Wêreldregering—Is die Verenigde Nasies die antwoord?
IN ONLANGSE jare het die Verenigde Nasies hernieude vertroue en bewondering by die wêreld afgedwing. Vir miljoene roep die afkorting “VN” heldebeelde op: troepe met blou barette wat hulle moedig na die wêreld se probleemgebiede haas om vrede te bewerkstellig, noodlenigingswerkers wat voedsel na die verhongerde vlugtelinge in Afrika bring en toegewyde mans en vroue wat onselfsugtig daaraan werk om ’n nuwe wêreldorde tot stand te bring.
Volgens ’n nege maande lange ondersoek wat deur The Washington Post geloods is, en waarvoor daar in die International Herald Tribune berig is, is die werklikheid agter die beeld “’n enorme, grotendeels onbeheerde burokrasie wat onderhewig is aan misbruike en foute wat sy doeltreffendheid verminder”. Die studie, wat op duisende bladsye dokumente en onderhoude met huidige en voormalige VN-amptenare gegrond is, het die volgende aan die lig gebring.
Bystand aan Afrika: Die VN het miljarde rande broodnodige bystand aan Afrika verleen, ’n kontinent wat deur oorlog, hongersnood, armoede en siekte geteister word. Tallose lewens is gered.
Tog is duisende lewens en miljoene rande ook weens wanbestuur, nalatigheid en soms korrupsie verloor. Die VN het noodlenigingsbystand aan die hongergeteisterde Somalië verleen waar baie mense daagliks sterf. Maar Aryeh Neier, uitvoerende direkteur van die Human Rights Watch, word in die Tribune aangehaal waar hy sê: “Die Verenigde Nasies en sy verskillende organisasies was so ontsettend nalatig en onbevoeg dat hulle so te sê geen rol daarin gespeel het om Somalië se ellende te verlig nie.”
Die verslag het ook die beskuldiging gemaak dat sommige VN-amptenare betrokke was by die misbruik van voedselbystand, die verduistering van humanitêre hulpfondse, die wederregtelike toe-eiening van goedere en dienste, smokkelhandel en knoeiery met die wisselkoers. VN-ondersoekbeamptes het in minstens sewe Afrikalande bewys van sulke bedrog gevind.
Bewaring van die vrede: ’n Vername doel van die VN is om die vrede te bewaar, hoewel daar in die jare sedert sy ontstaan in 1945 meer as honderd groot konflikte was en 20 miljoen mense in oorloë gesterf het. Maar sedert 1987 het die VN 13 vredebewaringsoperasies onderneem, net soveel soos gedurende sy hele geskiedenis voor hierdie tydperk.
Hoewel sommige dalk aanvoer dat die koste van hierdie operasies verkieslik is bo die ontsaglike prys van oorlog, kla baie dat dinge te ver gedryf word. Vredebewaringsoperasies sloer dekades lank en kos honderdmiljoene rande omdat onderhandelings ’n dooie punt bereik het. Die VN-vredesending in Kambodja voorsien die troepe van meer as R3 miljoen vir TV-stelle en videokassetopnemers en van ’n verdere R1800-000 vir tydskrif- en koerantintekeninge.
Hervorming: Mense oral vra om hervorming binne die VN, maar menings verskil oor wat hervorm moet word. Ontwikkelende lande wil ’n groter sê in die besluitnemingsproses hê en wil ekonomiese en maatskaplike programme uitbrei. Geïndustrialiseerde nasies wil hierdie programme verminder en korrupsie, wanbestuur en vermorsing beëindig.
’n Senior VN-amptenaar het gesê: “As ons werklike hervorming wil sien, moet ons iets doen wat hoegenaamd nie in ’n burokrasie gedoen kan word nie: Ons moet die plek skoonmaak. As ons iets betekenisvols wil doen, moet ons hindernisse uit die weg ruim wat oor 45 jaar opgehoop het, en dít is baie hindenisse.”
Hoewel Christene besef dat ’n enkele liggaam nodig is om die mensdom se aangeleenthede te behartig, glo hulle nie dat die Verenigde Nasies die antwoord is nie. Hulle hou eerder hulle oë gevestig op God se Koninkryk, die regering waarvoor Jesus gesê het sy navolgers moet bid.—Mattheüs 6:10.