Kan die wetenskap die uitdagings van die 21ste eeu die hoof bied?
“Daar is nou oorweldigende wetenskaplike getuienis wat daarop dui dat Moeder Aarde nie veel langer teen haar onverskillige, weerbarstige kroos opgewasse sal wees nie.”—The European, 19-25 Maart 1992.
EKOLOË stem al hoe meer saam dat die bedreiging van die aarde ernstig is en beslis aandag moet geniet en dat daar allesbehalwe ’n berg van ’n molshoop gemaak word. Trouens, hulle sê onmiddellike optrede is noodsaaklik as ons ’n ramp wil voorkom. “Ons het nie meer eeue oor nie”, het die president van die Worldwatch-instituut teen die einde van die tagtigerjare gesê. “Ons het slegs jare oor waarin ons dinge kan probeer verander.”
Die redakteurs van die boek 5000 Days to Save the Planet was meer spesifiek toe hulle hulle boek in 1990 uitgegee het. Hulle aftelling gaan sedertdien voort. Volgens hulle spertyd is daar nou om en by 4000 dae oor om die planeet te red. En wanneer die 21ste eeu aanbreek, sal dit tot sowat 1500 dae gedaal het, tensy iets buitengewoons intussen gebeur.
Watter buitengewone omstandighede het tot hierdie skynbare krisis aanleiding gegee? Watter uitdagings hou die volgende eeu in?
Geen tekort aan probleme nie
Vredeliewende mense is verheug dat die Koue Oorlog verby is. Maar die uitdaging om wêreldvrede tot stand te bring en te bewaar, is nog net so werklik. President Mitterrand van Frankryk het, toe hy in Januarie 1990 die probleme van Europese eenwording bespreek het, gesê: “Ons verruil ’n onregverdige maar stabiele wêreld vir ’n wêreld wat hopelik regverdiger maar beslis onstabieler sal wees.” En The European het geskryf: “Die prys van vryheid [vir nasies van die destydse Sowjetblok] is ’n toenemende onstabiliteit wat die gevaar van kernoorlog, al is dit hoe gering, vergroot het.”
Trouens, party van die uitdagings waarmee die wêreld nou te kampe het, was feitlik ongekend toe die Koue Oorlog begin het. Dit is soos 5000 Days to Save the Planet sê: “Skaars vyftig jaar gelede was die wêreldomgewing nog grotendeels in ewewig. . . . Die wêreld was ’n wyd uitgestrekte, pragtige en kragtige plek; hoe kon ons dit ooit beskadig? Vandag hoor ons dat ons planeet in ’n krisis is, dat ons deur ons vernietiging en besoedeling daarvan op ’n wêreldramp afstuur.”
Sogenaamde natuurrampe—oorstromings, storms, aardbewings, vulkaanuitbarstings—kom oral voor. In watter mate die mens se inmenging met die omgewing daarvoor aanspreeklik is, is ’n onuitgemaakte saak. Daar is bewyse dat die aarde se beskermende osoonlaag op party plekke gevaarlik dun geword het. Party wetenskaplikes waarsku nou dat klimaatsveranderinge wat rampe kan veroorsaak skielik kan plaasvind pleks van geleidelik te ontwikkel.
Kanker, hartkwaal, bloedsomloopprobleme en baie ander kwale toets al lank die vernuf van die mediese professie. Ondanks jare van mediese vooruitgang sterf mense steeds weens hierdie siektes. In Europa alleen sterf daar jaarliks nagenoeg 1200 000 mense aan kanker, byna 65 persent meer as ’n dekade gelede. Uit vrees vir ’n nuwe plaag—vigs, waaraan baie minder mense gesterf het—word hierdie groot verlies grotendeels verontagsaam.
Dan is daar nog ’n uitdaging: Die wêreldbevolking het binne 200 jaar van eenmiljard tot sowat vyf en ’n half miljard mense aangewas. Al het die bevolking se jaarlikse groeikoers onlangs afgeneem, skat party dat die wêreldbevolking teen die jaar 2025 waarskynlik meer as agtmiljard sal wees en dat dit teen 2050 bykans op die tienmiljard-merk sal staan. Waar gaan al hierdie mense woon? Wat gaan hulle eet? Volgens ’n VN-verslag wat in 1991 vrygestel is, is daar na raming ’n miljard mense wat reeds in volslae armoede leef, terwyl “ondervoeding, ongeletterdheid en siektes so ’n integrerende deel van [hulle lewe] is dat dit benede enige redelike definisie van menslike waardigheid is”.
Paul R. Ehrlich, professor in bevolkingstudies aan die Stanford-universiteit in die Verenigde State, toon hoe ontsaglik hierdie probleem is wanneer hy sê: “Terwyl oorbevolking onder die arm nasies geneig is om hulle brandarm te hou, ondermyn oorbevolking onder ryk nasies gewoonlik die hele planeet se vermoë om lewe te onderhou.”
Die moontlikheid dat die vroeër genoemde faktore—of ander, soos dwelmmisbruik, onvoldoende behuising, misdaad en rassekonflikte—in die nabye toekoms ’n wêreldramp kan veroorsaak, gee ’n mens rede tot werklike kommer. Die uitdaging is duidelik. Hoe om dit die hoof te bied, is nie.
Op soek na oplossings
Met die oog op die erns van die probleme soek regerings nietemin met ’n mindere of meerdere mate van dringendheid na oplossings. Wat die omgewing betref, is die grootste ekologiese vergadering tot nou toe byvoorbeeld in Junie verlede jaar in Rio de Janeiro gehou. Die VN-geborgde Aardeberaad was die tweede van sy soort, ná die een wat in 1972 in Stockholm, Swede, gehou is. ’n Bekende Duitse politikus het toe gesê: “Hierdie beraad kan ’n keerpunt in die lot van die planeet wees.”
Die byeenkoms van 1972 het klaarblyklik nie aan die verwagtinge voldoen nie. Maurice F. Strong, die hooforganiseerder van die 1972- sowel as die 1992-beraad, het erken: “Ons het gedurende die 20 jaar sedert die Stockholmberaad uitgevind dat omgewingsregulasies, wat omgewingsinstansies se enigste werklike hefboom is, belangrik maar onvoldoende is. Dit moet gepaardgaan met belangrike veranderinge in die onderliggende beweegredes vir ons ekonomiese optrede.”
Maar sal die 1992-beraad enigsins suksesvoller as die een van 1972 wees om hierdie “belangrike veranderinge” teweeg te bring? En sal ons planeet, indien nie, ná nog 20 jaar, in 2012, steeds vir ’n moontlike derde Aardeberaad die gasheer kan wees?
Die wetenskap se grootste uitdaging
Mense oor die algemeen raak al hoe skeptieser oor godsdiens en die politiek se vermoë om wêreldprobleme op te los. Maar as godsdiens of die politiek nie kan nie, wat kan dan die ernstige uitdagings van die 21ste eeu die hoof bied?
’n Brosjure wat deur die Duitse Federale Ministerie van Navorsing en Tegnologie uitgegee is, werp lig op hierdie vraag. “Die oplossing van hierdie probleme verg politieke strategieë wat nie net kan help om enige verdere veranderinge deur die mens te keer nie, maar ook om die negatiewe gevolge van wêreldwye veranderinge te voorkom. Met die oog op die kompleksiteit van die probleme waarmee ons te kampe het, sal sinvolle politieke besluite slegs moontlik wees as dit op gegronde wetenskaplike bevindinge en betroubare voorbeelde gebaseer word. Dit is skynbaar die enigste manier waarop duur of selfs ongewenste en rampspoedige verwikkelinge voorkom kan word. Die verskaffing van hierdie inligting bied die wetenskaplike gemeenskap tans die grootste uitdaging.”
Die wetenskap het vantevore al voor ontsaglike uitdagings te staan gekom en het hulle, ten minste in ’n mate, die hoof gebied. Tog kan ons tereg vra of die wetenskap die unieke uitdagings wat die komende 21ste eeu inhou die hoof sal kan bied. Is daar grond vir optimisme?
Ontwaak! maak met graagte bekend dat ’n bespreking van hierdie belangrike sake gedek gaan word in ’n reeks artikels wat in hierdie nommer begin. Deel 1 volg.
[Prente op bladsy 4]
Wat kan die wetenskap omtrent besoedeling, siektes en oorbevolking doen?
[Erkennings]
WHO photo by P. Almasy
WHO photo by P. Almasy