Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 11/22 bl. 24-27
  • Samewerking tussen Jehovah se Getuies en die mediese beroep

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Samewerking tussen Jehovah se Getuies en die mediese beroep
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hospitaalskakelkomitees
  • Gehaltenavorsing en bystand
  • Meer dokters gee hulle samewerking
  • Hulp aan mediese personeel en beamptes
  • Is jy voorbereid op ’n mediese situasie wat jou geloof kan toets?
    Ons Koninkryksbediening—1992
  • Die kloof tussen dokters en Getuiepasiënte word oorbrug
    Ontwaak!—1990
  • Kommunikasie tussen dokter en pasiënt—’n sleutel tot sukses
    Ontwaak!—1991
  • ’n Dokter se roeping
    Ontwaak!—1992
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 11/22 bl. 24-27

Samewerking tussen Jehovah se Getuies en die mediese beroep

IN 1945 het Jehovah se Getuies besef dat bloedoortappings ’n onskriftuurlike gebruik van bloed is. Die verbod is in die Mosaïese Wet beliggaam en in die Christelike Griekse Geskrifte herbevestig. Handelinge 15:28, 29 sê: “Want die Heilige Gees en ons het besluit om verder geen las op julle te lê nie as hierdie noodsaaklike dinge: dat julle jul onthou van afgodsoffers en van bloed en van wat verwurg is en van hoerery. As julle jul hiervan onthou, sal julle goed doen. Vaarwel!” (Sien Levitikus 17:10-12.) Die Getuies se weiering om bloedoortappings te aanvaar, het tot baie konfrontasies met mense in die mediese beroep gelei.

Hospitaalskakelkomitees

Om die Getuies in hulle weiering van bloed te ondersteun, om misverstande aan die kant van dokters en hospitale uit die weg te ruim en om groter samewerking tussen mediese instellings en Getuiepasiënte tot stand te bring, het die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies hospitaalskakelkomitees op die been gebring. Hierdie komitees, wat uit ervare Getuies bestaan wat opgelei is om begrip aan die dag te lê wanneer hulle met dokters en hospitale onderhandel, het al konfrontasies ontlont en groter samewerking bewerkstellig. Die komitees het gegroei van ’n handjievol in 1979 tot meer as 850 in 65 lande vandag. Dit beteken dat hulle nuttige dienste tans aan nagenoeg 3,5 miljoen Getuies van Jehovah beskikbaar is.

Meer as 4500 ouere manne in gemeentes van Jehovah se Getuies is opgelei om met dokters te praat sodat hulle uit mediese lektuur kan sien wat alles sonder die gebruik van bloedoortappings gedoen kan word. In gevalle waar daar ’n spesiale behoefte ontstaan, word toepaslike artikels direk na die hospitaal gefaks om geneeshere te help om Getuies sonder bloed te behandel. Of die komitees reël konsultasies met ander welwillende dokters om strategieë vir bloedlose behandeling of chirurgie te ontwikkel.

In baie gevalle waar ernstige bloedarmoede weens bloedverlies ontstaan het en ’n oortapping volgens dokters nodig was om die rooiseltelling te verhoog, kon lede van die Hospitaalskakelkomitee byvoorbeeld mediese artikels beskikbaar stel wat toon hoe doeltreffend herkombinante eritropoiëtien (EPO) is om dieselfde te doen. Hierdie sintetiese hormoon werk soos die natuurlike eritropoiëtien wat in ons niere aangetref word, en dit stimuleer die beenmurg om nuwe, vars rooi selle in die bloedstroom vry te stel.

Sommige dokters het gemeen dat EPO nie vinnig genoeg sou werk om die tekort aan te vul nie, maar verskeie gevalle waarby Jehovah se Getuies betrokke was, het getoon hoe vinnig dit resultate lewer. In een geval was die telling nuwe rooi selle net die dag ná EPO toegedien is reeds vier keer hoër as die normale telling! Die pasiënt se toestand het binne nog ’n dag gestabiliseer, en teen die vierde dag het die rooiseltelling begin styg. Ná nog ’n paar dae het dit vinnig gestyg. Die pasiënt het die krisis oorleef. So het die dokters sowel as die pasiënt by die hulp van hierdie Hospitaalskakelkomitees baat gevind.

Toe dokters in Australië gesê het dat hulle nie ’n Getuiepasiënt se lewe kon red as hulle nie bloed kon gebruik om hom vir ’n seldsame tropiese siekte te behandel nie, het hulle by die plaaslike Hospitaalskakelkomitee om hulp aangeklop vir enige inligting wat die komitee oor bloedlose mediese behandeling kon inwin. Die Australiese takkantoor van Jehovah se Getuies is van die behoefte in kennis gestel. Hulle het met die Hospitaalinligtingsdienste by die internasionale hoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York, in verbinding getree. Die Hospitaalinligtingsdienste het ’n mediese databasis nagevors. Nuttige artikels is na Australië gefaks. Net 11 uur nadat die Australiese Hospitaalskakelkomiteelid die dokter se kantoor verlaat het, was hy terug met die nodige artikels. Die artikels was baie nuttig en die pasiënt het herstel. Mediese dokumente is al van New York af tot selfs in afgeleë Nepal gefaks.

Gehaltenavorsing en bystand

Die gehalte van die navorsing wat Jehovah se Getuies ten opsigte van mediese lektuur doen, is betroubaar en bevat die jongste inligting. ’n Geregistreerde verpleegster wat die medebestuurder is van chirurgiese dienste by ’n hospitaal in Oregon, VSA, het in ’n artikel in ’n mediese publikasie vir bestuurders van operasiekamers gesê: “Jehovah se Getuie[s] . . . [is] ons ver vooruit. Hulle is die beste ingelig oor wat in die plek van bloed en bloedprodukte gebruik kan word en voorsien ons dikwels van die lektuur voor ons selfs daarvan te hore kom.”—OR Manager, Januarie 1993, bladsy 12.

Sommige baie prominente dokters en mediese sentrums wat pasiënte sonder die gebruik van homoloë bloed kan behandel, het aangebied om geraadpleeg te word oor die benaderings en prosedures wat hulle gebruik. Hulle ruimhartige ondersteuning het gehelp om lewens te red, soos gesien kan word uit gevalle waar leukemie met welslae behandel is en uit verskeie soorte chirurgie. Hierdie mediese konsultasies is dikwels met behulp van internasionale telefoonoproepe gedoen.

Die voorsiening om ’n pasiënt van een hospitaal na ’n ander, van een deel van ’n land na ’n ander en selfs van die een land na die ander oor te plaas, toon ook hoe ver Jehovah se Getuies al gegaan het om diegene wat hulp nodig gehad het, by te staan wanneer hulle voor ’n geloofbeproewende mediese situasie te staan gekom het. Hier is ’n paar voorbeelde: ’n Volwasse pasiënt is van Suriname na Puerto Rico gevlieg; ’n ander pasiënt van Samoa na Hawaii; ’n kleuter van Oostenryk na Florida, VSA.

Meer dokters gee hulle samewerking

’n Verbetering in die situasie vir Jehovah se Getuies kan ook uit die groeiende getal geneeshere gesien word wat gewillig is om met hulle in hierdie verband saam te werk, van nagenoeg 5000 vyf jaar gelede tot meer as 30 000 in 65 lande vandag. So ’n groot getal bekwame dokters het ’n ander gunstige verwikkeling moontlik gemaak—die stigting van meer as 30 bloedlose mediese en chirurgiesentrums in verskeie lande.

Deesdae, ten minste in Noord-Amerika, hoor ’n mens dus baie selde dat daar probeer is om ’n bloedoortapping aan ’n volwassene op te dwing, en baie ander lande maak dieselfde vordering. Op die oomblik word die meeste probleme met pasgebore babas en veral met vroeggeboortes ondervind. Hierdie vroeggebore babas het aanvanklik baie probleme wat gepaardgaan met onderontwikkelde organe, soos die longe en die niere, wat nie normaal funksioneer nie. Maar dokters vind tans maniere om hierdie toestande sonder bloedoortappings te behandel. Daar is byvoorbeeld ’n sintetiese opaktiewe stof beskikbaar wat verligting gee aan babas wat aan asemnoodsindroom ly. Die gebruik van EPO word ook nou al hoe meer aanvaar as ’n manier om bloedarmoede in vroeggebore babas te behandel.

Hulp aan mediese personeel en beamptes

Om pediaters en neonatoloë te help om kinders van Jehovah se Getuies sonder bloedoortappings te behandel, het die Hospitaalinligtingsdienste ’n versameling van 55 artikels met ’n drievoudige indeks saamgestel wat uit mediese lektuur bestaan en toon wat sonder bloed vir ’n menigte probleme in pasgebore babas gedoen kan word.

Om regters, maatskaplike werkers, kinderhospitale, neonatoloë en pediaters van inligting te voorsien oor beskikbare bloedlose mediese plaasvervangers, het Jehovah se Getuies spesifiek vir hierdie mediese personeel en beamptes ’n boek met 260 bladsye saamgestel met die titel Family Care and Medical Management for Jehovah’s Witnesses.a Dit is ’n losbladhandleiding wat aangevul kan word. Aangesien daar soms misverstande is oor die gesinslewe onder Jehovah se Getuies, verduidelik dit ook aan vakkundiges hoe ouers liefde aan hulle kinders betoon in ’n uiters voordelige, sorgsame atmosfeer wat voortvloei uit ’n lewenswyse wat op Bybelonderrigting gegrond is.

Wat is die reaksie op daardie publikasie? Nadat die vise-president van ’n kinderhospitaal in Pennsilvanië, VSA, dit gelees het, het hy gesê dat hy van sy personeel verwag om dit te bestudeer en te gebruik. Hy het bygevoeg: “As ek nie kan sien dat hy gebruik is wanneer hy na my terugkom nie, wil ek ’n verduideliking hê!” Sommige regters het hulle hofbevele reeds aangepas, en hulle vereis dat geneeshere eers alle moontlike bloedlose plaasvervangers gebruik voordat hulle hulle tot bloed wend. Kinders is al sonder bloed behandel en het gesond huis toe gegaan.

’n Tipiese reaksie was dié van ’n regter in ’n kinderhof in Ohio, VSA. Hy was so beïndruk deur die Family Care-boek dat hy sewe bykomende eksemplare vir sy kollegas bestel het. Hy wysig sy hofbevele nou om die geneesheer se besorgdheid met die ouers se regte te balanseer, en hy bereik dit op twee maniere. Hy spesifiseer in sy hofbevel (1) dat die dokters eers alle alternatiewe vorme van behandeling moet gebruik voordat hulle hulle tot bloed wend en (2) dat die geneeshere hom moet verseker dat die bloed wat hulle gaan gebruik, getoets en sonder vigs en hepatitis is. In drie hofbevele wat hy sedert sy wysiging uitgereik het, is al drie kinders met welslae sonder bloedoortappings behandel.

Dr. Charles H. Baron, ’n professor in die regte aan die Boston-kollege se Regsfakulteit, het verlede jaar ’n verhandeling aan ’n vergadering van akademici by die Universiteit van Parys voorgelê. Die onderwerp was “Bloed, sonde en die dood: Jehovah se Getuies en die Amerikaanse Beweging vir Pasiëntregte”. In die verhandeling self het hy in die volgende paragraaf kommentaar gelewer oor die werk van die Getuies se Hospitaalskakelkomitees:

“Hulle het die Amerikaanse geneeskunde selfs al sover gekry om sommige van hulle beskouings in die lig van bykomende inligting te heroorweeg. Terselfdertyd het die hele Amerikaanse gemeenskap daarby baat gevind. Vanweë die werk van die Getuies se Hospitaalskakelkomitees is daar vir Jehovah se Getuies sowel as vir pasiënte in die algemeen ’n geringer moontlikheid dat hulle onnodig bloedoortappings gegee sal word. Pasiënte geniet in die algemeen groter wilsvryheid met betrekking tot ’n wye reeks besluite oor gesondheidsorg vanweë die werk wat die Getuies ter bevordering van die algemene regte van pasiënte gedoen het. En vryheid oor die algemeen, veral godsdiensvryheid, is bevorder deur die Getuies se toegewyde weerstand teen pogings om hulle te dwing om in stryd met hulle godsdiensbeskouings op te tree.”

Alles wat die Hospitaalskakelkomitees doen, hou dalk nie direk verband met die verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk nie, maar dit beantwoord beslis ’n direkte uitdaging van ons aanbidding in wat die eerste-eeuse bestuursliggaam een van die “noodsaaklike dinge” van ons heilige diens genoem het (Handelinge 15:28, 29). Maar dit is interessant hoe ons vrymoedige, dog waardige, uitreiking om te kommunikeer die weg gebaan het vir sommige mediese vakkundiges om positief op die Koninkryksboodskap te reageer. Verskeie lede van Hospitaalskakelkomitees het Bybelstudies met dokters begin wat hulle deur die komitee se bedrywighede ontmoet het, en twee van hierdie dokters is onlangs gedoop.

Met behulp van die Hospitaalskakelkomiteereëling word Jehovah se Getuies gehelp om Jehovah se volmaakte wet oor die onthouding van bloed te gehoorsaam, hulle onkreukbaarheid te behou en steeds die nodige mediese sorg te ontvang (Psalm 19:8). Daar word inderdaad steeds welslae behaal met hierdie strewe om die gaping wat eens bestaan het te oorbrug. Dokters en hospitale is nou beter ingelig oor hoe hulle beskikbare, bloedlose, mediese behandeling kan voorsien. Vir pasiënte, familielede, medegelowiges en hospitaalpersoneel lei dit tot iets wat almal wil hê—die gesonde herstel van die pasiënt.—Bygedra deur die Hospitaalinligtingsdienste by die Wagtoringgenootskap se wêreldhoofkwartier.

[Voetnoot]

a Net in Engels.

[Prent op bladsy 25]

’n Hospitaalskakelkomitee beraadslaag met ’n dokter

[Prent op bladsy 26]

Gesinsorg

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel