Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g02 4/22 bl. 19-24
  • My hoop het ondanks beproewinge sterk gebly

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • My hoop het ondanks beproewinge sterk gebly
  • Ontwaak!—2002
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Verwarrende godsdiensvraag
  • My vrae word beantwoord
  • Weens my geloof gevange geneem
  • Ons neutraliteit word getoets
  • In ’n strafkamp
  • ’n Afgryslike tog
  • Ons lewe is gespaar
  • My hoop steeds sterk
  • Geloof tydens beproewinge in Slowakye
    Ontwaak!—2002
  • Ek Het Geleer Om Op Jehovah Te Vertrou
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Jehovah se krag het ons onderskraag
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Ek het uiteindelik die waarheid gevind
    Ontwaak!—1997
Sien nog
Ontwaak!—2002
g02 4/22 bl. 19-24

My hoop het ondanks beproewinge sterk gebly

SOOS VERTEL DEUR ANDREJ HANÁK

Dit was die jaar 1943, en die Tweede Wêreldoorlog het gewoed. Omdat ek ’n neutrale standpunt ingeneem het, was ek in die gevangenis in Boedapest, Hongarye. Daar het ’n bebaarde Ortodokse priester my sy Bybel aangebied in ruil vir drie dae se brood. Hoewel ek dood van die honger was, is ek nog steeds oortuig dat dit die moeite werd was.

DIT was moeilik om ’n skoon Christelike gewete te behou toe die Nazi’s gedurende die Tweede Wêreldoorlog beheer oor ons land oorgeneem het. Later, gedurende meer as 40 jaar van Kommunistiese bewind, was dit ook moeilik om ons Skepper, Jehovah God, te dien sonder om Bybelbeginsels prys te gee.

Maar voordat ek beskryf hoe dit destyds was om ons onkreukbaarheid teenoor God te handhaaf, wil ek jou graag ’n bietjie meer omtrent my agtergrond vertel. Jy sal dit ongetwyfeld interessant vind om te hoor wat Jehovah se Getuies gedurende daardie vroeë jare deurgemaak het. Laat my eers toe om vir jou van ’n godsdienssituasie te vertel wat my oor die vernaamste godsdienste in ons gebied laat wonder het.

’n Verwarrende godsdiensvraag

Ek is op 3 Desember 1922 in Pácin, ’n Hongaarse dorpie naby die Slowaakse grens, gebore. Slowakye het destyds uit die oostelike deel van Tsjeggo-Slowakye bestaan. Toe ’n groot deel van Tsjeggo-Slowakye ná die Tweede Wêreldoorlog deur die Sowjetunie oorgeneem is, is die Oekraïense grens tot 30 kilometer van Pácin af geskuif.

Ek was die tweede van vyf kinders wat vir toegewyde Rooms-Katolieke ouers gebore is. Toe ek 13 was, het iets gebeur wat my ernstiger oor godsdiens laat dink het. Ek en my ma het ’n pelgrimstog van 80 kilometer na die dorpie Máriapócs in Hongarye onderneem. Ons het soontoe gestap omdat ons geglo het dat dit vir ons ’n groter seën sou meebring. Rooms- sowel as Grieks-Katolieke het die pelgrimstog onderneem. Ek het vroeër gedink dat hierdie twee kerke deel was van ’n min of meer verenigde Katolieke Kerk. Maar ek het kort voor lank uitgevind dat dit nie so was nie.

Die Grieks-Katolieke mis is toevallig eerste opgedra. Ek het dus besluit om daardie een by te woon. Later, toe my ma uitvind dat ek dit bygewoon het, was sy baie ontsteld. Ek was ’n bietjie verward en het gevra: “Watter verskil maak dit watter mis ons bywoon? Is dit dan nie die een liggaam van Christus waaraan ons deel het nie?”

My ma kon my nie antwoord nie en het eenvoudig gesê: “My kind, dit is sonde om sulke vrae te vra.” Ek het nietemin nog steeds vrae gehad.

My vrae word beantwoord

Toe ek 17 was—kort nadat die Tweede Wêreldoorlog in 1939 uitgebreek het—het ek ’n paar kilometer van my tuisdorp af na Streda nad Bodrogom getrek, ’n klein dorpie wat vandag in oostelike Slowakye geleë is. Ek het soontoe getrek om as ’n vakleerling by ’n plaaslike smid te werk. Maar by sy huis het ek iets geleer wat baie waardevoller was as om hoefysters vir perde en ander voorwerpe uit gesmelte metaal te maak.

Mária Pankovics, die smid se vrou, was een van Jehovah se Getuies. Ek het dus gedurende die dag by haar man geleer om ’n smid te wees, maar saans het ek die Bybel bestudeer en die vergaderinge saam met die plaaslike Getuies bygewoon. As ’n leerlingsmid het ek groter waardering gekry vir die woorde van Psalm 12:6: “Die woorde van Jehovah is suiwer woorde, soos silwer wat in ’n smeltoond van die aarde gelouter is, sewe keer gesuiwer.” Hoe aangenaam was daardie aande tog toe ons die woorde van Jehovah ondersoek het en my Bybelvrae beantwoord is!

Min het ek besef dat, terwyl die Tweede Wêreldoorlog hewiger geword het, my nuutgevonde geloof kort voor lank getoets sou word.

Weens my geloof gevange geneem

Kort nadat ek as ’n leerlingsmid begin werk het, is jong mans in Hongarye vir diensplig opgeroep. Maar ek het besluit om die Bybelbeginsel in Jesaja 2:4 te volg wat sê: ‘Hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.’ Ek is weens my besluit tot tien dae gevangenisstraf gevonnis. Nadat ek vrygelaat is, het ek voortgegaan om die Bybel te bestudeer. Toe, op 15 Julie 1941, het ek my toewyding aan Jehovah deur waterdoop gesimboliseer.

Teen daardie tyd het Nazi-Duitsland die Sowjetunie binnegeval, en Oos-Europa was in oorlog gedompel. Oorlogspropaganda het geweldig toegeneem en nasionalistiese gevoelens het hoog geloop. Maar Jehovah se Getuies het, in ooreenstemming met hulle Bybelse oortuiging, neutraal gebly.

In Augustus 1942 is ’n wrede aanval op ons geloods. Die owerheid het tien versamelpunte gehad waar die Getuies, oud en jonk, bymekaargebring is. Selfs diegene wat nog nie gedoop was nie, maar wat hulle geweet het kontak met ons gehad het, is na hierdie versamelpunte geneem. Ek was onder diegene wat na ’n gevangenis in Sárospatak geneem is, ’n stad ongeveer 20 kilometer van my geboortedorpie Pácin af.

Die jongste gevangene in die tronk was maar drie maande oud. Hy is saam met sy Getuiema opgesluit. Toe ons vir ’n bietjie kos gevra het, net sodat ons ten minste vir die baba iets kon gee, het die wag geantwoord: “Laat hom huil. Dit sal hom help om ’n sterk Getuie te word.” Ons het die baba jammer gekry, maar dit het ons ook hartseer gemaak dat die jong wag se hart so verhard kon word deur nasionalistiese propaganda.

Tydens my verhoor is ek tot twee jaar gevangenisstraf gevonnis. Ek is toe na die gevangenis in Margit Körútstraat 85 in Boedapest oorgeplaas. Daar is ongeveer 50 tot 60 mense in selle ingeprop wat sowat 4 by 6 meter groot was. Ons het agt maande lank daar gebly sonder enige badkamer- of toiletgeriewe. Ons kon dus nie stort of bad nie, wat nog te sê ons klere was. Ons was almal vol luise, en snags het goggas oor ons vuil liggame geloop.

Ons moes soggens vieruur opstaan. Vir ontbyt het ons net ’n klein koppie koffie gekry. Smiddae het ons dieselfde hoeveelheid sop en ongeveer 150 gram brood saam met ’n bietjie pap gekry. In die aand het ons niks gekry om te eet nie. Hoewel ek 20 was en goeie gesondheid geniet het, het ek uiteindelik so swak geword dat ek nie kon loop nie. Gevangenes het weens honger en infeksies begin sterf.

Gedurende daardie tyd is ’n nuwe gevangene in ons sel geplaas. Hy was die bebaarde Ortodokse priester wat ek aan die begin genoem het. Hy is toegelaat om sy Bybel te hou. Ag, hoe graag wou ek dit tog lees! Maar toe ek hom vra of ek kon, het hy geweier. Later het hy egter na my toe gekom. “Luister hier, Seun”, het hy gesê. “Jy kan die Bybel kry. Ek sal dit aan jou verkoop.”

“Verkoop? Wat wil jy daarvoor hê?” het ek gevra. “Ek het nie geld by my nie.”

Dit is toe dat hy my sy Bybel aangebied het as ek hom drie dae lank my brood gee. Wat ’n lonende ooreenkoms was dit tog nie! Ondanks my fisiese honger het ek die geestelike voedsel ontvang wat my sowel as ander gehelp het om gedurende daardie moeilike tye deur ons beproewinge heen standvastig te bly. Ek het vandag nog daardie Bybel.—Matteus 4:4.

Ons neutraliteit word getoets

In Junie 1943 is jong Getuiemans van regoor Hongarye—ongeveer 160 van ons—na Jászberény, ’n dorp naby Boedapest, geneem. Toe ons weier om militêre pette en driekleurige bande om ons arms te dra, is ons in goederewaens gelaai en na die Boedapest-Kőbánya-treinstasie geneem. Daar het militêre offisiere ons een vir een by ons naam uit die goederewaens geroep en ons beveel om as soldate aan te meld.

Ons is beveel om “Heil Hitler” te sê, wat “Eer aan Hitler” beteken. Wanneer elke Getuie geweier het om dit te doen, is hy erg geslaan. Die soldate het uiteindelik moeg geword, en een van hulle het gesê: “Ons sal nog net een slaan, maar hy gaan dit nie oorleef nie.”

Tibor Haffner, ’n ouer broer wat al lank ’n Getuie is, het ’n lys in die hande gekry van die Getuies wat aan boord was. Hy het vir my gefluister: “Broer, jy is volgende. Wees moedig! Vertrou op Jehovah.” Ek is toe geroep. Terwyl ek by die goederewa se deur gestaan het, is ek beveel om uit te klim. “Daar is niks van hom oor om te slaan nie”, het een van die soldate gesê. Toe het hy vir my gesê: “As jy aanmeld soos daar vir jou gesê is, sal ons sorg dat jy in die kombuis werk om kos voor te berei. Andersins gaan jy sterf.”

“Ek sal nie vir militêre diens aanmeld nie”, het ek geantwoord. “Ek wil teruggaan na die goederewaens waar my broers is.”

’n Soldaat, wat my jammer gekry het, het my gegryp en my in die goederewa teruggegooi. Aangesien ek minder as 40 kilogram geweeg het, was dit nie vir hom moeilik om dit te doen nie. Broer Haffner het gekom en sy arm om my skouers gesit, my gesig gestreel en Psalm 20:1 vir my aangehaal: ‘Mag Jehovah jou antwoord in die dag van benoudheid. Mag die naam van die God van Jakob jou beskerm.’

In ’n strafkamp

Ons is daarna op ’n boot gesit en op die Donau-rivier na Joego-Slawië geneem. In Julie 1943 het ons by die strafkamp aangekom wat naby Bor is, ’n stad wat een van die grootste kopermyne in Europa gehad het. Daar was uiteindelik sowat 60 000 mense van verskillende nasionaliteite in die kamp, insluitende sowat 6 000 Jode en ongeveer 160 Getuies van Jehovah.

Die Getuies is in een groot barak gesit. In die middel daarvan was tafels en bankies, en ons het ons vergaderinge twee keer ’n week daar gehou. Ons het eksemplare van Die Wagtoring bestudeer wat in die kamp ingesmokkel is, en ons het die Bybel gelees wat ek vir my brood verruil het. Ons het ook liedere gesing en saam gebid.

Ons het ’n goeie verhouding met ander gevangenes probeer handhaaf, en dit het ons uiteindelik tot voordeel gestrek. Een van ons broers het verskriklike maagpyn gehad, en die wagte was nie bereid om hulp te ontbied nie. Namate sy toestand versleg het, het een van die Joodse gevangenes, ’n dokter, ingestem om te opereer. Hy het die broer ’n eenvoudige verdowingsmiddel gegee en die operasie met die skerpgemaakte steel van ’n lepel gedoen. Die broer het herstel en ná die oorlog huis toe gegaan.

Die werk in die myne was uitputtend, en kos was skaars. Twee broers het in ongelukke by die werk gesterf, en ’n ander een aan ’n siekte. In September 1944, terwyl die Russiese leër al hoe nader gekom het, is daar besluit om die kamp te ontruim. Wat daarna gebeur het, sou moeilik gewees het om te glo as ek dit nie met my eie oë gesien het nie.

’n Afgryslike tog

Ná ’n vermoeiende tog van ’n week het ons saam met baie Joodse gevangenes in Belgrado aangekom. Toe het ons nog ’n paar dae verder te voet gegaan en die dorpie Cservenka bereik.

Toe ons in Cservenka aankom, is Jehovah se Getuies beveel om in rye van vyf te staan. Een Getuie is toe uit elke tweede ry geneem. Ons het met trane in ons oë na dié gekyk wat weggeneem is, want ons het gedink dat hulle tereggestel gaan word. Maar na ’n rukkie was hulle terug. Wat het gebeur? Die Duitse soldate wou hê dat hulle grafte moes grawe, maar ’n Hongaarse kommandant het verduidelik dat hulle ’n week laas geëet het en te swak was om te werk.

Daardie aand is al die Getuies na ’n solder in ’n gebou geneem wat gebruik is om bakstene te droog. ’n Duitse offisier het vir ons gesê: “Wees stil en bly hier. Dit gaan ’n verskriklike nag wees.” Hy het toe die deur gesluit. Na ’n paar minute het ons soldate hoor skreeu: “Kom! Kom!” Toe was daar die geluid van masjiengewere, gevolg deur ’n onheilspellende stilte. Ons het weer gehoor: “Kom! Kom!” en toe nog geweervuur.

Ons kon deur die dak sien wat besig was om te gebeur. Die soldate het groot groepe Joodse gevangenes gebring, hulle voor ’n gat laat staan en hulle geskiet. Daarna het die soldate handgranate op die hoop liggame gegooi. Teen dagbreek het net agt van die Joodse gevangenes nog gelewe, en die Duitse soldate het weggehardloop. Ons was verstandelik en liggaamlik uitgemergel. János Török en Ján Bali, wat nog lewe, was onder die Getuies wat by daardie teregstelling teenwoordig was.

Ons lewe is gespaar

Met Hongaarse soldate wat ons bewaak het, het ons weswaarts en noordwaarts met ons tog voortgegaan. Ons is herhaaldelik gevra om aan militêre bedrywighede deel te neem, maar ons kon ons neutraliteit handhaaf en nog steeds bly lewe.

In April 1945 het ons ons tussen die Duitse en die Russiese leër bevind by die stad Szombathely naby die grens tussen Hongarye en Oostenryk. Toe ons oor ’n moontlike lugaanval gewaarsku is, het ’n Hongaarse kaptein, wat ons wag was, gevra: “Kan ek asseblief saam met julle gaan om skuiling te vind? Ek kan sien dat God met julle is.” Ná die bomaanval het ons die stad verlaat en verby dooie diere en mense geloop.

Toe dieselfde kaptein sien dat die oorlog amper verby is, het hy ons bymekaar laat kom en gesê: “Dankie dat julle my gerespekteer het. Hier is ’n bietjie tee en suiker vir elkeen. Dit is darem iets.” Ons het hom ook bedank dat hy ons so goed behandel het.

Binne ’n paar dae het die Russe opgedaag, en ons het in klein groepies huis toe begin gaan. Maar dit was geensins die einde van ons probleme nie. Nadat ons in Boedapest aangekom het, is ons deur die Russe gevange geneem en weer vir militêre diens opgeroep—hierdie keer vir die Sowjetleër.

Die man in bevel van die verrigtinge was ’n dokter, ’n hooggeplaaste Russiese amptenaar. Toe ons in die vertrek instap, het ons hom nie herken nie, maar hy het ons herken. Hy was saam met ons in die strafkamp in Bor, en hy was een van die min Jode wat die Nazi-slagting oorleef het. Toe hy ons sien, het hy die wagte beveel: “Laat hierdie agt mans huis toe gaan.” Ons het vir hom dankie gesê, maar bowenal het ons Jehovah vir sy beskerming gedank.

My hoop steeds sterk

Ek het uiteindelik op 30 April 1945 by ons huis in Pácin aangekom. Ek het kort daarna na die huis van die smid in Streda nad Bodrogom teruggekeer om my vakleerlingskap te voltooi. Die Pankovics het baie vir my gedoen—hulle het my nie net ’n ambag geleer waarmee ek ’n inkomste kon verdien nie, maar nog belangriker, hulle het my Bybelwaarhede geleer wat my lewe verander het. En nou het hulle my ook iets anders gegee. Op 23 September 1946 het hulle aantreklike dogter, Jolana, my vrou geword.

Ek en Jolana het weer begin om Bybelstudies te hou en die predikingswerk te doen. Toe, in 1948, het ons die bykomende seëning ontvang om die ouers van ons seun, Andrej, te word. Die godsdiensvryheid wat ons geniet het, was egter van korte duur. Die Kommuniste het kort voor lank ons land oorgeneem, en nog ’n vlaag van vervolging het begin. Ek is in 1951 opgeroep, hierdie keer deur die Tsjeggo-Slowaakse Kommunistiese owerheid. Die scenario is herhaal: ’n verhoor, ’n vonnis, gevangenskap, slawearbeid en verhongering. Maar met God se hulp het ek dit weer eens oorleef. Ek is amnestie verleen en is dus in 1952 vrygelaat, waarna ek by my gesin in Ladmovce, Slowakye, aangesluit het.

Ondanks die verbod op ons Christelike bediening, wat sowat 40 jaar geduur het, het ons met ons heilige diens voortgegaan. Van 1954 tot 1988 het ek die voorreg gehad om as ’n reisende opsiener te dien. Ek het gemeentes van Jehovah se Getuies oor naweke besoek en die broers en susters aangemoedig om standvastig in hulle onkreukbaarheid te bly. Dan gedurende die week het ek tyd saam met my gesin deurgebring en sekulêre werk gedoen om in ons materiële behoeftes te voorsien. Gedurende al hierdie tyd het ons Jehovah se liefdevolle leiding ondervind. Ek het gevind dat die woorde van die Bybelpsalmis waar is: “As Jehovah nie vir ons was toe mense teen ons opgestaan het nie, dan sou hulle ons lewend verswelg het toe hulle toorn teen ons ontvlam het.”—Psalm 124:2, 3.

Met verloop van tyd was ek en Jolana bly om te sien dat Andrej trou en uiteindelik ’n volwasse Christenopsiener word. Sy vrou, Eliška, en hulle twee seuns, Radim en Daniel, het ook bedrywige Christenbedienaars geword. Toe, in 1998, het ek ’n groot verlies gely toe my dierbare Jolana oorlede is. Van al die beproewinge wat ek moes deurmaak, is hierdie die moeilikste. Ek mis haar elke dag, maar ek put vertroosting uit die kosbare opstandingshoop.—Johannes 5:28, 29.

Nou, op 79-jarige ouderdom, dien ek as ’n ouer man in die dorpie Slovenské Nové Mesto in Slowakye. Hier put ek die grootste vreugde daaruit om my kosbare Bybelse hoop aan my bure bekend te maak. Wanneer ek op die verlede terugkyk, en op meer as 60 jaar in Jehovah se diens, is ek oortuig dat ons alle struikelblokke en beproewinge met Jehovah se hulp kan oorkom. My begeerte en my hoop word mooi in die woorde van Psalm 86:12 uitgedruk: “Ek prys u, o Jehovah my God, met my hele hart, en ek sal u naam tot onbepaalde tyd verheerlik.”

[Prent op bladsy 20]

Die Bybel wat ek in ruil vir my brood gekry het

[Prent op bladsy 21]

Tibor Haffner het my deur my beproewinge heen aangemoedig

[Prent op bladsy 22]

Getuies in die Bor-strafkamp

[Prent op bladsy 22]

’n Getuiebegrafnis by die Bor-strafkamp met Duitse soldate wat teenwoordig is

[Prent op bladsy 23]

Jolana het in September 1946 my vrou geword

[Prente op bladsy 23]

János Török en Ján Bali (inlasfoto) was ook by die slagting teenwoordig

[Prent op bladsy 24]

Saam met my seun, sy vrou en my kleinseuns

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel