Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 7/8 bl. 23-25
  • Is dit verkeerd om te dagdroom?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is dit verkeerd om te dagdroom?
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Is dit gevaarlik vir jou geestesgesondheid?
  • Gebruik jou verbeelding produktief
  • Die gevare
  • Hoe kan ek ophou om so baie te dagdroom?
    Ontwaak!—1993
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1994
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1994
  • Hoe kan ek konsentreer?
    Ontwaak!—1998
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 7/8 bl. 23-25

Jongmense vra . . .

Is dit verkeerd om te dagdroom?

Die laaste ding wat jy kan onthou, is jou onderwyser se stem wat voortdreun oor algebraïese vergelykings, maar jy is lankal nie meer in die klaskamer nie; jou gedagtes het na die strand gedwaal waar jy en jou gesin verlede somer vakansie gehou het. Jy kan die warm sand en son voel. Jy kan hoor hoe die branders op die strand breek, hoe kinders baljaar, hoe . . . jou klasmaats giggel? Ja, jou aangename droom het eensklaps tot ’n einde gekom en in die plek daarvan staan ’n ergerlike onderwyser met die hande in die sye en wag vir die antwoord op ’n vraag wat jy nie gehoor het nie.

DAGDROMERY—dit kom so algemeen onder almal, jonk en oud, voor dat een vooraanstaande navorser dit “een van die belangrikste kenmerke van die mens se lewe” genoem het. Party glo dat tot ’n derde van die tyd wat ons wakker is in beslag geneem word deur die een of ander vorm van dagdromery. Wetenskaplikes is nie presies seker hoe en waarom hierdie vlugtige gedagtes gevorm word nie, en hulle stem ook nie almal saam oor wat ’n dagdroom presies is nie. Een woordeboek definieer ’n dagdroom as “’n aangename droombeeld . . . ’n skepping van die verbeelding”. Maar baie navorsers definieer dit oor die algemeen as iets wat feitlik enige soort fantasie of onwillekeurige gedagte insluit wat by ’n mens opkom terwyl jy wakker is—of dit nou aangenaam of onaangenaam is. In hierdie artikel sal ons die uitdrukking in die ruimste sin van die woord gebruik, en nie net onwillekeurige verbeeldingsvlugte bespreek nie, maar ook dié wat meer uit doelbewuste denke voortspruit.

Nie alle dagdrome is dus buitengewone, kleurryke fantasievlugte nie. Baie is bloot aangename gedagtes aan ’n mens se verlede. In ’n artikel in die tydskrif Parents haal dr. James Comer sy eie ondervinding met dagdrome aan—soos wanneer hy huis toe ry ná ’n moeilike dag op kantoor en sy gedagtes dalk dwaal na die keer toe hy as tiener sy wendoel in basketbal gegooi het. “Dit mag onbelangrik wees, maar dit help my steeds om goed te voel”, sê hy. Ander gebruik weer dagdrome om hulle toekoms te help beplan. “Ek het dikwels lugkastele gebou oor hoe ek ’n internasionaal erkende musikus gaan word”, sê ’n man wat inderdaad ’n gewilde jazzmusikus en -komponis geword het.

Dit lyk egter asof die meeste dagdrome oor doodgewone, alledaagse gebeure gaan—die skool, sosiale geleenthede, huiswerk. Soms bou mense dalk doelbewus lugkastele sodat ’n eentonige skoolles of ’n oninteressante huishoudelike takie minder vervelig is. Ander dagdrome kom vanself. ’n Woord, ’n geluid of iets wat hulle sien, laat hulle skielik dink aan die een of ander huidige bekommernis, iets aangenaams in die verlede of iets wat hulle vir die toekoms beplan, en hulle gedagtes begin dwaal. Die Bybel sê: ‘Die droom kom deur baie doenigheid’ (Prediker 5:2, NAV). Ja, iemand wie se gedagtes besig gehou word met persoonlike bekommernisse en ambisies kan as ’t ware oorweldig word deur materialistiese dagdrome.

Hoe aangenaam dagdrome ook al kan wees, hulle kan nietemin ook jou konsentrasie by Christelike vergaderinge, by die skool of by die werk belemmer. Party fantasieë kan selfs onvanpas—of nadelig—wees. Is dagdromery dus ’n gewoonte wat jy moet afleer?

Is dit gevaarlik vir jou geestesgesondheid?

In die verlede het geestesgesondheidswerkers, dokters en opvoedkundiges dagdromery met minagting bejeën. ’n Psigoterapeut het gevolglik vir een jong man gesê: “Ons moet jou help om op te hou dagdroom.” Volgens die navorser dr. Eric Klinger was sulke raad gewoonlik op die teorieë van die sogenoemde vader van psigoanalise, Sigmund Freud, gegrond, wat dagdromery as kinderagtig en neuroties beskou het. Een sielkundehandboek het dus beweer: “Dagdromery is dikwels die gevolg van mislukking of ’n gebrek aan belangstelling in ’n mens se teenswoordige omgewing en is beslis ’n onttrekking aan die werklikheid.” ’n Geslag van opvoedkundiges en geestesgesondheidswerkers is geleer dat alle dagdromery onderdruk moet word. Daar is beweer dat oormatige dagdromery selfs skisofrenie tot gevolg kan hê.

Freudiaanse teorieë moes egter terugstaan vir die feite wat omvattende navorsing opgelewer het. Dr. Eric Klinger sê in sy boek Daydreaming dat navorsers onder andere sê dat:

Dagdromery iets algemeens en normaals is.

Mense wat dikwels dagdroom oor die algemeen geestelik net so goed aangepas is as dié wat nie dagdroom nie.

Dagdromery nie hallusinasie tot gevolg het nie.

Dagdromery nie skisofrenie tot gevolg het nie. Skisofrene nie geneig is om meer te dagdroom as enigiemand anders nie.

Gebruik jou verbeelding produktief

Dit is dus nie verbasend dat die Bybel nêrens die gesonde gebruik van ’n mens se verbeelding veroordeel nie. Trouens, ons verstand se vermoë om denkbeelde te vorm en hom dinge voor te stel, dien as bewys dat ons, volgens die psalmis se woorde, “wonderbaar is” (Psalm 139:14). As hierdie vermoë produktief gebruik word, kan dit baie nuttig wees. Christene word aangemoedig om ‘nie op die sigbare dinge te let nie, maar op die onsigbare’ (2 Korinthiërs 4:18). Dit kan onder andere beteken dat ons ons God se regverdige nuwe wêreld probeer voorstel. Die Bybel se beskrywings van hierdie toekomstige, wêreldwye Paradys prikkel ons verbeelding in hierdie opsig.—Jesaja 35:5-7; 65:21-25; Openbaring 21:3, 4.

Jou verbeelding kan ook nuttig wees as jy ’n moeilike taak het om uit te voer. Jongmense onder Jehovah se Getuies ontvang byvoorbeeld dikwels toewysings om toesprake op die Teokratiese Bedieningskool te hou. Moenie net hardop oefen nie, maar probeer om jou toespraak ook in jou gedagtes te oefen. Stel jou die gehoor se reaksie voor op jou inligting en die manier waarop jy jou toespraak hou. Dit kan jou help om die nodige veranderinge in jou toespraak aan te bring en sal jou meer selfvertroue gee.

Jy kan ook in jou gedagtes oefen hoe jy moeilike situasies sal hanteer. Miskien besef jy dat ’n mede-Christen iets teen jou het, en jy wil sake uitpraat (Mattheüs 5:23, 24). Pleks van die persoon sonder enige voorbereiding te nader, kan jy die situasie in jou gedagtes deurgaan en die probleem op verskillende maniere probeer benader. Dit sal ooreenstem met die Bybelbeginsel: “Die hart van die regverdige dink ná om te antwoord.”—Spreuke 15:28.

Het iemand jou te na gekom of jou kwaad gemaak? Let op die raad wat Psalm 4:5 gee: “As jy ontsteld raak, moenie sondig nie; dink in stilte daaroor na as jy gaan lê, en laat dit daarby” (NAV). Dit beteken nie dat jy onaangename voorvalle aanhoudend in jou gedagtes moet herhaal nie, en dit beteken ook nie dat jy aanhoudend moet dink oor hoe jy iemand met gevatte opmerkings met gelyke munt sal betaal nie. Jesus het per slot van rekening gewaarsku dat “elkeen wat toornig bly op sy broer aan die gereg rekenskap sal moet gee” en so ook “elkeen wat sy broer met ’n onuitspreeklike woord van minagting aanspreek” (Mattheüs 5:22, NW). Maar as jy jou opsies—wat dalk sal insluit dat jy die oortreder eenvoudig moet vergewe—in jou gedagtes oorweeg, sal dit jou help om sake tussen julle op ’n kalm, verstandige manier op te los.

Dagdromery kan ook ’n regmatige rol daarin speel om probleme op te los. Dr. Klinger sê: “Dagdrome is op sigself ’n manier om oorspronklike oplossings vir probleme te vind. Mense wat hulle verbeelding gebruik wanneer hulle dagdroom, kan soms oplossings vind waaraan hulle nie sou dink as hulle met voorbedagte rade aan oplossings probeer dink het nie.”

Daar is selfs bewyse dat dagdromery jou kan help om fisiese take beter uit te voer. Een ski-instrukteur sê byvoorbeeld vir beginners dat hulle ’n denkbeeld moet vorm van ’n naderende skihelling en hulle moet voorstel hoe hulle om elke draai en deur elke laagte van die helling gaan. Navorsers glo dat dié deel van die brein wat beheer oor die spiere uitoefen sodoende geaktiveer en vir aksie gestimuleer word. Niks vervang natuurlik oefening self nie, maar om in jou gedagtes te oefen, kan jou help om ’n musiekinstrument beter te bespeel of om beter te tik. “Kortom”, sê dr. James Comer, “dagdromery is nie ’n verkwisting van tyd nie, maar eerder ’n nodige uitkoms om ons te help om beter te funksioneer.”

Die gevare

Tog ‘het alles sy bepaalde uur’ (Prediker 3:1). Hoewel dagdromery in die haak mag wees wanneer jy in jou kamer ontspan, is daar tye wanneer dit onvanpas of selfs gevaarlik sal wees om dit te doen. Bestuur jy ’n motor? Dan moet jy besonder wakker en waaksaam teen gevaar wees. Sê nou jy lê ’n toets af of luister na ’n Bybeltoespraak? Dan moet jy “helder denkvermoëns” hê.—2 Petrus 3:1, NW.

Die Bybel waarsku ons ook daarteen om onnodig oor negatiewe dinge te tob. Dit is net natuurlik om ’n bietjie angstig voor ’n belangrike toets of ’n onderhoud om ’n betrekking te wees, maar jy bring min tot stand deur angswekkende denkbeelde van mislukking en verwerping te vorm. (Vergelyk Prediker 11:4.) “Bekommernis in die hart van ’n mens druk dit neer”, waarsku Spreuke 12:25. Jesus Christus het vir sy toehoorders gesê: “Kwel julle dus nie oor môre nie, want môre sal hom oor sy eie dinge kwel. Elke dag het genoeg aan sy eie kwaad.”—Mattheüs 6:34.

Dit is interessant dat oormatige of onvanpaste dagdromery ook ander gevare kan inhou. Party jongmense koester byvoorbeeld seksuele fantasieë. Ander vind dat dagdromery hulle konsentrasie belemmer. Ons volgende artikel in hierdie reeks sal ’n paar wenke gee wat jou sal help om sulke probleme die hoof te bied.

[Prente op bladsy 24]

As ’n mens iets in jou gedagtes oefen, kan dit jou help om dit beter uit te voer

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel