Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 10/22 bl. 12-16
  • Die vermaaklikheidsbedryf was my god

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die vermaaklikheidsbedryf was my god
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ek leer die sirkuslewe ken
  • ’n Verandering na vaudeville
  • My huwelik
  • Ons werk in ander lande
  • Ons keer terug na Australië
  • Godsdiens hou ’n uitdaging in
  • My stryd teen die waarheid
  • ’n Ware Christen help my
  • Geen tekort aan seëninge nie
  • My lewe in die sirkus
    Ontwaak!—2004
  • Die Bybel verander lewens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Ek het ware rykdom in Australië gevind
    Ontwaak!—1994
  • Waarom ek die sirkus verlaat het
    Ontwaak!—2007
Ontwaak!—1993
g93 10/22 bl. 12-16

Die vermaaklikheidsbedryf was my god

DIE harde, lang applous het soos musiek in my ore geklink. Dit het my opgebeur en laat voel dat die tallose ure van oefening die moeite werd was. Ek was ’n sweefstokkunstenaar, en sukses het my betower.

’n Deel van my vertoning was ook om ’n salto oor olifante te doen, om op my kop op ’n paal te staan wat net op die skouers van ’n ander man gebalanseer is, om ’n ingewikkelde jongleurtoertjie uit te voer en om as ’n nar die gehoor te laat skater.

Dit was meer as 45 jaar gelede, toe ek maar net 17 was. Ek verwonder my nou oor die toertjies wat ’n lenige, jong liggaam deur gedissiplineerde oefening kan uitvoer en deur streng by ’n matige lewenswyse te hou. Die vermaaklikheidsbedryf het in werklikheid my hele lewe geword, my god, en dit was meer as 20 jaar lank die geval.

Ek leer die sirkuslewe ken

Ek is in Kempsey, Nieu-Suid-Wallis, Australië, gebore. Ons was arm—ons huis het gewitte mieliesakke vir mure en ou stukke sinkplaat vir ’n dak gehad. ’n Paar jaar later het ons verder suid na Taree verhuis. Ons gesin was nie godsdienstig nie, hoewel ons in naam lidmate van die Kerk van Christus was.

In 1939 het my pa by die leër aangesluit. My ma het toe ons enigste besittings, ons klere, ingepak en met my en my drie susters na Sydney verhuis. Daar het ek ’n skool vir akrobate bygewoon en verbasende natuurlike aanleg getoon. Binne net ’n paar maande het ek ’n bedrewe akrobaat geword. Toe, in 1946, het ek ’n werkaanbod in ’n sirkus gekry om as ’n sweefstokkunstenaar geleer te word.

Die sirkus het byna elke aand in ’n ander stad vertonings gehou. Die skares het na die glansrykheid van die sirkus kom kyk, maar wat hulle natuurlik nie gesien het nie, was die gevegte en dronkmansbakleiery agter die skerms. Hulle was ook nie bewus van die losbandige gedrag van baie van die kunstenaars vir wie hulle soveel bewondering gehad het nie.

Ek was voortdurend by partytjies en het alewig in gevegte betrokke geraak. Ek is dankbaar dat ek nooit daarvan gehou het om te veel te drink nie. Ek het dit ook vermy om vuil taal te gebruik en kon dit nie verdra om te hoor dat enigiemand in die teenwoordigheid van ’n vrou vloek nie. Dit was die oorsaak van baie van my gevegte.

In elke groot dorp waar ons ’n vertoning gehou het, is iemand na die plaaslike Katolieke priester gestuur met gratis toegangskaartjies vir hom en ’n donasie vir die kerk. Dit was veronderstel om geluk te bring en te verseker dat baie die sirkus bywoon.

’n Verandering na vaudeville

In 1952 het sommige vaudeville-kunstenaars vir my gesê dat ’n mens meer geld kan verdien en groter sukses kan behaal as jy vaudeville-opvoerings hou. Ek het dus talle reisende vaudeville-opvoerings begin hou. Toe het ek ’n ruk lank in ’n reeks klubs opgetree en uiteindelik in talle vooraanstaande teaters in Australië en Nieu-Seeland. Ek het saam met bekende kunstenaars opgetree, terwyl ek terselfdertyd ’n groot naam vir myself as ’n jongleur en ’n akrobaat gemaak het.

Ek het gemeen dat die verandering na vaudeville die regte keuse was, maar ek was teleurgesteld omdat die partytjies, onsedelikheid en oormatige drinkery in vaudeville selfs erger as in die sirkus was. Ek het nou met homoseksuele en lesbiërs in aanraking gekom. Dwelmgebruik het ook nou op die toneel begin verskyn, maar ek is bly dat ek nooit daarby betrokke geraak het nie.

Al waaraan ek gedink het, was om ’n naam vir myself te maak en my opvoering te verbeter. Die vermaaklikheidsbedryf en die ophemeling wat ek ontvang het, was al wat ek wou hê. Dit het al my behoeftes bevredig. Dit was selfs my voorneme om nooit te trou nie. Ek wou hoegenaamd geen verantwoordelikheid hê nie—ek het my lewe te veel geniet. Die vermaaklikheidsbedryf was my god. Maar selfs die beste planne kan skeefloop.

My huwelik

Eendag terwyl ek op soek was na talentvolle ballerinas om by ’n reisende vaudeville-opvoering aan te sluit, het ek een van die mooiste meisies ontmoet wat ek nog gesien het. Haar naam was Robyn. Sy was nie net ’n uitstekende balletdanseres nie, maar sy was ook ’n talentvolle kontorsionis. Tot my vreugde het sy die werk geredelik aanvaar en my maat in ’n suksesvolle tweepersoonsvertoning geword. Vyf maande later, in Junie 1957, het ons in die huwelik getree. Ons het die daaropvolgende drie jaar in klubs opgetree, met die vertonings getoer en op die televisie opgetree.

Ná ons troue het ons ons soveel moontlik afgeskeie gehou en dit sover moontlik vermy om sosiaal met ander kunstenaars te verkeer. Selfs toe ons in die klubs opgetree het, het ek seker gemaak dat Robyn in die kleedkamer bly totdat ons op die verhoog moes verskyn. Die grapmakers het vuil grappe vertel, en party van die musikante het dwelms gebruik. Die meeste van hulle het voortdurend gedrink en vuil taal gebruik.

Ons werk in ander lande

In 1960 is ons ’n kontrak aangebied om oorsee op te tree. ‘Dit is ons groot kans’, het ek gedink. Maar toe het ons al ’n dogtertjie, Julie, gehad om in ag te neem. Ek het nietemin my gesin oral in die Verre-Ooste met my saamgesleep, en ons het uit tasse geleef en partykeer tot vyf opvoerings per aand gehou. Dít het meer as ’n jaar voortgeduur, en toe het ons na Australië teruggekeer.

Noudat ons opvoering internasionale status bereik het, was dit baie gewild. Maar in Australië was die geleenthede beperk weens die relatiewe klein bevolking. Daarom het ons in 1965 weer oorsee gegaan. Hierdie keer het ons buiten Julie nóg ’n dogtertjie, Amanda, gehad. Gedurende die daaropvolgende vyf jaar het ons in 18 verskillende lande gewerk.

Die ontberinge waaraan ek my gesin onderwerp het as gevolg van my obsessie om die beste te wees, was verskriklik. Ek het eenkeer ’n man betaal om met ’n haelgeweer wag te staan om ons kinders te beskerm, wat slegs 60 meter weg was van waar ons opgetree het. Ek het dikwels met klubeienaars gestry wat wou hê dat Robyn by klante moes sit om hulle aan te moedig om te drink, maar daardie drinkers het meer verwag. Ons het in klubs met ontkleedansers, prostitute en homoseksuele gewerk, waarvan party onsedelike voorstelle aan my of my vrou gemaak het. En die rockgroepe se musikante was dikwels bedwelmd.

Gedurende ons reise het ek bedags baie tyd gehad om plekke te besigtig. Ek het voortdurend dieretuine, moskees, tempels, kerke of godsdiensfeeste besoek. Ek het dit uit nuuskierigheid gedoen, aangesien ek nie werklik godsdienstig was nie. Dit het my verbaas dat soveel verskillende dinge aanbid word. Daar was standbeelde van mans met dierkoppe en diere met mans- en vrouekoppe. In een land het mense selfs die geslagsorgane van mans en vroue aanbid, blykbaar in die geloof dat dit die aanbidder se eie geslagsdrange en voortplantingsvermoëns sal verbeter.

In ’n ander land het seuns en mans hulleself met drielem-messe op die rug geslaan totdat die bloed geloop het. Die dag toe ek daar was, het drie mans gesterf omdat hulle te veel bloed verloor het. In een bekende katedraal was ek met afsku vervul om hierdie kennisgewing op die biegstoele te sien: “Een bieg, 1 frank; twee bieë, 2 frank; drie bieë, 2,50 frank.” Ek het gedink: ‘As dít godsdiens is, kan hulle dit maar hou!’

Ons keer terug na Australië

In 1968 het ons Julie huis toe gestuur, maar dit het ons ’n verdere 18 maande geneem om genoeg geld te spaar om die res van ons se reisgeld huis toe te betaal. In 1970 was ons terug in ons tuisland met baie min geld of roem om vir al ons harde werk te toon. Die meeste van ons geld is op kostuums, musiek, reis, verblyf en korrupte agente spandeer. Al wat ons gehad het, was ons verhoogrekwisiete en wat ons in ons tasse kon dra.

Ná ons terugkeer na Australië het ek my bedrywighede uitgebrei en ook ’n teateragent geword. Ek het ’n kontrak verkry as ’n nar in ’n televisiereeks genaamd The Yellow House wat lank op televisie was. Ek het kinderpantomimes en naropvoerings vir verskeie klubs geskryf en geregisseer, terwyl ek steeds saam met Robyn opgetree het. Die vermaaklikheidsbedryf was steeds my god. Robyn en die kinders het daaronder begin ly; dit was asof ek nie die eggenoot of die vader was nie.

Godsdiens hou ’n uitdaging in

Eendag het my skoonma, wat by ons gebly het, die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe vir Robyn gewys. “Lees dit”, het sy gesê. “Dis oor godsdiens, maar dis anders.” Robyn het geweier en gesê dat sy nie in godsdiens belangstel ná wat ons oorsee gesien het nie. Maar haar ma het nie tou opgegooi nie. Sy het ’n week by Robyn aangehou en daarop aangedring dat sy die boek lees. Robyn het uiteindelik kop gegee, hoofsaaklik om haar ma te behaag.

Robyn het later verduidelik dat dit was asof haar oë skielik oopgemaak is. Sy was so beïndruk deur die antwoorde op soveel van haar vrae dat sy meer wou weet. Twee weke later het haar ma gereël dat twee van Jehovah se Getuies ons tuis besoek. Ná ’n paar besoeke het hulle ons na een van hulle byeenkomste genooi wat naby ons gehou is. Ek het teësinnig ingestem om te gaan. Ek was in werklikheid so beïndruk daardeur dat ons vergaderinge by die Koninkryksaal begin bywoon het.

Maar die vermaaklikheidsbedryf was steeds my god, en ek het dus spoedig besef dat daar vir my geen toekoms saam met die Getuies was nie. Robyn wou egter voortgaan om Bybelwaarhede te leer, al is dit sonder my. Ek was woedend. Ek het gedink: ‘Watter reg het hierdie mense om tussen my en my vrou te kom en haar verstand met godsdiensonsinnighede te vul?’

Selfs my dreigemente om ons huwelik te beëindig, het geen uitwerking gehad nie. Robyn het volhard en aangehou studeer. Sy het selfs van huis tot huis begin gaan en ander van haar oortuiging vertel. Die ergste was toe sy vir my gesê het dat sy gedoop en ’n toegewyde Getuie wou word. Maar sy is aangeraai om te wag tot nadat sy haar werk in die vermaaklikheidsbedryf laat vaar het.

‘Aha!’, het ek gedink. ‘Ek het gewen. Hulle sal haar nie kry nie. Sy sal nooit haar opvoering prysgee nie.’ Maar ek was verkeerd. Robyn het my een jaar gegee, en gesê dat sy dit daarna sou laat vaar. Ek het gelag omdat ek seker was dat sy nooit die opvoering waarvoor sy so lief was, sou opgee nie. Maar ek was weer verkeerd. Een jaar later het sy die vermaaklikheidsbedryf verlaat en haar laat doop. En ons dogter Julie sowel as Robyn se ma is gedoop.

My stryd teen die waarheid

Daarna het ek Robyn gedurig uitgeskel en vir haar gesê dat sy my in die steek gelaat het en nie vir my omgee nie. “Die vermaaklikheidsbedryf is my hele lewe. Ek kan niks anders doen nie”, het ek gekla. “My probleme is alles jou skuld.” Ek het selfs gedreig om die Getuies met die vuis by te dam, aangesien ek hulle blameer het vir die feit dat ons opvoering beëindig is en ons soveel probleme gehad het.

Robyn het Bybeltydskrifte oral in die huis begin neersit, in die hoop dat ek hulle sou lees. Dit het nie gewerk nie, en sy het uiteindelik tou opgegooi. Maar sy het nooit ophou bid tot Jehovah dat ek die waarheid op die een of ander manier sou leer en dat ons almal saam as ’n gesin in die nuwe wêreld sou wees nie.

Ek het mettertyd die Getuies begin verdra wanneer hulle ons tuis besoek het, en ek het die kinders soms toegelaat om my te oorreed om saam met hulle na ’n vergadering te gaan. Maar ek het alles wat ek daar gehoor het, gekritiseer. Tog het ek aan myself erken dat die mense by die Koninkryksaal, wat uit baie nasionaliteite bestaan het—Arabiere, Grieke, Italianers, Engelse, sowel as Australiërs—blykbaar almal goed oor die weg kom. Hulle was altyd vriendelik, en niemand het vuil taal gebruik of hulle met onsedelike praatjies opgehou nie.

’n Ware Christen help my

Ek het uiteindelik ingestem tot ’n gereelde Bybelstudie met Ted Wieland, ’n man wat uiters vriendelik en nederig was. Hy het by Bethel, die takkantoor van Jehovah se Getuies, gedien. Eenkeer toe ek Robyn veral sleg behandel het, het Ted my na sy motor geroep, sy hand in die kattebak gesteek en vir my ’n doos mango’s gegee. Mango’s is toevallig my gunstelingvrug, maar ek dink nie Ted het dit geweet nie. Dít het weke lank so aangehou: ’n doos mango’s elke keer wanneer Ted kom kuier het. Eendag het hy sy hand in die kattebak gesteek vir wat ek gedink het die gereelde doos vrugte was, maar toe doodluiters omgedraai en gesê: “Dink jy jy kan dít teen die muur hang?” Dit was die Bybelteks vir die jaar wat die Getuies in hulle huis vertoon. Wat kon ek sê? Ek het dit teen die muur gehang.

Namate my Bybelstudie met Ted gevorder het, het hy my uit die Bybel gewys dat die vermaaklikheidsbedryf geen ware toekoms inhou nie. Hy het verduidelik dat die enigste vaste hoop vir ’n gelukkige toekoms in die vervulling is van die Bybelprofesieë aangaande die Koninkryk waarvoor Christus ons leer bid het (Mattheüs 6:9, 10). Hoewel ek steeds kontrakte in die vermaaklikheidsbedryf moes nakom, het ek gemeentelike vergaderinge gereeld begin bywoon. Ek het my by die Teokratiese Bedieningskool ingeskryf en selfs aan die bediening van huis tot huis begin deelneem.

Ek het begin sien dat die vermaaklikheidsbedryf my niks kon bied nie. Ek het materieel geen voordeel getrek uit al die jare wat ek gewy het aan dít wat my god was nie. My gesin het gely—hulle is oor die hele wêreld saamgesleep en moes uit tasse leef. Trouens, die vermaaklikheidsbedryf het amper my huwelik laat verbrokkel. Maar nou het die Opperwese van die heelal my die geleentheid gebied om vir ewig te leef op ’n paradysaarde onder die heerskappy van sy Koninkryk.

Ek het dus die belangrikste besluit van my lewe geneem. Toe ek my kontrakte in die vermaaklikheidsbedryf afgehandel het, het ek alle bande met die vermaaklikheidswêreld verbreek. Ek het nooit weer na ’n klub gegaan of met diegene geassosieer wat daardie bedryf hulle lewenswyse gemaak het nie. Ted het die vrae vir doopkandidate met my bespreek. Maar toe is Ted oorlede, en ek is kort daarna op 26 Julie 1975 gedoop. Ek sien daarna uit om daardie wonderlike man in die nuwe wêreld tegemoet te gaan wanneer hy opgewek word.—Johannes 5:28, 29.

Geen tekort aan seëninge nie

Jehovah het ons voorsien van meer as wat ons ooit ontvang het uit al ons jare in die vermaaklikheidsbedryf. Hy het my van die korrupte, onsedelike vermaaklikheidswêreld bevry. Hy het die gebede beloon van my getroue vrou wat by my gebly het en nooit tou opgegooi het nie. Hy het ons geseën in dié opsig dat my vrou se ma en ons twee oudste dogters en hulle mans almal in die Christelike bediening bedrywig is. Ons jongste dogter, Letitia, en die oudste van ons drie kleinkinders, Micah, is albei ongedoopte verkondigers van die goeie nuus. Jehovah het my ook geseën met die voorreg om as ’n ouere man in die Christengemeente te dien.

Ek en Robyn kan Jehovah nooit vergoed vir wat hy vir ons gedoen het nie. Maar ons kan ander—veral jongmense—teen die gevare van die wêreld van die vermaaklikheidsbedryf en die verkeerde soort vermaak waarsku. Ons kan hulle waarsku, uit ons eie persoonlike waarneming, teen die ellende wat voortspruit uit onsedelikheid, dwelms, oormatige drankgebruik, die verkeerde soort musiek, liedjies wat ongeoorloofde geslagsomgang beklemtoon asook die gevare wat dit inhou wanneer ’n mens gereeld klubs besoek of rockkonserte bywoon. Al hierdie dinge maak deel uit van ’n wêreld wat heeltemal onder die beheer van Satan die Duiwel is.—2 Korinthiërs 4:4.

Dit is maklik om onwetend verstrik te raak in die aanbidding van Satan, soos ek verstrik was toe ek die vermaaklikheidsbedryf my god gemaak het. Maar nou is ek en my vrou bly om alle jongmense aan te moedig om Jehovah te dien, die een God wat al die begeertes van die hart kan bevredig—die God wat waarlik in elke opsig vir ons omgee.—Soos vertel deur Vivian A. Weekes.

[Prent op bladsy 14]

Die meisie met wie ek getrou het, was ’n kontorsionis

[Prent op bladsy 15]

Ek en Robyn vandag

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel