Ontmoet die ontwykende koedoe
Deur Ontwaak!-medewerker in Kenia
‘DIE ontwykende wat?’ vra jy. Die ontwykende koedoe! ’n Pragtige antiloop wat in die nasionale parke en natuurreservate van Oos-Afrika aangetref word. En ontwykend is die beste beskrywing vir hierdie uiters skugter dier. Kom ons gaan na die Tsavo- Nasionale Park in Kenia en kyk of ons een te sien kan kry.
Dit is in die middel van die oggend toe ons die westelike deel van die park binnegaan. Afrika se hoogste berg, Kilimandjaro, begroet ons oë. Sy majestueuse sneeupiek is een van die talle gesigte wat ons geniet terwyl ons deur hierdie pragtige reservaat ry. Nee, ons sal nie nou enige koedoes sien nie. Hulle beweeg net baie vroeg in die oggend, in die laatmiddag of snags rond om te wei. Gedurende die middaghitte rus hulle in bosagtige ruigtes. Om hulle te sien, sal ons dus kort na sonop, of ’n paar uur voor sononder, op die regte plek moet wees.
Teen sononder slaan ons ons tent op in ’n kampeerterrein aan die bopunt van ’n smal sanderige krans wat oor die Tsavorivier uitkyk. Teen sonop staan ons op, en ná ’n eenvoudige ontbyt ry ons stadig al met ’n paadjie langs. Kyk daar! Wil jy nou meer! ’n Koedoebul wat roerloos staan.
Kyk net hoe pragtig verlig die vroegoggendson hom! Dit is ’n mooi ram met ’n diep grys kleur. Sowat 13 of 14 smal regaf strepe strek oor sy lyf. ’n Opvallende wit vlek versier sy keel, en ’n wit streep die onderkant van sy nek. Die wit vlek tussen sy fluweelagtige oë en die wit strook rondom sy bek verleen karakter aan sy donker gesig. ’n Koel oggendbriesie laat die kort wit maanhare wat oor sy nek, skouers en rug strek, saggies golf. Twee horings, wat elk met drie sierlike draaie op- en uitwaarts kronkel, bekroon sy kop.
Die koedoe waarna ons kyk, is een van twee soorte wat in Afrika voorkom. Hy staan bekend as die kleiner koedoe. Sy ‘groter neef’, die groter koedoe, hou in die noorde van Kenia en word selde in Tsavo gesien. Behalwe dat hy groter is, kan die groter koedoe onderskei word aan die swaar bruin-en-wit-keelbaard wat soos ’n indrukwekkende maanhaarrif tot aan sy bors strek. Sy horings is swaarder en sy ore is na verhouding groter. Hy het nooit meer as agt wit strepe oor sy lyf nie.
Vroeë ontwikkeling en gebiedsafbakening
Wanneer ’n koedoekalfie gebore word, sal sy moeder hom dadelik skoon lek sodat hy nie enige reuk afgee waaraan roofdiere hom kan opspoor nie. Wanneer die moeder gaan wei, sal die bokkie dan gehoorsaam stil bly lê waar sy moeder hom gelaat het. Die moeder gee haar kalfie gereeld ’n “lek-bad” om hom reukloos te hou en sodoende teen roofdiere te beskerm. Maar op die tiende dag wanneer die kalfie aan plante begin knabbel, ontwikkel hy ’n liggaamsreuk. Aangesien hy dan sy spesiale beskerming teen opsporing verloor, vergesel hy sy moeder van daardie oomblik af oral waar sy gaan.
’n Opvallende eienskap van koedoes is dat hulle gebiedsgrense afbaken. Dit behels dat die bulle ’n bepaalde grondgebied uitkies en verdedig. Wanneer hy sy gebied afbaken, merk die bul die grense deur liggaamsuitskeidings op gras en struike te laat. Hy verdedig dan hierdie gebied deur enige ander bulle te verjaag wat hierdie afgebakende gebiedsgrense oortree. Wat van koeie? Nou kyk, hulle is nie indringers nie! Hulle is gaste wat welkom is om te bly. Trouens, daar kan selfs druk op hulle uitgeoefen word om te bly!
Bewys van intelligente ontwerp
Die instinktiewe gedrag van gebiedsafbakening hou die kuddes goed verspreid en dien as beskerming teen oorbeweiding. Knabbelende koedoes is dus verseker van ’n blywende voorraad van die blaarryke struike waarvan hulle so baie hou. Maar wat gebeur wanneer daar ’n droogte is?
Daphne Sheldrick, ’n bewaringsgesinde, verduidelik in die Oos-Afrikaanse Natuurvereniging se tydskrif Swara: “Gedurende swaar tye, wanneer kos en water skaars is, bring die Natuur ’n ingrypende verandering teweeg wat presies die teenoorgestelde van gebiedsafbakening is . . . , en dit is migrasie. Gebiedsafbakening leen hom tot afskeiding en ’n gereedheid om te veg en te paar; migrasie onderdruk albei hierdie basiese instinkte namate die behoefte aan groter saamhorigheid toeneem. Oorlewing word vir almal van die grootste belang, met die gevolg dat bulle en koeie in een kudde saamkom . . . in vredevolle gemengde samesyn. En dan, op ’n dag, asof op goddelike bevel, ontruim hulle ’n gebied voor die voet en dan vind daar ’n algemene uittog plaas.” Ja, hulle vertrek op soek na nuwe weivelde waar blaargewasse oorvloedig is!
Kan ’n onintelligente, ongerigte krag wat as die Natuur bekend staan sulke teenoorgestelde gedragspatrone uitdink en ontwikkel? Dit is gewis net ’n intelligente Meesterontwerper wat hierdie ingewikkelde instinktiewe gedrag in die koedoe kon inplant.
Onverwagte vertrek
Is jy nie nou bly dat jou nuuskierigheid oor die koedoe jou beweeg het om saam met ons te kom nie? Terwyl ons hom dophou waar hy gretig aan die struike knabbel, lyk hy glad nie so ontwykend nie! Maar hy het ons gewaar! Skielik roer sy neusvleuels en groot ore. Met ’n blafgeluid neem hy die loop die bosse in. Net toe ons ons opgehoue asems wou uitblaas, word ons weer verras! Asof uit die niet spring ’n vaalbruin koei agter hom aan. Sy het die hele tyd deur in ’n nabye ruigte gestaan! Haar kleur en bewegingloosheid het haar heeltemal met die omgewing laat saamsmelt.
Dit is hoe die vreedsame koedoe hier in die ongerepte Afrika aan die lewe bly. Sy beskerming is die instinktiewe vermoë om roerloos te staan en met sy omgewing saam te smelt. Geen wonder dat die koedoe so ontwykend is nie! Sy lewe hang daarvan af.