Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w21 Junie bl. 26-30
  • Ek het stappe geneem om Jehovah gelukkig te maak

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ek het stappe geneem om Jehovah gelukkig te maak
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan(Studie-uitgawe) — 2021
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ONS PREEK IN LIBANON
  • ONS TREK NA ’N ANDER LAND
  • TRAGEDIE TREF ONS FAMILIE
  • BELANGRIKE BESLUITE
  • NOG ’N BAIE BELANGRIKE STAP
  • ’N LIEFLIKE VERRASSINKIE!
  • ONS TREK WEER
  • EK IS OOR NIKS SPYT NIE
  • Toe die berg ’n deel van die see probeer word het
    Ontwaak!—2000
  • God se seën duidelik in Venezuela
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Bly na aan Jehovah se organisasie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Teokratiese uitbreiding in Venezuela
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan(Studie-uitgawe) — 2021
w21 Junie bl. 26-30

LEWENSVERHAAL

Ek het stappe geneem om Jehovah gelukkig te maak

SOOS VERTEL DEUR DYAH YAZBEK

Dyah Yazbek, toe hy jonk was.

OP ’N SONNIGE oggend in 1984 het ek nagedink oor ’n artikel in die Wagtoring toe ek op pad werk toe was. Ons het ’n gemaklike lewe gehad en in ’n welaf area in Caracas, Venezuela, gebly. Die artikel het gegaan oor hoe ons bure ons sien. Terwyl ek na die huise om ons gekyk het, het ek gewonder: ‘Sien my bure my net as ’n suksesvolle man wat by ’n bank werk? Of sien hulle my as ’n bedienaar van God wat sy familie ondersteun deur by ’n bank te werk?’ Ek het besef dat my bure my net gesien het as ’n suksesvolle man wat by ’n bank werk, en ek het nie daarvan gehou nie. Daarom het ek besluit om iets daaromtrent te doen.

Ek is op 19 Mei 1940 in die dorp Amioûn in Libanon gebore. ’n Paar jaar later het ons gesin na die stad Tripoli getrek waar ek in ’n liefdevolle, stabiele gesin grootgeword het wat lief was vir Jehovah. Ek was die jongste van vyf kinders: drie dogters en twee seuns. Om geld te maak was nie vir my ouers die belangrikste nie. Ons lewe het gedraai om Bybelstudie, Christelike vergaderinge en om ander te help om God te leer ken.

Daar was ’n hele paar gesalfde Christene in ons gemeente. Een van hulle was Michel Aboud, wat die vergadering gehou het wat ons op daardie stadium die boekstudie genoem het. Hy het die waarheid in New York geleer en het die predikingswerk in 1921 in Libanon begin. Ek onthou veral hoe hy twee jong Gileadgegradueerdes – Anne en Gwen Beavor – gehelp het en hoe respekvol hy teenoor hulle was. Hulle het ons goeie vriende geword. Jare later was ek baie bly om Anne weer in die Verenigde State te sien. ’n Ruk later het ek ook vir Gwen gesien. Op daardie stadium het sy en haar man, Wilfred Gooch, by die Bethel in Londen, Engeland, gedien.

ONS PREEK IN LIBANON

Daar was net ’n paar Getuies in Libanon toe ek jonk was. Maar ons het ander ywerig oor die Bybel geleer. Ons het dit gedoen al het godsdiensleiers ons teëgestaan. Ek kan nog ’n paar van die dinge wat met ons gebeur het, baie goed onthou.

Ek en my suster Sana het eendag velddiens gedoen in ’n woonstelblok. ’n Priester het toe opgedaag terwyl ons met die mense gepraat het. Iemand moes hom geroep het. Die priester het my suster begin beledig. Hy het aggressief geword en Sana van die trappe af gestoot, en sy het seergekry. Iemand het toe die polisie gebel, en hulle het onmiddellik gekom en seker gemaak dat Sana die nodige hulp kry. Hulle het die priester na die polisiestasie toe geneem, waar hulle agtergekom het dat hy ’n vuurwapen dra. Die polisiehoof het hom gevra: “Wat is jy nou eintlik? ’n Godsdiensleier of ’n bendeleier?”

Nog iets wat ek baie goed onthou, is toe ons gemeente ’n bus gehuur het om in ’n dorpie te gaan preek wat ver weg van die stad af was. Ons het ’n lekker tyd in die bediening gehad totdat die plaaslike priester gehoor het wat ons doen en ’n groep mense bymekaargekry het om ons aan te val. Hulle het ons selfs met klippe gegooi, en my pa was toe beseer. Sy gesig was vol bloed. Hy en my ma het na die bus toe teruggegaan, en die res van ons het angstig agter hulle aangestap. Maar ek sal nooit vergeet wat my ma gesê het terwyl sy my pa se gesig skoongemaak het nie. Sy het gesê: “Jehovah, vergewe hulle asseblief, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”

En eenkeer toe ons ons familie in ons tuisdorp gaan besoek het, was daar ’n prominente godsdiensleier, ’n biskop, by my oupa se huis. Die biskop het geweet dat my ouers Jehovah se Getuies is. Al was ek maar net ses jaar oud, het hy reguit na my gekyk en gesê: “Jy, hoekom is jy nog nie gedoop nie?” Ek het gesê dat ek maar net ’n kind was en dat ek eers meer oor die Bybel moes leer en sterk geloof moes opbou voordat ek gedoop kon word. Hy het nie van my antwoord gehou nie, en hy het vir my oupa gesê dat ek disrespekvol was.

Maar ons het darem nie baie van hierdie slegte ondervindinge gehad nie omdat die mense in Libanon oor die algemeen vriendelik en gasvry is. Daarom het ons baie lekker Bybelbesprekings gehad en ’n hele paar Bybelstudies gehou.

ONS TREK NA ’N ANDER LAND

Toe ek nog op skool was, het ’n jong broer van Venezuela Libanon kom besoek. Hy het ons gemeente se vergaderinge bygewoon en hy het met my suster Wafa begin uitgaan. Later het hulle getrou en in Venezuela gaan bly. In haar briewe het Wafa my pa probeer oortuig om met die hele familie Venezuela toe te trek. Sy het dit gedoen omdat sy ons baie gemis het. Uiteindelik het sy dit reggekry!

Ons het in 1953 in Venezuela aangekom en in Caracas, naby die president se paleis, gebly. Omdat ek ’n seuntjies was, was ek baie opgewonde wanneer die president in sy spoggerige kar verbygery het. Maar dit was nie vir my ouers maklik om aan te pas by die nuwe land se taal, kultuur, kos en klimaat nie. Om die waarheid te sê, hulle was nog besig om hulle voete te vind toe iets verskrikliks gebeur het.

Van links na regs: My pa. My ma. Ek in 1953 toe ons familie Venezuela toe getrek het

TRAGEDIE TREF ONS FAMILIE

My pa het siek begin voel. Dit was vir ons baie vreemd omdat hy nog altyd so ’n sterk en gesonde persoon was. Ons kon nie onthou dat hy al ooit siek was nie. Toe is hy met pankreaskanker gediagnoseer, en hy het ’n operasie gehad. Ongelukkig het hy ’n week later gesterf.

Woorde kan nie beskryf hoe hartseer ons gevoel het nie. Ek was maar net 13 jaar oud. Ons was in skok, en dit het gevoel asof ons hele wêreld uitmekaar uit val. Vir ’n hele ruk was dit vir my ma baie moeilik om te aanvaar dat haar man nie meer daar was nie. Maar ons het besef dat ons met ons lewe moes aangaan, en met Jehovah se hulp het ons dit reggekry. Toe ek 16 was en skool klaargemaak het, wou ek my familie baie graag ondersteun.

My suster Sana en haar man, Rubén, het my baie gehelp om nader aan Jehovah te kom

Intussen het my suster Sana getrou met Rubén Araujo, ’n Gileadgegradueerde wat na Venezuela toe teruggekom het. Hulle het besluit om New York toe te trek. My familie het besluit dat ek universiteit toe moet gaan, en daarom het ek New York toe getrek om by my suster en haar man te gaan bly. Hulle het my baie gehelp om nader aan Jehovah te kom. En daar was ook ’n hele paar geestelik volwasse broers in ons Spaanse gemeente in Brooklyn. Twee van hulle wat ek leer ken het en baie waardeer het, was Milton Henschel en Frederick Franz, wat al twee by die Bethel in Brooklyn gedien het.

Toe ek gedoop is in 1957

Teen die einde van my eerste jaar op universiteit het ek begin wonder oor wat ek met my lewe wil doen. Ek het artikels in die Wagtoring gelees oor Christene wat doelwitte in Jehovah se diens gehad het, en ek het diep daaroor nagedink. Ek het gesien hoe gelukkig die pioniers en die Betheliete in ons gemeente was, en ek wou net so gelukkig wees. Maar ek was nog nie gedoop nie. Kort daarna het ek besef hoe belangrik dit is om my lewe aan Jehovah toe te wy. Ek het dit toe gedoen, en op 30 Maart 1957 is ek gedoop.

BELANGRIKE BESLUITE

Nadat ek daardie belangrike stap geneem het, het ek gedink aan nog ’n stap wat ek wou neem – die voltydse diens. Ek wou bitter graag ’n pionier word, maar ek het geweet dat dit moeilik sou wees om hierdie stap te neem. Kon ek pionier terwyl ek op universiteit studeer? Ek het besluit om op te hou met my studies en na Venezuela toe terug te gaan om te pionier. Maar toe ek my besluit aan my familie moes verduidelik, was dit asof die briewe tussen New York en Venezuela heen en weer gevlieg het.

In Junie 1957 het ek na Caracas teruggegaan. Maar ek kon sien dat my familie finansieel sukkel. Hulle het nog iemand in die familie nodig gehad wat finansieel kon bydra. Hoe kon ek help? Ek is werk by ’n bank aangebied, maar ek wou so graag pionier. Dit was mos hoekom ek teruggetrek het. Ek was vasbeslote om albei te doen. Ek het jare lank voltyds gewerk en as ’n pionier gedien. Ek was nog nooit so besig of so gelukkig nie!

Ek het selfs meer vreugde gevind toe ek Sylvia, ’n pragtige Duitse suster, ontmoet het en met haar getrou het. Sylvia was baie lief vir Jehovah. Sy het saam met haar ouers Venezuela toe getrek. Ons het uiteindelik twee kinders gehad: ons seun, Michel (Mike) en ons dogter, Samira. My ma het by ons ingetrek, en ek het vir haar ook begin sorg. Al moes ek ophou pionier om vir my familie te sorg, het ek nog steeds die pioniergees gehad. Wanneer ons ook al kon, het ek en Sylvia gedurende die vakansies hulppionierdiens gedoen.

NOG ’N BAIE BELANGRIKE STAP

Die kinders was nog op skool toe ek die ondervinding gehad het wat ek aan die begin van hierdie artikel genoem het. Ek moet sê, my lewe was baie gemaklik, en mense wat by banke gewerk het, het my gerespekteer. Maar ek wou nog steeds hê dat mense my as ’n kneg van Jehovah moet sien. Ek het bly dink aan wat ek kon doen sodat mense my so sou sien. Daarom het ek en my vrou gesit en ons finansies bespreek. As ek ophou werk, sou die bank my ’n groot bedrag uitbetaal. Ons het geen skuld gehad nie, en as ons ons lewe vereenvoudig het, sou ons vir ’n hele ruk genoeg geld hê.

Dit was nie maklik om daardie stap te neem nie, maar my dierbare vrou en my ma het my besluit ten volle ondersteun. So ek sou weer eens die voorreg hê om as ’n pionier te dien. Ek was so opgewonde! Dit het gelyk asof niks in my pad staan nie. Maar kort voor lank het ons nuus gekry wat ons almal onkant gevang het.

’N LIEFLIKE VERRASSINKIE!

Dyah en Sylvia saam met hulle pasgebore seuntjie, Gabriel.

Ons derde kind, Gabriel, was ’n lieflike verrassinkie

Eendag het ons dokter bevestig dat Sylvia swanger is. Dit was ’n groot verrassing vir ons al twee! Dit was fantastiese nuus, maar ek het gedink aan die besluit wat ek geneem het om ’n pionier te word. Sou ek dit nog steeds kon doen? Ons het gou gewoond geraak aan die idee en het daarna begin uitsien om ons nuwe familielid te verwelkom. Maar wat van my planne?

Nadat ons ons doelwitte bespreek het, het ons besluit om by ons oorspronklike plan te bly. Ons seun Gabriel is in April 1985 gebore. Nietemin het ek uit my werk bedank en in Junie 1985 as ’n pionier begin dien. Later het ek die voorreg ontvang om ’n lid van die Takkomitee te word. Maar omdat die tak nie in Caracas was nie, moes ek twee tot drie keer ’n week omtrent 80 kilometer ry.

ONS TREK WEER

Die takkantoor was in die dorp La Victoria, en daarom het ons as ’n familie besluit om daarnatoe te trek sodat ons nader aan Bethel kon wees. Dit was vir ons ’n groot stap. Ek kan nie eers sê hoe baie ek my familie waardeer en bewonder nie. Hulle gesindheid het baie gehelp. My suster Baha was gewillig om vir my ma te sorg. Mike was al getroud, maar Samira en Gabriel het nog by die huis gebly. So hulle sou hulle vriende in Caracas moes agterlaat. En my dierbare vrou, Sylvia, moes gewoond raak aan ’n klein dorpie in plaas van die besige hoofstad. En ons almal moes daaraan gewoond raak om in ’n kleiner huis te bly. So die trek van Caracas na La Victoria was nie maklik nie.

Maar dinge het weer verander. Gabriel het getrou, en Samira het op haar eie gaan bly. Toe is ek en Sylvia in 2007 Bethel toe genooi, waar ons tot vandag toe nog dien. Mike, ons oudste seun, dien as ’n ouerman en hy pionier saam met sy vrou, Monica. Gabriel is ook ’n ouerman en hy dien in Italië saam met sy vrou, Ambra. Samira dien as ’n afstandsvrywilliger by Bethel en ’n gewone pionier.

Van links na regs: Saam met my vrou, Sylvia, by die takkantoor in Venezuela. Ons oudste seun, Mike, saam met Monica. Ons dogter, Samira. Ons seun Gabriel saam met Ambra

EK IS OOR NIKS SPYT NIE

Ja, dwarsdeur my lewe het ek baie belangrike stappe geneem. Maar ek is oor niks spyt nie. Ek sou weer dieselfde besluite maak. Ek is baie dankbaar vir al die toewysings en voorregte wat ek in Jehovah se diens gehad het. Oor die jare het ek gesien hoe belangrik dit is om jou verhouding met Jehovah sterk te hou. Maak nie saak of ons groot of klein stappe moet neem nie, hy kan ons die vrede gee “wat alle denke oortref” (Fil. 4:6, 7). Ek en Sylvia geniet ons heilige diens by Bethel en ons voel dat Jehovah al ons stappe geseën het, want ons het stappe geneem om Jehovah gelukkig te maak.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel