Gesonde pret op twee wiele
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRITTANJE
WATTER voertuig is goedkoper as die meeste ander, vinniger as ’n motor in baie stadsgebiede, beter vir jou gesondheid en groot pret? ’n Fiets. Fietsry is goeie oefening wat praktiese nut met plesier kombineer. In ’n tyd wanneer baie mense oor hulle gesondheid besorg is, is dit beslis vir jou die moeite werd om vervoer op twee wiele te oorweeg.
Baron Karl von Drais, ’n Duitse uitvinder, kry die eer daarvoor dat hy die fiets uitgevind het. Sy skopfietsagtige toestel, wat omstreeks 1817 op die toneel verskyn het, het ’n eenvoudige ontwerp gehad. Die draisine, soos dit genoem is, het bestaan uit twee wiele, ’n sitplek en handvatsels om dit mee te stuur—maar geen pedale nie. In 1839 het selfaandrywing te voorskyn gekom toe ’n Skotse ystersmid, Kirkpatrick Macmillan, trappe aangebring het wat deur middel van hefbome met krukke aan die agterwiel verbind was. Toe het die gewildheid van tweewielvervoer ’n keerpunt bereik. ’n Franse vader en seun, Pierre en Ernest Michaux, het pedale met krukke aan die voorwiel aangebring en die vélocipède (uit die Latynse velox, “vinnig”, en pedis, “voet”) gemaak, ’n vinniger fiets wat makliker beheer kon word.
Die snelheid het toegeneem namate die voorwiel groter geword het. Die ordinary, wat ook as ’n penny farthing bekend gestaan het, is in Engeland ontwikkel en het ’n yslike voorwiel met ’n deursnee van 1,5 meter gehad, wat ’n skerp teenstelling met ’n klein agterwiel gevorm het. Dit is ’n penny farthing genoem op grond van die teenstelling tussen ’n groot penniemuntstuk en die veel kleiner farthing.
Daarna het die veiligheidsfiets sy verskyning gemaak, ’n fiets wat ryers die veelsydigheid van die ordinary gebied het, maar met ’n laer swaartepunt en ewe groot of bykans ewe groot wiele. In 1879 het die Engelsman Henry Lawson ’n fiets waarvan die agterwiel deur ’n ketting aangedryf is, in Parys ten toon gestel. Hierdie fiets het later as die bicyclette bekend gestaan.
Die meeste hedendaagse fietse se voorwiel is net so groot soos die agterwiel. Die basiese ontwerp het dus min verander. Vandag se groep gebruiks-, toer-, resies- en bergfietse bied ryers gerieflike beweeglikheid op twee ligte wiele met rubberbande.
Gesonde pret
Aangesien fietse stil, besoedelingvry en dikwels oor kort afstande vinniger as gemotoriseerde voertuie is, is hulle in talle lande baie nuttige vervoermiddels. In Afrika, Asië en elders het fietse vervoermiddels geword wat enigiets vervoer, aangesien hulle ryers—of stoters—hulle ware daarmee mark toe neem. Dikwels ry daar meer as een mens op die fiets, aangesien familielede en vriende oor die dwarspyp of op ’n ongemaklike bagasiemandjie sit.
In Westerse lande, waar die motor vir persoonlike vervoer verkies word, het toenemende besorgdheid oor gesondheid, asook ’n begeerte om die stedelike sleurgang te ontvlug, fietsry opnuut gewild gemaak. Spesiale fietsbane of -paadjies het langs baie verkeersweë hulle verskyning gemaak. In Brittanje is baie plaaslike regeringsowerhede byvoorbeeld trots op die kilometers en kilometers paadjies wat hulle vir fietsryers afgebaken het.
As moontlike besoedeling weens uitlaatgasse buite rekening gelaat word, kan fietsry gesond wees. Dit “bied beskerming teen hartvatsiektes, wat die grootste oorsaak van dood en vroeë dood in die VK is”, sê vervoerraadgewer Adrian Davis. Fietsry verg meer inspanning, sowat 60 tot 85 persent van ’n mens se maksimum vermoë, in vergelyking met die 45 tot 50 persent wat vir stap gebruik word. Met min gewig op ’n fietsryer se ledemate is die gevaar van skade aan die gebeente ook minder as wanneer ’n mens draf of stap.
Nog ’n gesondheidsvoordeel van fietsry is dat dit die ryer goed laat voel. Navorsing toon dat die oefening wat ’n mens daaruit kry, veroorsaak dat chemikalieë wat endorfiene genoem word, in die brein vrygestel word, en dit kan ’n mens se luim verbeter. Afgesien daarvan dat fietsry ’n mens goed laat voel, kan dit jou beslis ook goed laat lyk. Hoe so? “Teen ’n redelike spoed sal die [fiets]ryer ongeveer sewe kalorieë [30 kilojoules] per minuut verbrand, of 200 kalorieë [800 kilojoules] in ’n halfuur”, berig die koerant The Guardian. Wat is die gevolge? Dalk ’n dunner middellyf en die einde van vet bobene.
Veilige pret
In lande waar motors voorkeur geniet, is daar toenemende kommer oor die veiligheid van fietsryers. Moet ’n mens byvoorbeeld ’n valhelm dra? Dit is beslis verstandig om voorsorgmaatreëls te tref. Aan die ander kant sal ’n fietsryer nie noodwendig teen beserings beskerm word net omdat hy ’n valhelm dra nie. Die rubriekskrywer Celia Hall het die aandag gevestig op ’n studie onder 1 700 fietsryers van verskillende ouderdomme wat almal valhelms gedra het. Een van die verrassende bevindings van die studie was dat die dra van ’n valhelm die ryers ’n valse gevoel van veiligheid gegee het. Nog erger, 6 persent van hulle het valhelms gedra wat nie behoorlik pas nie. In ’n ongeluk laat ’n valhelm wat nie goed pas nie, die gevaar van beserings met 50 persent toeneem. As jy ’n valhelm dra, moet jy seker maak dat dit pas. Gaan gereeld jou kind se valhelm na. ’n Valhelm wat te groot is, kan noodlottig wees.
Motorbestuurders beskou fietsryers dikwels as ’n ergernis en ignoreer baie keer die feit dat hulle daar is. Sorg dus dat jy gesien kan word. Dra veiligheidsklere—helder bedags, weerkaatsend snags. Jou fiets moet ook sigbaar wees, selfs in die donker. Weerkaatsers aan die pedale asook skoon voor- en agterligte is dikwels wetlike vereistes en is beslis verstandige voorsorgmaatreëls. Sorg dat jou keuse van veiligheidstoerusting aan die wetlike standaarde in jou land voldoen.
’n Fiets wat goed onderhou word, is noodsaaklik vir veiligheid. Gaan dit na, maak dit gereeld skoon en hou dit in stand. Nadat jy al hierdie voorsorgmaatreëls getref het, sal jy dalk vind dat dit in jou gebied verstandig is om openbare paaie te vermy wanneer jy fietsry. Maar as jy veilig wil wees wanneer jy dit doen, sal jy die regte soort fiets nodig hê.—Sien die venster “Die regte fiets vir jou”.
Fietsry as ’n sport
Fietsry is vir party ’n sport. Onlangse skandale in verband met die welbekende Tour de France het fietswedrenne met die neem van verbode middels en bedrog verbind. Die tydskrif Time het in ’n artikel met die titel “Mag die beste middel wen!” gesê dat die wedren “’n warboel” was. Te midde van debatte oor die neem van verbode middels en chemikalieë wat ’n mens beter laat presteer, het die sport sy goeie naam verloor.
Verstandige fietsryers dink goed na oor hoeveel tyd en moeite hulle aan hulle sport bestee. Selfs wanneer gesondheidsvoordele fietsry aanloklik maak, besef gebalanseerde mense dat oefening bloot een faktor is wat tot ’n lang en gesonde lewe kan lei. Maar wanneer jy weer op jou fiets klim, moet jy beslis die gesonde pret geniet om op twee wiele te ry!
[Venster/Prente op bladsy 21]
Die regte fiets vir jou
Bergfietse is eintlik veldfietse met ’n klein, sterk raam, reguit stuurstang, hoër pedale as gewone fietse en breë bande wat op ruwe oppervlakke vasbyt. ’n Verskeidenheid ratte maak dit vir die ryer makliker om opdraand te ry.
As jy op harde padoppervlakke sowel as op ongelyke grond ry, het jy iets tussen ’n bergfiets en ’n gewone fiets nodig. Hierdie fiets het smaller bande, en die pedale is effens laer. Op die gewone fietse kan ’n mens meer regop sit wanneer jy ry, en dit het minder ratte.
Watter fiets jy ook al kies, maak seker dat dit die regte grootte vir jou is. Probeer dit eers. Verstel die stuurstang, saal en pedale na jou sin. Met jou bene weerskante van die dwarspyp moet jy jou voete op die grond kan sit. (Sien hierbo.)
Jy sal die veiligste en gemaklikste wees wanneer jy ry as die saal so hoog is dat jy jou been reguit kan maak terwyl jou hak op die pedaal rus waar dit die naaste aan die grond is. (Sien links.) Die stuurstang moet oor die algemeen so hoog soos die saal wees.—Bron: Die tydskrif Which?
[Prent op bladsy 18, 19]
’n “Penny farthing”
[Erkenning]
Polisieblad, 1889
[Prent op bladsy 19]
’n “Vélocipède”
[Erkenning]
Mans: A Pictorial Archive from Nineteenth-Century Sources/ Dover Publications, Inc.
[Prent op bladsy 20]
Fietse is in baie lande nuttige vervoermiddels
[Prente op bladsy 20]
Op sommige plekke word valhelms volgens wet vereis