Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 6/8 bl. 19-22
  • Die Wetenskap—die mensdom se voortdurende soeke na waarheid

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Wetenskap—die mensdom se voortdurende soeke na waarheid
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Deur groepe vervang
  • “Wat het God tot stand gebring!”
  • Wat het die probleme veroorsaak?
  • Hou die wetenskap op sy plek
  • Die wetenskap—Die mensdom se voortdurende soeke na waarheid
    Ontwaak!—1993
  • Die wetenskap—die mensdom se voortdurende soeke na waarheid
    Ontwaak!—1993
  • Tot watter mate kan jy die wetenskap vertrou?
    Ontwaak!—1998
  • Die wetenskap—die mensdom se voortdurende soeke na waarheid
    Ontwaak!—1993
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 6/8 bl. 19-22

Deel 5

Die Wetenskap—die mensdom se voortdurende soeke na waarheid

Twintigste-eeuse “wonders”

WAT in die 19de eeu na onmoontlike “wonders” gelyk het, het in die 20ste eeu werklikhede geword. In ’n enkele geslag het mense hulle eie Model T-Ford bestuur en later selfs op kleurtelevisie gesien hoe mense op die maan loop. Wetenskaplike “wonders” word vandag glad nie as uitsonderlik beskou nie, maar dit word grotendeels as vanselfsprekend aanvaar.

“Die wetenskaplike prestasies van die vroeë 20ste eeu”, sê The New Encyclopædia Britannica, “is te veel om selfs ’n lys van te maak.” Dit verwys egter na “’n algemene patroon van vooruitgang” en sê dat “vordering op elke hoofgebied op die suksesvolle beskrywende werk van die 19de eeu gegrond was”. Dit onderstreep die feit dat die wetenskap ’n voortdurende soeke na waarheid is.

Deur groepe vervang

Wetenskapverenigings, groepe wetenskaplikes wat byeengekom het om idees en inligting uit te ruil, is reeds in die 17de eeu in Europa gestig. Om hulle nuutste bevindinge bekend te maak, het hierdie verenigings selfs begin om hulle eie joernale uit te gee. Dit het tot ’n omvangryke uitruiling van inligting gelei wat die basis versterk het waarop verdere wetenskaplike vordering gemaak kon word.

Teen die 19de eeu was universiteite diep betrokke by wetenskaplike navorsing, en in die daaropvolgende jare het hulle laboratoriums belangrike ontdekkings gedoen.a Teen die begin van die 20ste eeu het firmas ook navorsingslaboratoriums begin oprig wat mettertyd nuwe medisyne, sintetiese stowwe (waaronder plastiek) en ander produkte ontwikkel het. Die publiek het daarby baat gevind, en die navorsingsfirmas het miljoene rande wins gemaak.

Die oprigting van hierdie laboratoriums en navorsingsgroepe het getoon dat daar ’n neiging in die rigting van georganiseerde navorsing in teenstelling met afsonderlike pogings was. Party wetenskaplikes het gewonder of dit die beste benadering was. In 1939 het John D. Bernal, die Ierse fisikus en x-straal-kristallograaf, die vraag geopper: “Moet die wetenskap vooruitgaan deur die willekeurige koördinering van die werk van begaafde persone, met elkeen wat sy eie sienswyse volg, of deur groepe of spanne werkers wat mekaar wedersyds bystaan en hulle werk ooreenkomstig die een of ander vooropgesette maar buigbare plan verenig?”

Weens die ingewikkeldheid en die hoë koste van navorsing was John Bernal ten gunste van groepwerk, want volgens hom was die probleem eenvoudig hoe om die bedrywighede behoorlik te organiseer. Hy het voorspel: “Die neiging sal wees dat al hoe meer wetenskaplike navorsing deur spanwerk gedoen word.” Nou, ná meer as ’n halwe eeu, is dit duidelik dat John Bernal reg was. Die tendens het voortgeduur en het 20ste-eeuse wetenskaplike “wonders” sodoende bespoedig.

“Wat het God tot stand gebring!”

Op 24 Mei 1844 het Samuel Morse, uitvinder van die Morsekode, hierdie uitroep oor ’n afstand van meer as 50 kilometer getelegrafeer. Die 19de-eeuse grondslag van die telekommunikasie-“wonder” wat in die 20ste eeu sou volg, is op hierdie stadium gelê.

Sowat 30 jaar later, in 1876, het Alexander Graham Bell, asook Thomas Watson, sy assistent, reggemaak om ’n sender te toets toe Bell suur gemors het. Sy uitroep: “Mnr. Watson, kom hier. Ek het jou nodig”, was op die ou end meer as net ’n hulpgeroep. Thomas Watson, wat in ’n aparte kamer was, het die boodskap gehoor, dit herken as die eerste volkome verstaanbare sin wat ooit per telefoon gestuur is en het aangehardloop gekom. Luiende telefone het mense sedertdien aan die hardloop gehou.

Tydens die afgelope 93 jaar het wetenskaplike kennis, tesame met tegnologiese kundigheid, al hoe meer mense van ’n lewenstandaard voorsien wat hulle nooit vantevore gehad het nie. Die wêreld het tot die grootte van ’n buurt gekrimp. Dinge wat “onmoontlik” was, is nou die norm. Trouens, telefone, televisies, voertuie en vliegtuie—asook enige aantal ander 20ste-eeuse “wonders”—is vandag só ’n groot deel van ons lewe dat ons partykeer vergeet dat die mensdom vir die grootste gedeelte van sy bestaan daarsonder was.

Met die begin van die eeu, sê The New Encyclopædia Britannica, het “dit gelyk of die oorwinnings van die wetenskap oneindige kennis en mag beloof het”. Maar die tegnologiese vooruitgang wat intussen gemaak is, het almal nie ewe veel gebaat nie, en al die vooruitgang kan ook nie as onmiskenbaar voordelig beskryf word nie. “Min mense”, voeg dit by, “kon die probleme voorsien wat hierdie einste suksesse vir hulle maatskaplike en natuurlike omgewing sou veroorsaak.”

Wat het die probleme veroorsaak?

Daar kan geen fout gevind word met die wetenskaplike feite wat ons help om die heelal beter te verstaan nie en ook nie met die tegnologie wat dié feite op ’n praktiese wyse tot die mensdom se voordeel aangewend het nie.

Hierdie twee—die wetenskap en die tegnologie—is al lank verwant. Maar volgens die boek Science and the Rise of Technology Since 1800 het “hulle hegte verbintenis, wat nou goed bekend is, eers redelik onlangs heeltemal gevestig geraak”. Blykbaar was die verhouding selfs tydens die eerste gedeelte van die nywerheidsomwenteling nie juis heg nie. Hoewel nuutgevonde wetenskaplike kennis tot die ontwikkeling van nuwe produkte bygedra het, het ambagskuns, vaardigheid en werktuigkundige vernuf ook daartoe bygedra.

Maar ná die nywerheidsomwenteling begin het, het die verkryging van wetenskaplike kennis toegeneem en is ’n breër fondament daardeur gelê waarop die tegnologie kon werk. Gevul met nuwe kennis het die tegnologie na maniere begin soek om sleurwerk te verlig, gesondheid te verbeter en ’n beter, gelukkiger wêreld te bevorder.

Maar die tegnologie kan nie beter wees as die wetenskaplike kennis waarop dit gegrond is nie. As daar fout met die wetenskaplike kennis is, sal enige tegnologiese ontwikkelings wat daarop gegrond is ook foute hê. Dikwels sal die newe-effekte slegs duidelik word nadat aansienlike skade reeds aangerig is. Wie kon byvoorbeeld voorsien het dat die bekendstelling van aërosolspuitmiddels, wat chloorfluoorkoolstowwe of koolwaterstowwe gebruik, die aarde se beskermende osoonlaag eendag sou beskadig?

Iets anders is ook hierby betrokke—beweegredes. ’n Toegewyde wetenskaplike is dalk net in kennis as sodanig geïnteresseerd en is dalk bereid om dekades van sy lewe aan navorsing te wy. Maar ’n sakeman, wat dalk meer in wins geïnteresseerd is, is gretig om die kennis onmiddellik beskikbaar te stel. En watter politikus sal dekades lank geduldig wag voor hy die tegnologie gebruik wat hy dink hom dalk politieke mag sal gee as hy dit dadelik gebruik?

Die fisikus Albert Einstein het sy vinger op die probleem gelê toe hy gesê het: “Die ontketende krag van die atoom het alles verander behalwe ons denkwyse, en ons stuur gevolglik op ’n ongeëwenaarde katastrofe af.” (Ons kursiveer.) Ja, baie van die probleme wat deur die 20ste-eeuse “wonders” geskep is, het nie net as gevolg van foutiewe wetenskaplike kennis ontstaan nie, maar ook weens wegholtegnologie wat deur selfsugtige belange aangedryf word.

’n Goeie voorbeeld is dat die wetenskap ontdek het dat klank en beelde na verafgeleë plekke oorgestuur kan word—televisie. Die tegnologie het die nodige kundigheid ontwikkel om dit te doen. Maar dit was die verkeerde denkwyse van die hebsugtige handel en eisende verbruikers wat hierdie merkwaardige kennis en tegnologie gebruik het om pornografiese prente en bloedige tonele van geweld in vreedsame woonkamers in te stuur.

Die wetenskap het eweneens ontdek dat materie in energie omgesit kan word. Die tegnologie het die nodige kundigheid ontwikkel om dit te doen. Maar dit was die verkeerde denkwyse van nasionalistiese politiek wat hierdie kennis en tegnologie gebruik het om atoombomme te vervaardig wat nog altyd soos die Swaard van Damokles oor die kop van die wêreldgemeenskap hang.

Hou die wetenskap op sy plek

Dit dui op ’n verdere verkeerde denkwyse as mense tegnologies ontwikkelde instrumente, wat as dienaars ontwerp is, toelaat om meesters te word. Die tydskrif Time het in 1983 teen hierdie gevaar gewaarsku toe dit nie sy gebruiklike man van die jaar gekies het nie, maar ’n “masjien van die jaar”, die rekenaar.

Time het gesê: “Omdat meer mense op die rekenaar vertrou om dinge te doen wat hulle normaalweg in hulle kop gedoen het, ontstaan die vraag: Wat gebeur dan met hulle kop? . . . As ’n woordeboek wat in die rekenaar se geheue geberg word enige spelfoute maklik kan regmaak, waarom moet ons dan leer spel? Sal die verstand belangrike gedagtes ywerig najaag of sy tyd luierig aan meer videospeletjies bestee as dit van intellektuele roetine bevry word? . . . Stimuleer die rekenaar werklik die brein se aktiwiteit of laat dit die brein toe om traag te word deur so baie van sy werk te doen?”

Sommige mense is nietemin so beïndruk met wetenskaplike prestasies dat hulle die wetenskap amper tot ’n godheid verhef. Die wetenskaplike Anthony Standen het dit in 1950 in sy boek Science Is a Sacred Cow bespreek. Al laat ons ruimte vir moontlike oordrywing toe, steek daar tog iets in wat Anthony Standen sê: “Wanneer ’n wetenskaplike in sy wit jas . . . die een of ander verklaring aan die algemene publiek doen, word hy dalk nie verstaan nie, maar hy sal ten minste sonder twyfel geglo word. . . . Staatsmanne, nyweraars, geestelikes, burgerlike leiers en filosowe word almal bevraagteken en gekritiseer, maar wetenskaplikes—nooit nie. Wetenskaplikes is verhewe wesens wat op die heel boonste sport van openbare aansien staan, want hulle het alleenreg op die formule: ‘Dit is wetenskaplik bewys . . . ’ wat blykbaar enige moontlikheid om te verskil, uitskakel.”

Weens hierdie verkeerde denkwyse gryp sommige mense oënskynlike teenstrydighede tussen die wetenskap en die Bybel aan as bewys van wetenskaplike “wysheid” in teenstelling met godsdienstige “bygeloof”. Party sien selfs in hierdie sogenaamde teenstrydighede bewyse dat God nie bestaan nie. Maar in werklikheid is dit nie God wat nie bestaan nie, maar eerder die denkbeeldige teenstrydighede wat geestelikes geskep het deur sy Woord verkeerd uit te lê. Hulle beledig daardeur die Bybel se Goddelike Outeur en doen terselfdertyd die mensdom se voortdurende soeke na wetenskaplike waarheid ’n ondiens aan.

Daarbenewens het hierdie godsdiensleiers, deur nie hulle gemeentelede op te lei om die vrugte van God se gees te openbaar nie, ’n atmosfeer van selfsug geskep wat veroorsaak dat mense hoofsaaklik aan hulle eie begeertes vir persoonlike gemak en gerief dink. Dit is dikwels ten koste van ander deurdat hulle selfs so ver gaan om wetenskaplike kennis te misbruik om hulle medemens te vermoor.—Galasiërs 5:19-23.

Valse godsdiens, onvolmaakte menslike politiek en hebsugtige handel het mense gemaak wat hulle nou is, “liefhebbers van hulleself . . . ondankbaar, . . . bandeloos”, egoïste wat aangedryf word deur ’n verkeerde denkwyse.—2 Timotheüs 3:1-3.

Hierdie mense en organisasies het die uitdagings van die 21ste eeu geskep wat die wetenskap nou moet oplos. Sal dit slaag? Lees die antwoord in die laaste deel van hierdie reeks in ons volgende nommer.

[Voetnoot]

a Baie van die navorsing vir die Manhattan-projek, die Amerikaanse snelprogram waardeur die atoombom ontwikkel is, is byvoorbeeld in die navorsingslaboratoriums van die Universiteit van Chicago en die Universiteit van Kalifornië by Berkeley gedoen.

[Lokteks op bladsy 20]

As daar fout met die wetenskaplike kennis is, sal ontwikkelings wat daarop gegrond is ook foute hê

[Lokteks op bladsy 22]

Nie alle wetenskaplike prestasies is voordelig nie

[Foto-erkennings op bladsy 19]

From the Collections of Henry Ford Museum & Greenfield Village

NASA photo

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel