Waar koeie vlieg
DIE sterk winde van die Shetland-eilande het op 5 Januarie 1993 onder die wêreld se aandag gekom. Die winde het die Braer, ’n 243 meter lange olietenkskip van 45-000 ton, beetgepak en dit teen hierdie rotsagtige buitepos van Noord-Skotland op die rotse laat loop. Binne ’n week het die wind en die golwe die yslike skip in vier stukke laat breek.
Loeiende windstorms is vir Shetlanders niks nuuts nie. Die afgeleë groep van ongeveer 100 eilande, waarvan minder as 20 bewoon word, moet eerste die ysige stormwinde trotseer wat ongehinderd van die anderkant van die see naby Ysland aangewaai kom.
Dit is dus nie verbasend dat die bewoners al daaraan gewoond geraak het om vreemde dinge te sien nie. Een man is in The Wall Street Journal aangehaal: “Miskien moet daar waarskuwingstekens in Shetland wees: Pas op vir vlieënde koeie.” Een van sy kennisse se een koei is ’n paar jaar gelede heeltemal van ’n weiveld af gewaai. Nog ’n bewoner, ’n wetenskaplike, het glo gesien hoe sy huiskat nie minder nie as vyf meter ver in die wind “vlieg”—en hy land natuurlik altyd op sy voete. Voertuigbestuurders laai gewoonlik iets swaars, soos steenkool, op hulle voertuie om te voorkom dat hulle van die pad af gewaai word. Mense is ook al van die grond af gewaai en party het selfs gesterf. Een rukwind waarin ’n vrou omgekom het, het nie-amptelik ’n snelheid van 323 kilometer per uur bereik—nie-amptelik omdat die amptelike windmeter tydens dieselfde storm weggewaai het!