Die mensdom hunker na ’n nuwe wêreld
DIE hunkering na ’n nuwe wêreld was nog nooit groter as nou nie. Die afgelope agt dekades van oorloë, opstande, hongersnode, epidemies, misdaad en besoedeling was ’n nagmerrie. Die mens wil ’n nuwe wêreld van vrede ingaan. Omdat wêreldleiers hierdie begeerte wil vervul, het hulle oor die skepping van so ’n wêreld begin praat.
Jy het ongetwyfeld al toesprake deur vooraanstaande manne gehoor of gelees waarin hulle sê dat ’n nuwe wêreld ophande is. Amerikaanse president George Bush het in September 1991 in ’n toespraak gesê: “Vanaand, terwyl ek sien hoe die drama van demokrasie hom oor die hele wêreld ontvou, is ons miskien—miskien nader aan daardie nuwe wêreld as ooit tevore.”
As ’n bewys dat ’n nuwe wêreld ophande is, vestig wêreldleiers die aandag op die beëindiging van die Koue Oorlog tussen die Oosblok- en Wesbloknasies. Die wêreld kan weer ’n bietjie asemhaal noudat ontwapeningsprogramme in werking gestel word. Die vermindering van kernwapens versterk baie mense se hoop op ’n nuwe wêreld van vrede en veiligheid.
George McGhee, die Adjunkminister van Buitelandse Sake gedurende die bewind van wyle Amerikaanse president John F. Kennedy, het in April vanjaar gesê: “Ons het nou die geleentheid—dit is in werklikheid ’n noodsaaklikheid—om ’n plan vir ’n nuwe wêreldstelsel met nuwe veiligheidsidees as grondslag te ontwerp.” Hy het bygevoeg: “Ek glo dat die beste hoop op ’n suksesvolle nuwe wêreldstelsel in die verstewiging van die bande van die internasionale gemeenskap lê.”
George McGhee het gesê Frankryk se uitstel van kerntoetse tot ná die einde van 1992 was “’n poging om ander kernmagte te oorreed om dieselfde te doen”. Hy het ook gewys op die Russiese “inisiatiewe om kernarsenale te verminder en om uit die gevaarlike posisie van gevegsgereedheid vir strategiese kernmagte te tree”.
Daarbenewens het sewe wêreldleiers by ’n vergadering van wêreldleiers wat in Julie 1991 in Londen gehou is, gesê dat die koalisie tydens die oorlog in die Persiese Golf “bevestig het dat die internasionale gemeenskap wel kan saamwerk ‘om internasionale vrede en veiligheid te herstel en om konflik te beëindig’”.
Watter soort nuwe wêreld?
Dit klink bemoedigend. Maar vra jou af: Watter soort nuwe wêreld wil die nasies graag skep? Is dit ’n wêreld sonder wapens, sonder oorlog?
George McGhee antwoord: “Amerika moet genoeg wapenmag behou om tydens enige verenigde militêre optrede in die toekoms sy deel te kan doen of om te kan seëvier indien oorlog onvermydelik is.” Wêreldleiers staan dus nie algehele ontwapening voor nie en hulle sluit ook nie ’n militêre optrede uit indien, soos George McGhee gesê het, “oorlog onvermydelik is” nie. Regerings kan eenvoudig nie ’n nuwe wêreld sonder oorlog verseker nie. Hulle weet dat hulle in werklikheid nie so ’n wêreld kan skep nie.
Kyk byvoorbeeld na wat reeds gebeur het. Die rubriekskrywer Anthony Lewis het in die New York Times van 17 Mei 1992 onder die opskrif “Die nuwe wêreldorde” geskryf: “Toe ek op televisie gesien het hoe bomme op [Sarajewo, Bosnië en Herzegowina] val en burgerlikes uit vrees saamdrom, het ek besef die beskawing het nie vooruitgegaan sedert Nazi-bomme op Rotterdam geval het nie. Wat ’n nuwe wêreldorde.”
Maar behalwe die verwydering van oorlog moet talle ander probleme ook opgelos word om ’n bevredigende nuwe wêreld te kan skep. Beskou die sluipende besoedeling wat stadigaan ons lug, grond en seë vernietig; die magtige misdaad- en dwelmsindikate wat miljoene mense van hulle besittings en gesondheid beroof; die onverantwoordelike vernietiging van reënwoude wat tot gronderosie bydra en uiteindelik tot vloede lei wat oeste vernietig.
Daarbenewens is daar nog nie geneesmiddels vir verskriklike fisiese kwale, waaronder hartkwaal, kanker, vigs, leukemie en suikersiekte nie. En wat van die probleme ten opsigte van armoede, dakloosheid, kos- en watertekorte, ondervoeding, ongeletterdheid en die verdwyning van die osoonlaag? Ja, die lys is eindeloos. Hierdie ernstige probleme is soos ’n klomp tydbomme wat reeds gestel is. Die mens moet hulle nou ontlont voor hulle ontplof in ’n kettingreaksie van rampe wat tot die mens se vernietiging kan lei. Kan hy betyds ’n nuwe wêreld skep waarin hy dit kan bewerkstellig?
Organisasies en konferensies werk al jare lank hard om die aarde se probleme op te los. Tog het die probleme nie net toegeneem nie, maar nuwer en ingewikkelder probleme het ontstaan. Beteken die mens se onvermoë om hierdie probleme op te los dat die mensdom tevergeefs na ’n vreedsame, veilige nuwe wêreld hunker? Ons kan met vrymoedigheid nee antwoord! Beskou gerus waarom ons so sê.