Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 12/22 bl. 20-22
  • Gaan ek eendag soos my broer wees?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Gaan ek eendag soos my broer wees?
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Gaan jy hulle voetspore volg?
  • Kies ’n ander pad
  • ‘Hulle vermy my’
  • Praat daaroor
  • Jy kan anders wees
  • Wat kan ek doen om nie meer in my broer of suster se skaduwee te lewe nie?
    Ontwaak!—2003
  • Sê nou my broer of suster het selfmoord gepleeg?
    Ontwaak!—2008
  • Hoe kan ek met my broers en susters oor die weg kom?
    Ontwaak!—2010
  • Hoe kan ek met my broers en susters oor die weg kom?
    Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 1
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 12/22 bl. 20-22

Jongmense vra . . .

Gaan ek eendag soos my broer wees?

“JY GAAN eendag nes jou broer wees! Pasop, anders loop jy dieselfde paadjie as hy!”

As jy ’n broer of ’n suster het wat van die regte pad afgedwaal het—wat moontlik deur jou ouers die huis belet is, in die tronk gegooi is of uit die Christengemeente gesit is—is dit dalk nie die eerste keer dat jy hierdie krenkende woorde hoor nie. Ouers, onderwysers, welmenende familielede en selfs party van jou portuurs sê dit miskien oor en oor. Dalk kry jy soms die gevoel dat party vriende jou vermy.

Wanneer ’n broer of ’n suster ’n verkeerde weg inslaan, is dit natuurlik op sigself ’n pynlike ondervinding. ’n Meisie genaamd Carol, wie se broer uit die Christengemeente gesit is, sê: “Ek was nader aan my broer as aan enigiemand anders. Toe hy ophou om ’n Christen te wees, het dit my baie diep geraak.”a Becky, wat 15 jaar oud was toe haar suster uitgesit is, het eweneens gesê: “Ek kan steeds die dag onthou toe sy my vertel het dat sy uitgesit is. Dit was baie pynlik en het my diep seergemaak. Dit het gevoel asof sy my in die steek laat. Hoe kon sy dit aan ons doen?”

Dit is ook pynlik om die vrye kommunikasie wat jy met ’n ouer broer of suster geniet het, te verloor. Becky sê: “Ons was sulke goeie vriende. Ek kon nie meer met haar praat of dinge saam met haar doen nie en ek het dit gemis.” Benewens daardie verlies is daar die teleurstelling wanneer jy iemand wat jy as ’n voorbeeld beskou het, sien faal. ’n Jong man, Marvin, sê van sy ouer broer: “Ons het na hom opgesien. Maar nou het ons hom nie meer gehad nie.”

Maar die allerpynlikste is moontlik die voortdurende vrees dat jy dieselfde pad sal volg.

Gaan jy hulle voetspore volg?

In een opname het 64,9 persent van die jongmense erken dat hulle grootliks deur ’n ouer broer of suster beïnvloed is. Een meisie het gesê: “My ouer broer . . . het ’n groot invloed op my lewe gehad. Hy het altyd besondere belangstelling in my getoon. Hy het my saam met sy vriende rondgeneem, my geleer om te skryf en om my skoene vas te maak, en hy was altyd daar om my met die geringste probleem te help.”—Adolescents and Youth deur Dorothy Rogers.

Wanneer ’n broer of ’n suster na wie opgesien word dan skielik in opstand kom, “sal tieners waarskynlik hulle ewewig verloor”, sê skrywer Joy P. Gage. Sy vertel die verhaal van ’n meisie genaamd Linda, wat opgesien het na haar ouer broer. Toe hy skielik sy vrou verlaat, het Linda se kosbare model “verdwyn”. Joy Gage sê: “Dié broer wat sy so genoodsaak gevoel het om na te volg, was nie meer navolgenswaardig nie.” Gevolglik “was Linda kwaad. Sy was selfs paniekbevange.” Linda het met alkohol begin eksperimenteer.—When Parents Cry.

So ’n oorreaksie is nie buitengewoon nie. Trouens, die boek How to Survive Your Child’s Rebellious Teens deur Myron Brenton sê dat “die ander kinders in die gesin altyd in meerdere of mindere mate deur ’n broer of ’n suster se rebelse gedrag geraak word”. Myron Brenton verduidelik dat die ander kinders in die gesin soms “bedreig voel. Bevrees wonder hulle: ‘Kan dit met my gebeur? Sal ek ooit so dwaas optree? Het ek daardie soort dwaasheid in my?’”

Kies ’n ander pad

Beteken enige van hierdie dinge egter dat jy jou broer of suster se slegte voorbeeld gaan volg? Glad nie. Jy het die mag om self te besluit watter weg jy gaan inslaan. (Vergelyk Josua 24:15.) Talle godvresende jongmense in Bybeltye het juis dit gedoen.

Beskou as voorbeeld jong Jakob. Sy tweelingbroer, Esau, was iemand wat ‘heilige dinge nie waardeer het nie’ (Hebreërs 12:16, NW). Maar Jakob het ’n onberispelike geloofsman geword (Genesis 25:27; Hebreërs 11:21). Eleasar en Itamar, Aäron se twee jongste seuns, het getrou gebly in Jehovah se diens toe hulle ouer broers, Nadab en Abihu, deur Jehovah tereggestel is. Hierdie ouer broers is blykbaar om die lewe gebring omdat hulle hulle priesterlike pligte oorskry het terwyl hulle onder die invloed van alkohol was. Maar nie Eleasar of Itamar het hulle broers nagevolg nie, en al twee het voorregte as priesters van Jehovah God geniet.—Levitikus 10:1-11.

Jy kan ook ’n godvrugtige lewenswyse kies en jou en jou ouers baie hartseer spaar.

‘Hulle vermy my’

Carol kla nogtans: “Almal wag net dat ek ’n fout maak. Party ouers dink selfs dat ek ’n slegte invloed op hulle kinders sal hê.” Moontlik voel jy self soms so. Dit lyk miskien vir jou asof hulle jou meedoënloos dophou, maar dikwels is dit net goed bedoelde besorgdheid. As hulle egter sien dat jy goeie gedrag bly handhaaf, sal hulle kommer gewoonlik afneem.—Vergelyk 1 Petrus 2:12.

Maar waarom het party vriende skielik afsydig geword? Dit is waarskynlik nie soseer omdat hulle jou nie vertrou nie, maar omdat hulle eenvoudig nie weet wat om te sê nie. Hulle voel dalk ongemaklik om jou te nader, omdat hulle besef dat dit vir jou en jou gesin ’n baie pynlike ondervinding was; miskien is hulle bang dat hulle die verkeerde ding sal sê. Waarom breek jy nie die ys deur gesprekke aan te knoop nie? Probeer om kalm en vriendelik te bly as ander moeilike vrae vra, soos: “Wat het met jou broer gebeur?”

Party sal jou weliswaar probeer ontwyk. En wanneer mense jou soos ’n slegte mens behandel, kan ’n mens geneig wees om te voel dat jy dan maar net so wel slegte dinge kan doen. Maar dink altyd aan die woorde in Galasiërs 6:9: “Laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie.”

Die ongemaklikheid wat daar aanvanklik is, gaan gewoonlik gou verby. Jong Becky sê: “Mettertyd het die mense my weer soos in die verlede begin behandel.” Sy voeg by: “Die feit dat nie al my vriende my probeer ontwyk het nie, was ’n groot hulp. Hulle was bereid om my te help.” Die meeste van jou mede-Christene sal ook bereid wees om jou te help. Hulle kan baie doen om jou te help om ‘reguit paaie vir jou voete te maak’.—Hebreërs 12:13.

Praat daaroor

Jy sal wel soms soos ’n jong man genaamd Fred voel wie se broer uitgesit is. “Ek het my een kant gehou”, het hy erken. “Maar ek het besef dat dit nie vir my of my ouers help om ons gevoelens op te krop nie.” Ja, moenie jou afsonder nie, veral nie van jou ouers nie (Spreuke 18:1). Marvin gee goeie raad: “Praat met iemand daaroor. Jy moet!”

Lyk dit byvoorbeeld of party in die gemeente jou stug behandel? As jy jou ouers op die probleem wys, kan hulle dalk help. Of miskien is jy gefrustreerd omdat jou ouers al hulle aandag aan jou weerspannige broer of suster skenk en jou behoeftes ignoreer. Moenie jou sleg gedra om hulle aandag te trek nie. Praat eerder openhartig met hulle en vertel vir hulle hoe jy voel.

Fred het dít gewoonlik tydens sy gesinsbybelstudie gedoen. “As ek ’n probleem gehad het, het ek daardie geleentheid gebruik om die saak met Pa en Ma te bespreek.” Sulke gesprekke kan jou help besef hoe verpletterend die situasie ook vir jou ouers is. Terselfdertyd sal hulle jou gevoelens beter verstaan en reël om meer aandag aan jou te skenk.

Nie alle jongmense het natuurlik godvresende ouers nie. As dit die geval is, kan jy dinge met ’n ryp Christen probeer bespreek (Spreuke 17:17). Dit help ook as ’n mens besig bly met geestelike bedrywighede. “Jy moet wys dat jy regtig nie ’n verkeerde weg wil inslaan nie”, sê Marvin. “En as jy bedrywig bly en wys dat jy regtig die waarheid wil hê, sal jou Christenbroers meer geneig wees om jou te ondersteun.”

Jy het in elk geval altyd jou hemelse Vader se ondersteuning (Psalm 27:10). “Stort julle hart uit voor sy aangesig”, sê Psalm 62:9. Hy kan ’n ware toevlug vir jou wees. Hy verstaan waarlik wat jy innerlik is, selfs wanneer ander jou misverstaan of verkeerd oordeel.—1 Samuel 16:7.

Jy kan anders wees

’n Bybelspreuk sê: “’n Skrander mens sien die onheil en verberg hom” (Spreuke 22:3). Ja, as jy ooit in die versoeking kom om jou broer of suster na te volg, moet jy nadink oor die vrugte van sy of haar slegte weg. Becky sê: “Omdat ek die gevolge van my suster se gedrag gesien het, het dit my gehelp om nie self in die moeilikheid te beland nie.”

Fred, Marvin en Becky—wat in hierdie artikel aangehaal is—het nie soos hulle weerspannige broer of suster geword nie; elkeen het ’n loopbaan in die Christelike bediening gevolg. Wat van jou? Jy sal jou broer of suster moontlik altyd liefhê. Maar jy hoef nie soos hy of sy te lewe nie. Jy kan jou eie keuses maak. Jy kan anders wees.

[Voetnoot]

a Die name is verander.

[Prent op bladsy 21]

Jy hoef nie dieselfde opstandige weg as jou broer te volg nie

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel