Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 11/22 bl. 15-17
  • Hoe kan ek met buierige ouers oor die weg kom?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe kan ek met buierige ouers oor die weg kom?
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarskuwingstekens
  • ‘Is daar iets fout?’
  • Tree verstandig op!
  • Waarom is my ouers so buierig?
    Ontwaak!—1993
  • Wat moet ek doen as my ouers stry?
    Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2
  • Hoe kan ek my ouers beter leer ken?
    Ontwaak!—2009
  • Hoe kan ek my enkelouer help?
    Ontwaak!—1991
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 11/22 bl. 15-17

Jongmense vra . . .

Hoe kan ek met buierige ouers oor die weg kom?

“MY PROBLEEM”, sê Claudia, “is dat my ma kriewelrig en geïrriteerd raak.a Eendag het sy my gevra hoe dit met my klavierles gegaan het. Ek het net gesê dat dit goed gegaan het en het toe op die klavier gaan oefen. Ma het ingekom, met ’n kwaai stem gesê dat ek onbeskof was en toe daar uitgestorm. Dit het my ontstel, en ek het op die klaviernote geslaan en na my kamer toe gehardloop. Toe het Ma met my kom raas omdat ek op die klaviernote geslaan het.”

Ouers kan baie prikkelbaar wees wanneer hulle in ’n slegte bui is. Soms voel dit dalk vir jou asof jy in hulle teenwoordigheid in jou spoor moet trap en wag jy senuweeagtig op die volgende keer wat hulle jou sal kritiseer, op jou sal skreeu of jou selfs van iets sal beskuldig. Die artikel “Waarom is my ouers so buierig?” in die vorige nommer van die Ontwaak! het egter getoon dat dit heeltemal normaal is dat ouers van tyd tot tyd buierig raak. Spanning, moegheid, swak gesondheid en die druk van die lewe is dikwels hiervoor verantwoordelik.b As jy dít besef, kan dit jou help om empatie met jou ouers te hê. (Vergelyk Spreuke 19:11, NAV.) Maar dit verander nie die feit dat dit soms moeilik is om met hulle oor die weg te kom nie. Wat kan jy doen om sake te verbeter?

Waarskuwingstekens

Spreuke 24:3 sê: “Deur wysheid sal ’n huis opgebou word, en deur onderskeidingsvermoë sal dit stewig bevestig blyk te wees” (NW). Iets wat jy in ooreenstemming met hierdie beginsel kan doen, is om onderskeidingsvermoë aan die dag te probeer lê wanneer jou ouers in ’n slegte bui is. Die psalmis het oor sy eie terneergedrukte gemoedstoestand gesê: “Ek loop die hele dag en treur” (Psalm 38:7, NAV). Iemand wat opmerksaam was, sou beslis agtergekom het dat hy iets makeer! ’n Ouer sal gewoonlik eweneens deur duidelike tekens te kenne gee dat hy of sy nie in die beste bui is nie.

Die jeugdige skrywers van die boek The Kids’ Book About Parents het gevolglik ’n lys opgestel van algemene waarskuwingstekens waarna jongmense op die uitkyk moet wees. Van die dinge wat genoem is, was ouers wat ‘baie eet, nie praat nie, vroeg gaan slaap, jou nie groet wanneer hulle van die werk af kom nie, almal toesnou, jou vrae ignoreer’ en ‘uitdrukkingloos na die TV staar’. In ander gesinne kan daar vooraf gesê word wanneer ouers iesegrimmig sal wees—soos wanneer die rekeninge betaal moet word. Wat die geval ook al mag wees, as jy opmerksaam is, sal jy jou ouers se waarskuwingstekens kan herken.

‘Is daar iets fout?’

Wat moet jy dan doen wanneer jy agterkom dat ’n ouer bedruk voel? Moet jy gaan wegkruip? Nie noodwendig nie. Spreuke 15:20 sê: “’n Wyse seun verbly sy vader.” Dit beteken nie dat jy jou moet bekommer oor die probleme wat jou ouers as volwassenes ervaar nie. Elke ouer moet per slot van rekening “sy eie pak dra” (Galasiërs 6:5). Maar jy kan ten minste toon dat jy in hulle belangstel. Jy kan byvoorbeeld taktvol vra: ‘Is daar iets fout?’ (Vergelyk Nehemia 2:1, 2.) Daar is dalk min of niks wat jy kan doen om die situasie te verander, maar hulle sal waarskynlik die liefdevolle belangstelling waardeer wat jy vir hulle welsyn toon.

’n Jongmens, Kama, raai aan dat jy die volgende doen wanneer een van jou ouers buierig by die huis kom: “Nadat jy hulle gegroet het, moet jy ’n rukkie lank na jou kamer toe gaan totdat hulle hulle tuis gemaak het. Dan moet jy uitkom en vra wat fout is en hoe hulle dag verloop het . . . Vind uit of hulle wil hê dat jy iets moet doen.” As jy daardie ouer net die nodige aandag of liefde gee, kan dit die slegte bui soms laat oorwaai.

In haar boek My Parents Are Driving Me Crazy vertel dr. Joyce Vedral hoe ’n tienermeisie, Deena, op haar ma se slegte bui gereageer het. Deena sê: “Toe ek [by my kamer] uitkom en die knorrige uitdrukking op haar gesig sien, het ek haar gegryp en haar styf omhels voor sy enigiets kon doen om my te keer. Toe het ek haar ’n klapsoen gegee en gesê: ‘Ek is lief vir jou, Mamma.’ Jy moet net sien hoe haar bui verander het—in ’n ommesientjie.” Dr. Vedral kom tot die slotsom: “Liefde is net die regte medisyne vir ’n knorrige ouer. . . . Liefde kan ’n mens waarlik in ’n beter gemoedstemming bring.” Die Bybel stel dit só: “Liefde bou op.”—1 Korinthiërs 8:1, NAV.

Maar soms lyk dit asof dit met jóú is wat jou ouers geïrriteerd raak. As jy nie seker is waarom dit so is nie, moet jy hulle ’n bietjie probeer uitvra sodat hulle vir jou kan sê as hulle enige griewe het. (Vergelyk Spreuke 20:5.) ’n Jong meisie, Ruth, het byvoorbeeld agtergekom dat sy en haar pa “al hoe verder van mekaar af weggedryf het” en dat hy onredelik krities was oor haar skoolpunte. Nadat die gesin ’n “Jongmense vra . . .”-artikel bespreek het, het Ruth haar pa gevra wat dit is wat hom pla. “Ons het uitgevind dat Pa deur middel van sy kinders sukses probeer behaal het, aangesien hy verplig was om die skool te verlaat. Hy wou hê dat ons ’n uitstekende rapport moes hê.” Wanneer Ruth se punte laer was as wat hy wou hê, het hy kwaad geword. Wat was die gevolg van hulle bespreking? “Dit het my gehelp om dinge uit sy oogpunt te beskou”, sê sy. Haar pa moes natuurlik ook sy denkwyse effens verander. Ruth sê: “Dinge begin nou beter gaan.”

As jy ’n soortgelyke gesprek met jou ouers het, sal jy dalk uitvind dat hulle gegronde redes het waarom hulle met jou geïrriteerd raak. Dit is dalk iets eenvoudigs soos dat jy vergeet het om die een of ander huishoudelike takie te doen wat aan jou gegee is. Spreuke 10:5 herinner ons: “Hy wat in die somer wegbêre, is ’n verstandige seun; hy wat vas slaap in die oestyd, is ’n seun wat skande maak.” As jy meer pligsgetrou is, sal dit dalk grootliks daartoe bydra dat jou ouers in ’n beter bui is.

Tree verstandig op!

Maar soms is dit eenvoudig nie ’n ouer se manier om dinge uit te praat nie, en alle pogings om hom of haar aan te spoor om dit te doen, het woede of weerstand tot gevolg. Wat dan? Die Bybel vertel ons hoe Dawid as ’n jong man eweneens ’n moeilike situasie die hoof gebied het. As ’n jong man was Dawid ’n musikus in die voorhof van koning Saul. Saul was egter geneig tot onvoorspelbare buiveranderinge en woedeuitbarstings. By een geleentheid het Saul Dawid selfs met ’n spies teen die muur probeer vaspen! Maar let op wat die Bybel in 1 Samuel 18:14 oor Dawid se gedrag sê: “En Dawid het voortdurend verstandig opgetree in al sy weë, en Jehovah was met hom.”—NW.

Min ouers is so wispelturig soos koning Saul. Jy moet dalk nogtans verstandig teenoor hulle optree. Jong Sam sê byvoorbeeld: “My pa is nie ’n Christen nie, en hy word baie maklik kwaad! Wanneer hy vir ’n mens kwaad raak, begin hy op jou skreeu. Jy moet sowaar oppas wat jy sê en doen. Jy moet probeer om hom nie kwaad te maak nie.” Die Bybel stel dit só: “’n Skrander mens sien die onheil en verberg hom.”—Spreuke 22:3.

Dit beteken nie noodwendig dat jy uit jou ouers se pad moet bly nie. Probeer so hartlik en aangenaam as moontlik wees. As jy ’n knorrige ouer aanhoudend lastig val met onnodige vrae of met nietige probleempies wat op ’n ander tyd bespreek kan word, soek jy dalk moeilikheid. (Vergelyk Spreuke 15:23; 25:11.) Trouens, wanneer hulle gespanne en moeg is, voel hulle dalk selfs soos die regverdige man Job toe hy gevra het: “Hoe lank nog gaan julle manne aanhou om my siel te irriteer?” (Job 19:2, NW). Dit sal dus verstandig wees om enige irriterende gewoontes te vermy wat jy weet op jou ouers se senuwees werk—soos om kougom te laat klap of jou kneukels te kraak. Dit sal eweneens onbedagsaam van jou wees om jou stereo op sy hardste te laat blêr of die televisie op sy hardste te draai.

Nog ’n manier waarop jy verstandig kan optree, is om die inisiatief te neem. Is Ma altyd in ’n slegte bui wanneer sy van die werk af kom? As jy eerste by die huis kom, kan jy gerus die tafel dek, die vullis uitneem of die skottelgoed was. Groet jou ma liefdevol. Sulke gebare sal haar dalk daarna laat uitsien om huis toe te kom. Dit is hoe een tienermeisie, Julie, die inisiatief neem. Sy sê: “My ma bestuur ’n skoolbus, en wanneer sy by die huis kom, is sy gewoonlik omgekrap. Dan moet ek my eenkant hou. Ek bly net uit haar pad totdat sy afgekoel het. Dan sal ek vir haar na die kinders kyk of aan die kant maak of iets vir haar doen.”

Hoe jy dit dalk ook al probeer vermy, wanneer jou ouers iesegrimmig of geïrriteerd is, sal dit feitlik altyd ’n mate van konflik tot gevolg hê. Wanneer dít gebeur, kan die toepassing van Bybelbeginsels jou help om te verhoed dat jy ’n slegte situasie vererger. Spreuke 15:1 sê byvoorbeeld: “’n Sagte antwoord keer die grimmigheid af, maar ’n krenkende woord laat die toorn opkom.” Spreuke 17:27 bied verdere riglyne en sê: “Wie sy woorde inhou, besit kennis; en hy wat kalm is van gees, is ’n man van verstand.” Hou ook in gedagte dat hoewel ouers soms in ’n slegte bui is daar heel moontlik ook tye is wanneer hulle aangenaam, vriendelik en bly is om jou by hulle te hê. Koester daardie tye, en gebruik dit as ’n geleentheid om ’n goeie verhouding met jou ouers op te bou. Dit sal die moeilike tye ’n bietjie makliker maak.

[Voetnote]

a Party name is verander.

b Hierdie artikel bespreek die normale buiveranderinge wat die meeste mense ondervind. Ouers wat emosionele spanning verduur as gevolg van ernstige depressie, drank- of dwelmverslaafdheid of weens ander ernstige fisiese en emosionele siektes het dalk professionele hulp nodig.

[Prent op bladsy 17]

Werkende ouers waardeer dit wanneer hulle kinders ’n handjie bysit met huishoudelike takies

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel