Wat is die New Age-beweging?
DIT is nie ’n organisasie nie, en tog bevorder honderde organisasies die leringe daarvan. Dit het geen sentrale gesagstruktuur nie, en tog het dit waarskynlik duisende filosowe en leermeesters. Dit het nie ’n amptelike boek van dogmas en opvattinge nie, en tog kan die volgelinge daarvan hulle oortuiging in feitlik elke openbare biblioteek ter wêreld verder ontwikkel. Dit het geen persoonlike god wat aanbid moet word nie, en tog bevorder dit dikwels die idee van ’n god wat oral gevind kan word.
Wat is dit? Dit is die New Age-beweging: ’n los vermenging van godsdienstige, kulturele, sosiale, politieke en wetenskaplike ideologieë wat met ’n intense belangstelling in die Oosterse mistiek, die paranormale, die okkulte en selfs sommige soorte moderne sielkunde gekombineer is. Die mengsel bestaan onder andere uit geloof in die astrologie, reïnkarnasie, lewe in die hemelruim, evolusie en lewe ná die dood. Besorgdheid oor die omgewing en gesondheid is ook belangrike bestanddele.
Enigiemand kan by hierdie beweging aansluit. Daar is geen inwydingsritus of doop nie. Mense hoef ook nie hulle godsdiens op te gee om daaraan te behoort nie. Baie mense hou daarenteen nie daarvan om met die term “New Age” geïdentifiseer te word bloot omdat hulle aan sommige van die New Age-beweging se idees glo of omdat hulle van die sogenaamde New Age-musiek of -kuns geniet nie.
Aanhangers identifiseer hulleself selde as ondersteuners van die New Age-beweging. Die uitdrukking “New Age” word in werklikheid meestal deur die media gebruik. Deesdae gebruik New Age-boeke, -winkels, -seminare en -opleidingsprogramme selde die term. Die Library Journal verduidelik dat “te veel mediadekking in die laat tagtigerjare ’n ongunstige reaksie oor die meer omstrede elemente van die New Age veroorsaak het (VVV’s, kommunikasie met geeste, die gebruik van kristalle in genesing, ens.); dit word weerspieël in die feit dat vername uitgewersmaatskappye . . . en selfs New Age-drukkerye die term New Age al hoe minder gebruik”. Die New Age-denke kan gevolglik ’n invloed op baie mense hê sonder dat hulle dit eers besef.
Wat is nuut daaromtrent?
Baie mense beskou die New Age-beweging as ’n moderne verskynsel. Volgens professor Carl Raschke van die Universiteit van Denver is New Age-denke in wese “’n uitvloeisel van die kontrakultuur van die sestigerjare”. Ander analiste sê ook dat die sestigerjare, met die hippies se soeke na vryheid en waarheid, die begin van die New Age-beweging was. Baie voormalige hippies, wat nou in hulle veertiger- en vyftigerjare is, soek steeds na daardie waarheid wat hulle al so lank ontwyk. Maar hulle soeke word nie meer verwerp as die wisselvallige gier van tieners nie. Baie van hulle is beroepsmense op hoog aangeskrewe terreine van die kennis, is polities aktief en word nou as verstandige lede van die gemeenskap beskou.
Gedurende die sewentiger- en tagtigerjare het hulle hulle intellektuele en finansiële middele gebruik om hulle soeke voort te sit. Wat was die gevolg? Hulle mengelmoes van opvattinge is allerweë met byval en respek ontvang. Die media het gou besef wat gebeur, met die gevolg dat daar ’n algemene bewuswording van die New Age-filosofie was.
Daar is in werklikheid baie min omtrent die New Age-opvattinge wat nuut is. Die filosofie daarvan word byvoorbeeld hoofsaaklik op die Oosterse mistiek gegrond wat al duisende jare oud is. Beskou net ’n paar New Age-idees.
Die New Age-hoop
Met die jaar 2000 wat net om die draai is, word die idee van ’n beter toekoms, ’n beter millennium, al hoe gewilder. ’n Belangrike opvatting is dat die hedendaagse gemeenskap soos ons dit ken deur ’n Utopiese gemeenskap vervang sal word.a Volgens New Age-leermeesters sal dit bewerkstellig word deur konvensionele denke radikaal te verander deur middel van kennis van die mistiek wat tot in onlangse jare verborge was of verontagsaam is. Hulle sê dat hierdie nuwe era van harmonie die mens sy volle potensiaal sal laat ontwikkel en universele, geestelike vrede sal inlui.
Hierdie hoop is blykbaar hoofsaaklik op die voorspellings van sterrewiggelaars gegrond wat op ons dag wys as die drempel tussen die verbygaande era van die Visse en die komende era van die Waterdraer. Voorstanders van hierdie teorie beweer dat die sterreteken van die Visse al bykans 2000 jaar lank ’n negatiewe uitwerking op die mens het. Hulle beskuldig die Christendom daarvan dat hulle in die besonder vir die skepping van ’n materialistiese en agterlike samelewing verantwoordelik is. Die Christendom word daarvan beskuldig dat hulle verhinder dat die waarheid vooruitgang maak. Maar vandag kan daardie waarheid na bewering in die okkulte gevind word en sal dit gedurende die naderende era van die Waterdraer, die era van geestelike verligting, die nuwe era, duidelik gemaak word.
Daar is verdeeldheid onder ondersteuners van die New Age-beweging oor die vraag of hierdie nuwe gemeenskap deur onpersoonlike buiteaardse magte of deur mensepogings tot stand gebring sal word. Volgens een teorie sal “ ’n ras gemuteerde New Age-Homo sapiens, wat uit genetiese saad verrys wat 3500 jaar gelede deur verligte wysgere geplant is, binnekort bloei en die wêreld van hebsug red”.—The Wall Street Journal, 11 Januarie 1989.
So ’n hoop op ’n goue era, Utopia, of nuwe wêreld, is egter niks nuuts nie. Die legendes van feitlik elkeen van die groot kulture omvat die hoop op ’n toekomstige Utopiese gemeenskap. Hierdie opvatting het in die Sumeriese, Griekse, Romeinse en Skandinawiese mitologieë voorgekom. Die Encyclopedia of Religion sê: “Die hunkering na ’n utopia waar daar nie meer armoede is nie en waar vrede en voorspoed hoogty vier, is al sedert pre-Ch‘in-tye (voor 221 v.G.J) by uitstek ’n integrale deel van die Chinese godsdiens.” Die oudste heilige boek, die Bybel, praat van ’n millennium wanneer die mensdom volmaaktheid sal bereik en oorlog, misdaad, pyn en die dood uitgewis sal word.—Openbaring 21:1-4.
’n Godsdiens wat gerig is op die self
In haar outobiografiese rolprent Out on a Limb staan die beroemde aktrise en New Age-skryfster Shirley MacLaine met uitgestrekte arms op ’n winderige strand en roep sy uit: “Ek is God! Ek is God!” Net soos sy bevorder baie ondersteuners van die New Age-beweging die soeke na ’n hoër self en die idee dat elkeen in wese ’n god is. Hulle leer dat mense bloot hulle bewustheid moet verhoog om hulle goddelikheid te vind.
Sodra dit bereik is, beweer hulle, word die werklikheid van ’n onderlinge verbondenheid tussen alles in die heelal duidelik—alles is god, en god is alles. Dit is geensins ’n nuwe idee nie. Antieke godsdienste van Mesopotamië en Egipte het aan die godheid van diere, water, die wind en die hemel geglo. Meer onlangs het Adolf Hitler ander na bewering aangemoedig om die “sterk, manlike opvatting van God in die Natuur, God in ons eie volk, in ons bestemming, in ons bloed” aan te neem.
Die New Age-kultuur is deurdrenk van lektuur, seminare en opleidingsprogramme wat oor selfpotensiaal en selfverbetering handel. “Ek moet in voeling met my innerlike self kom”, is ’n gewilde leuse. Mense word aangemoedig om absoluut alles te probeer wat hulle kan help om hulle volle potensiaal te bereik. Een skrywer het in die tydskrif Wilson Quarterly gesê die “beweging se sentrale lering is ‘dat dit nie saak maak wat jy glo nie solank jy welslae daarmee behaal’”.
Margot Adler, ’n New Age-leermeester, verduidelik dat baie van die vroue wat by die New Age-vrouebewegings aansluit dit “om baie persoonlike redes [doen]. . . . Hulle haat hulle liggaam, hulle haat hulleself. Hulle sluit by hierdie groepe aan wat eintlik vir hulle sê: ‘Jy’s die Godin, jy’s wonderlik.’”
Die tydskrif New York beskryf een groep se soeke na die hoër self: “’n Vrou sing-praat: ‘Ons is die leermeesters van die Nuwe Daeraad. Ons is die belangrike mense.’ Ander deelnemers, wat gehoringde hoofbedekkings, geveerde maskers en dun rokke dra, dans deur die woud terwyl hulle grom en gebare maak, ween en kerm.”
Gesuiwerde okkulte
Sommige New Age-idees bevorder ’n nuwe, gesuiwerde beskouing van die okkulte. Baie ondersteuners van die New Age-beweging vereenselwig satanisme nie meer met die okkulte nie. ’n Skryfster in die tydskrif Free Inquiry sê: “Daar is al hoe meer beoefenaars van die toorkuns, en nie een van hulle is aanhangers van Satanisme nie.”
’n Onlangse opname in Duitsland het getoon dat daar 10 000 bedrywige hekse in daardie land is. Selfs kinders word op ’n subtiele wyse na die okkulte gelok. Die Duitse boek Der Griff nach unseren Kindern (Die poging om ’n houvas op ons kinders te kry) verduidelik dat “kinders deur kinderdramakassette gewoond raak aan die nuwe beeld van die heks as ’n normale vrou wat die toorkuns vir goeie dade gebruik”. Die boek sê voorts: “Die aandag van selfs klein kinders word dus op ’n New Age-weg gevestig wat hulle na die bonatuurlike kan lei.”
In haar boeke staan Shirley MacLaine die idee voor dat die okkulte bloot verborge kennis is, en die feit dat dit verborge is, beteken nie dat dit nie die waarheid is nie. Hierdie filosofie het talle mense aan die versoeking laat toegee om met eksotiese spiritistiese gebruike, soos waarsêery, astrologie, telepatie en kommunikasie met die geeste, te eksperimenteer. Laasgenoemde staan al duisende jare as spiritistiese mediumskap bekend. Maar ondersteuners van die New Age-beweging noem dit “kanalisering”. Volgens hulle teorie kies die geeste van die dooies sekere mense om hulle kanale van kommunikasie met die mensdom te wees.
Hierdie sogenaamde menslike kanale kan na willekeur in ’n beswyming val en kan deur te praat of te skryf boodskappe van “verligting” oordra wat na bewering van die dooies of van buiteaardse wesens af kom. Geeste van die dooies word as meesterwysgere beskou wat op die regte tyd wag om te reïnkarneer. Intussen lei hulle die mensdom na bewering na ’n nuwe era.
Baie ondersteuners van die New Age-beweging vergader gereeld om te luister na wat hierdie sogenaamde meesters deur hulle kanale te sê het. En gelowiges het ’n keuse van geeste wat hulle kan raadpleeg. Onder die geeste wat kwansuis vandag praat, is die gees van John Lennon en Elvis Presley, buiteaardse wesens met name soos Attarro en Rakorczy, en ’n 35 000 jaar oue kryger van die mitiese Atlantis met die naam Ramtha.
Die New Age en gesondheid
’n Toenemende aantal mediese dokters meen dat pasiënte nie bloot soos stukkende masjiene behandel moet word nie en dat daar aan die persoon se verstandelike en emosionele gesondheid aandag geskenk moet word. Hierdie benadering staan as holistiese medisyne bekend, en dit hou nie noodwendig met die New Age-stroming verband nie. Maar baie ondersteuners van die New Age-beweging het holistiese medisyne gretig aangeneem. Die boek The Cosmic Self verduidelik dat hulle die behandeling van die pasiënt as ’n eenheid, “’n lewende organisme met ’n liggaam, verstand en gees”, voorstaan sonder om noodwendig die mediese instelling te verwerp.
Ondersteuners van die New Age-beweging beweer dat goeie gesondheid buite die gebied van die konvensionele medisyne gevind kan word. “Die plek waar die meeste mense vir die eerste keer met New Age-idees in aanraking kom, is in die wêreld van alternatiewe medisyne”, sê die Britse koerant The Herald. En die mees ongewone idees word ondersoek. Die Australiese veearts en skrywer Ian Gawler sê byvoorbeeld dat kanker deur meditasie genees kan word. Ander genesingsmetodes wat dikwels met die term New Age geïdentifiseer word, is onder andere astrologiese diagnose, uitstralingsanalise, hipnoterapie, psigiese chirurgie en “vorige lewens”-terapie. Hierdie genesingsmetodes word dikwels in gespesialiseerde tydskrifte bevorder wat oor gesondheid, natuurlike geneesmiddels, vitamiene, oefening en voeding handel.
Die New Age en kristalle
Een gewilde metode van New Age-genesing behels die gebruik van kristalle en edelstene, soos kwarts, ametis, topaas, robyn, opaal en smarag. Die New Age-juwelier Uma Silbey sê: “’n Mens kan deur die geskiedenis heen voorbeelde vind van kulture wat geglo het dat kwarts psigiese energie en genesingskragte kan vergroot.” Sy voeg by: “Die Sumeriërs, die Majas en ander beskawings het kwartskristalle vir genesingsdoeleindes gebruik.”
Hoe word die kristalle gebruik? Kristalterapeute beweer dat fisiese en verstandelike siektes genees kan word deur kwarts en ander edelstene op spesifieke dele van die liggaam te plaas. Katrina Raphaell, ’n New Age-kristalkenner, verduidelik dat kristalle “onder die kussing geplaas kan word wanneer ’n mens slaap om verhewe en profetiese drome te inspireer. Hulle kan in genesing gebruik word om wisselvallige emosies te stabiliseer, gekwelde gemoedere te sus en wanbalanse in die liggaam te help genees. Hulle kan gedurende die kraam- en geboorteproses vir bykomende krag vasgehou word.”
Die New Age en die omgewing
Die New Age-beweging is “skoon en groen en die ding om te doen”, sê TSBeat, ’n Britse tydskrif vir tieners. ’n Daadwerklike deelname aan die bevordering van ekologiese bewustheid en omgewingsbeskerming het tot die positiewe beeld van die New Age-beweging bygedra, en hierdie omgewingsvriendelike boodskap het baie mense na sy leringe aangetrek. Maar die New Age-beweging se besorgdheid oor die omgewing word dikwels in die vorm van openlike natuuraanbidding uitgedruk, en die rituele daarvan is verwant aan primitiewe seremonies wat aan die moedergodin gewy was.
Is hierdie hedendaagse uitdrukking van die antieke mistiek die antwoord op ons probleme? Sal die planeet deur die wysheid van hekse en buiteaardse wesens gered word? Sal ’n nuwe era van vrede en voorspoed ooit kom?
[Voetnoot]
a Utopia: “’n Absoluut volmaakte plek, veral in sy sosiale, politieke en morele aspekte.”—The American Heritage Dictionary of the English Language.
[Venster op bladsy 6]
Shirley MacLaine, die New Age en Ramtha
“DIE astrale dimensie was ’n werklikheid selfs al kon ons dit nie sien of in lineêre terme meet nie. Daar is ’n groter werklikheid as ons ‘waarneembare’ bewuste werklikheid. Dit is wat as die nuwe era van denke begin bekend staan het. ’n Nuwe era van bewustheid. . . .
“Ek het erkende mediums besoek wat geesgidse van die astrale vlak opgeroep het. Ek het verhoudinge met daardie ‘entiteite’ ontwikkel. . . . Een was ondeurgrondeliker as al die ander. Sy naam was . . . Ramtha die Verligte Een. . . . Hy het gesê dat hy een inkarnasie gedurende die tydperk van Atlantis gehad het en gedurende daardie leeftyd algehele bewuswording bereik het. . . . Toe ek in Ramtha se oë gekyk het, het ek myself hoor sê: ‘Was jy my broer tydens jou inkarnasie in Atlantis?’
“. . . Trane het uit sy oë gestroom. ‘Ja, my geliefde’, het hy gesê, ‘en jy was my broer.’”
Shirley MacLaine sê voorts: “Die doel van sy geestelike onderrigting was om my die waarheid mee te deel dat ons God is. Ons is net soveel soos hy tot kennis in staat.”—Dancing in the Light, deur Shirley MacLaine.
Vergelyk Genesis 3:5, waar die Slang (Satan) valslik vir Eva gesê het: “God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken.” Diegene wat Goddelike goedkeuring wil geniet, moet enige betrokkenheid by bose en bedrieglike geesskepsele vermy. Die Wet van Moses het gesê: “Begeef julle nie tot die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê nie. Soek hulle nie om julle deur hulle te verontreinig nie. Ek is [Jehovah] julle God.”—Levitikus 19:31.
[Venster op bladsy 9]
“Nog ’n dwelm in ’n verslaafde gemeenskap”?
“DIE New Age-beweging—die nuutste toevoeging tot ons lang geskiedenis van vreemde geestelike giere en wondermiddels—ontlok bespotting en verontwaardigde ontsteltenis. Dit is nie net dat hulle gelowigheid geringag nie, maar ook hulle onbeskaamde kommersialisering wat die vermoede van grootskaalse godsdiensbedrog laat ontstaan. . . .
“Die New Age-beweging probeer meditasie, positiewe denke, geloofsgenesing, . . . die mistiek, joga, waterkure, akupunktuur, wierook, astrologie, Jungiese sielkunde, bioterugvoering, buitesintuiglike waarneming, spiritualisme, . . . die evolusieteorie, Reichiese seksterapie, antieke mitologieë, . . . hipnose en enige ander tegnieke kombineer wat daarop gemik is om bewustheid te verhoog, waaronder elemente wat aan die vernaamste godsdienstradisies ontleen is. . . .
“Die New Age-beweging se plaasvervangers vir godsdiens streel die gewete pleks van gewetenswroeging te veroorsaak. Hulle sentrale lering is dat dit nie saak maak wat jy glo nie solank jy welslae daarmee behaal. ‘Dis waar as jy daaraan glo’: die leuse van die New Age. . . .
“Die vraag is nie of die New Age-beweging se terapieë waarlik werk nie, maar of godsdiens tot terapie verlaag moet word. As godsdiens niks meer as ’n gevoel van geestelike verrukking bied nie, word dit net nog ’n dwelm in ’n verslaafde gemeenskap.”—“The New Age Movement: No Effort, No Truth, No Solutions, Notes on Gnosticism—Part V”, deur Christopher Lasch, Watson-professor in die Geskiedenis aan die Universiteit van Rochester, New York, VSA.
[Prent op bladsy 7]
New Age-kultusse eksperimenteer onder andere met astrologie, telepatie, meditasie en kristalle
[Prent op bladsy 8]
New Age-genesingsmetodes sluit die gebruik van kristalle in