Ek het skatte van uitnemende waarde gevind
SOOS VERTEL DEUR FLORENCE WIDDOWSON
Toe dit begin skemer word het, het ons besluit om naby ’n lagune kamp op te slaan. Dit was nie die ideale kampplek vir twee vroue nie, maar ons het gedink dit sou vir een nag veilig wees. Terwyl ek die tent opgeslaan het, het Marjorie ons aandete voorberei.
EK HET net die laaste tentpen ingeslaan toe ek uit die hoek van my oog ’n beweging naby ’n swart boomstomp sien. “Het jy daardie stomp sien beweeg?” het ek na Marjorie uitgeroep.
“Nee”, het sy effens verward teruggeroep.
“Wel, dit het beslis beweeg”, het ek uitgeroep. “Gee my die ketel!”
Met die ketel in my hand en die byl oor my skouer het ek na die lagune begin stap. Toe ek amper langs die stomp was, het ’n man skielik agter die stomp uitgekom!
“Kan ’n mens die water in die lagune drink?” het ek hakkelrig uitgekry.
“Nee, jy kan nie”, het hy kortaf gesê, “maar as jy drinkwater wil hê, sal ek vir jou gaan haal.”
Ek het sy aanbod haastig van die hand gewys, en tot my groot verligting het hy skielik omgedraai en weggestap. Ek was die ene bewerasie en het gou teruggegaan en vir Marjorie vertel wat gebeur het. Ons het vinnig die tent afgeslaan, opgepak en gemaak dat ons wegkom. Ons het later gehoor dat die man kort tevore uit die tronk vrygelaat is.
Hoewel prospekteerders in 1937 dikwels daar in die goudvelde van Australië uitgekamp het, was ons prospekteerders van ’n ander soort. Ons het na mense gesoek wat vir God kosbaar is.
My agtergrond
Honderd jaar gelede was my pa die ystersmid in die dorpie Porepunkah in die staat Victoria. Ek is in 1895 daar gebore en het saam met my vier broers naby die Ovensrivier, aan die voet van die Buffaloberg, grootgeword. My ouers het gereeld die dienste van die Verenigde Kerk bygewoon, en ek was in die Sondagskool, waar my pa onderwyser was.
In 1909 het my ma gedurende ’n geweldige storm ’n hartaanval gehad en in my pa se arms gesterf. Daarna, vroeg in 1914, is een van my broers by die huis weg en is hy ’n paar uur later na ons toe teruggebring—hy was dood. Hy het selfmoord gepleeg. Aangesien selfmoord volgens die kerk ’n onvergeeflike sonde is en my broer volgens hulle leer hel toe sou gaan, was ons smart nog groter.
Later daardie jaar het die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek en het twee van my broers vir oorsese diens by die leër aangesluit. Die verskriklike berigte van bloedvergieting en lyding het my en vyf ander meisies, asook my pa, beweeg om die Bybelboek Johannes te begin bestudeer.
Ons vind ware skatte
Ellen Hudson het ’n eksemplaar van die boek The Time Is at Hand, deur Charles Taze Russell, gehad. Haar geesdrif vir die boek het die res van ons groep ook aangesteek. Toe sy besef het dat die boek maar een van ’n reeks van ses boeke met die titel Studies in the Scriptures was, het sy aan die Internasionale Bybelstudente-vereniging in Melbourne geskryf en die res van die stel aangevra. Ons groep het besluit om die eerste boek, The Divine Plan of the Ages, tydens ons weeklikse studies te gebruik.
Dink net hoe bly ek en my pa was toe ons ontdek het dat daar nie so iets soos ’n brandende hel is nie. Ons was nie meer bevrees dat my broer in die hel brand nie. Ons het die waarheid te wete gekom dat die dooies in ’n toestand van onbewustheid is, asof hulle slaap, en nie nog êrens voortlewe en pyniging verduur nie (Prediker 9:5, 10; Johannes 11:11-14). Party in ons Bybelstudiegroep het besluit om die waarhede wat ons geleer het aan ons bure te gaan verkondig. Ons het sommer na nabygeleë huise gestap, maar het fietse en ’n eenperdkar gebruik om diegene buite die dorp te bereik.
Ek het die getuieniswerk van huis tot huis vir die eerste keer op Wapenstilstandsdag, op 11 November 1918, gedoen. Ek en twee ander van ons studiegroep het 80 kilometer na die dorp Wangaratta gereis om die traktaat Peoples Pulpit te versprei. Jare later, terwyl ek die predikingswerk in een van die afgeleë plattelandse gebiede gedoen het, het ek die ondervinding gehad waarvan ek aan die begin vertel het.
In 1919 het ek ’n byeenkoms van die Bybelstudente in Melbourne bygewoon. Daar het ek, op 22 April 1919, my toewyding aan Jehovah deur waterdoop gesimboliseer. Die geestelike feesmaal het my ’n dieper waardering vir die geestelike skat van die hemelse Koninkryk en vir Jehovah se aardse organisasie gegee.—Mattheüs 13:44.
Ek het nie ná die byeenkoms teruggekeer huis toe nie, maar ’n uitnodiging aanvaar om ’n maand lank saam met Jane Nicholson, ’n voltydse verkondiger, aan die getuieniswerk deel te neem. Ons toewysing was die saai- en beesplase al langs die Kingrivier. Die rolprent The Man From Snowy River is ’n paar jaar gelede in hierdie bergagtige gebied verfilm.
In 1921 het ons die uitstekende Bybelstudiehulp Die harp van God ontvang. Toe my pa dit as ’n handleiding vir sy Sondagskoolklas begin gebruik het, het baie ouers daarteen beswaar gemaak en hom gevra om te bedank. Hy het dit sonder versuim gedoen. Later het ons die boekie Hell ontvang, met sy gedagteprikkelende vrae op die voorblad: “Wat is dit? Wie is daar? Kan hulle daar uitkom?” My pa was so beïndruk met die duidelike Bybelse bewyse wat oor hierdie onderwerp gelewer is dat hy dadelik die boekie van huis tot huis begin versprei het. Hy het honderde eksemplare in ons dorpie en in nabygeleë plattelandse gebiede versprei.
Predikingstogte saam met my pa
My pa het mettertyd ’n motor gekoop sodat hy mense in ander gebiede met die Koninkryksboodskap kon bereik. As ’n ystersmid was hy meer gewoond aan perde, en daarom het ek die motorbestuurder geword. Aanvanklik het ons in hotelle oornag. Dit het spoedig te duur uitgewerk en ons het begin uitkamp.
My pa het veranderinge aan die motor se voorste sitplek aangebring sodat dit afgeslaan kon word en ek in die motor kon slaap. Ons het vir my pa ’n tentjie opgeslaan om in te slaap. Nadat ons ’n paar weke uitgekamp het, het ons dan na Porepunkah teruggekeer, waar my pa weer ’n tyd lank in sy ystersmedery gewerk het. Ons het ons altyd verwonder oor die feit dat daar deurentyd genoeg klante was wat hulle rekeninge betaal het sodat ons die koste vir ons volgende predikingstog kon dek.
Talle regskape persone het gunstig op ons besoeke gereageer en uiteindelik tuisbybelstudies aanvaar. Daar is nou sewe gemeentes met hulle eie Koninkryksale in die gebied wat aanvanklik deur ons groepie van Porepunkah bedien is. Waarlik, wie kan “die dag van klein dinge” verag?—Sagaria 4:10.
In 1931 het ek en my pa byna 300 kilometer met baie slegte paaie langs gery om ’n spesiale byeenkoms by te woon, die een waar ons ons nuwe naam “Jehovah se Getuies” aangeneem het. Ons was albei verheug oor hierdie unieke, skriftuurlike naam (Jesaja 43:10-12, NW). Dit het ons baie duideliker geïdentifiseer as die minder onderskeidende naam “Internasionale Bybelstudente”, wat ons tot op daardie stadium gebruik het.
Terwyl ons eendag getuieniswerk in die dorp Bethanga gedoen het, het ek die plaaslike predikant van die Anglikaanse Kerk teëgekom. Hy het woedend geraak en begin om al die mense te soek onder wie ons soveel boeke versprei het en geëis dat hulle hulle boeke aan hom oorhandig. Daarna het hy die boeke in die middel van die dorp in die openbaar verbrand. Maar sy veragtelike optrede het geboemerang.
Nadat ek die Genootskap se takkantoor van die gebeure in kennis gestel het, is ’n ope brief gedruk waarin die predikant se optrede veroordeel is. Reëlings is ook getref dat Getuies in motorgroepe reis en die brief deur die hele streek versprei. Toe ek en my pa die dorp later weer besoek het, het ons meer boeke as die vorige keer versprei. Die dorpsmense was nuuskierig oor die inhoud van die “verbode” lektuur!
Die eerste persoon in die noordoostelike deel van Victoria wat as gevolg van ons predikingswerk die Bybelwaarheid aangeneem het, was Milton Gibb. Tussen ons besoeke het hy al die Genootskap se publikasies wat ons by hom gelaat het deeglik bestudeer. Tydens een van ons besoeke het hy ons verras deur te sê: “Ek is nou een van jou dissipels.”
Hoewel ons bly was oor sy besluit het ek verduidelik: “Nee, Milton. Jy kan nie een van my dissipels wees nie.”
“Wel, dan is ek een van Rutherford [die destydse president van die Wagtoringgenootskap] se dissipels.”
Weer het ek gesê: “Nee, jy kan ook nie een van Rutherford se dissipels wees nie, maar ek hoop jy is een van Christus se dissipels.”
Milton Gibb was maar een van die talle kosbare skatte waarna ek soveel jare geprospekteer het. Hy en twee van sy seuns is Christen- ouere manne, en ander lede van sy gesin is bedrywig in die gemeente.
Verskillende beproewinge
Ten spyte van die verbod wat in Januarie 1941 op die werk van Jehovah se Getuies in Australië geplaas is, het ons aangehou preek en net die Bybel gebruik. My pionierdiens, of voltydse bediening, is op daardie stadium onderbreek toe ek huis toe ontbied is om my pa te versorg wat ernstig siek was. Ek het ook later siek geword en moes ’n groot operasie ondergaan. Dit het my ’n hele ruk geneem om te herstel, maar ek het die waarheid van God se belofte ervaar: “Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie” (Hebreërs 13:5). ’n Christensuster het my bemoedig met die woorde: “Onthou Flo, jy is nooit alleen nie. En jy en Jehovah is saam altyd die meerderheid.”
Toe het die laaste 13 weke van my dierbare pa se siekbed aangebreek. Op 26 Julie 1946 het hy sy oë vir die laaste keer gesluit. Hy het ’n vol lewe geniet en het ’n hemelse hoop gehad (Filippense 3:14, NAV). Op die ouderdom van 51 was ek dus alleen, aangesien ek die meeste van my vroeë jare saam met my pa was. Toe het ek my aanstaande ontmoet. Ons is in 1947 getroud en het saam die pionierdiens betree. Maar hierdie gelukkige tyd was van korte duur, aangesien hy in 1953 ’n beroerteaanval gehad en ’n invalide geword het.
My man se spraak was ernstig aangetas en dit was feitlik onmoontlik om met hom ’n gesprek te voer. Ek het dít die moeilikste gevind terwyl ek hom versorg het. Dit was verstandelik uiters uitputtend om te probeer verstaan wat hy so gesukkel het om te sê. Hoewel ons in ’n afgeleë gebied gewoon het en daar geen gemeentes naby ons was nie, het Jehovah ons nie gedurende daardie moeilike jare verlaat nie. Ek het op hoogte gebly van al die jongste organisatoriese inligting, sowel as van die stroom van geestelike voedsel in Die Wagtoring en die Ontwaak! My dierbare man is op 29 Desember 1957 oorlede.
My bediening in Adelaide
Ek was weer eens alleen. Wat moes ek nou doen? Sou ek ná byna vyf jaar weer as ’n voltydse bedienaar aanvaar word? Ek ís aanvaar en het toe my huis verkoop en in Adelaide, die hoofstad van Suid-Australië, ’n nuwe begin gemaak. Hulle het op daardie tydstip pioniers nodig gehad en ek is na die Prospect-gemeente aangewys.
Omdat ek senuweeagtig was om in die stadsverkeer te bestuur, het ek my motor verkoop en weer ’n fiets begin gebruik. Ek het fietsgery tot ek 86 was en mense in die omgewing het van my as “die vroutjie op die blou fiets” gepraat. Mettertyd het ek al hoe senuweeagtiger in die verkeer begin raak; dit het gevoel of my fiets se voorwiel gedurig bewe. My fietsryery het tot ’n einde gekom toe ek een middag in ’n heining beland het. ‘Tot hier toe en nie verder nie’, het ek vir myself gesê, en toe maar weer begin stap.
’n Paar jaar gelede, terwyl ek by ’n streekbyeenkoms was, het my bene begin ingee, en ek het sedertdien twee heupoperasies ondergaan. Ek het goed gevaar ná die operasie totdat ’n groot hond my omgestamp het. Ek moes daarna verdere behandeling kry, en van toe af moet ek met behulp van ’n loopraam loop. My verstand is nog baie helder. Dit is soos een van my vriende gesê het: “Dit lyk of jou verouderende liggaam nie by jou jong verstand kan byhou nie.”
Ek het deur die jare heen gesien hoe die gemeentes in Adelaide groei en verdeel. Toe, in 1983, op 88-jarige leeftyd, het ek Adelaide verlaat om by ’n gesin in Kyabram, in die staat Victoria, te gaan woon, waar ek reeds tien gelukkige jare deurgebring het. Ek gaan nog in die veldbediening uit; vriende in die gemeente neem my met die motor om diegene te besoek wat gereeld by my tydskrifte neem. Hierdie mense is gaaf genoeg om na die motor toe te kom sodat ek met hulle kan praat.
Wanneer ek op die 98 jaar van my lewe terugkyk, het ek tere herinneringe van die talle lojale en getroue mense, veral my wonderlike pa, wat Jehovah saam met my geloof het. Dit lyk of al die getroues wat my metgeselle in die pionierbediening was nou al oorlede is. Maar watter vreugde wag daar tog op my wanneer ek met diegene herenig word wat ook die hoop op die prys van die lewe in God se hemelse Koninkryk het—waarlik ’n skat van uitnemende waarde!
[Prent op bladsy 28]
Ek is op 22 April 1919 gedoop
[Prent op bladsy 31]
Ek is nou byna 100 jaar oud en is bly dat ek Jehovah nog kan dien