Moderne musiek—Hoe om die slaggate te vermy
PARTY redeneer oor die voor- en nadele daarvan om rockmusiek te sensor. Ander beredeneer die nadelige uitwerking wat dit op tieners het. Maar as jy ’n Christen is, is hierdie oorwegings van minder belang as die hoofkwessie: Watter uitwerking kan musiek op jou verhouding met God hê?
Die Christen se rigsnoer in die lewe is God se Woord, die Bybel. Dit bevat beginsels met betrekking tot elke aspek van die lewe, wat vermaak insluit. Die Bybel se riglyne beskerm dié wat dit gehoorsaam teen dinge wat onheilsaam en skadelik is. God se guns hang boonop af van gehoorsaamheid aan sy Woord. Die beginsels in God se Woord dien derhalwe as ’n riglyn vir ’n Christen se keuse van musiek (Psalm 43:3; 119:105; 2 Timotheüs 3:16, 17). Wat is die skriftuurlike riglyne dus wat ons met ons keuse van musiek help?
Die belangrikheid van gebalanseerdheid
Prediker 7:16 waarsku: “Wees nie alte regverdig en hou jou nie buitengewoon wys nie: waarom sou jy jouself te gronde rig?” Voor jy besluit dat ’n musiekstuk sleg is, vra jou af of dit dalk ’n kwessie van persoonlike smaak is. Onthou, jý hou dalk nie van ’n musiekstuk nie, maar dit beteken nie noodwendig dat dit slegte musiek is nie.
Die ander kant van hierdie kwessie van gebalanseerdheid word in Prediker 7:17, 18 uiteengesit: “Wees nie alte goddeloos, en wees nie dwaas nie: waarom sou jy sterwe voor jou tyd? Dit is goed dat jy aan die een vashou en ook van die ander jou hand nie aftrek nie; want die wat God vrees, ontkom aan dit alles.”
Wat dan as ’n Christen na musiek luister wat geweld, rassisme, onsedelikheid, duiwelaanbidding en selfmoord aanmoedig? Efesiërs 5:3, 4 spesifiseer: “Maar hoerery en allerhande onreinheid of hebsug moet onder julle selfs nie genoem word nie, soos dit die heiliges betaam; ook nie gemeenheid [“skandelike gedrag”, NW] en dwase of lawwe praatjies wat nie pas nie, maar liewer danksegging.” Ja, diegene wat graag ’n vriend van Jehovah wil wees se vermaak mag nie onheilsaam wees nie. Hulle sal nie redeneer dat so lank as hulle nie hierdie slegte dinge doen dit in die haak sal wees om daardeur vermaak te word nie.
Dit is nie net ’n liedjie se lirieke wat dit uit ’n skriftuurlike oogpunt goed of sleg maak nie. Watter gesindheid moedig dit aan? Lees asseblief Galasiërs 5:19 tot 23 in jou Bybel. Watter lys gee die beste beskrywing van die gees van die musiek waarna jy luister? As die musiek met “die werke van die vlees” ooreenkom, is Jehovah se beskouing daarvan duidelik genoeg.
As ’n Christen heilige diens aan God probeer verrig en terselfdertyd na verderflike musiek luister, sal hy uitvind dat die twee eenvoudig onverenigbaar is. Dit is soos om ’n mengsel van vrugtesap en gif te drink. Die vrugtesap sal nie keer dat die gif jou doodmaak nie. Die woorde in 2 Korinthiërs 6:14-17 stel dit duidelik: “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? En watter ooreenstemming het Christus met Belial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige? . . . Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie.”
Hierdie is dus die skriftuurlike geskilpunte wat diegene in die gesig staar wat graag ’n intieme verhouding met God wil hê. As jy Bybelbeginsels op prys stel, moet jy die musiek waarna jy luister goed van naderby bekyk. Gaan noukeurig deur jou versameling plate en video’s. Raak ontslae van dié wat nie in ooreenstemming met Bybelbeginsels is nie. As jy twyfel, raak in elk geval daarvan ontslae. Ook wat konserte en lektuur betref—vermy enigiets wat geen regmatige gemeenskap met geregtigheid het nie.
Die neiging om verskonings te maak
As jy van musiek hou wat twyfelagtig is of wat nie in ooreenstemming met skriftuurlike riglyne is nie, kan dit vir jou moeilik wees om objektief na die saak te kyk. Party maak verskonings in ’n poging om die kompromis wat hulle aangegaan het, te verdedig en te regverdig. As jy vind dat dit in jou geval so is, staan ’n oomblik stil en dink daaroor na. Is jou redenasie gegrond of getuig dit eenvoudig van ’n emosionele gehegtheid aan die musiek? Neem byvoorbeeld die volgende argumente wat party aanvoer en let daarop dat sulke argumente, ná ’n noukeurige ondersoek, net verskonings is.
Dit is veilig vir my om na hierdie groep te luister, want hulle neem ’n standpunt in teen dwelmmisbruik. Maar neem die groep ook so ’n besliste standpunt in teen ander slegte dinge, soos hoerery, geweld en minagting vir gesag? “’n Bietjie suurdeeg maak die hele deeg suur”, sê Galasiërs 5:9.—Vergelyk Jakobus 2:10.
Die lewe in hierdie wêreld is só onregverdig. Kan ons hierdie groepe werklik blameer omdat hulle hulle gramskap oor wêreldtoestande uitspreek? Die Bybel moedig regverdige verontwaardiging teen die euwels van hierdie stelsel aan, maar vestig die aandag op die Messiaanse Koninkryk as die oplossing.—Daniël 2:44; Mattheüs 6:9, 10.
Die Christen se wonderlike hoop is verskillend van die donker swaarmoedigheid van baie musikante wat nihilisme as die oplossing vir die mensdom se ellende voorstaan. Die wêreld se gramskap is inderdaad vernietigend en dierlik en weerspieël die wysheid van die stelsel van dinge.—Romeine 12:9; Jakobus 3:15-18.
Die musikante is bedrewe en het selfs klassieke opleiding gehad. Maar ’n musikant se vaardigheid is nie ter sake wanneer die inhoud van die musiek teen Bybelbeginsels opgeweeg word nie, is dit? Koning Salomo was op talle gebiede bedrewe, wat musiek ingesluit het. Maar die Bybel sê toe hy afvallig geword het van ware aanbidding “was die HERE toornig op Salomo, omdat sy hart afgewyk het van die HERE”. Nimrod was eweneens ’n bedrewe bouer en jagter, maar hy en sy vriende het nie God se goedkeuring weggedra nie. Waarom nie? Omdat Nimrod ‘’n geweldige jagter was wat hom teen Jehovah verset het’.—1 Konings 11:9; Genesis 10:8, 9, NW.
’n Paar van die groep se liedjies is onskadelik, onder andere ’n paar sagte ballades. Die gevaar wat hieraan verbonde is, is dat ’n onskadelike deuntjie daartoe kan lei dat ’n mens ’n hele plaat of kasset koop en daarna luister, waarvan die meeste liedjies ongetwyfeld onheilsaam kan wees. Net soos ’n glas water nie ’n hoop modder kan wegspoel nie, verander ’n onskadelike liedjie hier en daar nie die algehele aard van ’n verderflike plaat of groep nie.
Die sterre aanbid nie werklik vir Satan en lei nie regtig ’n onsedelike lewe nie. Hulle maak maar net so op die verhoog. Feit is dat die musiek wat hulle gebruik om hulle gehore mee te vermaak ’n hele paar, indien nie ’n klomp, slegte dinge bevat. Kolossense 3:8 vermaan Christene om nie deur sulke dinge soos woede en vuil taal vermaak te word nie, maar ‘dit alles af te lê’. Paulus het vir die Efesiërs gesê om ‘nie gemeenskap met die kinders van die ongehoorsaamheid in die onvrugbare werke van die duisternis te hou nie, maar hulle liewer te bestraf’. Is ’n persoon wat deur die werke van die duisternis vermaak word enigsins in ’n posisie om diegene tereg te wys wat dit beoefen?—Efesiërs 5:6, 11.
Ek luister nie na die lirieke nie. Ek hoor net die wysie. Maar die lirieke kan in die onderbewussyn bly en later probleme skep. Hoewel ons dink dat ons verstand van inligting vergeet het, is dit dalk glad nie die geval nie. Hoe gevaarlik is dit dan tog om onsself gewillig aan boodskappe bloot te stel wat lynreg in stryd is met die raad in Filippense 4:8, dat ons dinge moet bedink wat rein, lieflik en loflik is.
Onthou ook, wie ook al “’n vriend van die wêreld wil wees, word ’n vyand van God”. Dit is so omdat die mensdom wat van God vervreemd is, asook die gees van die wêreld, die produk van Jehovah se vernaamste Teenstander, Satan die Duiwel, is. Dink nou net daaraan. Sal ’n man daarvan hou as sy vrou ’n foto van ’n vorige kêrel in die vertoonkas sit, selfs al sê sy dat sy geen spesiale gevoel vir hom het nie, maar dat die foto bloot vir versiering is? Nee, hy sal dit nie in die huis of in haar gedagtes wil hê nie. En wat as ons musiek wat Jehovah se Teenstander vir sý doel gebruik in ons huis en hart inneem? Maak dit werklik vir Jehovah ’n verskil as ons sê: “Ek is net geïnteresseerd in die wysie; ek luister nie na die lirieke nie”?—Jakobus 4:4; 1 Korinthiërs 10:21, 22.
Tree beslis op
As jy jou aan musiek blootgestel het wat verkeerde dinge beklemtoon, kan jy jou afvra wat die werklike rede is waarom jy dit gedoen het. Jy stem moontlik nie met die slegte idees saam nie, maar dalk vind jy die musiek self só aanloklik—die maatslag so verslawend, so aangrypend—dat jy dit eenvoudig onweerstaanbaar vind en dit nie wil opgee nie.
Maar dit is nie altyd maklik om die regte ding te doen nie. Ons word veral op die proef gestel wanneer God se standaarde vir ons toon dat ons iets moet opgee waaraan ons emosioneel verknog is. Sal ons onsself probeer regverdig deur te sê dat ons geval uitsonderlik is en aanhou om ‘op twee gedagtes te hink’, of sal ons beslis optree teen dit wat Jehovah haat?—1 Konings 18:21.
Ongeag die persoonlike opoffering wat dit verg, ons sal die gelukkigste wees as ons die keuse maak wat Jehovah behaag. Dit beteken dat ons nie moet aanraak wat onrein is nie. Jehovah belowe dat hy ons dan sal aanneem. Ja, hy sal ons onder sy begunstigde volk tel.—2 Korinthiërs 6:17.
Jehovah dra ons beste belange op die hart. Hy het sy verordeninge daargestel om die gehalte van ons lewe te verbeter. Gee gehoor aan sy opregte pleidooi in Jesaja 48:17, 18. “Ek is [Jehovah] jou God, wat jou leer wat heilsaam is, wat jou lei op die weg wat jy moet gaan. Ag, as jy maar na my gebooie geluister het, dan sou jou vrede gewees het soos ’n rivier en jou geregtigheid soos die golwe van die see.”
[Venster/Prent op bladsy 10]
Ouers se verantwoordelikheid
As jy ’n ouer is, het jy die skriftuurlike verantwoordelikheid om jou kinders te leer om tussen goeie en slegte musiek te onderskei. Dit beteken dat jy jouself op die hoogte moet stel van die musiek waarna hulle luister. Dit beteken dat jy streng moet wees met betrekking tot die musiek wat jy in die huis sal toelaat en watter jy nie sal toelaat nie.
Redeneer met jou kinders. Vermy argumente wat onoortuigend klink. Uitlatings soos: “Ek kan nie verstaan waarom jy na daardie gemors luister nie”, sal jongmense waarskynlik net nog meer aan hulle persoonlike keuse laat vashou. Om op die verdorwe persoonlike lewenstyl van ’n musikant te wys, kan ook onoortuigend wees, veral as dit nie in die musiek weerspieël word nie. Een jong man het uitgeroep: “Ek dink regtig dat iemand wat sê dat alle rap-musiek sleg is net oningelig is!”
Wees dus ingelig. Vind uit wat God se siening van die saak is. Jehovah se Getuies sal jou graag wil help deur vir jou Bybelgebaseerde publikasies te gee wat dit breedvoeriger bespreek. Raak bekend met die feite. Toon duidelik dat dit oor Bybelstandaarde gaan en dat dit nie is omdat jy jou persoonlike smaak aan jou kinders wil opdring nie.—Efesiërs 6:4.
[Prent op bladsy 9]
Kan ’n Christen ander met ’n goeie gewete afraai om na verderflike musiek te luister as hy self daarna luister?
[Prent op bladsy 11]
Jy sal gelukkiger wees as jy ontslae raak van dinge wat Jehovah verafsku