Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 11/22 bl. 11-14
  • Die Feite Oor Kersfees, Paasfees en Allerheiligeaand

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Feite Oor Kersfees, Paasfees en Allerheiligeaand
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Geen vermenging van die waarheid met valsheid nie
  • Is dit Easter—of Astarte?
  • Allerheiligeaand—eertydse nag van verskrikking
  • Wat sê die Bybel oor Paasfees?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Vakansiedae
    Redenering uit die Skrif
  • Vierings wat God mishaag
    ‘Hou julle in God se liefde’
  • Is alle vierings vir God aanvaarbaar?
    Hoe om in God se liefde te bly
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 11/22 bl. 11-14

Die Feite Oor Kersfees, Paasfees en Allerheiligeaand

DIE Bybel toon dat Jesus 33 1/2 jaar oud was toe hy in die vroeë lente van die jaar 33 G.J., ten tye van die Joodse Pasga, aan ’n paal gehang is. Dit beteken dat hy, indien jy agteruit tel, in die vroeë herfs van die jaar gebore is.

Die heidense Romeinse viering van die Saturnalieë, die geboortedag van die onoorwinlike son, het ongeveer drie maande later plaasgevind. Hoe is die viering van Jesus se geboorte tot 25 Desember aangeskuif, sodat dit op ’n godslasterlike wyse op die heidense viering van die geboortedag van die son sou val?

Wanneer die dae van Desember al hoe korter geword het, het die bygelowige sonaanbidders paniekbevange geraak, omdat hulle gevrees het dat hulle god sterwend was. Hulle het kerse gebrand en groot vure aangesteek om die sterwende god nuwe krag te probeer gee. Dit het gelyk of dit werk. Ná die wintersonstilstand van 21 Desember het dit gelyk asof die songod sy krag herwin namate die dae langer geword het.

“Desember was die groot maand van heidense feeste, en 25 Des. was die hoogtepunt van die winterfeestelikhede”, verduidelik Church Christmas Tab. “Party glo dat die biskop van Rome 25 Des. as die geboortedatum van Christus gekies het sodat die heidense vierings ‘geheilig’ kon word. Die gevolg was ’n eienaardige vermenging van die heidense en die Christelike feeste wat die wêreld nou Kersfees noem.” Die artikel erken: “Die woord ‘Kersfees’ kom nie in die Bybel voor nie. En daar is geen opdrag in die Skrif om Jesus se geboorte te vier nie.”

Dit is dus nie verbasend dat die teoloog Tertullianus gekla het nie: “Ons, wat nie die Sabbatte en nuwemane en feeste, wat vroeër vir God aanneemlik was, geken het nie, neem nou gereeld deel aan die Saturnalieë [en ander heidense feeste], gee oor en weer geskenke, . . . en vier sportgeleenthede en feesmaaltye met uitbundigheid.”

Pous Gregorius I het hierdie besoedelende tendens voortgesit. Volgens die tydskrif Natural History “het die pous opdrag gegee dat mense se gebruike en opvattings eerder gebruik moet word as wat dit uit die weg geruim word. As ’n groep mense ’n boom aanbid, moet ’n mens dit nie afkap nie, maar eerder aan Christus wy en hulle toelaat om hulle aanbidding voort te sit.”

Geen vermenging van die waarheid met valsheid nie

Dra hierdie beleid om ’n kompromis aan te gaan God se goedkeuring weg? Let op God se vermaning aan sy volk net voordat hulle die heidense Kanaän binnegegaan het: “Neem jou dan in ag . . . dat jy nie na hulle gode vra en sê nie: Hoe het hierdie nasies hulle gode gedien?—dat ek ook so kan doen. So mag jy nie handel met [Jehovah] jou God nie; want alles wat vir [Jehovah] ’n gruwel is, wat Hy haat, het hulle vir hulle gode gedoen” (Deuteronomium 12:30, 31). Dieselfde waarskuwing word in die Christelike Griekse Geskrifte herhaal: “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? En watter ooreenstemming het Christus met Belial [voetnoot in NW, Satan], of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige?”—2 Korinthiërs 6:14, 15.

Wat vind God so afstootlik omtrent hierdie valse gode en die aanbidding van hulle? Saturnus was die Romeinse songod wat deur die Saturnalieë vereer is. Was hy dit waardig? Simon Schama, ’n professor in die geskiedenis aan Harvard-universiteit, noem hom “die orgieleier by wie daar geëet en gedrink is en waar allerhande ander onheilighede plaasgevind het”. Die tydskrif Lear’s noem die feesdag “die beroemdste wynorgie in die antieke wêreld”.

Kultusaanbidding van die songod Mithra het oor die hele Asië voorgekom. Volgens die antropoloog Gabriel Seabrook was hy “’n stryder-god wat sy vyande met dodelike pyle en ongeneeslike siektes op die slagveld bestook het”.

Sonaanbidding onder die Asteke was veral bloeddorstig. Die tydskrif Natural History verduidelik dat “alle lewe—waaronder dié van die gode—tot ’n einde sou kom indien slagoffers nie aan die songode geoffer is nie”.

Wanneer ’n mens na die oorsprong van hierdie viering kyk (sien venster hieronder), sal dit jou moontlik nie verbaas dat hekse en Satanaanbidders steeds 25 Desember as heilig beskou nie. Die San Francisco Chronicle van 21 Desember 1991 haal ’n heks aan wat ’n gewilde heidense skryfster is: “Dit is een van ons veeleisender feesdae. Ons bly heelnag wakker.” ’n Lid van die groep Verbond van die Godin het gesê: “Ons voer ’n ritus uit. . . . Van ons geestelikes voer ’n misteriespel op oor die geboorte van die sonkind.”

Sal God of sy Seun sulke eer aanvaar, wat die aanbidding van valse gode weerspieël?

Is dit Easter—of Astarte?

Hierdie gesin se feesdagvierings begin vroegoggend wanneer hulle opstaan om die sonsopkoms met ontsag te begroet. Die kinders dra hulle beste, nuwe klere, asook nuwe hoedjies. Die viering sluit embleme van hase, mandjies vol helder gekleurde eiers en broodbolletjies wat met kruise versier is in. Dit moet Paasfees wees. Of is dit?

Die lente was heilig vir die seksaanbidders van Fenisië. Hulle vrugbaarheidsgodin, Astarte, of Isjtar (Aphrodite vir die Grieke), se simbole was die eier en die haas. Sy het ’n onversadigbare dors na bloed en geslagsonsedelikheid gehad. Haar standbeelde het haar verskeie keer uitgebeeld met onbeskaamd oordrewe geslagsorgane of met ’n eier in haar hand en ’n haas langs haar. Heilige prostitusie was ’n deel van haar kultus. In Kanaän was die seksgodin as die vrou van Baäl beskou. Sy is deur dronk seksorgieë vereer, en die aanbidders het geglo dat hulle eie geslagsomgang sou help om Baäl ten volle op te wek en geslagsomgang tussen hom en sy vrou teweeg te bring. Volgens die boek Recent Discoveries in Bible Lands “is daar in geen land betreklik gesproke soveel beeldjies van die naakte vrugbaarheidsgodin, waarvan party beslis obseen is, gevind nie”.

Onder die gedenktekens aan haar in Carthago is helderkleurige kruike gevind wat die verkoolde bene van kindertjies bevat. Hulle ouers, gewoonlik mense van ’n hoër stand, wou die seën van die gode op hulle rykdom en invloed hê. In sommige kruike is die oorskot van verskeie kinders van verskillende ouderdomme gevind, moontlik van dieselfde gesin.

As jy na die venster hierbo kyk, sal jy sien hoe min die hedendaagse weergawes van hierdie eertydse ritusse verander het. Selfs die naam Easter verskil skaars van die eertydse heidense naam. Is dit dan hoe die heilige Seun van God vereer moet word?

Allerheiligeaand—eertydse nag van verskrikking

Dit is die laaste aand in Oktober. In die maanlig beweeg ’n groepie figure in kostuums van huis tot huis en stel hulle eise met verskriklike dreigemente. Op party drumpels hou grynsende pampoenspoke wag met ’n kers binne-in—wat van mensevet gemaak is. Ander deure is met bloed besmeer. Dit is die nag van Samhain, die Keltiese god van die afgestorwenes.

Daar is waarskynlik geen ander “verchristelikte” viering waarin Satan homself so openlik vereer en sy gesneuweldes herdenk nie. Die skrywer J. Garnier sê dat vierings van lyding en die dood nagespoor kan word tot die eertydse vernietiging van al sy mensevolgelinge, asook die basterseuns van gevalle engele, ten tye van die Vloed. Kulture oor die hele wêreld hou feeste vir die afgestorwenes “wat deur almal gevier word op of om en by die einste dag waarop die Vloed, volgens die Mosaïese verslag, plaasgevind het, naamlik die sewentiende dag van die tweede maand—die maand wat min of meer met ons November ooreenstem”.—The Worship of the Dead, deur J. Garnier.

Die Druïdes was geen uitsondering nie. Samhain het glo op 31 Oktober die gees van die afgestorwenes vrygestel om met die lewendes te meng. Druïdes het met lanterns in die strate geloop en wanneer hulle by ’n huis gekom het, het hulle geld as ’n offerande vir Satan geëis.

Allerheiligeaand is ’n belangrike dag vir sataniese ritusse. “Dit is ’n godsdienstige feesdag vir die onderwêreld, met sataniste wat offerandes bring en hekse wat stilweg feesvier met gebedskringe of maaltye vir die afgestorwenes”, volgens ’n artikel in USA Today. Dit het die Washingtonse heks Bryan Jordan aangehaal wat gesê het: “[Christene] besef dit nie, maar hulle vier ons feesdag saam met ons. . . . Ons hou daarvan.”

Ouers, wil julle hê dat julle kinders hierdie bose ritusse navolg?

[Venster op bladsy 12]

Die simbole van Kersfees

Die Kersboom “het bitter min te doen met ’n Christelike viering en baie te doen met die onwrikbare oorlewing deur die eeue van heidense rituele van winterlig en hergeboorte” (The Boston Herald). “Bome waaraan versiersels hang, was eeue lank ’n deel van die heidense feeste.”—Church Christmas Tab.

Huls was gewild onder die Kelte “om te verseker dat die huisgeeste hulle gedurende die wintersonstilstand goed gedra. . . . Dit kon die bose afweer, help met die uitlegging van drome en ’n huis teen weerlig beskerm.”—Beautiful British Columbia.

Mistel “is afkomstig van die Druïdes in Engeland wat dit gebruik het in hulle vreemde aanbidding waarby die magte van die demone en die okkulte betrokke was”.—Church Christmas Tab.

Op 25 Desember het “die Mithraïste die geboorte van Mithra gevier . . . Daar is absoluut niks in die Bybel wat toon dat 25 Desember die geboortedag van Christus is nie.”—Isaac Asimov.

Die gee van geskenke was ’n kenmerk van die Saturnalieë. “Daar is verwag dat jy tydens hierdie fees vir al jou vriende ’n geskenk moet gee.”—Ancient Italy and Modern Religion.

Die ster “boaan die boom is 5000 jaar voor die geboorte van Christus as ’n simbool van reinheid, goedheid en vrede in die Ooste aanbid”.—United Church Herald.

Die kers “is nie . . . van die Christenheiligdom afkomstig nie. Ons het dit van ’n veel vroeër altaar geneem, die Druïdiese eikeboom.”—United Church Herald.

Sinterklaas is geneem “uit eertydse Duitse mitologie: ‘Thor was ’n bejaarde man, vrolik en vriendelik, swaar gebou met ’n lang, wit baard. Hy het ’n strydwa bestuur en het glo in die Noorderland gewoon . . . Sy element was vuur, sy kleur was rooi. Die vuurherd in elke huis was vir hom heilig, en hy het glo deur die skoorsteen daarin afgeklim.”—United Church Herald.

[Venster op bladsy 13]

Die ritusse van lente

“Easter” was “oorspronklik die lentefees ter ere van die Teutoniese godin van lig en lente wat in Angel-Saksies Eastre genoem is” (The Westminster Dictionary of the Bible). “Daar is geen aanduiding dat Paasfees in die Nuwe Testament gevier is nie.”—Encyclopædia Britannica.

Die haas “was die metgesel van die Germaanse godin Ostara”.—Funk & Wagnalls Standard Dictionary of Folklore, Mythology and Legend.

Eiers “is glo gekleur en geëet gedurende die lentefeeste in eertydse Egipte, Persië, Griekeland en Rome”.—Celebrations.

Die Paashoedjie was oorspronklik “’n kransie blomme of blare. Die sirkel of kroon het die ronde son en sy baan in die hemel uitgebeeld wat die terugkeer van die lente verseker het.” Die nuwe Paasuitrusting het ontstaan omdat “dit as slegte maniere en daarom as ongelukkig beskou is om die Skandinawiese godin van die Lente, of Eastre, in enigiets behalwe nuwe klere te begroet, aangesien die godin die aarde van ’n nuwe kleed voorsien het”.—The Giant Book of Superstitions.

Paasbolletjies: “Die Romeine het net soos die Grieke brood met ’n kruis daarop . . . by openbare offerandes geëet.” Heidense Saksers het dit ter ere van Eastre geëet.—Encyclopædia Britannica.

Sonsopkomsdienste kom ooreen met ritusse “wat op die lentenagewening gehou is om die son en sy groot krag te verwelkom om nuwe lewe te gee aan alles wat groei”.—Celebrations.

[Venster op bladsy 14]

Die vreeslike oorsprong van Allerheiligeaand

Maskers en kostuums: “Die Kelte het voedsel, drank en ander lekkernye vir die geeste voorsien en hulle dan op ’n slinkse wyse sover gekry om die land van die lewendes te verlaat deur maskers en kostuums aan te trek en in ’n prosessie tot by die rand van die dorp te loop.”

“Bonfires” was “in werklikheid ‘bonefires’” waarin “die priesters die songod probeer behaag het deur diere en dikwels ook mense te offer” (The Tampa Tribune). “Deur te kyk na hoe die offerandes sterf, het die Druïdes vir voortekens vir die toekoms gesoek.”—Beaumont Enterprise.

“Trick or treat”: “Die uitroep van die Druïdes kan vergelyk word met die hedendaagse ‘Trick or treat’.”—Central Coast Parent.

Bangmaakstories: “Die bloedige Druïderitusse leef voort in die klem wat kinders op spoke en geeste plaas. . . . Allerheiligeaand-partytjies en die vertel van bangmaakstories kom ook uit die tyd van die Druïdes toe geeste glo in die land rondgedwaal het.”—The Tampa Tribune.

Ten spyte van die heidense oorsprong van hierdie feesdae sal party dit nie vir ’n oomblik oorweeg om kinders die genot van hedendaagse vierings te ontsê nie. Wat weet ingeligte kinders in elk geval van eertydse Saturnus, Astarte en Samhain? Party weet nogal baie. Hulle weet ook dat hulle geensins daaraan wil deelneem nie.

[Prente op bladsy 12]

Mithra

Thor

[Erkennings]

Mithra: Musée du Louvre, Paris

Thor: The Age of Fable by T. Bulfinch, 1898

[Prent op bladsy 13]

Astarte

[Foto-erkenning op bladsy 14]

Skull: U.S. Forest Service photo

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel