. En in ooreenstemming hiermee “verbrokkel die huwelike van al hoe meer Protestantse predikante”. Hans-Martin Heusel, ’n verteenwoordiger vir die president van die Protestantse Kerk in Hesse en Nassau, erken dat “die egskeidingsyfer onder manlike sowel as vroulike predikante nou net so hoog is soos onder die bevolking oor die algemeen”. Die Tribune sê hoewel die kerk leer dat die huweliksverbintenis nie verbreek moet word nie, “is die werklikheid, selfs onder die geestelikes self, iets heeltemal anders. Persoonlike, Christelike getuienis verskil hemelsbreed van die Kerkleer met betrekking tot egskeiding waarby predikante betrokke is.” In byna alle gevalle “kan ’n geskeide predikant steeds ’n geestelike bly, óf in sy ou gemeente, óf elders”.
“Bedekte depressie”
’n Toenemende aantal aftredende Japannese kantoorwerkers ondervind simptome wat van maagpyn tot verlamming wissel. Namate hulle aftrede nader kom, verloor hierdie werkverslaafdes hulle invloed by die werk en word hulle tuis as ’n oorlas beskou deur die gesinne wat tot nou toe deur hulle verwaarloos is. Die koerant Asaji Sjimboen sê: “Hulle raak depressief, maar probeer dit wegsteek deur hulle opgeruimd voor te doen. Weldra begin hulle simptome soos maagpyn ondervind.” Ondersoeke toon dat daar fisies niks skort nie. Dr. Tooroe Sekija, wat hierdie simptome “bedekte depressie voor aftrede” noem, sê die volgende oor die tipiese pasiënt: “Hy troos homself aan die idee dat die enigste manier waarop hy aanvaar sal word, is om siek te word, en dit het vanselfsprekend ’n verskeidenheid simptome tot gevolg.” Wat kan ’n mens daaromtrent doen? “Vind waardes in iets anders as werk, soos ’n stokperdjie”, raai dr. Takasji Soemioka, wat baie sulke pasiënte in Tokio behandel, aan en “maak dit ’n gewoonte om jou gesin altyddeur op prys te stel”.
Mexiko en die Katolieke Kerk
Op 21 September 1992, ná ’n onderbreking van meer as 130 jaar, is volle diplomatieke betrekkinge tussen Mexiko en die Vatikaan herstel. Dit het gevolg op president Carlos Salinas de Gortari se voorstel om die grondwet te verander en om aan godsdiensgroepe die regte terug te gee wat hulle ná die rewolusie van 1910 ontneem is. “Die meeste van daardie regte is aanvanklik tussen 1856 en 1861 herroep toe rebelse liberale wat die ontsaglike mag van die Katolieke Kerk graag wou beperk die land se verbintenis met die Heilige Stoel verbreek het”, sê The New York Times. Maar die meeste van die verbooie word lank reeds geïgnoreer. Die grondwet het egter onveranderd gebly aangesien baie Mexikane steeds die Katolieke Kerk se mag gewantrou het. Alle kerke het nou ’n duidelik omskrewe wetlike status, het die reg om godsdiensonderrig te gee en kan eiendom besit.
Hersiening van liggaamstemperatuur
Die gemiddelde menslike liggaamstemperatuur word al meer as ’n eeu lank as 37 grade Celsius aanvaar, die resultaat van ’n dokument wat in 1868 deur Carl Wunderlich gepubliseer is en wat op meer as ’n miljoen liggaamstemperatuurmetings onder 25 000 volwassenes gebaseer is. Dit was nogal ’n prestasie aangesien dit ongeveer 15 of 20 minute geduur het vir termometers van daardie tyd om temperature aan te dui, en hulle moes afgelees word terwyl hulle nog op hulle plek in die armholte was. Maar Philip A. Mackowiak wat aan die Universiteit van Maryland se Mediese Opleidingskool verbonde is, sê dat die syfer verander moet word, aangesien sy studies getoon het dat 37 grade Celsius “nie die algemene gemiddelde temperatuur, die gemiddelde temperatuur van enige tydperk wat nagegaan is, die middeltemperatuur of die temperatuur was wat die meeste aangeteken is nie”. Trouens, dit was die resultaat van slegs 8 persent van die 700 aflesings wat geneem is. Volgens hom moet die gemiddelde liggaamstemperatuur 36,8 grade Celsius wees.