Vatikaan II—Seën of vloek?
DIT was 1962 in die Vatikaan. Die pous het voor ’n gefassineerde biskop ’n venster in sy Vatikaanse paleis oopgemaak. Pous Johannes XXIII het sodoende getoon wat hy van die Tweede Vatikaanse Konsilie (1962-65) verwag: om vars lug in die Katolieke Kerk in te blaas, om ’n aggiornamento, ’n hernuwing, te bewerkstellig.
Watter veranderinge het die konsilie in die kerk teweeggebring? Dit is steeds ’n geldige vraag aangesien daar vandag nog allerweë debatte oor Vatikaan II en sy gevolge gevoer word.
‘Waarheid in ander gelowe’
Pous Johannes XXIII wou veranderinge hê—dit het baie duidelik geword. Teoloë wie se modernistiese idees ’n paar jaar tevore veroordeel is, is as deskundiges na die Vatikaanse Konsilie genooi. Ortodokse en Protestantse hoogwaardigheidsbekleërs is ook as waarnemers genooi.
Hierdie nuwe gesindheid het tot ’n ingrypende verandering in sake van godsdiens- en gewetensvryheid gelei. Die kerk het hierdie idees eeue lank sterk veroordeel; pous Gregorius XVI, van die 19de eeu, het dit selfs as “dwaasheid” beskryf. Maar in 1964 het die konsilie, met ’n groot meerderheid, ’n dekreet uitgevaardig waarin die reg van elke man erken is om sy eie godsdiens te kies. Dit het meer as blote vryheid beteken, soos die tydskrif Notre Histoire verduidelik het: “Van daardie oomblik af is daar erken dat daar ’n mate van waarheid in ander godsdienste is.”
Ná Vatikaan II het die kerk steeds sy liberaler beleid teenoor ander godsdienste gevolg. As blyk hiervan het pous Johannes Paulus II besoeke afgelê by koning Hassan II van Marokko, ’n Moslem- geestelike leier. Hy het ook ’n Protestantse kerk en ’n sinagoge in Rome besoek. Baie Katolieke onthou die vergadering in 1986 in Assisi, Italië, waar pous Johannes Paulus II leiers van die wêreld se groot godsdienste genooi het om saam met hom om vrede te bid.
Vatikaan II—’n Vloek?
Vir party was die verfrissende “briesie” waarop pous Johannes XXIII gehoop het eerder soos ’n yskoue windvlaag. Om hulle standpunt te steun, meld hulle ’n beroemde toespraak waarin pous Paulus VI, die opvolger van pous Johannes XXIII, gesê het dat “Satan se rook” die kerk geïnfiltreer het. Die boek La Réception de Vatican II het verduidelik dat pous Paulus VI, deur sy verklaring, “blykbaar die momentum wat deur die konsilie geskep is, verbind het met ’n proses wat teen kerkbelange indruis”.
Baie kerkgangers deel hierdie beskouing. ’n Onlangse opname het getoon dat byna die helfte van die Katolieke in Frankryk meen dat “die kerk te ver gegaan het om hervormings deur te voer”. Vatikaan II se kritici beskuldig die kerk daarvan dat hy nie aan sy tradisie getrou gebly het nie, maar homself met modernisme besmet het. Hulle sê die kerk het veranderinge gesteun wat die Westerse gemeenskap geskud en die krisis in die kerk veroorsaak het.
Vatikaan II—’n Seën?
Wat ander betref, is dit nie die konsilie wat in twyfel getrek moet word nie. Hulle sê dat die eerste tekens van swakheid in die kerk reeds voor Vatikaan II duidelik sigbaar was. Die Franse dagblad La Croix het gesê: “Die gebrek aan priesterlike en nie-priesterlike ampte in Westerse lande moet beskou word in verhouding tot die algemene krisis in die samelewing en die gevolge daarvan op Christengemeenskappe: Te veel Christene het toegelaat dat hulle diep betrokke raak by hedendaagse denkwyses en ideologieë.”
Ander meen weer dat die veranderinge wat deur Vatikaan II voorgestel is noodsaaklik was. ’n Ander joernalis van La Croix het gesê: “’n Mens . . . wonder moontlik wat die kerk sou geword het as hy steeds net op homself ag geslaan het.” En dan is daar verskeie Katolieke kommentators wat verduidelik dat die kerk ’n organisasie is wat uit onvolmaakte mense bestaan, dat dit in die verlede krisisse deurgemaak het en hierdie een ook sal oorleef. Gilles, wat in die vorige artikel aangehaal is, het die volgende opmerking gemaak: “Toe ons die aandag op kerkprobleme gevestig het, is daar vir ons gesê dat die kerk in die middel van ’n tienerkrisis is en dat dit sou oorwaai.”
Of Vatikaan II nou vir positiewe of negatiewe veranderinge verantwoordelik was, dit het ’n ernstige uitwerking op Katolieke gehad, soos ons in die volgende artikel sal sien.
[Prent op bladsy 6]
Die Tweede Vatikaanse Konsilie het veranderinge en verwarring tot gevolg gehad
[Erkenning]
UPI/Bettmann Newsphotos