Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 5/8 bl. 18-21
  • Die wetenskap—die mensdom se voortdurende soeke na waarheid

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die wetenskap—die mensdom se voortdurende soeke na waarheid
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Christelike” Europa neem nie meer die voortou nie
  • Wetenskaplike vooruitgang
  • Die Arabiere vereenvoudig die wiskunde
  • Die vlam van belangstelling word weer in Europa aangewakker
  • Die wetenskap—die mensdom se voortdurende soeke na waarheid
    Ontwaak!—1993
  • Die wetenskap—Die mensdom se voortdurende soeke na waarheid
    Ontwaak!—1993
  • Die wetenskap—die mensdom se voortdurende soeke na waarheid
    Ontwaak!—1993
  • Hoe Arabies die taal van die geleerdes geword het
    Ontwaak!—2012
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 5/8 bl. 18-21

Deel 3

Die wetenskap—die mensdom se voortdurende soeke na waarheid

Godsdiens en die wetenskap—’n ongunstige kombinasie

DUISENDE jare se soeke na wetenskaplike waarheid het skynbaar ’n vaste grondslag vir latere navorsing gelê. Daar kon tog seker niks wees wat verdere vooruitgang sou verhinder nie. En tog “het die wetenskap gedurende die derde, vierde en vyfde eeu A.D. sleg gevaar”, sê The Book of Popular Science.

Twee gebeurtenisse het baie tot hierdie situasie bygedra. Gedurende die eerste eeu is ’n nuwe godsdiensera met Jesus Christus ingelui. En etlike dekades vroeër, in 31 v.G.J., is ’n nuwe politieke era met die stigting van die Romeinse Ryk ingelui.

Anders as die Griekse filosowe wat voor hulle gelewe het, het die Romeine “meer daarin belanggestel om alledaagse lewensprobleme op te los as om na abstrakte waarheid te soek”, sê die bogenoemde naslaanwerk. Dit is dus logies dat “hulle nie juis veel tot suiwer wetenskap bygedra het nie”.

Die Romeine het egter gehelp om die wetenskaplike kennis oor te dra wat tot op daardie tyd versamel is. Plinius die Ouere het byvoorbeeld gedurende die eerste eeu ’n wetenskaplike versamelwerk saamgestel wat Natural History genoem word. Hoewel dit nie sonder foute was nie, het dit verskeie soorte wetenskaplike inligting behoue laat bly wat dalk andersins vir latere geslagte verlore sou gegaan het.

Wat die godsdiens betref, was die vinnig groeiende Christengemeente nie by die wetenskaplike soeke van daardie tyd betrokke nie. Christene het nie wetenskaplike navorsing as sodanig teëgestaan nie, maar die Christen se prioriteit was om, soos Christus self getoon het, godsdienswaarheid te begryp en te verkondig.—Mattheüs 6:33; 28:19.

Voor die einde van die eerste eeu het afvallige Christene reeds die godsdienswaarheid begin verdraai wat hulle beveel is om te verkondig. Soos voorspel is, het dit later tot die totstandkoming van ’n afvallige vorm van die Christelike godsdiens gelei (Handelinge 20:30; 2 Thessalonicense 2:3; 1 Timotheüs 4:1). Daaropvolgende gebeure het getoon dat hulle verwerping van godsdienswaarheid gepaard gegaan het met ’n onverskillige—soms selfs vyandige—gesindheid teenoor wetenskaplike waarheid.

“Christelike” Europa neem nie meer die voortou nie

The World Book Encyclopedia verduidelik dat daar gedurende die Middeleeue (van die 5de tot die 15de eeu) “geleerdes in Europa was wat meer in die teologie, of die studie van godsdiens, as in die studie van die natuur belanggestel het”. En hierdie “klem op verlossing pleks van op die navorsing van die natuur was” volgens Collier’s Encyclopedia “eerder ’n hindernis as ’n stimulus vir die wetenskap”.

Christus se leringe was nie bedoel om so ’n hindernis te wees nie. Maar die Christendom se warboel van valse godsdiensidees, onder andere ’n oorbeklemtoning van die verlossing van die sogenaamde onsterflike siel, het hierdie verwikkeling aangemoedig. Geleerdheid was grotendeels onder die beheer van die kerk en is hoofsaaklik in die kloosters verkry. Hierdie godsdienstige gesindheid het die soeke na wetenskaplike waarheid vertraag.

Wetenskaplike sake was reg van die begin van die Gewone Jaartelling af ondergeskik aan die teologie. Daar is feitlik net op die gebied van die geneeskunde noemenswaardige wetenskaplike vordering gemaak. Die Romeinse mediese skrywer Aulus Celsus van die eerste eeu G.J., wat die “Hippokrates van die Romeine” genoem word, het byvoorbeeld ’n boek geskryf wat nou as ’n mediese klassieke werk beskou word. Die Griekse farmakoloog Pedanius Dioscorides, ’n geneesheer wat in Nero se Romeinse leërs gedien het, het ’n uitstekende farmakologiese handboek geskryf wat eeue lank algemeen gebruik is. Galenus, ’n tweede-eeuse Griek, het, deur eksperimentele fisiologie tot stand te bring, mediese teorie en praktyk vanaf sy tyd en deur die Middeleeue heen beïnvloed.

Die tydperk van wetenskaplike stilstand het selfs ná die 15de eeu voortgeduur. Europese wetenskaplikes het weliswaar gedurende hierdie tyd ontdekkings gedoen, maar dit was meestal nie oorspronklike ontdekkings nie. Die tydskrif Time sê: “[Die Chinese] was die wêreld se eerste meesters op die gebied van die wetenskap. Hulle het lank voor die Europeërs geweet hoe om die kompas te gebruik, papier en buskruit te maak [en] drukwerk met los gegote letters te doen.”

Weens die algemene gebrek aan wetenskaplike denke in “Christelike” Europa het nie-Christelike beskawings dus die voortou geneem.

Wetenskaplike vooruitgang

Teen die negende eeu was Arabiese wetenskaplikes vinnig besig om die leiers op die gebied van die wetenskap te word. Hulle het veral gedurende die 10de en 11de eeu—terwyl die Christendom weinig opgelewer het—’n goue eeu van prestasie geniet. Hulle het waardevolle bydraes tot die geneeskunde, chemie, botanie, fisika, astronomie en veral die wiskunde gelewer. (Sien venster op bladsy 20.) Maan Z. Madina, adjunkprofessor in Arabies aan die Universiteit Columbia, sê dat “hedendaagse driehoeksmeting sowel as algebra en meetkunde grotendeels van Arabiese oorsprong is”.

Baie van hierdie wetenskaplike kennis was oorspronklik. Maar ’n gedeelte daarvan was op die breë grondslag van die Griekse filosofie gegrond en is vreemd genoeg deur godsdienstige betrokkenheid teweeggebring.

Redelik vroeg in die Gewone Jaartelling het die Christelike godsdiens na Persië en daarna na Arabië en Indië uitgebrei. Gedurende die vyfde eeu is Nestorius, die patriarg van Konstantinopel, by ’n geskil betrek wat tot ’n skeuring in die Oosterse kerk gelei het. Dit het tot die ontstaan van ’n afgeskeide groep, die Nestoriane, gelei.

In die sewende eeu, toe die nuwe Islamitiese godsdiens skielik op die wêreldtoneel verskyn en sy uitbreidingsveldtog begin het, het die Nestoriane nie gehuiwer om hulle kennis aan hulle Arabiese veroweraars oor te dra nie. Volgens The Encyclopedia of Religion “was die Nestoriane die eerstes wat die Griekse wetenskap en filosofie bevorder het deur Griekse geskrifte in Siries en daarna in Arabies te vertaal”. Hulle was ook “die eerstes wat die Griekse geneeskunde in Bagdad bekend gestel het”. Arabiese wetenskaplikes het begin voortbou op die dinge wat hulle by die Nestoriane geleer het. Arabies het Siries as die wetenskaptaal in die Arabiese ryk vervang en was inderdaad baie geskik vir wetenskaplike geskrifte.

Maar die Arabiere het gegee sowel as geneem. Toe die More deur Spanje in Europa inbeweeg het—en meer as 700 jaar daar gebly het—het hulle ’n verligte Moslemkultuur saamgeneem. En tydens die agt sogenaamde Christelike Kruistogte tussen 1096 en 1272 was Westerse kruisvaarders beïndruk deur die gevorderde Islamitiese beskawing waarmee hulle in aanraking gekom het. Hulle het, soos een skrywer dit gestel het, met “talle nuwe indrukke” teruggekeer.

Die Arabiere vereenvoudig die wiskunde

Een noemenswaardige bydrae wat die Arabiere gemaak het, was die bekendstelling van Arabiese syfers in die plek van die Romeinse letters wat in Europa gebruik is. Eintlik is “Arabiese syfers” ’n verkeerde benaming. Die term “Hindoe-Arabiese syfers” is waarskynlik akkurater. Die negende-eeuse Arabiese wiskundige en astronoom al-Khwārizmī het weliswaar oor hierdie stelsel geskryf, maar hy het dit van Indië se Hindoewiskundiges oorgeneem wat dit meer as duisend jaar tevore, in die derde eeu v.G.J., uitgewerk het.

Die stelsel was nie juis in Europa bekend voordat die vooraanstaande wiskundige Leonardo Fibonacci (wat ook as Leonardo van Pisa bekend staan) dit in 1202 in Liber abaci (Boek van die abakus) bekend gestel het nie. Om die nut van die stelsel te toon, het hy verduidelik: “Die nege Indiese syfers is: 9 8 7 6 5 4 3 2 1. Met hierdie nege syfers en met die syfer 0 . . . kan ’n mens enige getal skryf.” Aanvanklik was die Europeërs huiwerig. Maar teen die einde van die Middeleeue het hulle die nuwe syferstelsel aanvaar, en die eenvoud daarvan het wetenskaplike vooruitgang aangemoedig.

As jy twyfel of Hindoe-Arabiese syfers eenvoudiger is om te gebruik as die Romeinse syfers wat voorheen gebruik is, moet jy LXXIX van MCMXCIII probeer aftrek. Is dit bokant jou vuurmaakplek? Miskien sal 79 van 1993 af effens makliker wees.

Die vlam van belangstelling word weer in Europa aangewakker

Van die 12de eeu af het die vlam van belangstelling in geleerdheid, wat in die Moslemwêreld helder gebrand het, flouer begin raak. Maar dit is weer in Europa aangewakker namate groepe geleerdes die voorlopers van hedendaagse universiteite tot stand gebring het. In die middel van die 12de eeu het die universiteite van Parys en van Oxford tot stand gekom. Die Universiteit van Cambridge het in die vroeë 13de eeu gevolg en dié van Praag en van Heidelberg albei in die 14de eeu. Teen die 19de eeu het universiteite belangrike sentrums van wetenskaplike navorsing geword.

Aanvanklik is hierdie skole grootliks deur godsdiens beïnvloed en was die meeste studies op die teologie gegrond of het dit in daardie rigting geneig. Maar die skole het terselfdertyd Griekse filosofie, veral die geskrifte van Aristoteles, aanvaar. Volgens The Encyclopedia of Religion “is die Akademiese metode . . . deur die Middeleeue heen . . . in sy uitleg van die teks en sy oplossing van probleme volgens die Aristoteliese logika van definiëring, verdeling en redenering gestruktureer”.

Thomas Aquinas was ’n 13de-eeuse geleerde wat vasbeslote was om Aristoteliese geleerdheid met die Christelike teologie te kombineer, en hy is later die “Christelike Aristoteles” genoem. Maar hy het oor ’n paar punte met Aristoteles verskil. Thomas Aquinas het byvoorbeeld die teorie verwerp dat die wêreld altyd bestaan het en het met die Skrif saamgestem dat dit geskep is. Volgens The Book of Popular Science het hy, aangesien “hy vas oortuig gebly het dat ons heelal ordelik is en deur die verligting van die verstand begryp kan word, ’n waardevolle bydrae tot die ontwikkeling van die hedendaagse wetenskap gelewer”.

Maar die leringe van Aristoteles, Ptolemeus en Galenus is meestal as absolute waarheid aanvaar, selfs deur die kerk. Die bogenoemde naslaanwerk verduidelik: “Gedurende die Middeleeue, toe daar min belangstelling in wetenskaplike proefneming en regstreekse waarneming was, was Aristoteles se woord wet. Middeleeuse opvoedkundiges het die argument Ipse dixit (‘Hy het dit self gesê’) gebruik om die waarheid van talle ‘wetenskaplike’ waarnemings te staaf. Onder hierdie omstandighede het Aristoteles se foute, veral in fisika en astronomie, wetenskaplike vooruitgang eeue lank vertraag.”

Die 13de-eeuse monnik Roger Bacon van Oxford was iemand wat dit betwis het dat mense blindelings aan vorige menings moet vasklou. Mnr. Bacon, wat “die grootste figuur in die Middeleeuse wetenskap” genoem word, het feitlik alleen gestaan toe hy proefneming voorgestaan het as ’n manier waarop wetenskaplike waarhede geleer kon word. Hy het glo al in 1269, sy tyd klaarblyklik eeue vooruit, voorspel dat daar motors, vliegtuie en gemotoriseerde skepe sou wees.

Maar ondanks sy versiendheid en briljante verstand het mnr. Bacon ’n beperkte kennis van die feite gehad. Hy het groot geloof in astrologie, toorkuns en alchemie gestel. Dit toon dat die wetenskap inderdaad ’n voortdurende soeke na waarheid is wat altyd aan verandering onderworpe is.

Hoewel daar gedurende die 14de eeu skynbaar geen wetenskaplike navorsing gedoen is nie, was die mensdom se soeke na wetenskaplike waarheid teen die einde van die 15de eeu nog lank nie verby nie. Trouens, die volgende 500 jaar sou die jare wat hulle voorafgegaan het ver oortref. Die wêreld was op die vooraand van ’n wetenskaplike revolusie. En soos dit met elke revolusie die geval is, sou hierdie een ook sy helde, sy skurke en, bowenal, sy slagoffers hê. Vind gerus meer hieroor uit in Deel 4 van “Die wetenskap—die mensdom se voortdurende soeke na waarheid” in ons volgende nommer.

[Venster op bladsy 20]

Die goue eeu van die Arabiese wetenskap

Al-Khwārizmī (agtste-negende eeu), Irakse wiskundige en astronoom; was bekend vir sy skepping van die term “algebra” uit al-jebr, wat in Arabies “die vereniging van gebreekte dele” beteken.

Abū Mūsā Jābir ibn Ḥayyān (agtste-negende eeu), alchemis; word die vader van die Arabiese chemie genoem.

Al-Battānī (negende-tiende eeu), astronoom en wiskundige; het Ptolemeus se sterrekundige berekeninge verbeter en sodoende onder andere die lengte van die jaar en van die seisoene noukeuriger bepaal.

Ar-Rāzī (Rhazes) (negende-tiende eeu), een van die bekendste geneeshere van Persiese geboorte; was die eerste geneesheer wat ’n onderskeid tussen pokkies en masels gemaak het en alle stowwe as dierlik, plantaardig of mineraal geklassifiseer het.

Abū ‘Alī al-Ḥasan ibn al-Haytham (Alhazen) van Basra (10de-11de eeu), wiskundige en fisikus; het noemenswaardige bydraes tot die optikateorie gelewer, onder andere refraksie, weerkaatsing, binokulêre waarneming en atmosferiese refraksie; was die eerste een wat die gesigsvermoë korrek verduidelik het as die uitwerking wat lig op die oog het wanneer dit van ’n voorwerp af na die oog weerkaats word.

Omar Khayyám (11de-12de eeu), beroemde Persiese wiskundige, fisikus, astronoom, geneesheer en filosoof; in die Weste die bekendste vir sy poësie.

[Prente op bladsy 18]

Aristoteles (bo) en Plato (onder) het wetenskaplike denke deur die eeue grootliks beïnvloed

[Erkennings]

National Archaeological Museum of Athens

Musei Capitolini, Roma

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel