Jongmense vra . . .
Hoe kan ek my liggaamsgebrek die hoof bied?
“SY KAN nog loop”, sê die ma van ’n meisie wat ons Maggie sal noem. “Maar sy het nie goeie koördinasie nie en sy praat onduidelik.” Maggie het verspreide sklerose en is een van die miljoene jongmense oor die wêreld wat ’n liggaamsgebrek het.
Miskien is jy een van hulle. En hetsy jy met ’n liggaamsgebrek gebore is of dit weens siekte of ’n ongeluk opgedoen het,a moet jy nie die gevolgtrekking maak dat jou lewe verby is nie. As jy jou geduldig inspan, kan jy positiewe stappe doen om jou situasie doeltreffend die hoof te bied.
Die strik van wensdenkery
Dit is natuurlik menslik om ’n onaangename werklikheid nie te wil aanvaar nie, maar te wens dat die gebrek eenvoudig sal verdwyn. Die apostel Paulus het klaarblyklik aan die een of ander siekte gely wat sy oë aangetas het. (Vergelyk Galasiërs 6:11.) Paulus het van sy eerste besoek aan Christene in Galasië gesê: “Julle weet dat ek ten gevolge van krankheid van die vlees die eerste keer die evangelie aan julle verkondig het; en julle het my beproewing in my vlees nie verag of verfoei nie” (Galasiërs 4:13, 14). Party geleerdes dink dat Paulus se beproewing sy oë laat etter het of sy voorkoms op die een of ander manier aanstootlik gemaak het. Dit verbaas ons dus nie dat Paulus “die Here drie maal gebid” het dat die siekte moet wyk nie. Maar dit het nie (2 Korinthiërs 12:8, 9). Tog het hy ondanks sy gebrek ’n uitsonderlike loopbaan as ’n sendeling, geleerde en skrywer geniet.
Jy sal moontlik ook moet aanvaar dat jou gebrek permanent is. In haar boek Living With the Disabled sê die skryfster Jan Coombs: “Voordat die pasiënt hom by sy gebrek kan aanpas, moet hy eers erken dat hy ’n gebrek het. Hy moet leer dat sy gebrek hom kan inperk en ongerief kan veroorsaak, maar nie sy waarde as mens verminder nie.” As jy die werklikheid van jou toestand ontken wanneer daar nie gegronde hoop op genesing is nie, sal dit jou net in ’n poel van selfverwyt, verdriet en teleurstelling laat wegsink. Daarenteen sê die Bybel in Spreuke 11:2: “By die beskeidenes is wysheid”, en ’n beskeie mens ken en aanvaar sy beperkinge. Dit beteken nie dat ’n mens ’n kluisenaar word of met ’n saai, vreugdelose bestaan verlief neem nie. Beskeidenheid behels eerder dat ’n mens jou situasie eerlik beoordeel en realistiese doelwitte stel.
Handel met kennis
Jy het ook juiste kennis van jou soort gebrek nodig. “Elke skrandere handel met kennis”, sê Spreuke 13:16. (Vergelyk Spreuke 10:14.) Dit kan beteken dat jy sekere mediese lektuur moet lees of spesifieke vrae moet stel aan jou dokter en ander gesondheidsdeskundiges wat jou behandel. As jy só meer omtrent jou gebrek leer, kan dit jou bevry van enige wanbegrippe wat kan verhinder dat jy jou potensiaal bereik.
Dit kan ook help as jy op die hoogte bly van mediese vooruitgang en behandelings wat jou situasie kan verbeter. Daar is byvoorbeeld kunsledemate (proteses) wat van nuwe, liggewigmateriale gemaak word en meer gemak en beweegbaarheid moontlik maak. Trouens, die tydskrif Time praat van ’n “skielike toename in die aantal” nuttige toestelle vir mense met gebreke. Miskien is sulke produkte plaaslik beskikbaar en kan jou gesin hulle bekostig.
Konvensioneler toestelle, soos gehoortoestelle, kieries, krukke en stutte kan ook baie nuttig wees. Party jongmense voel miskien te selfbewus en ongemaklik om sulke hulpmiddele te gebruik. Maar koning Salomo het wyslik gesê: “As die byl stomp word en nie geslyp word nie, moet jy meer krag gebruik” (Prediker 10:10, NAV). Jy kan jou eweneens uitput—of veroorsaak dat jy nie aangename bedrywighede geniet nie—as jy nie goeie gebruik maak van nuttige hulpmiddele nie. Waarom sal jy weens trots jou lewe moeiliker maak as wat dit is? Salomo het verder gesê: “Dit betaal om jou verstand te gebruik.”
Ja, dit is tot jou voordeel om iets te gebruik wat jou sal help om beter te loop, sien of hoor. Dit kan weliswaar baie oefening en geduld kos om te leer hoe om ’n kruk, protese of gehoortoestel te gebruik. En hierdie toestelle verbeter nie noodwendig jou voorkoms nie. Maar dink aan die vryheid wat dit jou kan gee en die geleenthede wat dit kan skep! Jay, ’n gestremde meisie van Afrika, het soos ’n kluisenaar gelewe en het dit net een keer in haar 18 jaar buite die klein kampong gewaag waar sy gewoon het. Nadat sy die Bybel saam met Jehovah se Getuies bestudeer het, het sy Christelike vergaderinge begin bywoon. Dit het vereis dat sy etlike blokke ver moes “stap” deur haar met haar hande vorentoe te trek terwyl haar lyf agter haar sleep. Toe ’n Getuie in Europa van Jay se situasie gehoor het, het sy vir haar ’n rystoel met drie wiele gestuur. Dit is met ’n ketting aangedryf wat Jay met haar hande kon laat werk. Was dit ’n mooi gesig? Glad nie. Maar hierdie skynbaar vreemde vervoermetode het haar gehelp om vergaderinge by te woon en ’n aandeel in die predikingswerk van huis tot huis te hê.
Maak dit vir jou ’n uitdaging!
Maar pas op dat jy nie ’n negatiewe denkwyse ontwikkel nie. Wyse koning Salomo het gesê: “Wie op die wind ag gee, sal nie saai nie; en wie na die wolke kyk, sal nie oes nie” (Prediker 11:4). Laat jy toe dat vrees of onsekerheid jou daarvan weerhou om die dinge te doen wat jy wil en moet doen? Dink aan Moses. Toe God hom gekies het om die Israeliete van slawerny in Egipte te bevry, het Moses gevra om op grond van sy spraakgebrek verskoon te word. “Ek [is] onbesnede van lippe”, het Moses gesê, wat waarskynlik aangedui het dat sy spraak deur die een of ander misvormdheid belemmer is (Exodus 6:11). Maar Moses het homself onderskat. Mettertyd het hy getoon dat hy vlot kon praat—toe hy die hele nasie Israel toegespreek het.—Deuteronomium 1:1.
Moenie dieselfde fout maak deur jou te onderskat nie. Dwing jouself en stel uitdagings aan jouself! Jong Becky praat byvoorbeeld moeilik weens beserings wat sy op vyfjarige ouderdom in ’n ongeluk opgedoen het. Maar haar ouers het nie toegelaat dat sy moed opgee nie. Inteendeel, hulle het haar vir die Teokratiese Bedieningskool by die Koninkryksaal van Jehovah se Getuies ingeskryf. Toe sy sewe was, het Becky al kort toesprake voor ’n gehoor gehou. Becky vertel: “Dit het gehelp om toesprake te hou. Dit het my aangespoor om my meer op my spraak toe te lê.” Becky is ook aangemoedig om ’n volle aandeel in die predikingswerk van huis tot huis te hê. “Partykeer dink ek mense haat dit seker om my te hoor praat; ek bekommer my oor wat hulle dink. Maar dan sê ek vir myself: ‘Ek doen dit vir Jehovah’, en ek vra hom om my te help om daarmee te volhard.” Vandag dien Becky as ’n voltydse evangeliedienaar.
Craig, wat nou volwasse is, is serebraal verlam. Hy het ook nie toegelaat dat sy gebrek verhinder dat hy ’n gewaardeerde lid van die Christengemeente is nie. Hy sê: “Ek vertrou op Jehovah, en hy het my talle seëninge laat geniet. Ek kon al vyf keer as ’n hulppionier [evangeliedienaar] dien. Ek hou Bybeltoesprake op die Teokratiese Bedieningskool en ek kan die gemeente se rekeninge behartig.”
Daar is ook “’n tyd om te lag”, en met ’n bietjie oefening kan jy moontlik selfs van die pret geniet wat ander jongmense geniet (Prediker 3:4). Becky erken: “Ek kan nie aan sportsoorte soos vlugbal deelneem nie, want my reflekse is te stadig. Maar ek kan hardloop. En kort na die ongeluk het my ma my aangemoedig om te leer fietsry. Sy het my altyd aangemoedig om nuwe dinge te probeer.”
Moenie die mas alleen probeer opkom nie
Dit is nie maklik om ’n liggaamsgebrek die hoof te bied nie. Die apostel Paulus het sy gebrek “’n doring in die vlees” genoem (2 Korinthiërs 12:7). Gelukkig hoef jy jou probleme nie alleen die hoof te bied nie. Sarne, ’n jong vrou met ’n gebreklike heup, sê: “Ek vind dat goeie Christelike omgang en liefdevolle hulp van gesinslede en vriende in die gemeente vir my van onskatbare waarde is.” Ja, moenie jou afskei nie (Spreuke 18:1). Wees, in watter mate jy ook al kan, “oorvloedig in die werk van die Here” (1 Korinthiërs 15:58). Sarne beskryf die nut daarvan: “As ek Koninkryksbelange nastreef, help dit my om die regte beskouing van my probleme te hê.” Becky sê: “Jy gesels met mense wat hulle eintlik in ’n slegter situasie as jy bevind omdat hulle nie ’n toekomshoop het nie. Dit help my om van my eie probleme te vergeet.”
Jy moet bowenal op Jehovah God staatmaak vir hulp. Hy verstaan jou behoeftes en jou gevoelens en kan jou selfs voorsien van “die krag wat alles oortref” sodat jy jou situasie die hoof kan bied (2 Korinthiërs 4:7, NAV). Miskien sal jy mettertyd die optimistiese beskouing van ’n gestremde jong Christen, Terrence, hê. Terrence het blind geword toe hy nege was, maar het nie toegelaat dat dit hom onderkry nie en sê: “My blindheid is nie ’n struikelblok nie; dit is net ongerieflik.”
[Voetnoot]
a As jy maar onlangs die gebrek opgedoen het, is dit te verstane dat jy moontlik met gevoelens van bitterheid, woede en hartseer te kampe het. Trouens, dit is heeltemal normaal—en heilsaam—om ’n tydperk van droefheid deur te maak wanneer jy ’n ernstige verlies gely het. (Vergelyk Rigters 11:37; Prediker 7:1-3.) Jy kan seker wees dat hierdie kwaai emosionele pyn met die verloop van tyd en met die liefdevolle steun van jou gesin en vriende sal afneem.
[Prent op bladsy 15]
Vind soveel moontlik uit oor jou gebrek