Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 10/22 bl. 3-5
  • ’n Nuwe wêreld—Sal dit ooit kom?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Nuwe wêreld—Sal dit ooit kom?
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Niks wat werklik nuut is nie
  • Die mens se pogings misluk
  • Rede tot hoop?
  • Die mensdom hunker na ’n nuwe wêreld
    Ontwaak!—1992
  • ’n Nuwe wêreld volgens God se belofte
    Hou aan waak!
  • Deel 8—Die lang opmars van die wêreldmoondhede nader sy einde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • ’n Nuwe wêreld is ophande!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 10/22 bl. 3-5

’n Nuwe wêreld—Sal dit ooit kom?

OP 13 APRIL 1991 het George Bush, die destydse president van die Verenigde State, ’n toespraak in Montgomery, Alabama, gehou met die titel: “Die moontlikheid van ’n nuwe wêreldorde.” Ter afsluiting het hy gesê: “Die nuwe wêreld wat op hande is . . . , dit is ’n wonderlike wêreld van ontdekking.”

Twee maande later het The Bulletin of the Atomic Scientists gesê dat met die ineenstorting van Kommunistiese regimes in Oos-Europa “’n nuwe wêreldorde gegrond op vrede, geregtigheid en demokrasie blykbaar op hande is”.

Sulke praatjies van ’n nuwe wêreld duur tot in 1993 voort. The New York Times het in Januarie verslag gelewer oor ’n verdrag waarin ’n verbintenis aangegaan is om kernwapens te verminder. Die koerant het gesê: “Dit plaas Amerika en Rusland ‘op die drumpel van ’n nuwe wêreld van hoop’, in president Bush se goed gekose woorde.”

Twee weke daarna het die nuwe Amerikaanse president, Bill Clinton, in sy intreerede gesê: “Vandag, namate ’n ou orde tot niet gaan, is die nuwe wêreld vryer, maar minder stabiel.” Hy het selfs gesê: “Hierdie nuwe wêreld het reeds die lewe van miljoene Amerikaners verryk.”

Daar is dus al baie gesê oor ’n nuwe wêreld—wat anders en beter sal wees. Volgens een opname het George Bush gedurende ’n relatiewe kort tydperk 42 keer in openbare verklarings van ’n “Nuwe wêreldorde” gepraat.

Maar is sulke praatjies uniek? Is dit al voorheen gehoor?

Niks wat werklik nuut is nie

In Mei 1919, net ná die Eerste Wêreldoorlog, het die Federale Raad van die Kerke van Christus in Amerika ’n vergadering in Cleveland, Ohio, gehou waartydens ‘die moontlikheid van ’n nuwe en ’n beter wêreld’ aangekondig is. Een spreker het gesê: “Dit sal ’n nuwe wêreld wees waarin die beginsel van wedywering toegee aan die beginsel van assosiasie en kameraadskap. Dit sal ’n nuwe wêreld wees waarin die beginsel van eenheid die beginsel van verdeeldheid sal vervang . . . Dit sal ’n nuwe wêreld wees waarin broederlikheid en vriendskap alle antagonismes buiten die oorlog teen die bose vervang.”

Hoe meen die kerke sou hierdie nuwe wêreld tot stand kom? Deur middel van God se Koninkryksregering wat in die Bybel beloof word? Nee. Hulle het staatgemaak op ’n politieke organisasie om so ’n nuwe wêreld tot stand te bring. “Dit wat vandag as die Volkebond bekend is”, het een kerkleier gesê, “is ’n noodsaaklike en onvermydelike gevolg van al ons Christelike geloof en strewes in die wêreld.” Kerkleiers van daardie tydperk het die Volkebond selfs as “die politieke beliggaming van die Koninkryk van God op aarde” bevorder.

Daarenteen het ’n magtige leier in Duitsland, Adolf Hitler, die Volkebond teëgestaan en in die dertigerjare Duitsland se Derde Ryk tot stand gebring. Hy het gesê dat die Ryk duisend jaar sou voortbestaan en tot stand sou bring wat die Bybel sê net God se Koninkryk kan vermag. “Ek begin met die jongmense”, het Hitler gesê. “Met hulle kan ek ’n nuwe wêreld tot stand bring.”

Hitler het ’n reusestadion in Neurenberg laat bou waar hy die Nazi-mag ten toon kon stel. Dit is opvallend dat 144 reusepilare opgerig is op ’n platform wat byna 300 meter lank was. Waarom 144 pilare? Die Bybel praat van 144 000 wat saam met “die Lam” Jesus Christus sal heers en dat hulle heerskappy duisend jaar sal duur (Openbaring 14:1; 20:4, 6). Dit is duidelik dat die oprigting van 144 pilare in die Neurenberg-stadion nie ’n numerieke toeval was nie, aangesien die gebruik van Bybelse taal en simboliek deur Nazi-amptenare goed gedokumenteer is.

Wat was die gevolg van mensepogings om te vervul wat die Bybel sê net deur God se Koninkryk tot stand gebring gaan word?

Die mens se pogings misluk

Die geskiedenis lewer afdoende bewys dat die Volkebond nie daarin kon slaag om ’n nuwe wêreld van vrede tot stand te bring nie. Daardie organisasie het ineengestort toe die nasies by die Tweede Wêreldoorlog betrokke geraak het. Boonop het die Derde Ryk, ná net 12 jaar, nie meer bestaan nie. Dit was ’n volslae mislukking, ’n skandvlek op die hele mensdom.

Deur die geskiedenis heen was mensepogings om ’n vreedsame nuwe wêreld te skep sonder uitsondering onsuksesvol. “Elke beskawing wat tot dusver bestaan het, het uiteindelik ineengestort”, het die eertydse Amerikaanse Minister van Buitelandse Sake Henry Kissinger gesê. “Die geskiedenis is ’n verhaal van pogings wat misluk het of strewes wat nie verwesenlik is nie.”

Wat dan van die nuwe wêreldorde wat onlangs deur wêreldleiers opgehemel is? Uitbarstings van etniese geweld het selfs die idee aan so ’n nuwe wêreld bespotlik gemaak. Die rubriekskrywer William Pfaff het byvoorbeeld op 6 Maart vanjaar spottend gesê: “Die nuwe wêreldorde het aangebreek. Dit is inderdaad nuut en staan indringing, aggressie en etniese suiwering voor as aanvaarbare internasionale gedrag.”

Die verskriklike oorloë en die gruwels wat plaasgevind het sedert Kommunisme ineengestort het, is onrusbarend. Selfs George Bush het net voordat hy in Januarie as president uitgetree het, erken: “Die nuwe wêreld kan mettertyd net so onheilspellend soos die oue wees.”

Rede tot hoop?

Beteken dit dat die situasie hopeloos is? Is ’n nuwe wêreld net ’n wensdroom wat uit wensdenkery voortspruit? Dit is duidelik dat mense nie ’n nuwe wêreld kon skep nie. Maar wat van die Skepper se belofte om dit te doen? “Ons verwag volgens [God se] belofte nuwe hemele en ’n nuwe aarde”, sê die Bybel.—2 Petrus 3:13.

Die nuwe hemele wat God belowe, is ’n nuwe heerskappy oor die aarde. Hierdie nuwe heerskappy is God se Koninkryk, sy hemelse regering waarvoor Jesus mense leer bid het (Mattheüs 6:9, 10). Daardie hemelse regering sal dan uit Jesus Christus en 144 000 medeheersers bestaan, en die nuwe aarde sal ’n nuwe mensegemeenskap wees. Ja, hulle sal in ’n glorieryke nuwe wêreld woon wat God se heerskappy lojaal ondersteun.

God se Koninkryksregering sal oor die beloofde nuwe wêreld heers. Hierdie nuwe wêreld sal dus nie deur die mens tot stand kom nie. “Die koninkryk van God beteken nooit ’n daad wat deur mense uitgevoer is of ’n ryk wat hulle opgerig het nie”, verduidelik een Bybelensiklopedie. “Die koninkryk is ’n Goddelike daad, en nie iets wat deur die mens of selfs deur toegewyde Christene tot stand gebring is nie.”—The Zondervan Pictorial Encyclopedia of the Bible.

Die nuwe wêreld onder God se Koninkryk sal beslis kom. Jy kan op die belofte van sy koms vertrou, omdat daardie belofte deur “God, wat nie kan lieg nie,” gedoen is (Titus 1:2). Kom ons kyk na watter soort wêreld God se nuwe wêreld sal wees.

[Foto-erkenning op bladsy 3]

NASA photo

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel