Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 10/8 bl. 15
  • Jehovah se Getuies wen hofsaak oor kindertoesig

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah se Getuies wen hofsaak oor kindertoesig
  • Ontwaak!—1993
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom ’n internasionale hof in Europa?
    Ontwaak!—1996
  • Die stryd om godsdiensvryheid
    God se Koninkryk regeer!
  • Jehovah Se Getuies wen ’n hofsaak in Griekeland
    Ontwaak!—1997
  • Die wetlike beskerming van die goeie nuus
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 10/8 bl. 15

Jehovah se Getuies wen hofsaak oor kindertoesig

INGRID HOFFMANN veg al sedert die middel van die vorige dekade om toesig oor haar twee kinders te behou. Sy is ’n Oostenrykse vrou, wat as ’n Rooms-Katoliek gebore en grootgemaak is. Sy is met ’n mede-Katoliek getroud en het in 1980 geboorte geskenk aan ’n seun en in 1982 aan ’n dogter. Maar in 1983 het die egpaar geskei; albei ouers wou die toesig oor die kinders hê. Die pa het die aantyging gemaak dat die ma se godsdiens—sy het een van Jehovah se Getuies geword—die kinders sou benadeel en hulle van ’n normale, gesonde opvoeding sou ontneem. Hy het kwessies genoem soos die Getuies se weiering om sekere vakansiedae te vier wat iets algemeens in sy land is en hulle onthouding van bloedoortappings.—Handelinge 15:28, 29.

Hierdie valse argumente was nie oortuigend nie. Die verhoorhof sowel as die appèlhof het die pa se bewerings verwerp en toesig aan die ma toegeken. Maar in September 1986 het die Hooggeregshof van Oostenryk die laer howe se beslissings ter syde gestel. Dit het beslis dat hierdie besluite ’n skending van die Oostenrykse Wet op Godsdiensonderrig was, ’n wet wat vereis dat kinders wat as Katolieke gebore word, as Katolieke opgevoed moet word. Die hof het ook beslis dat dit nie in die kinders se belang sou wees om toe te laat dat hulle as Jehovah se Getuies grootgemaak word nie!

Watter toevlug het Ingrid Hoffmann teen sulke onbeskaamde godsdiensvooroordeel gehad? In Februarie 1987 is haar saak aan die Europese Kommissie van Menseregte voorgelê. Op 13 April 1992 het hierdie kommissie, wat saamgestel is uit regsgeleerdes wat verskeie lidnasies van die Raad van Europa verteenwoordig, die saak vir ’n volle verhoor na die Europese Hof van Menseregte verwys.

Die hof het op 23 Junie 1993 tot ’n beslissing gekom. Dit het verklaar: “Die Europese Hof aanvaar dus dat daar ’n verskil in die behandeling was en dat daardie verskil op grond van godsdiens getref is; hierdie gevolgtrekking word gesteun deur die gees en bewoording van die [Oostenrykse] Hooggeregshof se oorwegings in verband met die praktiese gevolge van die aansoeker se godsdiens. So ’n verskil in behandeling is diskriminerend.” [Ons kursiveer.] Dit het verder gemeld dat die Hooggeregshof “die feite anders opgeweeg het as die laer howe wie se motivering bowendien deur gesaghebbende sielkundige menings gerugsteun is. Ten spyte van enige moontlike teenargumente is ’n onderskeid wat alleenlik op ’n verskil in godsdiens gegrond is onaanvaarbaar.”

Met vyf stemme teen vier het die regters ten gunste van Ingrid Hoffmann en teen Oostenryk beslis en sodoende in werklikheid verklaar dat Oostenryk op grond van haar godsdiens teen haar gediskrimineer het en haar reg om haar gesin groot te maak, geskend het. Verder het die regters met agt stemme teen een geldelike vergoeding aan haar toegeken.

Hierdie merkwaardige oorwinning ten opsigte van godsdiensvryheid is net ’n maand ná ’n ander oorwinning in dieselfde hof behaal—in die saak van Kokkinakis v. Griekeland, wat bewys het dat Griekeland ’n man se reg geskend het om God se Woord van huis tot huis te leer. Liefhebbers van vryheid oor die wêreld heen is verheug wanneer sulke pogings om godsdiensvryheid te onderdruk, gedwarsboom word en die persoonlike reg om God te aanbid en ’n gesin volgens Bybelbeginsels groot te maak, beskerm word.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel