Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 5/8 bl. 5-12
  • Seëvierend in die aangesig van die dood

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Seëvierend in die aangesig van die dood
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die verhaal van Ananii Grogul van die Oekraïne
  • Onmenslike marteling van my suster
  • Terug na die Oekraïne en meer vervolging
  • Onkreukbaarheid word in Afrika beproef
  • Voor ’n vuurpeloton
  • “Julle ruik al klaar soos lyke”
  • Ons ontmoet ’n medelyende huursoldaat
  • “Gaan, dien julle God”
  • Hulle weier om vir wapens by te dra
  • Priesters lei gepeupelbendes
  • Onverwagse martelaarskap
  • ’n Getroue vrou se ondersteuning
  • Waarom soveel martelare?
  • Filippus—’n ywerige evangelis
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Vasbeslote om ’n soldaat van Christus te wees
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2017
  • “Die goeie nuus oor Jesus” word bekend gemaak
    ‘Getuig deeglik’ oor God se Koninkryk
  • My hoop het ondanks beproewinge sterk gebly
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 5/8 bl. 5-12

Seëvierend in die aangesig van die dood

“Maar tot verbasing van die Nazi’s kon [die Getuies] ook nie uitgewis word nie. Hoe meer druk op hulle uitgeoefen is, hoe sterker was hulle weerstand, en hulle het so hard soos diamante teen die aanslae geword. Hitler het hulle in ’n eskatologiese stryd ingeslinger, en hulle het nie hulle geloof verloën nie. . . . Hulle ervaring is waardevolle stof vir almal wat ’n studie maak van oorlewing onder uiterste druk. Want hulle het dit wel oorleef.”—Toegeskryf aan dr. Christine King, geskiedkundige, in die tydskrif Together.

JEHOVAH SE GETUIES behoort in die geskiedenis van die 20ste eeu uit te staan as die godsdiensgroep wat die meeste lastering en vervolging op aarde moes verduur. Hulle is misverstaan en dikwels mishandel bloot weens hulle standpunt oor Christelike neutraliteit en hulle weiering om oorlogvoering te leer of daaraan deel te neem. Hulle verbreking van alle politieke bande het die totalitêre heersers in baie lande woedend gemaak. Nogtans was een van hulle bydraes tot die hedendaagse geskiedenis hulle rekord van streng neutraliteit en onwrikbare onkreukbaarheid.a

Die Britse geskiedkundige Arnold Toynbee het in 1966 geskryf: “In ons tyd was daar in Duitsland Christenmartelare wat wel gesterf het eerder as om die heersende Nasionalisme te vereer wat daar deur die godmens Adolf Hitler verteenwoordig is.” Die feite toon dat daar baie Getuies van Jehovah onder hierdie martelare was. ’n Paar ondervindinge behoort toe te lig hoe hulle weens hulle onkreukbaarheid voor vervolging en selfs die dood te staan gekom het—en dit nie net gedurende die tydperk van Nazisme nie. In baie dele van die wêreld is die rekord van hulle seëviering in die aangesig van die dood konsekwent en ongeëwenaard.

Die verhaal van Ananii Grogul van die Oekraïne

“My ouers het in 1942 tydens die Tweede Wêreldoorlog, toe ek 13 jaar oud was, Getuies van Jehovah geword. My pa is kort daarna in hegtenis geneem, in die tronk gesit en later na die Sowjetkampe in die Oeralgebergte oorgeplaas. In 1944, toe ek 15 was, het die militêre owerhede my opgeroep om voorbereidende diens in die weermag te doen. Aangesien ek reeds ’n sterk geloof in Jehovah gehad het, het ek geweier om oorlog te leer voer. Daarom is ek op daardie jeugdige ouderdom tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis.

“Toe het die baie moeilike jaar 1950 aangebreek. Ek is weer in hegtenis geneem vanweë my bedrywighede as ’n Getuie en tot 25 jaar gevangenskap gevonnis. Ek was 21 jaar oud. Ek het sewe jaar en vier maande in die werkkampe oorleef. Ek het baie mense sien sterf, opgeswel van die honger en uitgeput weens dwangarbeid.

“Ná die dood van Stalin in 1953 het toestande begin verander, en in 1957 het die owerhede my vrygelaat. Ek was weer ‘vry’. Maar hierdie keer het hulle my vir tien jaar na Siberië toe verban.”

Onmenslike marteling van my suster

“Ek is in Siberië herenig met my vleeslike suster, wat reeds ’n invalide geword het. Sy is in 1950, presies twee weke ná my, in hegtenis geneem. Die ondersoek na haar saak is op ’n volslae onwettige manier gedoen. Hulle het haar in eensame opsluiting gesit en toe rotte saam met haar in die sel losgelaat. Die rotte het aan haar voete geknaag en oor haar liggaam gekruip. Ten laaste het haar pynigers haar tot by die bors in koue water laat staan terwyl hulle toegekyk het hoe sy ly. Sy is tot 25 jaar tronkstraf gevonnis weens haar predikingsbedrywighede. Albei haar bene het verlam geword, maar sy kon nog haar hande en arms gebruik. Vyf jaar lank het hulle haar in ’n kamphospitaal gehou, en toe het hulle uiteindelik heeltemal moed opgegee met haar. Daarna het hulle haar na ons ouers gestuur, wat in 1951 in lewenslange ballingskap na Siberië gestuur is.”

Terug na die Oekraïne en meer vervolging

“In Siberië het ek Nadia ontmoet, wat my vrou geword en ons kinders gebaar het. Selfs in Siberië het ons met ons predikingswerk voortgegaan. Ek is met die vervaardiging en kopiëring van Bybellektuur toevertrou. Ek en my broer Jacob was elke nag besig om Die Wagtoring in ’n skuilplek in die kelderverdieping te kopieer. Ons het twee tikmasjiene en ’n tuisgemaakte kopieermasjien gehad. Die polisie het ons woning gereeld deursoek. Hulle het elke keer met leë hande weggegaan.

“My ballingskap het geëindig. Ek het met my hele gesin na die Oekraïne getrek, maar vervolging het ons gevolg. Ek is aangewys om as ’n reisende opsiener te dien. Ek moes ’n sekulêre werk kry sodat ek my gesin kon onderhou. Etlike kere elke maand het lede van die Staatsveiligheidsafdeling na my werkplek gekom, en hulle het my probeer oorreed om my geloof prys te gee. Eenkeer het ek Jehovah se hulp op ’n baie spesiale manier ondervind. Hulle het my in hegtenis geneem en my na die Staatsveiligheidskantore in Kiëf geneem waar hulle my ses dae lank aangehou het. Die hele tyd deur het hulle my met ateïstiese propaganda probeer verwar. Hulle het op hulle godlose manier oor Die Wagtoring en ander publikasies van die Wagtoringgenootskap opmerkings gemaak. Die druk het amper onuithoudbaar geword. Ek het in die badkamer op my knieë neergeval en in trane uitgebars terwyl ek Jehovah aangeroep het. Nee, nie om bevry te word nie, maar om my die krag te gee om te volhard en nie my broers te verraai nie.

“Daarna het die polisiehoof gekom om my te sien, en nadat hy voor my gaan sit het, het hy my gevra of ek werklik oortuig was van wat ek besig was om te verdedig. Ek het hom ’n kort getuienis gegee en het my bereidwilligheid verklaar om vir die waarheid te sterf. Sy antwoord was: ‘Jy is ’n gelukkige mens. As ek maar net oortuig was dat dit die waarheid is, sou ek nie alleen bereid wees om 3 of 5 jaar lank in die tronk te sit nie, maar sou ek tot 60 jaar lank op een been in die tronk staan.’ Hy het ’n rukkie nadenkend in stilte gesit en voorts gesê: ‘Dit gaan oor die ewige lewe. Kan jy jou voorstel wat die ewige lewe werklik beteken?’ Ná ’n rukkie het hy gesê: ‘Gaan huis toe!’ Daardie woorde het my onverwagte krag gegee. Ek was nie meer honger nie. Ek wou net wegkom. Ek was seker dat dit Jehovah was wat my versterk het.

“In onlangse jare het dinge in die eertydse Sowjetunie verander. Daar is nou ’n oorvloed Bybellektuur beskikbaar. Ons kan kring- en streekbyeenkomste bywoon, en ons neem aan alle vorme van die predikingswerk deel, onder andere die huis-tot-huis-bediening. Jehovah het ons waarlik in die aangesig van baie beproewinge laat seëvier!”

Onkreukbaarheid word in Afrika beproef

Gedurende die laat sestigerjare was Nigerië in ’n verwoestende burgeroorlog gedompel. Soldate van die afgestigte gebied, wat destyds Biafra hernoem is, het as gevolg van hulle groeiende verliese jong manne met geweld vir militêre diens begin kommandeer. Aangesien Jehovah se Getuies polities neutraal is en weier om by oorlogvoering betrokke te raak, is baie Getuies in Biafra vervolg, mishandel en vermoor. Een van Jehovah se Getuies het gesê: “Ons was soos rotte. Ons moes wegkruip wanneer ons ook al soldate hoor aankom het.” Daar was dikwels nie eens tyd om weg te kruip nie.

Een Vrydagoggend in 1968 was Philip, ’n 32-jarige voltydse bedienaar, besig om vir ’n bejaarde man in die stat Umuimo te preek toe Biafraanse soldate die stat op ’n kommanderingsveldtog binnegestorm het.

“Wat doen jy?” wou die eenheidsleier weet. Philip het gesê dat hy van Jehovah se komende Koninkryk praat.

“Dit is nie nou die tyd om te preek nie!” het ’n ander soldaat geskree. “Dit is oorlogstyd, en ons wil nie sien dat weerbare manne rondloop en niks doen nie.” Die soldate het Philip toe kaal uitgetrek, sy hande vasgebind en hom weggelei. Israel, ’n 43-jarige Christen- ouere man, het ook nie tyd gehad om weg te kruip nie. Hy is gevang terwyl hy besig was om vir sy kinders kos te maak. Teen 2:00 nm. het die soldate meer as honderd manne aangekeer. Hulle het hulle gevangenes gedwing om die 25 kilometer na die militêre kamp in Umuacha Mgbedeala te hardloop. Enigeen wat agter geraak het, is met ’n sweep geslaan.

Israel is vertel dat hy ’n swaar masjiengeweer sou dra; Philip sou opgelei word om ’n ligte masjiengeweer te gebruik. Toe hulle verduidelik het dat hulle nie by die leër kon aansluit nie omdat Jehovah dit verbied, het die kommandant beveel dat hulle opgesluit word. Teen 4:00 nm. is al die gekommandeerdes, onder andere dié in detensie, beveel om in ’n ry te staan. Die soldate het daarna elke man gevra om ’n vorm te onderteken wat sê dat hy ingestem het om by die leër aan te sluit. Toe dit sy beurt was om te teken, het Philip na die woorde van 2 Timotheüs 2:3, 4 verwys en vir die kommandant gesê: “Ek is reeds ‘’n goeie soldaat van Christus’ (NAV). Ek kan nie vir Christus en ook vir iemand anders veg nie. As ek dít doen, sal Christus my as ’n verraaier beskou.” Die kommandant het hom op die kop geslaan en gesê: “Jou aanstelling as ’n soldaat van Christus is beëindig! Jy is nou ’n Biafraanse soldaat.”

Philip het geantwoord: “Jesus het my nog nie in kennis gestel dat my aanstelling as sy soldaat beëindig is nie, en my aanstelling bly van krag totdat ek so ’n kennisgewing ontvang.” Daarop het die soldate Philip en Israel in die lug opgetel en hulle op die grond neergegooi. Verbysterd en met bloed wat uit hulle oë, neus en mond gekom het, is hulle daar weggesleep.

Voor ’n vuurpeloton

Later daardie dag het Israel en Philip hulle voor ’n vuurpeloton bevind. Maar die soldate het hulle nie geskiet nie. Hulle is eerder met die vuis en geweerkolwe geslaan. Daarna het die kampkommandant besluit om hulle te slaan totdat hulle dood is. Hy het 24 soldate beveel om dit te doen. Ses sou Philip slaan, en ses ander sou Israel slaan. Die ander 12 soldate sou nuwe stokke voorsien en vir die ander instaan wanneer hulle moeg word.

Philip en Israel se hande en voete is vasgebind. Israel vertel: “Ek weet nie hoeveel houe ons daardie nag gekry het nie. Wanneer een soldaat moeg geword het, het ’n ander oorgeneem. Hulle het ons bly slaan lank nadat ons bewusteloos geword het.” Philip sê: “Tydens die marteling het ek aan Mattheüs 24:13 gedink wat praat van volharding tot die einde toe, en dit het my versterk. Ek het die pyn van die slae net ’n paar sekondes gevoel. Dit was asof Jehovah een van sy engele gestuur het om ons te help, net soos hy gedurende Daniël se tyd gedoen het. Anders sou ons nie daardie vreeslike nag kon oorleef het nie.”

Toe die soldate klaar was, is Israel en Philip vir dood agtergelaat. Dit het gereën. Die twee Christene het hulle bewussyn eers die volgende oggend herwin. Toe die soldate sien dat hulle nog lewe, is hulle na die detensiekamer teruggesleep.

“Julle ruik al klaar soos lyke”

Vanweë die slanery was hulle vlees rooi en rou, met wonde oral op hulle liggaam. Israel sê: “Ons is nie toegelaat om ons wonde af te spoel nie. Ná ’n paar dae het die vlieë heeltyd op ons gesit. As gevolg van die marteling kon ons nie eet nie. Eers na ’n week kon enigiets anders as water oor ons lippe gaan.”

Elke oggend het die soldate hulle met ’n sweep geslaan—24 houe elk. Die soldate het dit op sadistiese wyse “ontbyt” of “warm oggendtee” genoem. Elke middag het die soldate hulle veld toe gevat om tot 1:00 nm. in die tropiese son te staan. Ná hulle ’n paar dae so behandel is, het die kommandant hulle ontbied en gevra of hulle van hulle standpunt afgesien het. Hulle antwoord was nee.

“Julle sal in julle sel sterf”, het die kommandant gesê. “Trouens, julle ruik al klaar soos lyke.”

Philip het geantwoord: “Selfs al sterf ons, weet ons dat Christus, vir wie ons veg, ons sal opwek.”

Hoe het hulle hierdie moeilike tyd oorleef? Israel sê: “Ek en Philip het mekaar tydens ons beproewing deurgaans bemoedig. In die begin het ek vir hom gesê: ‘Moenie bang wees nie. Wat ook al gebeur, Jehovah sal ons help. Wat my betref, niks sal my by die leër laat aansluit nie. Al moet ek sterf, ek sal nie aan ’n geweer raak nie.’” Philip het gesê dat hy dieselfde besluit geneem het. Saam het hulle aan verskeie tekste gedink en dit bespreek.

’n Nuwe kommandant het besluit om omtrent honderd van die gekommandeerdes na Ibema, ’n opleidingskamp in die Mbano-gebied van wat nou die staat Imo is, te verplaas. Israel vertel wat daarna gebeur het: “Die groot vragmotor het gereed gestaan, en al die rekrute was binne-in. My vrou June het na die soldate gehardloop en moedig gesmeek dat hulle ons nie moet wegneem nie. Na hulle haar afgejak het, het sy naby die vragmotor gekniel, gebid en met ’n hoorbare amen afgesluit. Daarna het die vragmotor vertrek.”

Ons ontmoet ’n medelyende huursoldaat

Die militêre vragmotor het die kamp by Ibema die volgende middag bereik. Die man wat blykbaar daar in bevel was, was ’n Israeliese huursoldaat. Toe hy sien hoe gehawend en swak Philip en Israel is, het hy hulle genader en gevra waarom hulle in so ’n verskriklike toestand is. Hulle het verduidelik dat hulle Jehovah se Getuies is en weier om militêre diens te doen. Hy het hom woedend tot die ander militêre offisiere daar gewend. “Biafra gaan beslis hierdie oorlog verloor”, het hy gesê. “Enige land wat in ’n oorlog betrokke is en iets aan Jehovah se Getuies doen, sal beslis verloor. Julle moenie Jehovah se Getuies kommandeer nie. As ’n Getuie instem om te veg, is dit goed. Maar as hy weier, los hom uit.”

Die kampdokter wou weet of die twee Getuies inentings en mediese geskiktheidsertifikate ontvang het. Aangesien hulle nie het nie, het die huursoldaat al die gekommandeerdes afgekeur en beveel dat hulle na Umuacha teruggeneem word.

“Gaan, dien julle God”

Later het Israel se vrou en Philip se ma besluit om na die kamp in Umuacha te gaan in die hoop dat hulle iets omtrent hulle sou hoor. Toe hulle naby die kamp kom, het hulle ’n rumoer gehoor. By die hek het die wag gesê: “Jehovah se Getuie! Jou gebed is verhoor. Die groep wat drie dae gelede weggeneem is, is teruggestuur.”

Daardie selfde dag is Philip en Israel uit die kamp ontslaan. Die kommandant het vir June gesê: “Weet jy dat dit jou gebed is wat ons poging laat misluk het?” Hy het toe vir Israel en Philip gesê: “Gaan, dien julle God, en hou aan om julle onkreukbaarheid teenoor julle Jehovah te handhaaf.”

Wat Israel en Philip betref, hulle het herstel en hulle Christelike bedrywighede voortgesit. Ná die oorlog het Israel twee jaar lank voltyds gepreek, en hy dien nog steeds as ’n Christen- ouere man. Philip het tien jaar lank as reisende opsiener gedien en is steeds in die voltydse predikingswerk. Hy is ook ’n gemeentelike ouere man.

Hulle weier om vir wapens by te dra

Zebulan Nxumalo en Polite Mogane is twee jong voltydse bedienaars in Suid-Afrika. Zebulan vertel: “Een Sondagoggend het ’n groep mans na ons huis toe gekom en R20 geëis om wapens mee te koop. Ons het hulle beleefd gevra om daardie aand terug te kom, aangesien ons Sondagprogram te vol was om die saak op daardie oomblik te bespreek. Ons was verbaas toe hulle instem. Daardie aand het 15 mans opgedaag. Hulle gesigsuitdrukkings het duidelik getoon dat hulle ernstige bedoelings het. Nadat ons onsself hoflik voorgestel het, het ons gevra wat hulle wou hê. Hulle het verduidelik dat hulle geld nodig het om groter en beter wapens te koop waarmee hulle die politieke teenparty kon aandurf.

“Ek het hulle gevra: ‘Is dit moontlik om ’n vuur met petrol te blus?’

“‘Nee, dit sal onmoontlik wees’, het hulle geantwoord.

“Ons het verduidelik dat geweld eweneens net nóg geweld en vergeldingsdade sal aanmoedig.

“Dit het gelyk of ’n paar van die mans hulle oor hierdie uitlating vererg. Hulle eis het nou ’n uitdagende dreigement geword. ‘Hierdie bespreking is ’n gemors van tyd’, het hulle gebrom. ‘Die verpligte bydrae is nie onderhandelbaar nie. Julle moet betaal of julle gaan die gevolge dra!’

“Op daardie oomblik”, sê Zebulan, “net toe dinge begin hand-uit ruk, het hulle leier ingestap. Hy wou weet wat fout was. Ons het ons standpunt verduidelik, en hy het aandagtig geluister. Ons het hulle toegewydheid aan hulle eie politieke oortuiging as ’n voorbeeld gebruik. Ons het hulle gevra watter optrede hulle van ’n opgeleide soldaat in hulle organisasie sou verwag as hy gevang en gedwing sou word om sy standpunt prys te gee. Hulle het gesê dat so ’n persoon bereid moet wees om vir sy oortuigings te sterf. Hulle het geglimlag toe ons hulle oor hulle antwoord geprys het; hulle het nie besef dat hulle ons ’n gulde geleentheid gebied het om ons saak toe te lig nie. Ons het verduidelik dat ons anders as die Christendom se kerke is. As ondersteuners van God se Koninkryk is ons ‘grondwet’ gebaseer op die Bybel, wat alle vorme van moord veroordeel. Daarom was ons nie bereid om selfs een sent tot die aankoop van wapens by te dra nie.

“Teen hierdie tyd, toe die bespreking op ’n hoogtepunt was, het nog mense in ons huis ingekom en ons het uiteindelik ’n groot gehoor toegespreek. Min het hulle besef hoe vurig ons gebid het dat die bespreking ’n gunstige uitslag moet hê.

“Nadat ons ons standpunt duidelik gestel het, het ’n lang stilte gevolg. Uiteindelik het hulle leier sy groep toegespreek: ‘Manne, ek verstaan hierdie mense se standpunt. As ons geld nodig gehad het om ’n ouetehuis te bou of as een van ons bure geld nodig gehad het om hospitaal toe te gaan, sou hierdie mense met graagte bygedra het. Maar hulle is nie bereid om vir ons geld te gee sodat ons ander kan doodmaak nie. Ek is nie teen hulle beskouings gekant nie.’

“Daarna het almal opgestaan. Ons het hand geskud en hulle vir hulle geduld bedank. Wat as ’n dreigende situasie begin het wat ons ons lewe kon kos, het ’n groot oorwinning geword.”

Priesters lei gepeupelbendes

Soos vertel deur ’n Poolse Getuie, Jerzy Kulesza:

“Weens sy ywer en die feit dat hy Koninkryksbelange eerste gestel het, was my pa, Aleksander Kulesza, ’n voorbeeld om na te volg. Vir hom was velddiens, Christelike vergaderinge en persoonlike en gesinstudie inderdaad heilige dinge. Nie ’n sneeustorm, ryp, ’n sterk wind of hitte was vir hom ’n hindernis nie. In die winter het hy sy ski’s aangetrek, ’n rugsak met Bybellektuur geneem en vir ’n paar dae na party van Pole se afgesonderde gebiede vertrek. Hy het gewoonlik met verskeie gevare te kampe gehad, waaronder gewelddadige guerrillagroepe.

Party keer het priesters teenkanting teen die Getuies verwek deur gepeupelbendes op te sweep. Hulle het die Getuies dikwels bespot, met klippe gegooi of hulle geslaan. Maar hulle het huis toe gekom, dankbaar dat hulle ter wille van Christus smaad kon ly.

“Gedurende daardie eerste jare ná die Tweede Wêreldoorlog kon die owerhede nie wet en orde in die land handhaaf nie. Daar was wanorde en verwoesting. Die polisie en veiligheidsmagte het bedags die gesag gehandhaaf terwyl guerrillas en verskeie bendes snags bedrywig was. Diefstal en rowery het iets alledaags geword, en daar was gereeld openbare teregstellings. Weerlose Getuies van Jehovah was ’n maklike prooi, veral omdat party van die groepe wat deur priesters gelei is hulle op die Getuies toegespits het. Hulle het die feit dat hulle ons huise binnegedring het, geregverdig deur die voorwendsel te gebruik dat hulle die Katolieke geloof van hulle voorvaders verdedig. By sulke geleenthede het hulle ruite gebreek, vee gesteel en klere, kos en lektuur vernietig. Bybels het hulle in die put gegooi.”

Onverwagse martelaarskap

“Op ’n dag in Junie 1946, voordat ons bymekaargekom het om per fiets na ’n afgesonderde gebied te gaan, het ’n jong broer, Kazimierz Kądziela, ons besoek en saggies met my pa gepraat. My pa het gesê dat ons solank moet gaan, maar hy het nie saamgekom nie, en dit het ons verbaas. Ons sou later die rede hiervoor hoor. Toe ons tuiskom, het ons gehoor dat die Kądziela-gesin die vorige nag wreed geslaan is en dat my pa die ernstig beseerde broers en susters gaan versorg het.

“Toe ek later by die kamer ingestap het waar hulle lê, het dit wat ek daar gesien het my in trane laat uitbars. Die mure en plafon was met bloed bespat. Mense wat in verbande toegedraai was, het op die beddens gelê, pimpel en pers geslaan, geswel, met gebreekte ribbes en ledemate. Hulle was skaars herkenbaar. Suster Kądziela, die moeder van die gesin, was verskriklik geslaan. My pa het hulle bygestaan, en voordat hy vertrek het, het hy betekenisvolle woorde geuiter: ‘O, my God, ek is so ’n gesonde en bevoegde man [hy was toe 45 jaar oud en was nog nooit siek nie], en ek het nog nie die voorreg gehad om vir U te ly nie. Waarom moet dit met hierdie bejaarde suster gebeur?’ Min het hy geweet wat op hom wag.

“Toe die son sak, het ons die [drie kilometer] na ons huis afgelê. ’n Groep van 50 gewapende mans het ons huis omsingel. Die Wincenciuk-gesin is ook ingebring sodat daar nege van ons was. Aan elkeen van ons is die vraag gevra: ‘Is jy ’n Getuie van Jehovah?’ Wanneer ons ja geantwoord het, is ons geslaan. Daarna het twee van daardie wreedaards my pa om die beurt geslaan terwyl hulle hom gevra het of hy sal ophou om die Bybel te lees en dit te verkondig. Hulle wou weet of hy kerk toe sou gaan en sy sondes sou bely. Hulle het hom uitgetart en gesê: ‘Vandag gaan ons jou tot biskop orden.’ My pa het nie ’n enkele woord gesê nie en het nie een keer gekla nie. Hy het hulle marteling verduur, so mak soos ’n lammetjie. Teen dagbreek, omtrent 15 minute ná die godsdiensbullebakke geloop het, het hy gesterf, papgeslaan. Maar voordat hulle vertrek het, het hulle my as hulle volgende slagoffer uitgekies. Ek was toe 17 jaar oud. Terwyl ek geslaan is, het ek ’n paar keer my bewussyn verloor. My liggaam was pers van my middellyf af op as gevolg van die houe. Ons is ses uur lank mishandel. Nét omdat ons Jehovah se Getuies was!”

’n Getroue vrou se ondersteuning

“Ek was onder die groep van 22 Getuies wat twee maande lank in ’n donker sel van minder as [10 vierkante meter] opgesluit was. Teen die einde van daardie tydperk is ons rantsoen verminder. Ons is daagliks ’n klein stukkie brood en ’n bekertjie bitter koffie gegee. Dit was slegs moontlik om op die koue betonvloer te lê en slaap wanneer iemand gedurende die nag vir ondervraging uitgeneem is.

“Ek is vyf keer weens my Christelike bedrywighede opgesluit, altesaam agt jaar. Ek is as ’n spesiale gevangene behandel. Daar was ’n aantekening in my persoonlike lêer wat basies soos volg gelui het: ‘Teister Kulesza so baie dat hy nooit weer die begeerte sal hê om die bedrywighede te hervat nie.’ Maar elke keer wat ek vrygelaat is, het ek my Christelike diens hervat. Die owerhede het ook die lewe vir my vrou, Urszula, en ons twee dogtertjies versuur. Die geregsbode het byvoorbeeld tien jaar lank ’n deel van my vrou se swaar verdiende geld geneem. Dit was glo ’n belasting omdat ek Bybellektuur ondergronds gedruk het. Alles is gekonfiskeer behalwe dié dinge wat as lewensmiddele beskou is. Ek is dankbaar teenoor Jehovah vir my moedige vrou wat geduldig saam met my al daardie pyniging verduur het en my die heeltyd ondersteun het.

“Ons het ’n geestelike oorwinning hier in Pole gesien; ons het nou ’n wettige takkantoor van die Wagtoringgenootskap by Nadarzyn, naby Warskou. Ná dekades van vervolging is daar nou meer as 108 000 Getuies in 1348 gemeentes.”

Waarom soveel martelare?

Die rekord van Jehovah se Getuies se onkreukbaarheid in hierdie 20ste eeu sal letterlik boekdele vul—duisende het as martelare gesterf of gevangenskap en onbeskryflike marteling, verkragting en plundering verduur in plekke soos Malawi en Mosambiek, in Spanje onder Fascisme, in Europa onder Nazisme, in Oos-Europa onder Kommunisme en in die Verenigde State gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Die vraag ontstaan: Waarom? Omdat onversetlike politieke en godsdiensleiers onwillig was om die Bybelopgeleide gewete van opregte Christene te respekteer wat nie wil leer om dood te maak nie en hulleself van alle politieke bedrywighede afskei. Dit is net soos Christus gesê het dit sal wees, soos opgeteken in Johannes 15:17-19: “Dit gebied Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê. As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het. As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle.”

Ondanks hierdie wêreldwye vervolging het Jehovah se Getuies vermeerder—van 126 000 in 54 lande in 1943 tot bykans 4500 000 in 229 lande in 1993. Hulle het selfs in die aangesig van die dood geseëvier. Hulle is vasbeslote om aan te hou met hulle unieke onderrigtingswerk om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig totdat Jehovah bepaal dat dit moet eindig.—Jesaja 6:11, 12; Mattheüs 24:14; Markus 13:10.

[Voetnoot]

a Onkreukbaarheid is “onwrikbare trou aan ’n stel streng sedelike of etiese gedragsreëls”.—The American Heritage Dictionary, derde uitgawe.

[Venster/Prent op bladsy 6]

Martelaarskap in Duitsland

AUGUST DICKMANN was 23 jaar oud toe die SS-leier Heinrich Himmler beveel het dat hy voor al die ander Getuies in die Sachsenhausen-konsentrasiekamp geskiet moet word. Gustav Auschner, ’n ooggetuie, het gesê: “Hulle het broer Dickmann geskiet en vir ons gesê dat ons almal geskiet gaan word as ons nie die verklaring waarin ons ons geloof versaak, onderteken nie. Ons sou 30 of 40 op ’n slag na die sandgroef geneem word, en hulle sou ons almal skiet. Die volgende dag het die SS vir elkeen van ons ’n vorm gebring wat ons moes teken as ons nie geskiet wou word nie. Jy moes hulle lang gesigte gesien het toe hulle sonder ’n enkele handtekening daar weg is. Hulle het gehoop dat die openbare teregstelling ons sou bangmaak. Maar ons vrees om Jehovah te mishaag was groter as ons vrees vir hulle koeëls. Hulle het nie een van ons weer in die openbaar tereggestel nie.”

[Venster/Prent op bladsy 9]

Die hoogste prys

PARTY KEER kan seëviering in die aangesig van die dood behels dat ’n mens die hoogste prys moet betaal. ’n Brief wat van die Nseleni-gemeente in die noordelike deel van Natal ontvang is, vertel ’n droewige verhaal: “Ons skryf hierdie brief om julle van die verlies van ons geliefde broer Moses Nyamussua te laat weet. Sy beroep was om te sweis en motors te herstel. By een geleentheid het ’n politieke groep hom gevra om hulle tuisgemaakte vuurwapens te sweis, maar hy het geweier om dit te doen. Op die 16de Februarie 1992 het hulle hulle politieke saamtrek gehad waar hulle met die teenparty geveg het. Daardie selfde aand, op pad terug van hulle geveg af, het hulle die broer gekry waar hy na die winkelsentrum op pad was. Hulle het hom net daar met hulle spiese doodgesteek. Wat was hulle rede? ‘Jy het geweier om ons gewere te sweis, en nou het ons makkers in die geveg gesneuwel.’

“Dit was ’n baie groot skok vir die broers”, sê broer Dumakude, die gemeentelike sekretaris. “Maar”, voeg hy by, “ons sal met ons bediening voortgaan.”

[Venster/Prent op bladsy 11]

Martelaarskap in Pole

IN 1944, toe Duitse troepe vinnig teruggetrek het en die gevegsfront ’n dorp in die oostelike deel van Pole genader het, het die besettingsowerhede burgerlikes gedwing om tenkafweerslote te grawe. Jehovah se Getuies het geweier om daaraan deel te neem. Stefan Kieryło, ’n jong Getuie—wat net twee maande vantevore gedoop is—is in ’n werkafdeling gedwing, maar het moedig dieselfde neutrale standpunt ingeneem. Verskeie metodes is gebruik om sy onkreukbaarheid te breek.

Hulle het hom kaal aan ’n boom in die vlei vasgebind sodat muggies en ander insekte hom sou aanval. Nadat hy dit en ander martelings verduur het, het hulle hom uitgelos. Maar toe ’n hooggeplaaste offisier die afdeling ondersoek het, het iemand hom vertel dat daar ’n man is wat beslis nie sy bevel sal gehoorsaam nie. Stefan is drie keer beveel om die sloot te grawe. Hy het selfs geweier om ’n graaf vas te hou. Hy is doodgeskiet. Honderde mense wat die toneel dopgehou het, het hom persoonlik geken. Sy martelaarskap het ’n getuienis geword van die groot krag wat Jehovah kan voorsien.

[Prent op bladsy 7]

Ananii Grogul

[Prent op bladsy 10]

Jerzy Kulesza

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel