Filippus—’n ywerige evangelis
DIE Skrif bevat baie verslae van manne en vroue wie se geloof navolgenswaardig is. Neem byvoorbeeld Filippus, ’n eerste-eeuse Christensendeling. Hy was nie ’n apostel nie, en tog is hy in groot mate gebruik om die Koninkryksboodskap bekend te maak. Trouens, Filippus het as “die evangelis” bekend geraak (Handelinge 21:8). Waarom is Filippus so genoem? En wat kan ons by hom leer?
Filippus verskyn in die Bybelverslag kort ná Pinkster 33 G.J. Op daardie tydstip het die Griekssprekende Jode teen die Hebreeussprekende Jode begin murmureer en beweer dat hulle weduwees in die daaglikse uitdeling van voedsel oor die hoof gesien word. Die apostels het “sewe manne van goeie getuienis” aangestel om die saak te ondersoek. Filippus was onder dié wat gekies is.—Handelinge 6:1-6.
Hulle was sewe manne “van goeie getuienis”. James Moffatt se vertaling sê dat hulle ’n “goeie reputasie” gehad het. Ja, toe hulle aangestel is, was hulle reeds bekend as geestelike manne met onderskeidingsvermoë. Dit is ook die geval met diegene wat vandag as Christenopsieners dien. Hierdie manne word nie oorhaastig aangestel nie (1 Timoteus 5:22). Hulle moet “’n voortreflike getuienis hê van mense wat buite is”, en mede-Christene moet hulle ken as persone wat redelik en gesond van verstand is.—1 Timoteus 3:2, 3, 7; Filippense 4:5.
Filippus het blykbaar sy toewysing in Jerusalem goed uitgevoer. Maar ’n vlaag van kwaai vervolging het kort daarna uitgebreek en Christus se volgelinge verstrooi. Soos ander het Filippus die stad verlaat, maar dit het nie sy bediening beëindig nie. Kort voor lank was hy besig om in ’n nuwe gebied—Samaria—te preek.—Handelinge 8:1-5.
Baanbrekers in nuwe gebiede
Jesus het voorspel dat sy dissipels “in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot in die mees afgeleë deel van die aarde” sou getuig (Handelinge 1:8). Filippus het aan die vervulling van daardie woorde deelgeneem deur in Samaria te getuig. Die Jode het oor die algemeen min respek vir Samaritane gehad. Maar Filippus was nie bevooroordeeld teen hierdie mense nie, en hy is weens sy onpartydigheid geseën. Trouens, baie Samaritane is gedoop, selfs Simon wat vroeër ’n towenaar was.—Handelinge 8:6-13.
Ná ’n ruk het Jehovah se engel Filippus na die woestynpad gestuur wat van Jerusalem na Gasa geloop het. Daar het Filippus ’n strydwa gesien met ’n Etiopiese dienaar wat hardop uit die profesie van Jesaja lees. Filippus het langs die strydwa gehardloop en met hom begin gesels. Hoewel die Etiopiër ’n proseliet was wat ’n bietjie kennis van God en die Skrif gehad het, het hy nederig erken dat hy hulp nodig gehad het om te verstaan wat hy lees. Hy het Filippus gevolglik genooi om saam met hom op die strydwa te sit. Nadat hy vir hom getuig het, het hulle by water gekom. “Wat verhinder my om gedoop te word?” het die Etiopiër gevra. Filippus het hom onmiddellik gedoop, en die Etiopiër het sy reis vreugdevol voortgesit. Hierdie nuwe dissipel het waarskynlik die goeie nuus in sy geboorteland verkondig.—Handelinge 8:26-39.
Wat kan ons leer uit Filippus se bediening toe hy vir die Samaritane en die Etiopiese dienaar getuig het? Ons moet nooit aanneem dat mense van ’n sekere nasionaliteit, ras of sosiale stand nie in die goeie nuus sal belangstel nie. Ons moet eerder die Koninkryksboodskap aan “alle soorte mense” bekend maak (1 Korintiërs 9:19-23). As ons beskikbaar is om vir almal te getuig, kan Jehovah ons gebruik in die werk om ‘dissipels van mense van al die nasies te maak’ voordat die einde van hierdie goddelose stelsel aanbreek.—Matteus 28:19, 20.
Filippus se verdere voorregte
Nadat hy vir die Etiopiese dienaar gepreek het, het Filippus in Asdod getuig en “deur die gebied gegaan en aangehou om die goeie nuus aan al die stede bekend te maak totdat hy in Sesarea gekom het” (Handelinge 8:40). In die eerste eeu het hierdie twee stede taamlike groot nie-Joodse bevolkings gehad. Toe Filippus noordwaarts op pad na Sesarea was, het hy waarskynlik in vername Joodse sentrums, soos Lidda en Joppe, gepreek. Dit is moontlik waarom daar later in hierdie gebiede dissipels was.—Handelinge 9:32-43.
Die laaste verwysing na Filippus is ongeveer 20 jaar later. Aan die einde van Paulus se derde sendingreis het Paulus by Ptolemaïs aan wal gegaan. “Die volgende dag”, sê Paulus se reisgenoot Lukas, “het ons vertrek en in Sesarea aangekom, en ons het ingegaan in die huis van Filippus, die evangelis.” Teen hierdie tyd het Filippus “vier dogters gehad, maagde, wat geprofeteer het”.—Handelinge 21:8, 9.
Filippus het hom blykbaar in Sesarea gevestig. Maar hy het nie sy sendinggees verloor nie, want Lukas noem hom “die evangelis”. Hierdie uitdrukking verwys dikwels na iemand wat sy huis verlaat om die goeie nuus in onaangeraakte gebiede te verkondig. Die feit dat Filippus vier dogters gehad het wat geprofeteer het, gee te kenne dat hulle hulle ywerige vader se voetstappe gevolg het.
Hedendaagse Christenouers moet onthou dat hulle kinders hulle belangrikste dissipels is. Selfs as sulke ouers van sekere teokratiese voorregte moes afsien vanweë gesinsverantwoordelikhede, kan hulle soos Filippus heelhartige knegte van God en voorbeeldige ouers bly.—Efesiërs 6:4.
Die besoek van Paulus en sy metgeselle het Filippus se gesin ’n goeie geleentheid gebied om gasvryheid te betoon. Stel jou net die uitwisseling van aanmoediging voor! Miskien was dit by hierdie geleentheid dat Lukas die besonderhede aangaande Filippus se bedrywighede gekry het, wat later in Handelinge hoofstukke 6 en 8 opgeteken is.
Jehovah God het Filippus in groot mate gebruik om Koninkryksbelange te bevorder. Filippus se ywer het hom in staat gestel om die goeie nuus in nuwe gebiede bekend te maak en om ’n gesonde geestelike atmosfeer in sy huis te bevorder. Sou jy graag soortgelyke voorregte en seëninge wou geniet? Dan kan jy gerus die eienskappe navolg wat Filippus die evangelis geopenbaar het.