Die Bybelse beskouing
Hoe ver strek God se vergifnis?
“Ek dink nie God sal ooit my sondes vergewe nie. Hy sal my nooit wil hê ná alles wat ek gedoen het nie.”—Gloria.
DIT was vir Gloria maklik om vir ander te sê dat Jehovah hulle sondes kon vergewe.a Maar wanneer Gloria aan haar eie oortredinge gedink het, het dit vir haar gevoel asof sy veroordeel is. Dit het gelyk asof dit onmoontlik is om Jehovah se vergifnis te verkry.
Wanneer iemand besef dat hy iets verkeerd gedoen het of op die verkeerde lewensweg is, kan dit sy gewete pla. “Ek was uitgeput omdat ek die hele dag geween het”, het Dawid geskryf nadat hy gesondig het. “Ek het niks meer krag oor nie.” (Psalm 32:3, 4, Today’s English Version; vergelyk Psalm 51:5.) Gelukkig skep Jehovah behae daarin om sondes te vergewe. Hy is “gereed om te vergewe”.—Psalm 86:5, NW; Esegiël 33:11.
Jehovah sien egter die hart. Sy vergifnis is nie bloot op sentiment gegrond nie (Exodus 34:7; 1 Samuel 16:7). Die sondaar moet sy oortreding openlik erken, opregte berou toon en sy slegte weg as iets afstootliks en haatliks verwerp (Psalm 32:5; Romeine 12:9; 2 Korinthiërs 7:11). Slegs dan kan ’n oortreder vergifnis ontvang en “tye van verkwikking” van Jehovah af ervaar.—Handelinge 3:19.
Maar selfs nadat party berou getoon het, voel hulle steeds asof hulle veroordeel is. Moet hulle vir altyd ’n skuldlas dra? Watter vertroosting bevat die Bybel vir dié wat berou oor hulle sondes getoon het en dit laat vaar het, maar hulle steeds daaroor bekommer?—Psalm 94:19, NAV.
Verlig die las
Toe Dawid beangs was oor sy oortredinge het hy tot Jehovah gebid: “Aanskou my ellende en my verdriet, en spreek my vry van al my sondes” (Psalm 25:18, NW). Hier het Dawid nie net gevra dat Jehovah hom moet vergewe nie. Hy het gevra dat Jehovah hom van sy sondes ‘vryspreek’, dat hy dit oplig of dra, dit wegdra. Sonde het ernstige gevolge, en in Dawid se geval het dit ongetwyfeld die las van ’n geteisterde gewete ingesluit.
Die Israeliete is elke jaar sigbaar daaraan herinner dat Jehovah die nasie se sondes kon wegneem. Op die Versoendag het die hoëpriester sy hande op ’n bok se kop gelê, die sondes van die nasie daaroor bely en toe die bok ver weg die woestyn ingestuur. Enigeen wat teenwoordig was, kon sien hoe die nasie se sondes weggeneem word.—Levitikus 16:20-22.
Diegene wat berou oor hulle sondes getoon het, kan dus uit hierdie wete vertroosting put. Die verrigtinge op die Versoendag het ’n veel groter voorsiening vir die wegneem van sonde voorafgeskadu—die losprysoffer van Jesus Christus. Jesaja het profeties oor Jesus geskryf: ‘Hy het die sonde van baie gedra’ (Jesaja 53:12). Vorige sondes hoef dus nie swaar op die gewete te rus nie. Maar sal Jehovah later aan hierdie sondes terugdink?
Kwytgeskeld van skuld
Jesus het in sy modelgebed gesê: “Vergeef ons ons skulde” (Mattheüs 6:12). Die Griekse woord wat hier as “vergeef” vertaal word, is ’n vorm van ’n werkwoord wat “laat los” beteken. Die vergifnis van sonde word dus vergelyk met die loslating, of kwytskelding, van skuld.—Vergelyk Mattheüs 18:23-35.
Petrus het hieroor uitgewei toe hy gesê het: “Kom dan tot inkeer en bekeer julle, sodat julle sondes uitgewis kan word” (Handelinge 3:19). ‘Uitwis’ beteken om te vernietig of uit te vee. Dit verwys na ’n geskrewe dokument wat uitgevee word, ’n lei wat skoongevee word.—Vergelyk Kolossense 2:13, 14.
Diegene wat berou getoon het, hoef dus nie te vrees dat God betaling sal eis vir ’n skuld wat hy kwytgeskeld het nie. Hy sê: “Aan jou sondes dink Ek nie” (Jesaja 43:25; Romeine 4:7, 8). Wat beteken dit vir die berouvolle sondaar?
Die vlek word verwyder
Jehovah het deur middel van die profeet Jesaja gesê: “Al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol.”—Jesaja 1:18.
Pogings om ’n donker vlek van ’n kledingstuk te verwyder, is gewoonlik vrugteloos. Die vlek sal miskien ligter wees, maar sal nietemin sigbaar wees. Hoe vertroostend is dit tog om te weet dat Jehovah sondes wat so skel soos skarlaken of purper is so wit soos sneeu kan maak.—Vergelyk Psalm 51:9.
’n Berouvolle sondaar hoef dus nie te dink dat hy vir die res van sy lewe ’n vlek dra nie. Jehovah maak nie net die foute ligter nie, aangesien die berouvolle mens voortdurend in skande sal leef.—Vergelyk Handelinge 22:16.
Ondersteuning van ander
Hoewel Jehovah die las verlig, die skuld kwytskeld en die vlek van sonde verwyder, voel ’n berouvolle persoon dalk by tye tog oorweldig deur selfverwyt. Paulus het oor ’n berouvolle oortreder in die gemeente van Korinthe geskryf wat deur God vergewe is, maar wat ‘deur alte groot droefheid verteer kon word [“so hartseer word dat hy heeltemal moed verloor”, NAV] ’.—2 Korinthiërs 2:7.
Hoe kon hierdie persoon gehelp word? Paulus sê voorts: ‘Ek vermaan julle om die liefde aan hom te bevestig’ (2 Korinthiërs 2:8). Die woord wat Paulus vir “bevestig” gebruik het, is ’n regsterm wat “om te bekragtig” beteken. Ja, berouvolle persone wat Jehovah se vergifnis het, het ook mede-Christene se bekragtiging, of stempel van goedkeuring, nodig.
Dit is te begrype dat dit tyd sal neem. Die berouvolle persoon moet die oneer van sy sonde te bowe kom en ’n regverdige lewe begin lei wat ander daarvan sal oortuig. Hy moet die gevoelens van enigeen wat persoonlik deur sy vorige oortredinge geraak is geduldig verdra. Intussen kan hy, soos Dawid, vol vertroue wees dat Jehovah hom volkome vergewe het: “So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder [Jehovah] ons oortredinge van ons.”—Psalm 103:12.
[Voetnoot]
a Die naam is verander.
[Foto-erkenning op bladsy 18]
Return of the Prodigal Son by Rembrandt: Scala/Art Resource, N.Y.