Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 11/22 bl. 20-23
  • Van polisie-offisier tot Christenbedienaar

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Van polisie-offisier tot Christenbedienaar
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • My vroeë agtergrond
  • Ek leer Bybelwaarhede
  • Vooruitgang in Bybelwaarheid
  • Hoe ek my polisiebetrekking verloor het
  • My diens terwyl die werk verbied was
  • Godsdiensonver-draagsaamheid
  • ’n opvoeding wat lewenslank voortgeduur het
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • ’n Kroegbaas bring verkwikking na die agterveld
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Polisiebeskerming—Hoop en vrese
    Ontwaak!—2002
  • Ek het skatte van uitnemende waarde gevind
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 11/22 bl. 20-23

Van polisie-offisier tot Christenbedienaar

EK WAS in Februarie 1942 in ’n gevangenis in Adelaide, Suid-Australië, omdat ek gedurende die Tweede Wêreldoorlog geweier het om as soldaat te dien. Die haarkapper, wat op die punt was om my hare af te skeer, het my herken van die kere wat ek as ’n offisier van die Suid-Australiese polisiemag in howe verskyn het. “Wat maak jy hier?” het hy verbaas gevra. Hy het geweet dat ek voorheen dikwels in die hof teen misdadigers getuig het. Toe het ek my Christelike oortuiging aan hom verduidelik.

Die magistraat, wat my saak ’n paar dae vantevore verhoor het, het my ook goed geken. Hy het ook aandagtig geluister terwyl ek verduidelik het waarom my Christelike gewete my nie toelaat om die wapen op te neem nie. Nadat hy my bedank het vir wat hy as ’n goeie verduideliking beskou het, het hy my tot ’n maand gevangenskap gevonnis.

Hier was my medegevangenes mense van wie ek kort tevore foto’s en vingerafdrukke geneem het. Maar baie wagte en gevangenes wou meer oor Christelike neutraliteit weet, en ek kon gevolglik vir hulle van my geloof getuig.

Die volgende jaar is ek weer voor die hof gebring, en hierdie keer is ek tot ses maande dwangarbeid gevonnis. Ek is na Yatala gestuur, waar gevangenes lewenslange gevangenisstraf vir moord uitgedien het. Maar weer het ek baie geleenthede gehad om met ander oor die hoop van God se Koninkryk te praat en oor die blywende vrede wat dit vir hierdie oorloggeteisterde wêreld gaan bring.

Elke keer voor ek in die hof verskyn het, is ek na ’n weermagkaserne geneem. Die eerste keer wat ek daar was, is ek deur ’n luitenant Laphorn bespot en mishandel omdat ek geweier het om trou aan die weermag te sweer. Maar toe ek die derde keer voor hom gebring is, het hy gesê: “Jy weet, ek het gedink jy is ’n lafaard. Maar ek het gesien hoe jy jou straf vat. Jy het ’n goeie loopbaan prysgegee en jou geloof bewys deur vir nog straf terug te kom.”

Toe ek die derde keer tot gevangenskap gevonnis sou word, is petisies ingedien dat ek as gewetensbeswaarde verhoor moet word. Die magistraat moes my petisie noodgedwonge toestaan, aangesien ek in 1940 weens ’n gewetensaak uit die polisiemag bedank het. Maar hy het sy vooroordeel getoon deur te sê: “Laat daar aangeteken word dat dit volgens my mening gevaarlik is om ’n fanatikus soos jy op vrye voet in die gemeenskap te hê.”

My vroeë agtergrond

Ek is in 1908 in Gawler, naby Adelaide, Suid-Australië, gebore. Toe ek omtrent ses was, het Sarah Marchant, ’n dierbare vriendin van my ma, my vertel dat die hel die mens se gemeenskaplike graf is en nie ’n plek van vurige foltering nie. Sy was ’n Internasionale Bybelstudent, soos Jehovah se Getuies destyds bekend gestaan het.

Ek het mettertyd, toe ek groter was, ons Baptisteleraar gevra hoe Jesus Christus van God verskil, en hy kon my nie ’n bevredigende antwoord gee nie. Ek het dus belangstelling in die kerke verloor, alhoewel ek dit geniet het om na Sarah Marchant te luister wanneer ons mekaar af en toe ontmoet het.

In 1924 het ek as ’n klerk vir die Suid-Australiese polisiekommissaris, brigade-bevelvoerder sir Raymond Leane, in Adelaide begin werk. Toe, in 1927, het mnr. Leane ’n versoek aan die parlement gerig om my as junior-vingerafdrukdeskundige en misdaadfotograaf vir die staatspolisiemag aan te stel.

Ek leer Bybelwaarhede

Drie jaar ná my troue in 1928, terwyl ek saam met my skoonouers in Gawler met vakansie was, het ek die boek Creation gelees wat in 1927 deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap uitgegee is. My skoonouers het dit by Sarah Marchant gekry. Die boek het verduidelik dat die mens ’n siel is en nie ’n aparte, onsigbare siel het nie. Dit het sin gemaak. Maar ek wou dit self in die Bybel sien. Ek het dus die gesin se King James Version gaan haal en Genesis 2:7 gelees: “En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde, en in sy neus die asem van die lewe geblaas; en die mens het ’n lewende siel geword.”

Dit het my diep geroer, en ek het verder en verder gelees. Ek kon die boek Creation nie neersit nie. ‘Dit is beslis die waarheid’, het ek vir myself gesê. Nou wou ek meer van die Wagtoringgenootskap se boeke hê om te lees. Die enigste ander boek wat die gesin gehad het, was getiteld Lewe. Ek het hom ook deurgelees.

’n Paar dae later het ons na Adelaide teruggekeer en na ’n ander huis getrek. Daardie selfde dag het Sarah Marchant ons onverwags besoek. My skoonma het haar van my belangstelling vertel, en sy het kom kyk hoe dit met ons in ons nuwe tuiste gaan en om vas te stel watter geestelike hulp ek nodig gehad het. Die volgende oggend het die buurman langsaan oor die muur na my geroep: “Ek hoor jy stel belang in die boeke van Judge Rutherford [die destydse president van die Wagtoringgenootskap].”

“Hoe weet jy dit?” het ek gevra.

“O, ek het ’n voëltjie hoor fluit”, het hy geantwoord.

Sarah het hom klaarblyklik vertel. Daardie man, James Irvine, was op daardie tydstip die enigste Getuie in die noordelike voorstede van Adelaide. Hy was ’n pionier, of voltydse bedienaar van Jehovah se Getuies, en hy het ’n gereelde tuisbybelstudie met my begin hou.

Vooruitgang in Bybelwaarheid

Toe ek na my werk by die polisiedepartement teruggekeer het, was ek vuur en vlam oor die goeie dinge wat ek geleer het. Wanneer ek dus ook al ’n kans gekry het, het ek my werkmaats van my nuutgevonde geloof vertel. Maar ek was teleurgesteld toe my entoesiasme met bespotting begroet is.

My vrou het my heel onverwags begin teëstaan omdat ek soveel in die Bybel begin belangstel het. Maar met Jehovah se hulp kon haar teëstand my nie onderkry nie. Ek het in 1935 my lewe aan Jehovah toegewy en is gedoop. Destyds was daar slegs een gemeente in Adelaide, en daar was net ongeveer 60 wat die weeklikse Bybelstudie uit Die Wagtoring bygewoon het.

Eendag het Harold Jones, die gemeente se presiderende opsiener, vir my gesê: “Ons het ’n werk vir jou. Ons het iemand nodig om na ons gebiedskaarte om te sien.” Die werk het my uitstekend gepas aangesien ek Adelaide tydens my polisiewerk platgery het. Ek het die stad baie goed geken, en dit was dus nie vir my ’n probleem om die gebiedskaarte te maak wat ons in ons predikingswerk gebruik het nie.

In April 1938 het Joseph Rutherford, die Wagtoringgenootskap se president, Australië besoek en ’n toespraak in Sydney gehou wat deur meer as 12 000 bygewoon is, al was daar toe net 1300 Getuies in die hele Australië. In Adelaide was daar omtrent 20 van ons wat nie die reis van 1800 kilometer na Sydney kon aflê nie. Ons het gevolglik die ou Tivoli-teater gehuur en ’n landlynskakelskema laat aanbring om broer Rutherford se toespraak van Sydney af oor te dra. Ons het gereël dat dit oor die radio geadverteer word, en as gevolg daarvan het nagenoeg 600 in Adelaide na die toespraak kom luister!

Hoe ek my polisiebetrekking verloor het

In 1939 het die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek, en verskeie owerhede het die neutraliteit van Jehovah se Getuies noukeurig ondersoek. By een geleentheid het twee verslaggewers van die koerant Truth na die Koninkryksaal gekom en op ’n vyandige manier in die saal probeer inkom. Ek het hulle bloot gekeer, aangesien hulle blykbaar moeilikheid gesoek het. Die volgende oggend het ’n opskrif in die koerant gesê: “S[uid-]A[ustraliese] polisieman deurwagter by Getuies se Koninkryksaal.”

Weens daardie voorval het my werkmaats my verstoot. My onmiddellike hoof, ’n ywerige Katolieke aktivis, het die polisiekommissaris, Raymond Leane, valse inligting oor my gegee. In Augustus 1940 moes ek uit die bloute voor mnr. Leane verskyn, dieselfde man vir wie ek 16 jaar vantevore begin werk het. Die aanklag? Dat ek nie al sy bevele wou gehoorsaam nie.

“Sal jy iemand skiet as ek jou beveel om dit te doen?” het hy gevra.

“Dit is ’n hipotetiese situasie”, het ek geantwoord. “Maar, nee, ek sal beslis niemand skiet nie.”

Hy het twee uur lank vir my probeer verduidelik hoe dwaas ek was om aan ’n organisasie te behoort wat op die amptelike swartlys was en binnekort in Australië verbied sou word. Hy het uiteindelik gesê: “En dit ná alles wat ek vir jou gedoen het, nadat ek jou so ’n goeie loopbaan gegee het.”

“Dit waardeer ek”, het ek gesê. “En ek het my waardering probeer toon deur hard te werk. Maar ek kan u nie bo my aanbidding van Jehovah God plaas nie.”

“Dan moet jy óf Jehovah se Getuies verlaat, óf jy moet bedank”, het die kommissaris gesê.

Ek het dus onmiddellik bedank. In Augustus 1940 het ’n opskrif in die koerant Truth gelui: “Rutherford-polisieman bedank.” Ek moes my vrou nou hiervan vertel en ander werk vind. Gelukkig het ek werk by ’n plaaslike drukkery gekry waar die Australiese uitgawe van die Vertroosting (nou die Ontwaak!) gedruk is.

My diens terwyl die werk verbied was

Ek het tot Januarie 1941 in my nuwe beroep gewerk toe ’n landswye verbod op Jehovah se Getuies geplaas is. Sover die owerheid se kennis gestrek het, is alle drukwerk van ons lektuur in die land gestaak. In werklikheid is ondergrondse drukkerye opgestel—almal in die omgewing van Sydney—en ons het nooit ’n nommer van Die Wagtoring tydens die verbod oorgeslaan nie!

Kort ná ons werk verbied is, het ek die twee gevangenisstrawwe uitgedien waarvan ek aan die begin vertel het. Die Australiese Hooggeregshof het uiteindelik in Junie 1943 beslis dat die verbod ’n skending van die Grondwet was, en die regering het dus al die eiendom terugbesorg wat van die Wagtoringgenootskap gekonfiskeer was.

As ek nou daaraan terugdink, is dit moeilik om te glo dat polisiemanne gedurende daardie jare klopjagte op wonings (ook my eie) uitgevoer het. Tog het ons, ten spyte van die teëstand, voortgegaan om van huis tot huis te preek terwyl ons net ons Bybel gebruik het. Die polisie het ons dikwels agtervolg. Polisiemanne in gewone drag het selfs ons vergaderinge bygewoon wat in woonhuise gehou is. Toe ek eenkeer ’n verteenwoordiger van die takkantoor in Sydney voorgestel het, het ek gesê: “Onder ons is daar twee lede van die Suid-Australiese polisiemag. Verwelkom hulle asseblief!” Hulle was verbaas en verleë, maar het die vergadering geniet en later gesê dat hulle slegs ’n gunstige verslag kon indien.

Godsdiensonver-draagsaamheid

In April 1945 het ons ’n byeenkoms in die stadsaal in ’n voorstad van Adelaide gereël. Die openbare toespraak: “Die sagmoediges sal die aarde beërwe” is oral geadverteer en sou Sondag, 29 April, gehou word. Maar die moeilikheid het vroeg daardie oggend begin. Aangesien ek die byeenkomsopsiener was, het ek na die plaaslike polisiekantoor gegaan om hulle van die dreigende moeilikheid in kennis te stel. Maar my besoek en klag het op dowe ore geval.

Toe die tyd vir die openbare toespraak aanbreek, was daar ’n klomp oproeriges buite. Party het in die saal ingekom net toe die toespraak begin het. Verskeie frisgeboude oproeriges het vorentoe gebeur en die klanktoerusting probeer vernietig. Toe het mense klippe deur die vensters begin gooi. Radiostasies is van die moeilikheid in kennis gestel en hulle het onmiddellik uitgesaai dat daar ’n oproer is. Duisende nuuskieriges het buitekant vergader.

Ons moes die vergadering ongelukkig beëindig. Maar toe dit tyd word om die saal te verlaat, het die polisie vir ons ’n pad oopgemaak, en die hele skare het stil geword. Almal kon die dwaasheid van ons teenstanders sien toe gewone mense, waaronder bejaarde mans en vroue sowel as jong kinders, uit die saal gekom het. In die daaropvolgende dae het mense hierdie godsdiensdweepsug in “Briewe aan die redakteur” veroordeel.

En tog is Jehovah se Getuies daarna jare lank nie toegelaat om stadsaalgeriewe in Suid-Australië te gebruik nie. Ek het eenkeer in die middel-vyftigerjare met die opsigter van die Norwood-stadsaal in ’n voorstad van Adelaide oor die gebruik van hulle saal vir ons streekbyeenkoms gepraat.

“Julle is lewenslank verbied om stadsale te gebruik”, het hy gesê.

“Jy is agter die tyd”, het ek geantwoord.

Toe het ek die brosjure oor die internasionale byeenkoms van 1953 in New York se Yankee-stadion uit my sak gehaal. “Kyk wat gebeur met Jehovah se Getuies op ander plekke—meer as 165 000 by een vergadering!” het ek gesê.

Hy het die brosjure geneem, dit noukeurig bestudeer en ná ’n rukkie gesê: “Ja, dit lyk tog of dinge verander het.” Van toe af kon ons oral in Suid-Australië van sulke geriewe gebruik maak.

My vrou is in 1984 ná ’n lang siekbed oorlede. Voor haar dood het sy egter ’n liefde vir Bybelwaarheid en vir Jehovah God begin toon. Dit was grotendeels te danke aan die goedhartigheid wat liefdevolle Getuies met die verloop van die jare aan haar bewys het. In Desember 1985 is ek met Thea, wat Jehovah reeds baie jare dien, getroud.

Ek dien Jehovah nou al nagenoeg 60 jaar lank met tevredenheid. Omdat ek nog altyd op Jehovah vertrou het, na aan sy organisasie gebly het en my beginsels nooit onder druk prysgegee het nie, kan ek terugkyk op ’n lewe van baie voorregte en seëninge. Ek probeer steeds hard om my oë gevestig te hou op die prys van die roeping na bo (Filippense 3:14, NW).—Soos vertel deur Hubert E. Clift.

[Prent op bladsy 23]

In die bediening

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel