’n Dilemma vir die Katolieke Kerk
“’N NUWE PINKSTER.” Dit was die hoop wat pous Johannes XXIII uitgespreek het vir die ekumeniese konsilie wat in 1962 begin het en as Vatikaan II bekend geword het. Hy het gehoop dat dit ’n middel tot geestelike vernuwing onder Katolieke sou wees en dat dit die veranderinge sou meebring wat die weg sou baan tot die hereniging van die Christendom.
Maar sulke gedagtes van aggiornamento (modernisering) is nie deur alle prelate in die Vatikaan onderskryf nie. The New Encyclopædia Britannica berig: “Die pous se besluit is derhalwe koel ontvang deur sy konserwatiewe Kurie, wat oortuig was dat die kerk onder Pius XII se leierskap gefloreer het en wat geen goeie rede kon sien vir die veranderinge wat Johannes beoog het nie. Trouens, party van die Vatikaan se kardinale het alles in hulle vermoë gedoen om die konsilie uit te stel totdat die ou man van die toneel verdwyn het en die plan stilletjies laat vaar kon word.”
Vatikaan II se Dekreet oor Ekumenisme
Pous Johannes XXIII het lank genoeg gelewe om die Tweede Vatikaanse Konsilie in werking te stel, maar hy het kort daarna in Junie 1963 gesterf, lank voordat die konsilie in Desember 1965 afgesluit het. Die Dekreet oor Ekumenisme is nietemin op 21 November 1964 deur pous Paulus VI uitgevaardig. In die inleiding het dit gesê: “Die herstelling van eenheid onder alle Christene is een van die vernaamste oogmerke van die Tweede Vatikaanse Konsilie.”
Dit is opmerklik dat Jesuïetepriester Walter M. Abbott in The Documents of Vatican II geskryf het: “Die Dekreet oor Ekumenisme kenmerk die volle toetrede van die Rooms-Katolieke Kerk tot die ekumeniese beweging.” En op soortgelyke trant het The New Encyclopædia Britannica onder die opskrif “Rooms-Katolisisme ná die tweede Vatikaanse Konsilie” optimisties gesê: “Die Rooms-Katolieke Kerk het amptelik van sy ‘een ware kerk’-standpunt afstand gedoen.”
Maar het die Katolieke Kerk werklik van daardie standpunt afstand gedoen? Op watter voorwaardes moes eenheid tot stand gebring word? Nadat dit omskrywe het in watter mate Katolieke aan ekumeniese bedrywighede kan deelneem, het die Dekreet oor Ekumenisme gestipuleer: “Hierdie heilige Konsilie spoor die getroues aan om hulle te onthou van enige niksbeduidende of onbesonne ywer. . . . Hulle ekumeniese bedrywigheid kan nie anders as ten volle en opreg Katoliek van aard wees nie, met ander woorde, getrou aan die waarheid wat ons van die Apostels en die Vaders ontvang het en in ooreenstemming met die geloof wat die Katolieke Kerk nog altyd bely het.”
Struikelblokke in die weg van eenheid
Feit is dat die Rooms-Katolieke Kerk nie van sy standpunt afgesien het dat dit die een ware kerk is nie. Vatikaan II se Dekreet oor Ekumenisme sê: “Dit is alleenlik deur middel van Christus se Katolieke Kerk, wat die universele middel tot redding is, waardeur die volheid van die middel tot redding verkry kan word. Ons glo dat Ons Here al die seëninge van die Nuwe Verbond alleenlik aan die apostoliese kollege, waarvan Petrus die hoof is, toevertrou het.”
Die onlangse Franse werk Théo—Nouvelle Encyclopédie Catholique (1989) sê: “Vir Katolieke is die pous, as Petrus se opvolger, teologies gesproke die permanente element van die eenheid van die Kerk en die biskoppe. Die ware feit is egter dat die pous die hoofoorsaak van verdeeldheid tussen Christene is.”
Hierdie verdelende leer oor die oppergesag van die pous staan in noue verband met die dogmas van pouslike onfeilbaarheid en die apostoliese opvolging van Katolieke biskoppe, wat albei vir die meeste nie-Katolieke kerke van die Christendom onaanvaarbaar is. Het Vatikaan II enigiets gedoen om die Katolieke standpunt oor hierdie leringe te wysig?
Vatikaan II se Dogmatiese Konstitusie oor die Kerk antwoord in paragraaf 18: “Hierdie heilige sinode, wat in die voetspore van die Eerste Vatikaanse Konsilie [wat die dogma van pouslike onfeilbaarheid uitgevaardig het] volg, leer en verklaar hiermee dat Jesus Christus, die ewige pastoor, die heilige Kerk gestig het deur die apostels se sending aan hulle toe te vertrou, soos hy self deur die Vader gestuur was (vgl. Joh. 20:21). Dit was sy wil dat hulle opvolgers, naamlik die biskoppe, tot die einde van die wêreld die herders in sy Kerk moet wees. Maar hy het Petrus oor die ander apostels aangestel en in hom ’n blywende en sigbare bron en fondament van die eenheid van beide geloof en gemeenskap gestig sodat die bisdom self een en onverdeeld kan wees. Die heilige sinode neem hom van nuuts af voor dat al die gelowiges hierdie leer aangaande die instelling, die duur, die aard en belangrikheid van die heilige oppergesag van die pous en sy onfeilbare leeramp vas moet glo en, terwyl die sinode onversetlik voortgaan met hierdie selfde onderneming, is dit van voorneme om die leer aangaande die biskoppe, opvolgers van die apostels, wat saam met Petrus se opvolger, die Stedehouer van Christus en die sigbare hoof van die hele Kerk, die huis van die lewende God rig, in die openbaar te verkondig en duidelik uiteen te sit.”
Dit is opmerklik dat pous Paulus VI hierdie Dogmatiese Konstitusie oor die Kerk afgekondig het op dieselfde dag wat hy die Dekreet oor Ekumenisme onderteken het. En op daardie selfde dag, 21 November 1964, het hy verklaar dat “Maria ‘Moeder van die Kerk’ is, dit wil sê, van al die gelowiges en al die pastore”. Hoe kan daar beweer word dat die Dekreet oor Ekumenisme ‘die volle toetrede van die Rooms-Katolieke Kerk tot die ekumeniese beweging gekenmerk het’ wanneer die pous op dieselfde dag waarop dit uitgereik is dogmas herbevestig het wat vir die meeste lede van die WRK (Wêreldraad van Kerke) heeltemal onaanvaarbaar is?
Die dilemma van die Kerk
Dr. Samuel McCrea Cavert, gewese algemene sekretaris van die Nasionale Raad van Kerke wat ’n belangrike rol gespeel het in die stigting van die Wêreldraad van Kerke, het gesê: “Die Dekreet [oor Ekumenisme] versoen nie werklik sy ekumeniese beskouing met die opvatting dat die Rooms-Katolieke Kerk die enigste ware kerk is nie. . . . Gepaard hiermee is die verdere opvatting oor die Apostelprimaat en oor sy gesag oor die hele Kerk. Dit lyk of hierdie opvattings toon dat die Rooms-Katolieke begrip van ekumenisme onveranderlik om Rome draai.”
Dr. Konrad Raiser, adjunk-sekretaris-generaal van die WRK, het verklaar: “Die pous [Johannes Paulus II] maak baie ekumeniese verklarings, maar hy word geïnspireer deur ’n sending wat hom in ’n ander rigting lei.”
Hierdie duidelike teenstelling tussen die Vatikaanse skyn van ekumenisme en sy hardnekkige verkleefdheid aan sy eie tradisionele idees toon net dat die Roomse Kerk voor ’n dilemma staan. As hy ernstig is oor sy deelname aan die ekumeniese beweging vir Christelike eenheid, moet hy sy bewering laat vaar dat hy die enigste ware kerk is. As hy weier om hierdie bewering te laat vaar, moet hy erken dat sy sogenaamde ekumenisme net ’n taktiese set is om die Ortodokse en Protestantse kerke na die Katolieke skaapstal terug te lok.
Kortom, die Katolieke Kerk moet òf erken dat sy eeue-oue bewerings onwaar is, òf dat sy huidige deelname aan die ekumeniese beweging niks anders as skynheiligheid is nie. Hoe dit ook al sy, baie opregte lidmate van die Christendom se kerke is verward. Hulle wonder of Christelike eenheid ooit bereik gaan word.
[Lokteks op bladsy 8]
‘Die Dekreet oor Ekumenisme kenmerk die volle toetrede van die Rooms-Katolieke Kerk tot die ekumeniese beweging’
[Prent op bladsy 7]
Vatikaan II het die Katolieke Kerk op die randjie van ’n dilemma geplaas
[Erkenning]
UPI/Bettmann Newsphotos