Wanneer die water rooi word
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN DIE FILIPPYNE
Stel jou vissermanne voor wat na die strand toe loop en vroegdag met hulle werk begin om hulle skuite en nette voor te berei. Soos gewoonlik hoop hulle op ’n goeie vangs. Maar tot hulle verbasing sien hulle iets vreesliks deur hulle slaperige oë. Duisende visse het op die strand uitgespoel—dood. Wat was die oorsaak van hierdie massavrekte? ’N ROOIGETY!
ROOIGETYE is ’n wêreldwye verskynsel. Dit is al langs die kus van die Atlantiese en die Stille Oseaan van die Verenigde State en Kanada opgemerk. Dit het ook al in Australië, Brunei, noordwestelike Europa, Japan, Maleisië, Papoea-Nieu-Guinee, die Filippyne en op ander plekke voorgekom. Hoewel betreklik min mense van rooigetye bewus is, is dit nie iets nuuts nie.
In die Filippyne is ’n rooigety vir die eerste keer in 1908 in die provinsie Bataan gesien. In 1983 het ’n rooigety visse en skulpvisse in die Samar-see, Maqueda- en Villareal-baai vergiftig. Sedertdien is rooigetye al in baie ander kusgebiede gesien. “Buiten die visse wat doodgegaan het”, het Zenaida Abuso, van die Filippynse Nasionale Rooigety-ondersoekspan, aan Ontwaak! gesê, “het die Buro van Visserye en Waterhulpbronne 1 926 gevalle van paralitiese mosselvergiftiging opgeteken wat deur rooigetye veroorsaak is.”a Maar presies wat is hierdie dodelike verskynsel?
Wat dit is
Die term “rooigety” verwys na die verkleuring van die water wat soms in sekere gebiede van die oseaan of ’n binnelandse see voorkom. Hoewel die kleur dikwels rooi is, kan dit ook skakerings van bruin of geel wees. The World Book Encyclopedia sê dat “die verkleurde gebiede van minder as ’n paar vierkante jaart of meter tot meer as 1 000 vierkante myl (2 600 vierkante kilometer) kan wissel”.
Wat veroorsaak hierdie verkleuring? Rooigetye word gewoonlik veroorsaak deur verskeie spesies mikroskopiese, eensellige alge of deur protosoë wat dinoflagellate genoem word. Hierdie piepklein organismes het haaragtige uitsteeksels wat flagellums genoem word—sweepagtige uitgroeisels waarmee hulle in die water voortbeweeg. Daar is ongeveer 2 000 verskillende dinoflagellate, waarvan 30 gif bevat. Hierdie klein organismes kom gewoonlik in warm water met ’n hoë soutgehalte voor.
’n Rooigety kom voor wanneer daar ’n skielike en drastiese vermeerdering van hierdie mikroskopiese dinoflagellate is. Die konsentrasie van hierdie organismes kan tot 50 000 000 per liter water toeneem! Hoewel wetenskaplikes nie ten volle verstaan waarom dit gebeur nie, is dit bekend dat dinoflagellate vermenigvuldig wanneer sekere toestande die water gelyktydig beïnvloed. Dit sluit in: abnormale weer, gunstige temperature, te veel voedingstowwe in die water, baie sonskyn en gunstige seestrome. Wanneer dit swaar reën, word minerale en ander voedingstowwe soms van die land na die kuswaters afgespoel. Hierdie voedingstowwe kan tot die vermeerdering van dinoflagellate bydra. Die gevolg? Rooigetye!
Dit lyk ongelukkig asof mense soms hierdie verskynsel vererger. Wanneer groot hoeveelhede nywerheidsafval en rioolwater in die see loop, kan daar ’n oormaat van sekere voedingstowwe wees. Dit kan aanleiding gee tot die geweldige vermeerdering van dinoflagellate. Die suurstof in die water word gou opgebruik, wat daartoe lei dat baie visse doodgaan.
Rooigetye kom in warm oseane en in kalm kuswaters voor, gewoonlik die tyd tussen die einde van die warm maande en die begin van die reënseisoen. Dit kan ’n paar uur tot etlike maande duur, afhangende van heersende toestande in die gebied.
Die slagoffers
Die meeste rooigetye is onskadelik; maar party is baie skadelik. Sekere soorte dinoflagellate stel gifstowwe in die water vry wat visse en ander seelewe verlam en doodmaak. Sommige rooigetye het al baie sterftes veroorsaak onder visse, oesters, inkvisse, mossels, garnale en krappe, wat van die dinoflagellate leef. Wanneer ’n skadelike rooigety voorkom, kan ’n mens talle dooie visse in die water sien dryf en hoop hulle soms vir kilometers langs die kus op.
Dit het ook al ’n groot invloed op mense gehad. In gebiede waar visvangs ’n bron van inkomste is, het rooigetye vissermanne hulle vangs ontneem, wat hulle lewensonderhoud is. Nog erger, rooigetye het al die verlies van menselewens veroorsaak.
Rooigety-vergiftiging
Een van die gifstowwe wat deur party dinoflagellate vrygestel word, staan bekend as saksitoksien. Dit is ’n wateroplosbare sout wat die senuweestelsel van die mens aanval. Dit word dus as ’n neurotoksien geklassifiseer. The New Encyclopædia Britannica sê dat “gifstowwe wat in die water vrygestel word, die menslike asemhalingstelsel irriteer”. Strandoorde moes al sluit wanneer gifstowwe deur rooigetye in die lug vrygestel is weens golfwerking.
Hou jy daarvan om skulpvis en ander seekos te eet? Wel, rooigetye kan skulpvisse wat van die dinoflagellate leef, giftig maak. Die tydskrif Infomapper sê dat ‘skulpdiere en ander skulpvisse, soos oesters, mossels en gapermossels, die grootste gevaar inhou omdat hulle filtervoeders is en meer gifstowwe as visse absorbeer’. Maar “vis, inkvisse, garnale en krappe . . . kan nog steeds veilig vir menslike gebruik wees”. Wat is die rede hiervoor? Rooigety-gifstowwe versamel in die ingewande van hierdie diere, en dit word gewoonlik uitgehaal voordat hulle gekook word.
’n Mens moet nietemin versigtig wees wanneer jy seekos eet—veral skulpvis—wat uit gebiede gehaal word wat daarvoor bekend is dat dit deur rooigetye vergiftig word. Sulke getye kan ’n toestand veroorsaak wat paralitiese mosselvergiftiging, of PMV, genoem word. As jy rooigety-gifstowwe ingekry het, kan jy binne 30 minute simptome vertoon. Die bygaande tabel gee van hierdie simptome aan. As PMV nie behoorlik behandel word nie, kan dit tot die verlamming van die asemhalingstelsel lei, wat die dood tot gevolg kan hê.
Daar is tans nog nie ’n teenmiddel vir rooigety-vergiftiging nie. Maar ’n mate van sukses is al met party noodprosedures behaal. Rooigety-gifstowwe kan uit ’n pasiënt se maag verwyder word deur hom te laat opgooi. Maagspoeling deur middel van ’n maagpomp is ook al gebruik om van gifstowwe ontslae te raak. In sommige gevalle is kunsmatige asemhaling nodig. In die Filippyne meen party dat die inname van kokosmelk met bruinsuiker die slagoffer help om vinniger te herstel.
Die oplossing
Rooigetye is op die oomblik grootliks buite ons beheer. Maar baie glo dat die probleem van rooigetye verminder kan word as minder chemiese bemestingstowwe en plaagdoders gebruik sou word. Dit sal verhoed dat dit in die see inspoel. ’n Verbod op die storting van nywerheidsafval en riool in water sal ook help. ’n Ander benadering sou wees om ontslae te raak van moontlike bronne van voedingstowwe langs die kus wat kan veroorsaak dat die dinoflagellate vermenigvuldig.
Intussen is sommige regerings besig om die situasie noukeurig te monitor. In die Filippyne toets ’n regeringsinstansie byvoorbeeld skulpvis gereeld om seker te maak dat hulle vir plaaslike en internasionale markte geskik is. Uiteindelik is dit maar net die Skepper wat ’n einde kan maak aan die skadelike gevolge vir die mensdom wanneer die water rooi word.
[Voetnoot]
a Hoewel rooigetye in die Filippyne regstreeks met paralitiese mosselvergiftiging verbind word, sê party deskundiges dat dit nie noodwendig in alle lande die geval is waar rooigetye al voorgekom het nie.
[Venster op bladsy 24]
Simptome van rooigety-vergiftiging
1. ’n Prikkelende of brandende gevoel van die lippe, tandvleis en tong
2. Gevoelloosheid en prikkeling van die gesig, wat na ander dele in die liggaam versprei
3. Hoofpyn en duiseligheid
4. Intense dors en oormatige speekselafskeiding
5. Naarheid, braking en diarree
6. ’n Mens sukkel om asem te haal, te praat en te sluk
7. Gewrigspyn en lighoofdigheid
8. Hoë polsslag
9. Spierswakheid en versteurde ewewig
10. Verlamming van die liggaam
[Prente op bladsy 24, 25]
Organismes verantwoordelik vir rooigetye
Pyrodinium bahamense
Gymnodinium catenatum
Gambierdiscus toxicus
[Erkennings]
Courtesy of Dr. Rhodora V. Azanza, University of the Philippines
Courtesy of Dr. Haruyoshi Takayama
ASEAN-Canada Cooperative Programme on Marine Science
[Prent op bladsy 25]
Die gevolge van ’n rooigety
[Erkenning]
Grant Pitcher/Courtesy WHOI
[Foto-erkenning op bladsy 23]
Peter J. S. Franks, Scripps Institution of Oceanography
[Foto-erkenning op bladsy 25]
Scripps Institution of Oceanography