’n Koedoe steek leeus in die skande
VERLEDE jaar het ’n groot wildsbok—’n koedoebul—voor ’n luukse ruskamp op ’n Laeveldse wildplaas in Suid-Afrika gaan staan. Sy hele houding het van waaksaamheid en aggressie getuig, en dit was dus nie verbasend nie dat die leier van die plaaslike koedoes aanstoot geneem het aan hierdie astrante indringing in sy gebied. ’n Ooggetuie het die volgende oor hierdie koedoe se aanval gesê: “Hy het gesnork, op die grond gestamp en die aanvalsposisie ingeneem. Met gesakte horings het hy gestorm. Toe hy die koedoe tref, het hy hom doodgeskrik.” Die indringer het hom nie verroer nie. Die plaaslike koedoebul het weer gestorm. Steeds het niks gebeur nie. In ’n gefrustreerde woedebui en ’n stofwolk het die koedoe “al die bome in die omtrek afgebreek voordat hy padgegee het”. Hy het nie weer teruggekeer nie omdat hy blykbaar tot die slotsom gekom het dat die nuweling onoorwinlik is.
Die konings van die oerwoud het nie veel beter gevaar nie. Die veldwagter Carlson Mathebula het vertel dat 12 leeus die koedoe omsingel het. Hy het aangaande hulle ontmoeting met hom gesê: “Twee leeuwyfies het hom skielik begin bekruip. Met ’n groot gebrul het een op die koedoe se rug gespring terwyl die ander een hom van die kant aan sy nek probeer beetkry het. . . . Hulle het albei verskrik op die grond neergeval en doodstil bly lê. ’n Ander leeuwyfie het tot die stryd toegetree. Sy het na die koedoe gehardloop en hom met ’n kragtige veeghou na die bene probeer plattrek, maar die koedoe het net daar bly staan.” Die 12 leeus het so woedend geword omdat hulle nie hierdie groot koedoe kon plattrek nie dat “hulle ’n reënmeter, ’n tuinsproeier en tuinmeubels verwoes het voordat hulle druipstert weggesluip het”.
Die koedoe het, sonder om ’n spier te verroer, die plaaslike koedoekudde uit hulle gebied verdryf en ’n trop leeus op die vlug laat slaan. Die berig in die Sunday Times van Johannesburg verwys na hierdie koedoe as ’n superbok wat 300 kilogram weeg en van brons gemaak is. Mnr. Keith Calder, wat die bronskoedoe gegiet het, het gesê: “Dit is vir my ’n kompliment dat dit vir die leeus en die koedoe so realisties was.”