Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 12/22 bl. 6-13
  • Eenheid wat die wêreld verstom

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Eenheid wat die wêreld verstom
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • In Moskou en Kiëf
  • Hoe eenheid verkry word
  • Waarnemers was verstom
  • Byeenkomshoogtepunte
  • Watter verskil maak dit?
  • Verslaggewer in Kiëf prys die Getuies
    Ontwaak!—1994
  • Verbaas oor wat hulle gesien het
    Ontwaak!—1991
  • Byeenkomste—bewys van ons broederskap
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Rusland se eerste internasionale byeenkoms van Jehovah se Getuies
    Ontwaak!—1992
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 12/22 bl. 6-13

Eenheid wat die wêreld verstom

DIE wêreld is geskok deur die skielike val van Kommunisme en meer onlangs deur die steeds toenemende etniese geweld. Tog het miljoene mense in Oos-Europa terselfdertyd verstom gestaan oor die verenigde, vreugdevolle bedrywigheid van ’n groep wat bo rasse- en nasionale vyandighede uitgestyg het—Jehovah se Getuies.

Jehovah se Getuies het daarin geslaag om in aanbidding verenig te bly selfs toe oorlog rondom hulle gewoed het. In 1991, toe ’n internasionale skare van 14 684 Getuies in Zagreb, Kroasië, byeengekom het, het ’n polisieman gesê: “Dit sal goed wees om vir die massamedia te wys wat in hierdie stadion gebeur, net hier, waar ons Serwiërs, Kroate, Slowene, Montenegryne en ander mense sien wat vreedsaam langs mekaar sit.”

Daardie selfde jaar het ’n verslaggewer by ’n byeenkoms in Siberië gesien hoe Russe ’n pas gedoopte man van die Boerjate-volk omhels. Omdat hy geweet het dat ware vriendskappe tussen mense van sulke uiteenlopende volke iets seldsaams is, het hy gevra: “Hoe het julle dit reggekry om hierdie nasionale skeidsmure te oorkom?”

Hierdie somer het Jehovah se Getuies 45 byeenkomste in Oos-Europa en Asië gehou, met internasionale byeenkomste in Moskou en Kiëf. Oor die 368 000 het die 45 byeenkomste bygewoon—meer as 112 000 in die voormalige Sowjetunie en bykans 11 000 in vier stede van die voormalige Joego-Slawië.

Ten spyte van die gevegte in hulle streke kon ongeveer 215 Getuies die byeenkoms in Belgrado, Serwië, bywoon wat van 19 tot 22 Augustus gehou is. Die opkoms was 3241. ’n Verslaggewer het gesê: “Groepe om Sarajevo self was in staat om die byeenkoms by te woon. Hulle het ’n bus gehuur en 56 het gekom. Hulle was van Lukavica, Pale, Ilidža en Vogošća. Vyf mense het ook van Benkovac af gekom. Nog ’n noemenswaardige feit is dat 23 van die 174 wat by die byeenkoms gedoop is uit hierdie krisisgebiede gekom het.”

In Moskou en Kiëf

Op 28 Julie 1993 het die voorblad van The New York Times ’n groot foto van Jehovah se Getuies in Moskou gehad met die opskrif: “Nuutgevonde godsdiensvryheid in Rusland het bekeerlinge vir ’n massadoop as Jehovah se Getuies in Moskou se Lokomotief-stadion byeengebring.”

Die Times het berig: “Lede met trane in hulle oë omhels die nat nuwelinge. In teenstelling met die normale gedrag by die Lokomotief-stadion is daar niemand wat rook, vloek of dronk is nie.” Getuies uit Rusland en uit meer as 30 ander lande het die stadion vier dae lank met gemak gevul, en die opkomshoogtepunt was 23 743.

Die internasionale byeenkoms van Jehovah se Getuies in Kiëf, die hoofstad van die Oekraïne, was selfs groter. ’n Hoogtepunt van 64 714 het in die Republikeinse Stadion, een van die grootstes in Oos-Europa, byeengekom. Die voorblad van die Evening Kiev het berig: “Jehovah se Getuies . . . word nie net deur hulle blou lapelkaarte met die woorde ‘Goddelike Onderrigting’ daarop verenig nie, maar deur ware geloof.”

Hoe eenheid verkry word

’n Bejaarde Getuie uit die Oekraïne het by die Kiëf-byeenkoms duidelik getoon hoe sulke eenheid moontlik is. Sy het na die hemel gewys en gesê: “Jehovah.” Toe het sy met haar arms ’n sirkel gevorm en ’n enkele vinger opgehou. Haar boodskap was duidelik: ‘Ons is almal een, verenig deur die Goddelike onderrigting van Jehovah God.’

Dit is interessant dat die Encyclopædia Britannica oor Jehovah se Getuies in die voormalige Sowjetunie geskryf het en getoon het waarom die Getuies verenig is. Dit het verduidelik: “Hulle ken hulle [Bybelse] leerstellings, is ywerige proselietmakers en rig hulle hele lewe in ooreenstemming met hulle godsdiensoortuiging.” Hoe gepas was dit dus dat die tema vir hierdie somer se byeenkomste van Jehovah se Getuies “Goddelike Onderrigting” was!

Jesus Christus, wat Goddelike onderrigting voorgestaan het, het die aandag op ’n belangrike verenigende beginsel gevestig toe hy in gebed van sy navolgers gesê het: “Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie.” Ja, Jehovah se Getuies se standpunt van neutraliteit verenig hulle, net soos Jesus versoek het toe hy gebid het: “Dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees.”—Johannes 17:16-21.

Die volgende ondervinding van ’n afgevaardigde uit Spanje toon hoe afgeskeidenheid van die wêreld God se volk verenig. Op pad na die byeenkoms in Moskou het hy langs ’n man uit Afganistan gesit wat verduidelik het dat selfs mense van dieselfde godsdiens mekaar in die burgeroorlog in daardie land doodmaak. “Watter politieke party staan jou godsdiens voor?” het hy toe gevra. “Nie een nie”, was die antwoord. Aangesien Jehovah se Getuies polities neutraal is, is hulle nie by etniese botsings betrokke wat een volk teen ’n ander laat veg nie.

Byeenkomsgangers wat van die voormalige Sowjetrepubliek Kazakstan af gereis het, het persoonlik ervaar hoe skrikwekkend oorlog kan wees. Hulle trein het in die geweervuur van strydende magte beland. Hoe bly was hulle tog om veilig in Kiëf aan te kom en die liefde en eenheid onder die talle etniese groepe uit baie nasies in die stadion te ervaar!

Etlike Duitse en Russiese byeenkomsgangers het veral waardeer wat Goddelike onderrigting vir hulle gedoen het. ’n Paar dekades gelede het hulle mekaar as jong mans tydens die Tweede Wêreldoorlog probeer doodmaak. Maar gedurende die byeenkoms in Kiëf is hulle in ware aanbidding verenig, soos op bladsy 7 gesien kan word.

Waarnemers was verstom

Moskou, ’n stad met nagenoeg negemiljoen inwoners, het voorheen min geleentheid gehad om Jehovah se Getuies te leer ken. Baie mense het weliswaar gehoor dat hulle onder Kommunisme vervolg en opgesluit is. Daar is ook teen die noordelike somer van hierdie jaar 18 gemeentes in Moskou en 13 in Kiëf gestig wat omsien na die toenemende aantal mense wat die vergaderinge van die Getuies bywoon. Maar nou het die plaaslike mense tienduisende byeenkomsgangers met lapelkaarte by die byeenkomsterreine en oral in hulle stede gesien! Baie waarnemers was verwonderd.

Die hoofinspekteur van die brandweer in Moskou het gesê: “Hierdie byeenkoms is baie indrukwekkend. Dit is wonderlik dat soveel mense van verskillende nasionaliteite ’n gemeenskaplike taal kan vind. Ek is verstom oor die sindelikheid en ordelikheid van julle mense. Ek werk al 20 jaar lank by hierdie stadion en het nog nooit so iets gesien nie.”

Een toergids het gesê: “Wanneer ’n groep onder my sorg geplaas word, sien ek dikwels hoe verdeeld hulle is sodra hulle die lughawe verlaat. Dit was nie die geval met Jehovah se Getuies nie.” ’n Besoeker aan die byeenkoms in Kiëf het uitgeroep: “Julle is waarlik verenig. Hoe verskil dit tog van die situasie buite die stadion se mure!”

Toe die Moskou-byeenkoms op Donderdag, 22 Julie, begin het, het etlike konstruksiewerkers wat bo-op ’n groot bouterrein daar naby gestaan het volgens waarnemers vir ’n rukkie opgehou werk. Hulle was blykbaar beïndruk deur die meer as 23 000 stemme wat saamgesing het. Hulle sou selfs meer verstom gewees het as hulle geweet het dat die liedere in ver oor die twaalf verskillende tale gesing is. Selfs dowe Getuies wat nie met hulle stemme kon sing nie, het deur middel van gebaretaal met hulle hande “gesing”.

Moskou se groot Rooi Plein, net buite die mure van die Kremlin, was saans ’n gewilde bymekaarkomplek. Die aand voor die byeenkoms begin het (dit het eers ná tienuur donker geword), het honderde Getuies van verskillende rasse en nasionaliteite mekaar vreugdevol omhels. ’n Verslaggewer van die Moscow Times het toevallig daar aangekom en was nuuskierig. “Wie verteenwoordig julle?” het hy gevra. Toe hy die antwoord hoor, het hy gesê: “Ek het nog nooit so ’n gelukkige skare van verskillende volke op die Rooi Plein gesien nie. Gewoonlik is so ’n groot groep hier om teen iets te betoog of te protesteer.”

Inwoners van Moskou sowel as Kiëf was werklik beïndruk deur die duisende byeenkomsgangers met lapelkaarte wat mekaar opgewonde gegroet en omhels het en met mekaar probeer praat het. ’n Sakeman uit Iran wat Kiëf besoek het, het ’n Getuie uit die Verenigde State genader en gesê: “Julle het iets wonderliks. Ek hou julle mense al die afgelope paar dae dop. Ek wil van julle lektuur in Engels hê om te lees.” Hy het verduidelik dat hy na die byeenkoms sou kom as hy nie die volgende oggend na Iran toe moes terugkeer nie.

Oral in Moskou en Kiëf—veral op straat, op die pleine en in moltreine—het byeenkomsgangers mense genader en Bybeltraktate en -brosjures aangebied. Elke aand kon ’n mens Getuies naby Lenin se graf op die Rooi Plein sien staan terwyl hulle stemmig met verbygangers gesels en traktate versprei. Die aanbod is gewoonlik geredelik aanvaar, dikwels met ’n hartlike glimlag. Wanneer lektuur op ’n moltrein aangebied is, het die persoon gewoonlik dadelik begin lees. Dit was nie ongewoon om vyf of ses mense in ’n moltrein Bybeltraktate te sien lees nie.

Talle moltreinpassasiers het dikwels hulle waardering uitgespreek nadat hulle die boodskap gelees het. ’n Middeljarige man het in gebroke Engels gesê: “Ons het nog nie die geleentheid gehad om van sulke dinge te leer nie. Baie dankie.” In ’n ander geval was ’n jong man en sy ma so beïndruk deur die boodskap dat hulle saam met die byeenkomsafgevaardigde van die moltrein afgeklim het om die gesprek voort te sit.

Daar was meer as 50 000 Getuie-afgevaardigdes in Kiëf wat uit meer as 30 lande gekom het, en almal het verblyf nodig gehad. Die meeste van hulle het in hotelle, woonhuise en skole tuisgegaan, maar ongeveer 1800 is op ses bote gehuisves. ’n Huishoudster op een van die bote het ’n briefie vir die Getuies geskryf. Sy het gesê: “Dit lyk vir my of julle van ’n ander planeet af gekom het. Julle is so wonderlik en eensgesind dat julle ’n seën is. Dit kan wees dat julle die kinders van God is. Ek dink die heeltyd daaraan.”

Hoe gepas is dit tog dat Jehovah se Getuies hulle groot byeenkomste kon hou en dat amptenare sowel as die mense sulke goeie Christelike eienskappe en gedrag ter verheerliking van God kon aanskou! Plaaslike amptenare wat saam met die Getuies gewerk het, het niks anders as lof gehad vir hulle doeltreffendheid, hoflikheid en goeie samewerking met die stadion se bestuur en ander stadsafdelings nie.

“Die stadion is in 13 jaar nie so goed skoongemaak nie”, het ’n amptenaar in Kiëf gesê. ’n Polisieman daar het uitgeroep: “Wat ’n wonderlike klomp mense! Dis soos om in ’n nuwe wêreld te wees. Ek kan eenvoudig nie verstaan waarom julle vervolg is nie.”

Byeenkomshoogtepunte

Vir die Getuies in Moskou en Kiëf was die vernaamste hoogtepunt moontlik die teenwoordigheid van duisende afgevaardigdes uit baie ander lande, waaronder lede van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies. Die vreugde om net saam te wees, om met so ’n groot verskeidenheid nasionaliteite in vreedsame aanbidding verenig te wees, was onbeskryflik. Toe die slotsprekers by Moskou en Kiëf gesê het dat ons grootste dank Jehovah God toekom, wat die byeenkoms moontlik gemaak het, het die gehoor opgestaan en etlike minute lank ononderbroke hande geklap totdat die spreker met sy toespraak voortgegaan het.

Ander byeenkomshoogtepunte was die toesprake wat lede van die Bestuursliggaam elke dag in Engels gehou het en die kort verslae wat deur afgevaardigdes uit verskeie lande gegee is. Hierdie Engelse programdele is tegelykertyd in baie tale vertaal. In Kiëf is dit byvoorbeeld in 16 tale vertaal! Wanneer byeenkomsgangers dus in daardie gedeeltes gesit het wat aan ’n spesifieke taalgroep toegewys is, kon hulle daardie deel van die program in hulle eie taal hoor.

Nog ’n byeenkomshoogtepunt was die vrystelling van die nuwe brosjure Wat is die doel van die lewe? in Russies en Oekraïns. Dit is veral waardeer dat die Teokratiese Bedieningskool-handleiding, wat gebruik word om Jehovah se Getuies toe te rus om Bybelwaarhede met groter welslae te verkondig, in Russies vrygestel is. My boek met Bybelverhale, wat Bybelgeskiedenis op ’n bondige, chronologiese wyse aanbied en veral vir die jongeres geskryf is, is ook in Russies vrygestel. Daar is reeds meer as 36 miljoen eksemplare van hierdie boek in meer as 80 tale gedruk.

Die enorme getal nuwe dissipels wat gedoop is, was waarlik ’n byeenkomshoogtepunt. Die feit dat baie van dié wat gedoop is jongmense was, het nie ongemerk verbygegaan nie. By ’n perskonferensie in Kiëf het ’n medewerker van die koerant Osvita gesê: “Die aansienlike aantal jongmense by julle byeenkoms is opmerklik. Hulle is vriendelik, aantreklik en goed gemanierd. Hoe kry julle dit reg? Het julle ’n spesiale beleidsrigting vir jongmense? Ek werk met jongmense en wil baie graag weet.”

Hoewel toewyding aan God op kennis gegrond is en nie op emosie nie, is die doopplegtigheid self nogtans ’n emosionele geleentheid wat die hart roer. In Moskou het die skare gestaan en hande klap van die oomblik wat die 1489 doopkandidate na die drie doopbaddens begin beweeg het totdat almal meer as ’n uur later gedoop is.

In Kiëf, waar daar meer as 64 000 mense was, is ses baddens aan die een kant van die stadion vir die doop ingerig. Met ses of meer Getuies wat in elke doopbad met die doop gehelp het, is daar elke twee minute die ekwivalent van ’n groterige gemeente gedoop. En tog het die doop langer as twee uur geduur! By die “Goddelike Wil”-Internasionale Byeenkoms in 1958 in New York is 7136 gedoop. Maar in Kiëf het die 7402 nuut geordende Getuies van Jehovah uit die Oekraïne en ander voormalige republieke van die Sowjetunie dit die grootste Christelike doopplegtigheid gemaak wat bekend is. Die doopkandidate was uitsluitlik Russies-sprekende mense uit gebiede waar die werk van Jehovah se Getuies tot onlangs toe nog verbied was, en dít dekades lank!

’n Hoogtepunt van die byeenkoms in Belgrado was die teenwoordigheid van byeenkomsgangers uit oorloggeteisterde, beleërde gebiede. “Hierdie byeenkomsgangers het keer op keer hulle innige dank uitgespreek vir die voorreg wat hulle gehad het om na die byeenkoms toe te kom”, het ’n byeenkomswerker gesê. “Maar ons voel dat dit eintlik vir die res van ons bemoedigender was om hulle te kon ontmoet en hulle liefde en ywer vir Bybelwaarheid te kon sien.”

By baie van die “Goddelike Onderrigting”-Streekbyeenkomste is ’n roerende brief gelees wat verlede winter uit Sarajevo geskryf is. “Die temperatuur is ongeveer minus 15 grade Celsius”, het die skrywer gesê. “Ek is saam met my vrou en twee seuns en het nie elektrisiteit en ook nie genoeg brandhout nie . . . Ons kan masjiengeweervuur en ontploffings hoor. Maar ons hart voel rustig en warm vanweë die waarheid en ons goeie verhouding met Jehovah. . . . Ons smeek julle dat julle sal aanhou om tot Jehovah te bid dat ons sal volhard en al hierdie verskrikkinge standvastig in die geloof sal verduur. Ons bid vir julle!”

Watter verskil maak dit?

Wanneer die Getuies gesien word teen die agtergrond van die verdeeldheid wat onder die wêreld se godsdienste duidelik is, vorm hulle ’n skerp teenstelling daarmee. Maar watter verskil kan hulle werklik maak? ’n Redaksionele artikel het met betrekking tot ’n Getuiebyeenkoms van jare gelede gesê: “Dit is voldoende om te sê dat dit ’n einde aan bloedvergieting en haat sou beteken as die hele wêreld volgens die [Bybelse] oortuiging van Jehovah se Getuies geleef het, en liefde sou as koning heers.”

Tog het die meerderheid van die mensdom hulle nooit deur Goddelike onderrigting laat rig nie. In die eerste eeu het hulle selfs geweier om na God se Seun, Jesus Christus, te luister. Is dit dus te veel om te verwag dat ons eendag ’n verenigde wêreld sal sien? Hoe is so iets moontlik?

[Venster op bladsy 12]

STREEKBYEENKOMSTE IN OOS-EUROPA EN ASIË

Land Opkomshoogtepunt Doopsyfer

Albanië (1 streekbyeenkoms) 598 39

Bulgarye (1 streekbyeenkoms) 704 45

Die Tsjeggiese Republiek 20 025 620

(2 streek- byeenkomste)

Die voormalige Sowjetunie

Estonië (2 streekbyeenkomste) 4 732 383

Rusland (3 streekbyeenkomste) 32 582 2 454

Die Oekraïne 69 333 7 797

(2 streekbyeenkomste)

Kazakstan (1 streekbyeenkoms) 5 678 604

Die voormalige Joego-Slawië

Kroasië (1 streekbyeenkoms) 5 003 157

Macedonië (1 streekbyeenkoms) 642 27

Serwië (1 streekbyeenkoms) 3 241 174

Slowenië (1 streekbyeenkoms) 1 961 69

Hongarye (5 streekbyeenkomste) 22 191 798

Pole (13 streekbyeenkomste) 152 371 4 352

Roemenië (9 streekbyeenkomste) 36 615 2 375

Slowakye (2 streekbyeenkomste) 13 215 473

TOTALE: 368 891 20 367

[Prent op bladsy 7]

Meer as 64 000 het in die Republikeinse Stadion in Kiëf byeengekom

[Prent op bladsy 7]

Mense uit Duitsland en die Oekraïne wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog vyande was, is nou deur Bybelwaarheid verenig

[Prente op bladsy 8, 9]

Meer as 23 000 verenigde aanbidders in die Lokomotief-stadion, Moskou

7402 is in Kiëf gedoop, en 1489 in Moskou

Buitelandse afgevaardigdes het tonne kos vir diegene gebring wat gebrek ly

Bo en middel: Baie etniese groepe het vreedsaam in eenheid byeengekom Onder: Getuieniswerk op die Rooi Plein

[Prent op bladsy 10]

Byeenkomsgangers was verheug om die “Bybelverhale”-boek, die “Skoolhandleiding” en die nuwe brosjure in hulle taal te ontvang

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel