Eensaamheid—Is jy vasbeslote om daarteen te stry en dit te bowe te kom?
IS JY eensaam? Daar is tye in die lewe wanneer dit natuurlik is om eensaam te voel, hetsy jy getroud of ongetroud, ’n man of ’n vrou, oud of jonk is. Jy moet ook besef dat alleenheid nie noodwendig eensaamheid veroorsaak nie. ’n Kenner wat op sy eie in sy navorsing verdiep is, voel nie eensaam nie. ’n Kunstenaar wat op sy eentjie sit en skilder, het nie kans om eensaam te voel nie. Hulle verwelkom ’n stil oomblik, en afsondering is dan hulle beste vriend.
Die gevoel van ware eensaamheid bou eerder in ons innerlike op as wat dit van buite af kom. Eensaamheid kan deur ’n treurige gebeurtenis veroorsaak word—’n sterfte, ’n egskeiding, werkloosheid of die een of ander tragedie. Wanneer ons ons innerlike verlig, kan daardie eensaamheid verminder word, moontlik selfs mettertyd verdwyn, en die verlies wat ons geteister het, kan begryp en verwerk word.
Gevoelens spruit uit jou gedagtes voort. Nadat ’n verlies verwerk is en die gevolglike gevoelens op die agtergond geskuif is, is dit tyd om aandag te skenk aan opbouende gedagtes wat jou help om met jou lewe voort te gaan.
Span jou in. Neem beheer van jouself. Daar is positiewe dinge wat jy kan doen. Wees sosiaal. Bel iemand. Skryf ’n brief. Lees ’n boek. Nooi mense oor. Ruil idees uit. Jy moet ’n vriend wees om vriende te hê. Ondersoek jou innerlike sodat jy na ander kan uitreik. Doen dingetjies vir ander. Vertel vir hulle iets wat geestelik bemoedigend is. Jy sal vind dat Jesus se woorde waar is: “Dit is saliger om te gee as om te ontvang.” Jy sal besef hoe waar nog ’n spreuk is: “Hy wat laaf, word self ook gelaaf.”—Handelinge 20:35; Spreuke 11:25.
Dit hang van jou af
Is dit moeilik? Dink jy dit is maklik om te praat? Enigiets wat die moeite werd is, is maklik om oor te praat. Dit is wat dit so bevredigend maak as jy dit doen. Jy moet ’n spesiale poging aanwend. Jy word ’n deel van die geeproses, en jou bevrediging en vreugde neem toe. Jy moet jou inspan om ontslae te raak van die eensaamheid wat jou wil oorheers. ’n Skrywer het in die tydskrif Modern Maturity gesê: “Niemand anders is vir jou eensaamheid verantwoordelik nie, maar jy kan iets daaromtrent doen. Jy kan jou lewe met een vriendskap verruim. Jy kan iemand vergewe wat jy meen jou seergemaak het. Jy kan ’n brief skryf. Jy kan ’n telefoonoproep maak. Net jy kan jou lewe verander. Daar is niemand anders wat dit vir jou kan doen nie.” Hy het ’n brief aangehaal wat hy ontvang het en wat “die spyker op die kop slaan: ‘Ek sê vir mense dit is hulle verantwoordelikheid om te sorg dat hulle lewe nie eensaam of onvervuld is nie. Skrik wakker en doen iets!’”
Jou behulpsame vriende hoef nie tot mense beperk te wees nie. ’n Dokter in die veeartsenykunde het gesê: “Bejaardes se grootste probleme is nie fisiese kwale nie, maar die eensaamheid en verwerping wat hulle ondervind. Deur hulle . . . geselskap gee troeteldiere (waaronder honde) ’n doel en sin aan bejaardes se lewe op ’n tydperk wanneer hulle dikwels van die samelewing vervreemd is.” Die tydskrif Better Homes and Gardens het gesê: “Troeteldiere help in die behandeling van emosioneel versteurdes; motiveer die siekes, die gestremdes en gebreklikes en gee eensames en bejaardes weer lewe.” ’n Ander tydskrifartikel het die volgende gesê aangaande mense wat in troeteldiere begin belangstel het: “Pasiënte se vrese het verminder en hulle kon liefde aan hulle troeteldiere betoon sonder vrees vir verwerping. Later het hulle met mense begin kommunikeer, aanvanklik deur oor die versorging van hulle troeteldiere te gesels. Hulle het ’n verantwoordelikheidsin gekry. Hulle het gevoel dat iets hulle nodig het, op hulle staatmaak.”
Te dikwels sal die eensame nie hom hard genoeg inspan om homself te help nie, om hom uit die dieptes van sy wanhoop uit te lig nie. Daar is ’n onverskilligheid, ’n onwilligheid, om hom in so ’n mate in te span, maar hy moet as hy die werklike oorsaak van sy eensaamheid wil leer ken. Dr. James Lynch het die volgende geskryf aangaande mense se weerstand teen raad wat vir hulle moeilik aanvaarbaar is: “Die menslike natuur is so dat ons gewoonlik nie inligting wil hoor, of ten minste ons gedrag daarvolgens wil verander, as ons nie daarvan hou nie.” ’n Mens wil dalk van sy eensaamheid ontslae raak, maar hy is moontlik nie bereid om die wilskrag bymekaar te skraap om dit te bewerkstellig nie.
Tree op soos jy wil voel
Om ernstige depressie te oorkom, moet jy volhou om ware opgewektheid en vriendelikheid na te streef. (Vergelyk Handelinge 20:35.) Dit beteken dat jy die diep gevoel van eensaamheid moet verdryf deur die verlammende lusteloosheid wat daardeur veroorsaak word daadwerklik teen te werk. Tree gelukkig op, dans rond, sing ’n vrolike liedjie. Doen enigiets wat geluk weerspieël. Vergroot dit, oordoen dit, vervang die knorrige buie met gelukkige gedagtes. Soos wat?
Soos die dinge in Filippense 4:8: “Alles wat waar is‚ alles wat van ernstige belang is‚ alles wat regverdig is‚ alles wat eerbaar is‚ alles wat lieflik is‚ alles waaroor daar gunstig gespreek word‚ watter deug of watter lof daar ook is‚ hou aan om hierdie dinge te bedink.”—NW.
Jy moet jou lewe sinvol maak. As jy voel dat jou lewe sinvol is, sal jy aangespoor word om gunstig daarop te reageer en dit te vervul. Jy sal nie maklik in ’n gevoel van wanhopige eensaamheid verval nie. Dit word op interessante wyse in Viktor Frankl se boek Man’s Search for Meaning getoon. Hy bespreek dit met betrekking tot gevangenes in Hitler se konsentrasiekampe. Diegene wie se lewe sinloos was, het vereensaam en nie die wil gehad om te lewe nie. Maar “die bewustheid van jou innerlike waarde is in hoër, geesteliker dinge geanker en kan nie deur die kamplewe vernietig word nie”. Hy het voorts gesê: “Lyding hou op die een of ander manier op om lyding te wees op die oomblik dat dit sin kry, soos die sin van ’n offerande. . . . Die mens se grootste bekommernis is nie om vreugde te ervaar of pyn te vermy nie, maar eerder om te sien dat sy lewe sin het. Daarom is die mens selfs bereid om te ly, mits hy seker is dat sy lyding sin het.”
Die verhouding wat jy die nodigste het
Die manier waarop ’n mens ’n waarlik geestelike beskouing kan verkry, is deur jou ten volle aan God en sy Woord, die Bybel, te onderwerp. Geloof in God en opregte gebed tot hom kan sin aan ons lewe gee. Dan is ons, selfs as menseverhoudinge verbrokkel, nie alleen en tot eensaamheid gedoem nie. Soos Viktor Frankl gesê het, kan sinvolle lyding verdra word en selfs ’n bron van vreugde wees. Een waarnemer van die mens se aard het gesê: “’n Martelaar aan die folterpaal kan vreugde hê wat ’n koning op sy troon hom moontlik sal beny.”
Christus se apostels het vreugde van Jehovah ervaar toe hulle deur mense vervolg is; sulke lyding het vir hulle baie beteken. “Salig is die wat vervolg word ter wille van die geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele. Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil. Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele; want so het hulle die profete vervolg wat voor julle gewees het” (Mattheüs 5:10-12). ’n Soortgelyke reaksie is in Handelinge 5:40, 41 opgeteken: “En nadat hulle die apostels ingeroep het, het hulle hul laat slaan en hulle bevel gegee om nie in die Naam van Jesus te spreek nie en hulle laat gaan. Hulle het toe van die Raad af weggegaan, bly dat hulle waardig geag was om vir sy Naam oneer te ly.”
Waar jy ’n roos kweek, kan ’n doring nie groei nie
Besaai die grond van jou verstand met die saad van prag en ’n positiewe doel; moenie ruimte laat vir die saad van negatiewe wanhoop en droewige eensaamheid nie. (Vergelyk Kolossense 3:2; 4:2.) Is dit moeilik? Onder sekere omstandighede blyk dit onmoontlik te wees. ’n Digter het gesê: “Waar jy ’n roos kweek, . . . kan ’n doring nie groei nie”, wat weer positiewe inspanning en gedetermineerde wilskrag verg. Maar dit kan gedoen word, en word wel gedoen.
Neem die geval van Laurel Nisbet. Sy het polio opgedoen en is op 36-jarige ouderdom in ’n ysterlong geplaas waarin sy 37 jaar lank plat op haar rug gelê het. Sy kon net haar kop beweeg, aangesien sy van die nek af ondertoe verlam was. Aanvanklik het haar droefheid haar tot wanhoop gedryf. Toe het sy, ná omtrent ’n dag van selfbejammering, besluit: ‘Dit is genoeg!’ Sy het twee kinders gehad om groot te maak en ’n man na wie sy moes omsien. Sy het weer haar lewe begin opbou; sy het geleer om haar huishouding vanuit ’n ysterlong waar te neem.
Laurel het bitter min geslaap. Hoe het sy die lang nagure omgekry? Het sy eensaam geraak? Nee. Sy het tot haar hemelse Vader, Jehovah, gebid. Sy het gebid om krag vir haarself, vir haar Christenbroers en -susters en om geleenthede om vir ander oor God se Koninkryk te getuig. Sy het maniere bedink om te preek en talle deur haar getuienis ten behoewe van Jehovah se naam beïndruk. Sy het nie toegelaat dat dorings van eensaamheid groei nie; sy was te besig om die rose te kweek.
Dit was ook die geval met ’n sendeling van die Wagtoringgenootskap, Harold King. Aangesien hy tot vyf jaar alleenopsluiting in ’n Chinese tronk gevonnis is, was hy die volmaakte kandidaat vir langdurige eensaamheid. Maar hy het daardie negatiewe beskouing verwerp en daadwerklik sy wilskrag gebruik om sy gedagtes in ’n ander rigting te stuur. Hy het dit later soos volg beskryf:
“Ek het reëlings getref vir ’n program van ‘predikingsbedrywigheid’. Maar vir wie preek jy in alleenopsluiting? Ek het besluit om ’n paar gepaste Bybeltoesprake voor te berei uit die dinge wat ek kon onthou en dan vir denkbeeldige karakters te preek. Toe het ek as ’t ware begin preek deur aan ’n denkbeeldige deur te klop en vir ’n denkbeeldige huisbewoner te preek, en ek het die oggend aan verskeie deure geklop. Ek het mettertyd ’n denkbeeldige mev. Carter ontmoet, wat ’n bietjie belanggestel het, en ná ’n aantal herbesoeke het ons met ’n gereelde Bybelstudie begin. In die loop van hierdie studie het ons die vernaamste temas uit die boek ‘Laat God waaragtig wees’, sover ek dit kon onthou, bespreek. Ek het dit alles hardop gedoen, sodat die klank van hierdie dinge dit beter by my verstand sou inskerp.”
Die duisende Getuies van Jehovah wat in Hitler se konsentrasiekampe gevange gehou is, kon hulle vryheid verkry as hulle net hulle geloof verloën het. Baie min het. Duisende het getrou gesterf—party weens teregstelling, party weens siektes en ondervoeding. Een Getuiegevangene—genaamd Josef—het twee broers in ander kampe gehad. Een is gedwing om met sy gesig na bo te lê sodat hy die lem kon sien waarmee sy kop afgekap is. Josef het verduidelik: “Toe ander in die kamp hiervan hoor, het hulle na my toe gekom en my gelukgewens. Hulle positiewe gesindheid het my diep geraak. Om getrou te bly, het vir ons meer beteken as oorlewing.”
Sy ander broer, wat voor ’n vuurpeloton gestaan het, is gevra of hy enigiets wou sê. Hy het toestemming gevra om ’n gebed te doen en dit is gegee. Dit was so aandoenlik en met soveel opregte vreugde gevul dat nie een van die peloton gevuur het toe hulle die bevel ontvang het nie. Die bevel is herhaal, waarna een skoot gevuur is wat hom in die lyf getref het. Die bevelvoerende offisier was briesend en het toe sy eie pistool uitgetrek en hom doodgeskiet.
Wat die lewe waarlik sinvol kan maak
Sterk geloof in God was by al hierdie gevalle betrokke. Wanneer jy alle ander dinge probeer het en dit misluk, is geloof altyd daar om oorwinning oor eensaamheid te bring en ’n lewe wat eers leeg was sinvol te maak. Talle se lewe wat in die wêreld se oë sinvol is, is in werklikheid sinloos. Waarom is dit so? Omdat hulle op die ou end sterf, na die stof terugkeer, in vergetelheid raak, sonder dat hulle enigsins ’n stempel op die mensdom gedruk, ’n spoor in die sand van die tyd gelaat het. Dit is soos Prediker 9:5 sê: “Want die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie, en hulle het geen loon meer nie, want hulle nagedagtenis word vergeet.” Enige betekenis wat aan ’n lewe toegeskryf word wat nie in ooreenstemming met Jehovah se voornemens gelei word nie, is leegheid.
Kyk na die sterbesaaide hemel, voel die ontsaglikheid van hierdie donker gewelf bo ons en jy voel skielik nie meer so belangrik nie. Jy verstaan die psalmis Dawid se gevoelens toe hy geskryf het: “As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U toeberei het—wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek?” Dawid se seun Salomo het die mens se werke as niks afgemaak en gesê: ‘Alles is tevergeefs’, en hy het tot die slotsom gekom: “Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is: Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense.”—Psalm 8:4, 5; Prediker 12:8, 13.
Hoe kan ’n eensame persoon, of enigiemand anders, dan sy lewe sinvol maak? Deur sy lewe met vrees vir God te lei en God se gebooie te gehoorsaam. Slegs dan kan hy inpas by die voornemens van God, die Skepper van hierdie groot heelal, en ’n deel van daardie ewige Goddelike reëling wees.
As God met jou is, is jy nooit alleen nie
Een getroue Getuie van Jehovah in Afrika het, ná sy vreeslik vervolg is en verlate gevoel het, gesê dat sy nie alleen was selfs wanneer haar menseverhoudinge misluk het nie. Sy het Psalm 27:10 aangehaal: “Want my vader en my moeder het my verlaat, maar die HERE sal my aanneem.” Jesus het ook so gevoel. “Die uur kom en het nou gekom dat julle uitmekaar gejaag sal word, elkeen na sy eie toe, en My alleen sal laat; tog is Ek nie alleen nie, omdat die Vader met My is.”—Johannes 16:32.
Jesus was nie bang om alleen te wees nie. Hy het hom dikwels doelbewus afgesonder. Wanneer hy alleen was, was hy nie eensaam nie. Hy het hom oopgestel vir die gees van God en het na aan Hom gevoel wanneer hy deur Sy skeppingswerke omring was. Hy het mense soms vermy sodat hy net in God se geselskap kon wees. Hy het ‘tot God genader en God het tot hom genader’ (Jakobus 4:8). Hy was ongetwyfeld God se beste vriend.
’n Vriend soos dié wat in die Skrif beskryf word, is kosbaar (Spreuke 17:17; 18:24). Vanweë Abraham se volle vertroue in Jehovah God en sy onvoorwaardelike gehoorsaamheid aan hom is hy ‘Jehovah se vriend genoem’ (Jakobus 2:23). Jesus het vir sy volgelinge gesê: “Julle is my vriende as julle alles doen wat Ek julle beveel. Ek noem julle nie meer diensknegte nie, omdat die dienskneg nie weet wat sy heer doen nie. Maar Ek het julle vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het.”—Johannes 15:14, 15.
Hoe kan diegene met geloof hulle stryd teen eensaamheid verloor met vriende soos Jehovah God en Christus Jesus?
[Prente op bladsy 8, 9]
Gebed en ander bedrywighede kan jou help om eensaamheid te voorkom
[Prente op bladsy 10]
Die ondervindinge van Harold King en duisende ander Getuies van Jehovah in konsentrasiekampe toon dat geloof in God eensaamheid onder die vreeslikste omstandighede te bowe kan kom
[Erkenning]
U.S. National Archives photo