Lewensverhaal
’n Ligdraer vir baie nasies
DIE VERHAAL VAN GEORGE YOUNG SOOS VERTEL DEUR RUTH YOUNG NICHOLSON
“Waarom dan die stilte in ons preekstoele? . . . Watter soort manne sou ons wees as ons stilbly nadat ons bewys het dat hierdie dinge waarvan ek skryf die waarheid is? Laat ons nie die mense in onkunde hou nie, maar laat ons die waarheid verkondig sonder om apologeties of geheimsinnig te wees.”
HIERDIE woorde het deel uitgemaak van my pa se brief van 33 bladsye waarin hy vra dat sy naam uit die kerkregister verwyder word. Die jaar was 1913. Van toe af het hy ’n baie interessante lewe begin lei wat tot gevolg gehad het dat hy as ’n ligdraer vir baie nasies gedien het (Filippense 2:15). Vandat ek ’n klein dogtertjie was, het ek verhale versamel oor my pa se ondervindinge wat ek by familielede en uit geskiedkundige materiaal gekry het, en vriende het my gehelp om die verhaal van sy lewe saam te stel. My pa se lewe herinner my in baie opsigte aan die lewe van die apostel Paulus. Soos daardie “apostel vir die nasies”, was my pa altyd gereed om te reis om Jehovah se boodskap aan mense van elke land en eiland te verkondig (Romeine 11:13; Psalm 107:1-3). Kom ek vertel julle van my pa, George Young.
Die vroeë jare
My pa was die jongste seun van John en Margaret Young, Skotse Presbiteriane. Hy is op 8 September 1886 gebore, kort nadat die gesin van Edinburg, Skotland, af na Brits-Columbië in die weste van Kanada getrek het. Sy drie ouer broers—Alexander, John en Malcolm—is ’n paar jaar tevore in Skotland gebore. Marion, die seuns se jonger suster, vir wie hulle die troetelnaam Nellie gegee het, was twee jaar jonger as my pa.
Die kinders het dit geniet om op ’n plaas in Saanich, naby Victoria, Brits-Columbië, groot te word. Terselfdertyd het hulle geleer om verantwoordelik te wees. Wanneer hulle ouers dus Victoria toe was en teruggekeer het, was die werkies buite die huis gedoen en was die huis netjies.
Mettertyd het my pa en sy broers in mynbou asook in die houtbedryf begin belangstel. Die Young-broers het ’n goeie reputasie opgebou as manne wat grond geïnspekteer het om te sien hoeveel hout dit kon lewer en ook as houtkopers en -verkopers. My pa het die finansiële transaksies behartig.
Uiteindelik het my pa se liefde vir geestelike dinge hom laat besluit om ’n Presbiteriaanse predikant te word. Maar om en by daardie tyd het preke deur Charles Taze Russell, die eerste president van Zion’s Watch Tower Tract Society, wat in die koerant verskyn het ’n groot invloed op sy lewe gehad. Wat my pa geleer het, het hom beweeg om die bedankingsbrief wat aan die begin gemeld is te skryf.
My pa het op ’n vriendelike maar duidelike manier Bybelverse gebruik om die kerkleerstellings dat die mensesiel onsterflik is en dat God mensesiele vir ewig in ’n helse vuur sal martel te weerlê. Hy het ook die leerstelling van die Drie-eenheid blootgelê en bewys dat dit nie van Christelike oorsprong is nie en dat dit glad nie deur die Skrif gestaaf word nie. Van toe af het hy in navolging van Jesus Christus aan die Christelike bediening begin deelneem en nederig al sy vermoëns en krag tot Jehovah se heerlikheid gebruik.
In 1917 het my pa, onder leiding van die Wagtoringgenootskap, as ’n pelgrim begin dien, soos reisende verteenwoordigers van Jehovah se Getuies destyds genoem is. In stede en dorpe oor die hele Kanada het hy toesprake gehou en die rolprent- en skyfievertoning aangebied wat bekend gestaan het as die “Fotodrama van die Skepping”. Teaters was stampvol vir my pa se besoeke. Die rooster vir sy pelgrimsbesoeke het tot 1921 in The Watchtower verskyn.
’n Koerant in Winnipeg het berig dat die evangelis Young 2 500 mense toegespreek het en dat baie nie in die saal kon inkom nie omdat dit so vol was. In Ottawa het hy oor die onderwerp “Hel toe en terug” gepraat. Daar het ’n bejaarde man gesê: “Toe hy klaar was, het George Young ’n ry geestelikes na die verhoog genooi om die onderwerp met hom te bespreek, maar nie een van hulle het beweeg nie. Ek het toe geweet dat ek die waarheid gevind het.”
My pa het soveel geestelike bedrywighede moontlik gedurende sy pelgrimsbesoeke probeer inpas. Daarna het hy gejaag om die trein te haal na nog ’n plek wat hy moes besoek. Wanneer hy per motor gereis het, was hy dikwels lank voor ontbyt op pad na sy volgende toewysing. My pa was nie net ywerig nie, maar het ook die reputasie gehad dat hy ’n bedagsame man was, en hy was bekend vir sy Christelike dade en vrygewigheid.
Van die talle vroeë streekbyeenkomste wat hy bygewoon het, was die een wat in 1918 in Edmonton, Alberta, gehou is veral ’n onvergeetlike byeenkoms. Sy hele gesin was daar vir Nellie se doop. Dit was ook die laaste keer dat die seuns almal saam was. Twee jaar later het Malcolm aan longontsteking gesterf. Soos sy drie broers en sy vader, het Malcolm die hoop op hemelse lewe gehad, en hulle het almal tot hulle dood aan God getrou gebly.—Filippense 3:14.
Hy besoek ander lande
Nadat my pa in September 1921 ’n predikingsreis deur Kanada voltooi het, is hy deur Joseph F. Rutherford, die destydse president van die Wagtoringgenootskap, gevra om na die Karibiese Eilande te gaan. Oral waar my pa die “Fotodrama van die Skepping” vertoon het, is dit goed ontvang. Uit Trinidad het hy geskryf: “Die plek was stampvol, en baie mense moes weggewys word. Die tweede aand het die mense die gebou volgepak.”
Toe, in 1923, is my pa na Brasilië gestuur. Daar het hy groot gehore toegespreek en soms gehuurde tolke gebruik. The Watchtower van 15 Desember 1923 het berig: “Van 1 Junie tot 30 September het broer Young 21 openbare vergaderinge gehou, met ’n gesamentlike bywoningsyfer van 3 600; 48 klasvergaderinge, met ’n bywoningsyfer van 1 100, en hy het tot 5 000 stukke gratis lektuur in Portugees versprei.” Baie het belangstelling getoon toe my pa die toespraak “Daar leef miljoene vandag wat nooit sal sterf nie” gehou het.
Toe nuwe fasiliteite op 8 Maart 1997 in Brasilië toegewy is, het die toewydingsbrosjure gesê: “1923: George Young kom in Brasilië aan. Hy organiseer ’n takkantoor in die middestad van Rio de Janeiro.” Hoewel Bybellektuur in Spaans beskikbaar was, was daar ook ’n behoefte aan lektuur in Portugees, die hooftaal van Brasilië. Op 1 Oktober 1923 is daar dus begin om Die Wagtoring in Portugees uit te gee.
My pa het in Brasilië talle merkwaardige ondervindinge gehad. Een hiervan was toe hy ’n welgestelde Portugese man met die naam Jacintho Pimentel Cabral ontmoet het, wat aangebied het dat hulle vergaderinge in sy huis kan hou. Jacintho het weldra Bybelwaarheid aangeneem en later ’n lid van die takkantoorpersoneel geword. My pa het ook Manuel da Silva Jordão, ’n jong Portugese tuinier, ontmoet. Hy het ’n openbare toespraak gehoor wat my pa gehou het, en dit het hom beweeg om na Portugal terug te gaan om as ’n kolporteur te dien, soos voltydse bedienaars van Jehovah se Getuies destyds genoem is.
My pa het baie per trein gereis deur die hele Brasilië, en hy het daarin geslaag om belangstellendes te vind. Op een van sy reise het hy Bony en Catarina Green ontmoet, en hy het ongeveer twee weke lank by hulle gebly en die Skrif aan hulle verduidelik. Omtrent sewe in die gesin het toe hulle toewyding aan Jehovah deur waterdoop gesimboliseer.
Nog iemand met wie hy in 1923 in aanraking gekom het, was Sarah Bellona Ferguson. In 1867 het sy as ’n jong meisie saam met haar broer Erasmus Fulton Smith en die res van die gesin uit die Verenigde State na Brasilië getrek. Sedert 1899 het sy gereeld Die Wagtoring deur die pos ontvang. My pa se besoek was die langverwagte geleentheid waarop Sarah, haar vier kinders en iemand wat my pa tannie Sallie genoem het, gedoop kon word. Dit was op 11 Maart 1924.
Kort voor lank het my pa die predikingswerk in ander Suid-Amerikaanse lande begin doen. Op 8 November 1924 het hy van Peru af geskryf: “Ek het pas 17 000 traktate in Lima en Callao versprei.” Daarna is hy na Bolivia toe om traktate daar te gaan versprei. Aangaande daardie besoek het hy geskryf: “Ons Vader seën die poging. ’n Indiaan het my gehelp. Hy woon by die boloop van die Amasone. Hy neem 1 000 traktate en ’n klomp boeke saam met hom terug.”
Weens my pa se pogings is saadjies van Bybelwaarheid in baie lande in Sentraal- en Suid-Amerika gesaai. The Watchtower van 1 Desember 1924 het berig: “George Young is nou al meer as twee jaar lank in Suid-Amerika. . . . Dit was die voorreg van hierdie liewe broer om die boodskap van die waarheid in Punta Arenas, in die Straat van Magellaan, te verkondig.” My pa het ook die voortou geneem met die predikingswerk in lande soos Costa Rica, Panama en Venezuela. Hy het aangehou selfs al het hy malaria opgedoen en is sy gesondheid aangetas.
Daarna na Europa
In Maart 1925 het my pa per skip na Europa vertrek, waar hy gehoop het om 300 000 Bybeltraktate in Spanje en Portugal te versprei en om reëlings te tref sodat broer Rutherford openbare toesprake kon hou. Maar nadat my pa in Spanje aangekom het, het hy gewonder of dit raadsaam sou wees vir broer Rutherford om sulke toesprake te hou terwyl ’n atmosfeer van godsdiensonverdraagsaamheid daar geheers het.
In antwoord daarop het broer Rutherford geskryf en Jesaja 51:16 aangehaal: “Ek het my woorde in jou mond gelê en in die skaduwee van my hand jou verberg; om die hemel te plant en die aarde te grond en aan Sion te sê: My volk is jy!” Toe het my pa tot die slotsom gekom: “Dit is sekerlik die Here se wil dat ek voortgaan en wat volg aan hom oorlaat.”
Op 10 Mei 1925 het broer Rutherford deur ’n tolk sy toespraak in die Novedades-teater in Barcelona gehou. Meer as 2 000 mense het dit bygewoon, insluitende ’n staatsamptenaar en ’n spesiale wag op die verhoog. Daar is op ’n soortgelyke wyse in Madrid te werk gegaan, en die bywoningsyfer was 1 200. Die belangstelling wat deur hierdie toesprake gewek is, het daartoe gelei dat ’n takkantoor in Spanje geopen is, en soos die 1978 Yearbook of Jehovah’s Witnesses sê, was dit “onder leiding van George Young”.
Op 13 Mei 1925 het broer Rutherford in Lissabon, Portugal, ’n toespraak gehou. Sy besoek daar was ook ’n groot sukses, ondanks pogings deur die geestelikes om die vergadering te ontwrig deur te skreeu en stoele stukkend te slaan. Ná broer Rutherford se toesprake in Spanje en Portugal het my pa voortgegaan om die “Fotodrama” te vertoon, en hy het ook gereël dat Bybellektuur in hierdie lande gedruk en versprei word. In 1927 het hy in sy verslag gesê dat die goeie nuus “in elke stad en dorp in Spanje verkondig is”.
Predikingswerk in die Sowjetunie
My pa se volgende sendingtoewysing was die Sowjetunie, waar hy op 28 Augustus 1928 aangekom het. ’n Brief wat hy op 10 Oktober 1928 geskryf het, sê gedeeltelik:
“Sedert ek na Rusland toe gekom het, kan ek waarlik diep uit die hart bid: ‘Laat u koninkryk kom.’ Ek leer die taal, maar dit gaan baie stadig. My tolk is ’n besonderse man, ’n Jood, maar hy glo in Christus en is lief vir die Bybel. Ek het al ’n paar interessante ondervindinge gehad, maar ek weet nie hoe lank ek toegelaat sal word om hier te bly nie. Verlede week het ek kennis gekry om binne 24 uur die land te verlaat, maar ek het die saak uitgestryk sodat ek langer kan bly.”
Hy het in aanraking gekom met ’n paar Bybelstudente in Kharkof, wat nou ’n groot stad in die Oekraïne is, en die hartlike assosiasie wat hulle geniet het, het trane van blydskap in hulle oë laat opwel. Hulle het elke aand tot middernag toe ’n klein byeenkoms gehou. My pa het later oor hierdie ontmoeting met die broers geskryf en gesê: “Die arme broers, die paar boeke wat hulle gehad het, is weggeneem en die owerheid is onvriendelik, en tog is hulle gelukkig.”
My pa se bediening in die Sowjetunie is in ’n spesiale brosjure gemeld wat vir diegene gegee is wat die toewyding van die nuwe takfasiliteite in St. Petersburg, Rusland, op 21 Junie 1997 bygewoon het. Die brosjure sê dat my pa na Moskou toe gestuur is, en dit berig dat hy toestemming gekry het “om 15 000 eksemplare van die boekies Vryheid vir die volke en Waar is die dode? vir verspreiding in Rusland te druk”.
Nadat hy van Rusland af teruggekeer het, het my pa die toewysing ontvang om pelgrimswerk in die Verenigde State te doen. In Suid-Dakota het hy aangegaan by die huis van Nellena en Verda Pool, vleeslike susters wat later sendelinge in Peru geword het. Hulle het innige waardering uitgespreek vir my pa se ywerige bediening en gesê: “Broers in daardie ou dae het beslis die pioniergees gehad terwyl hulle na daardie vreemde plekke gegaan het met baie min aardse besittings, maar met harte vol liefde vir Jehovah. Dit is wat hulle beweeg het om soveel te doen.”
Die huwelik en ’n tweede reis
Deur die jare heen het my pa met Clara Hubbert van Manitoulin-eiland, Ontario, gekorrespondeer. Hulle het albei die streekbyeenkoms in Columbus, Ohio, op 26 Julie 1931, bygewoon toe die Bybelstudente die naam Jehovah se Getuies aangeneem het (Jesaja 43:10-12, NW). ’n Week later is hulle getroud. Weldra het my pa weer vertrek, op sy tweede sendingreis deur die Karibiese Eilande. Daar het hy gehelp om vergaderinge te organiseer en om ander op te lei om aan die huis-tot-huis-bediening deel te neem.
My ma het foto’s, poskaarte en briewe uit Suriname, St. Kitts en baie ander plekke ontvang. In die briewe het hy geskryf oor die vordering van die predikingswerk, en hy het soms besonderhede ingesluit oor voëls, diere en plante in die spesifieke land waar hy was. In Junie 1932 het my pa sy werk op die Karibiese Eilande voltooi en, soos gewoonlik op die tussendek van ’n skip, na Kanada toe teruggereis. Daarna het hy en my ma saam aan die voltydse predikingswerk deelgeneem en die winter van 1932/33 in die Ottawa-omgewing saam met ’n groot groep ander voltydse bedienaars deurgebring.
’n Kort gesinslewe
In 1934 is my broer, David, gebore. Toe hy nog klein was, het hy op my ma se hoededoos gestaan en geoefen om sy “toesprake” te hou. Hy het regdeur sy lewe, soos sy pa, ywer vir Jehovah getoon. Die drie van hulle het per motor gereis, met klanktoerusting op die dak vasgemaak, terwyl hulle gemeentes van die ooskus van Kanada na die weskus besoek het. Ek is in 1938 gebore terwyl my pa in Brits-Columbië gedien het. David onthou hoe my pa my op die bed neergesit het en hoe my pa, my ma en David om die bed gekniel het terwyl my pa ’n dankgebed vir my gedoen het.
In die winter van 1939 het ons in Vancouver gebly terwyl my pa gemeentes in daardie omgewing besoek het. Onder die talle briewe wat ons deur die jare heen versamel het, was ’n brief van 14 Januarie 1939 wat hy geskryf het terwyl hy in Vernon, Brits-Columbië, was. My pa het dit geskryf aan Clara, David en Ruth en gesê: “Net ’n soentjie en ’n drukkie.” In die brief was ’n boodskap vir elkeen van ons. Hy het gesê dat die oes daar groot is, maar dat die werkers min is.—Matteus 9:37, 38.
’n Week nadat my pa van sy toewysing in Vancouver af teruggekeer het, het hy by ’n vergadering ineengestort. ’n Diagnose daarna het getoon dat hy ’n kankergewas op die brein gehad het. Op 1 Mei 1939 het hy sy aardse loopbaan voltooi. Ek was nege maande oud, en David was amper vyf jaar oud. Ons geliefde moeder, wat ook die hemelse hoop gehad het, het tot haar dood op 19 Junie 1963 aan God getrou gebly.
Hoe my pa gevoel het oor sy voorreg om die goeie nuus in baie lande te verkondig, word pragtig weergegee in een van sy briewe aan my ma. Hy het deels gesê: “Jehovah het my goedgunstiglik toegelaat om na hierdie lande te gaan om as ’n lig die Koninkryksboodskap uit te dra. Mag sy heilige naam geloof word. Sy heerlikheid skyn deur swak gesondheid en onbevoegdheid en swakheid heen.”
Nou dien George en Clara Young se kinders, kleinkinders en agterkleinkinders ook ons liefdevolle God, Jehovah. Daar is vir my gesê dat my pa dikwels Hebreërs 6:10 aangehaal het, wat sê: “Want God is nie onregverdig sodat hy julle werk sal vergeet en die liefde wat julle vir sy naam getoon het . . . nie.” Ons het ook nie my pa se werk vergeet nie.
[Prent op bladsy 23]
My pa, aan die regterkant, saam met sy drie broers
[Prente op bladsy 25]
My pa (wat staan) saam met broer Woodworth, Rutherford en Macmillan
Onder: My pa (heel links) in ’n groep saam met broer Russell
[Prente op bladsy 26]
My pa en ma
Onder: Hulle troudag
[Prent op bladsy 27]
Saam met David en my ma ’n paar jaar ná my pa se dood