Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 5/22 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vigs in Parys
  • Kinders en bottelvoeding
  • Seeskilpaaie se probleem
  • Tabakadverteerders buit vroue uit
  • Sterrekundiges se hoop
  • Die televisie vooraf instel?
  • Heuning—’n geneesmiddel
  • Superatlete sonder supergesondheid
  • Telechirurgie in die toekoms?
  • Werkloosheid en gesondheid
  • ‘Duitsland ’n heidense land’
  • Heuning—Die by se gawe aan die mens
    Ontwaak!—2005
  • Heuning—’n soet geneser
    Ontwaak!—2002
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1999
  • Die werkloosheidsplaag
    Ontwaak!—1996
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 5/22 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Vigs in Parys

“In Parys word 1 uit elke 3 sterftes onder mans tussen 25 en 44 jaar deur die vigs-virus veroorsaak”, sê die Franse koerant Le Monde. Hierdie nuutste statistiek is onlangs deur INSERM (die Franse nasionale gesondheids- en mediese navorsingsinstituut) bekend gemaak. Die verslag toon verder dat besmetting deur die vigs-virus tussen 1983 en 1990 die sterftesyfer onder hierdie selfde ouderdomsgroep met 50 persent laat styg het. Dr. Jonathan Mann, direkteur van die WGO (Wêreldgesondheidsorganisasie), het voorspel: “Die ergste lê nog voor; die epidemie is oral besig om uit te brei.” Volgens die WGO word daar elke dag oor die wêreld vyfduisend mense besmet.

Kinders en bottelvoeding

Omtrent 25 persent van Japan se kinders ondervind eetprobleme. Bottelvoeding kan die oorsaak daarvan wees. Meer as 20 jaar lank, berig die Asahi Evening News, merk kleuterskoolonderwysers al op dat party kinders sukkel om harde kos te kou. Party kinders sukkel om dit te sluk, ander spoeg dit uit en nóg ander het dit steeds in hulle mond ná hulle middagslapie. Dokters het opgemerk dat hierdie kinders se kake swak en hulle ken klein is. Die tandarts Naohiko Inoue en openbare-gesondheidspesialis Reiko Sakasjita sê dat hulle die oorsaak tot by kleintyd teruggevoer het, en hulle blameer bottelvoeding daarvoor. Dit wil voorkom of babas wanneer hulle uit bottels gevoed word net hoef te suig sonder om hulle kake te beweeg. Maar wanneer babas geborsvoed word, gebruik hulle hulle kake en versterk hulle die einste spiere wat hulle later nodig sal hê om kos mee te kou.

Seeskilpaaie se probleem

Hoewel seeskilpaaie in water bly, word hulle eiers op droë grond gelê. Nadat seeskilpaaie lang afstande deur die wêreld se oseane afgelê het, keer hulle na spesifieke strande terug om te broei. Ná hulle langs die kus gepaar het, sukkel die wyfie teen die strand uit—moontlik die einste strand waarop sy uitgebroei het—en lê rustig haar eiers op ’n plek wat sy versigtig uitgekies het. Dit word ’n paar dae lank herhaaldelik gedoen totdat al die eiers—gewoonlik ongeveer duisend—gelê en sorgsaam bedek is. Maar dan ontstaan daar ’n probleem. Die Suid-Afrikaanse tydskrif Prisma noem dit “die stelselmatige stroping van neste” deur die mens in sy “ongeëwenaarde hebsug en onbeskaamde minagting van die omgewing”, wat “die skilpaaie se voortplantingspatrone ernstig belemmer het”. Sommige spesies word nou deur uitwissing bedreig.

Tabakadverteerders buit vroue uit

“Jy het al ver gekom, skattie.” Vrouerokers in die Verenigde State word al jare lank deur sulke oorredende advertensieslagspreuke aangepor. Hierdie vroue is uitgebuit, kla Kathy Harty, hoof van ’n rookvoorkomingsprogram vir een van die noordelike state. Kathy Harty was medevervaardiger van ’n TV-en-radio-advertensieveldtog wat daardie boodskap beklemtoon het. Een antirookhandelsflits toon hoe ’n aantreklike vrou haar sigaret op ’n advertensieamptenaar se kaal kop dooddruk. In ’n radioadvertensie sê ’n vrou vir sigaretvervaardigers: “Dankie dat julle ons hare soos ’n asbak laat ruik. Dankie dat julle ons tande laat vlek en ons droogskoonmaakrekenings verhoog het. Dankie vir die 52 000 longkankergevalle wat julle elke jaar onder vroue veroorsaak. Ons hoop net dat ons julle eendag hiervoor kan vergoed.” Kathy Harty verduidelik: “Ons wil hê [vroue] moet goed hieroor nadink: ‘Wil ek regtig hierdie sigaret hê? Wil ek regtig iemand anders ryk en myself siek maak?’”

Sterrekundiges se hoop

Tydens ’n tienjaarprogram wat deur die Amerikaanse Nasionale Lugvaart- en Ruimteadministrasie gelei sal word, beplan sterrekundiges om R295 miljoen te bestee om radio-uitsendings van intelligente wesens op ander planete te probeer opvang. Volgens die International Herald Tribune hoop hulle om miljoene mikrogolfkanale gelyktydig by radioteleskope in Argentinië, Australië, Indië, Rusland, Porto Rico en die Verenigde State op te vang. Hoewel party wetenskaplikes optimisties is en vroeë sukses voorspel, wys ander daarop dat die 50 keer wat hulle sedert 1960 daarna gesoek het niks opgelewer het nie.

Die televisie vooraf instel?

“Dit is beter as kinders minder TV kyk, veral na gewelddadige TV-programme”, sê die Amerikaanse Pediatriese Akademie in ’n studie wat in The Journal of the American Medical Association gepubliseer is. Die artikel sê “daar is duidelike tekens dat kinders van net 14 maande oplet na gedrag wat hulle op televisie sien en dit navolg”. Baie van die dinge wat hulle sien, is aggressief en gewelddadig. Om ouerlike gesag te probeer herstel, raai die verslag aan dat die moderne tegnologie van ’n elektroniese kanaaltydslot op die televisiestel gebruik word sodat programme, kanale en tye vooraf ingestel kan word. Op hierdie manier kan ouers, selfs wanneer hulle nie by die huis is nie, beheer uitoefen oor die programme waarna hulle kinders op televisie kyk en wanneer hulle daarna kyk.

Heuning—’n geneesmiddel

Heuning word al van ouds af vir sy genesende eienskappe gebruik. La Presse Médicale, ’n Franse tydskrif, berig dat die moderne mediese wetenskap heuning se genesende krag nou begin herontdek. In ’n onlangse studie het dokters met die gebruik van suiwer, natuurlike heuning geëksperimenteer deur brandwonde en verskillende soorte vleiswonde daarmee te behandel. Heuning is direk op die wond gesmeer en met droë, steriele verbande bedek. Hierdie wonddekking is elke 24 uur vervang. Die resultate toon dat heuning besonder doeltreffend is as ’n reinigings- en geneesmiddel. Dit vernietig die meeste kieme waarmee dit in aanraking kom en stimuleer nuwe weefselgroei. La Presse Médicale kom tot die slotsom: “Aangesien heuning eenvoudig en goedkoop is, behoort dit beter bekend te wees en by die lys ontsmettingsprodukte gevoeg te word wat algemeen gebruik word.”

Superatlete sonder supergesondheid

“Oormatige oefening en emosionele spanning voor ’n belangrike kompetisie het ’n buitengewoon slegte uitwerking op atlete se immuunstelsel”, berig O Estado de S. Paulo. “Die gevolg kan minder weerstand teen infeksies wees, baie soos die simptome van vigs.” Navorsing deur dr. Gerd Uhlenbruck en dr. Heinz Liesen toon dat beroeps- of hoogs geoefende atlete meer kwaadaardige gewasse en infeksies ontwikkel. Hulle stel voor dat dit weens spanning kan wees wat deur die “strawwe oefening en mededingende lewenswyse” veroorsaak word. Die verslag voeg by: “Daarenteen versterk ’n matige deelname aan sport die liggaam, en dit help nie net om kanker te voorkom nie, maar ook om die persoon se lewe te verleng.”

Telechirurgie in die toekoms?

“Die pasiënt is in Rome, die chirurg opereer vanuit Milaan”, verduidelik die Italiaanse dagblad Il Messaggero waar dit die “heel eerste eksperiment met telechirurgie deur middel van ’n robot” beskryf. Honderde kilometers daarvandaan bepaal die chirurg deur middel van ’n telefoniese skakelstelsel en ’n videoskerm “die presiese insnydingspunt, gee hy toestemming, en die robot begin werk. Sy meganiese arm wat ’n skalpel vashou, sak tot op die pasiënt se liggaam en sny.” In hierdie gedemonstreerde operasie wat by die Rome Surgery ’92-kongres uitgevoer is, was die pasiënt net ’n pop, aangesien die Italiaanse wet verbied dat masjiene op mense opereer, maar binne ses of sewe jaar kan telechirurgie, oftewel “afstandbeheerde chirurgie”, wel ’n werklikheid word. Volgens Licinio Angelini, professor in algemene chirurgie aan die La Sapienza-universiteit, Rome, sal “al hierdie bewegings wat die chirurg nou redelik moeilik uitvoer, [in die toekoms] aan masjiene toevertrou word”.

Werkloosheid en gesondheid

Dr. Anne Hammarström van die Karolinska-instituut in Stockholm, Swede, sê dat werkloosheid onder jongmense een van die Westerse wêreld se ernstigste probleme is. Volgens die British Medical Journal toon haar bevindinge dat jong werklose mans geneig is om in ongesonde gedrag, soos toenemende drankgebruik en betrokkenheid by misdaad, te verval. Dit het egter ’n ander uitwerking op jong werklose vroue, want hulle ontwikkel meer fisiese siektes, asook skuldgevoelens, omdat hulle bekommerd is dat hulle ’n las vir hulle gesin is. Mans kry aansienlik meer aandag van die publiek, aangesien werkloosheid ’n opvallender uitwerking op hulle het, sê dr. Hammarström. Sy stel voor dat “die gesondheidsorgsektor meer bewus moet wees van die uitwerking wat werkloosheid op vroue het”. Die Journal kom tot die slotsom dat “’n sinvolle betrekking die enigste werklik doeltreffende geneesmiddel is”.

‘Duitsland ’n heidense land’

“Die Bondsrepubliek [Duitsland] het ’n heidense land met ’n Christelike residu geword. Sesmiljoen mense het hulle geloof in God verloor. Die aantal mense wat glad nie aan ’n godsdiens behoort nie, is meer as dié wat kerk toe gaan. Net 10 persent woon elke Sondag die kerk by.” Dit was die bevindinge van ’n ondersoek in opdrag van die Duitse nuustydskrif Der Spiegel. Die antwoorde is met dié van ’n soortgelyke ondersoek in 1967 vergelyk. Die “nuwe heidene”, soos die tydskrif diegene genoem het wat die kerk verlaat het, “het sonder smart of kwade gevoelens van die kerke afskeid geneem. Dit was nie verontwaardiging nie, maar onverskilligheid wat die kerke van hulle volgelinge beroof het.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel