Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 3/8 bl. 10-11
  • Hoe sal die ware nuwe era kom?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe sal die ware nuwe era kom?
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Realistiese oplossing?
  • Die Bybel—’n boek met antwoorde
  • Sal jy daar wees?
  • Wat is die New Age-beweging?
    Ontwaak!—1994
  • Die gewilde New Age-beweging
    Ontwaak!—1994
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1994
  • ’n Nuwe wêreld is ophande!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 3/8 bl. 10-11

Hoe sal die ware nuwe era kom?

DIE New Age-skryfster Shirley MacLaine het ’n baie algemene mening uitgespreek toe sy gesê het: “Ek het gevind dat ek baie gedink het oor wat in die wêreld verkeerd is. Jy kan dit nie vermy as jy die ellende, die hongersnood en die haat sien nie. Toe ek negentien was, het ek begin rondreis, en noudat ek in my middel-veertigerjare is, kan ek objektief sê dat dinge gaandeweg versleg het.”

Oral is mense eweneens moeg vir godsdienshuigelary en -leuens. Hulle voel gefrustreerd oor die nalatigheid en ontoereikendheid van regerings. Hulle is verontrus oor die ongeërgde gesindhede en flaters waarvan hulle in die mediese wêreld bewus geword het. En baie is slagoffers van rassistiese of sekssistiese vooroordeel en verkramptheid.

’n Realistiese oplossing?

Daar bestaan geen twyfel dat ons ’n nuwe wêreld dringend nodig het nie. Maar is die New Age-beweging se verwagtinge realisties? Of is hulle uitbeelding van die toekoms soortgelyk aan Hollywood se wetenskapsrolprente? Is dit verstandig om geloof te stel in profesieë wat op vergete tradisies, antieke mites en bespiegeling gegrond is?

Baie van die idees wat deur die New Age-beweging aangeneem is, kan mense se verstandelike en fisiese welstand weliswaar in ’n beperkte mate verbeter. Goeie voeding sowel as oefening, ontspanning en besorgdheid oor die omgewing is alles heilsame aspekte van die lewe. Mediese dokters sal waarskynlik groter welslae behaal as hulle meer aandag aan siekes se emosionele behoeftes skenk terwyl hulle die fisiese kwale behandel. Maar almal word vroeër of later siek, en selfs die gesondste mense sterf uiteindelik. Ons kan nie die lewe ten volle geniet met die moontlikheid van siekte en die dood wat bo ons kop hang nie. Het New Age-denkers ’n aanneemlike oplossing vir hierdie probleme?

Al hoe meer mense is hartseer en terneergedruk, en die New Age-beweging kan baie min daaraan doen. Die International Herald Tribune van Londen het gesê: “As die 20ste eeu die Era van Angs ingelui het, sien sy einde nou die begin van die Era van Swartgalligheid.” Die koerant het bygevoeg dat die “eerste internasionale studie van ernstige depressie aan die lig bring dat dié toestand wêreldwyd geleidelik toeneem”.

Die New Age-beweging, met sy skyngodsdienstige karakter, vul nie werklik die geestelike leemte wat in die hedendaagse gemeenskap bestaan nie. Die skynbare geestelike verligting wat dit bied, is op sy beste slegs tydelik. Konvensionele godsdiens, veral die Christendom, het ook nie die algemene geestelike hongersnood verlig nie. Een koerant het openlik uitgevaar teen die “onvermoë van die Kerk om diegene te probeer help wat afgesonder, uitgesluit en ongeliefd voel”. Die koerant het hedendaagse godsdiens as oninteressant beskryf en het gesê “dat dit ’n mens van enige gevoel van ’n direkte ontmoeting met God beroof”.

Die Bybel—’n boek met antwoorde

Die Christendom het Bybelwaarhede vervals en afgewater. Baie New Age-leerstellings is eweneens strydig met Bybelleringe. Neem byvoorbeeld die New Age-idee dat mense ’n oplossing vir die aarde se probleme kan voorsien. Die Bybel sê onomwonde in Jeremia 10:23: “Die mens kan nie self sy pad kies nie, niemand kan self sy koers bepaal nie” (NAV). ’n Ander teks sê: “Redding behoort aan Jehovah.”—Psalm 3:8, NW.

Die Bybel leer nie dat mense ’n onsterflike siel het wat as ’n onafhanklike entiteit, apart van die liggaam, leef nie. Volgens die Skrif sterf die siel, en die dood dui die einde van alle denke en bedrywigheid aan (Numeri 23:10, NW; 35:11, NW; Prediker 9:5, 10). Dit skakel die New Age-idee van reïnkarnasie ongetwyfeld uit.

Daarbenewens is kommunikasie met die dooies onmoontlik. Volgens die Bybel is enige beweerde kommunikasie met die dooies eintlik kommunikasie met demone—geesvyande van God en die mensdom. Daarom het God se Wet bepaal dat die beoefening van spiritisme, asook elke vorm van waarsêery, astrologie en mediumskap, ’n halsmisdaad is.—Levitikus 19:31; 20:6, 27; Deuteronomium 18:10-12.

Die Bybel is die bron van ware geestelike genesing. Dit het ’n versameling leringe wat Christene help om met hulle innerlike self in voeling te kom en hulle persoonlikheid te verander (Romeine 12:2; 2 Korinthiërs 13:5; Efesiërs 4:21-24). Dit leer ’n mens om self-gedissiplineerd en gesond van verstand te wees en om respek vir jouself en ander te hê.

Die Bybel stel ons in verbinding met die hoogste mag in die heelal, ons Skepper (Handelinge 17:24-28). Dit toon dat die mensdom die ewige lewe in ’n paradysaarde kan verkry deur geloof in die losprysofferande van sy Seun te beoefen (Romeine 6:23). Dit voorsien bevredigende antwoorde op vrae soos: Waarom laat God soveel lyding toe? Wie is die magtige wesens in die geesteryk? Is hulle verantwoordelik vir baie van die sogenoemde paranormale verskynsels?

Vir die toekoms beloof die Bybel volmaakte gesondheid en die ewige lewe en ’n nuwe wêreld van vrede en harmonie, met ’n skoon omgewing, hier op die aarde (Jesaja 33:24; 2 Petrus 3:13). In daardie nuwe wêreld sal mense ongetwyfeld hulle kennis vermeerder en, onder God se leiding, baie geheime oor die menseliggaam, ons planeet en die res van die heelal ontdek. Dit sal alles deur die mag van Jehovah, ’n God wat die mensdom liefhet, bewerkstellig word.

Sal jy daar wees?

Maar die Bybel leer ook dat hierdie seëninge slegs deur diegene verkry sal word wat in ooreenstemming met God se wette lewe. Hierdie wette is nie onderdrukkend nie. Maar hulle moet gehoorsaam word (Spreuke 4:18, 19; 1 Johannes 5:3). ’n Mens kan nie met onskriftuurlike New Age-gedagtes saamstem en terselfdertyd in die Bybel glo nie.—1 Korinthiërs 3:18-20; 10:18-22; Jakobus 4:4.

Ware Christene vermy dit gevolglik om in die onskriftuurlike denke van die New Age-beweging verstrengel te raak. Goeie oordeel en redelikheid is nodig. Let daarop dat die term “New Age” deesdae algemeen gebruik word vir dinge wat nie by die New Age-beweging ontstaan het nie en wat nie noodwendig onskriftuurlik is nie. Dit geld veral op die gebied van gesondheid, voeding, kuns en musiek. Daarom moet Christene onderskeidingsvermoë en intelligente balans aan die dag lê terwyl hulle seker maak dat hulle wegbly van enigiets wat in die Bybel veroordeel word. Spreuke 14:15 gee gepas hierdie wyse raad: “Die eenvoudige glo elke woord, maar die skrandere let op sy voetstappe.”

Ja, die Bybel is die sleutel tot ware verligting. Ondersteuners van die New Age-beweging se algemene verontagsaming van die Skrif kan slegs meer duisternis vir die wêreld tot gevolg hê. Maar die Bybel voorsien geestelike lig en die hoop op ’n nuwe wêreld soos deur God belowe word: “Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God. En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan. En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut. En Hy het aan my gesê: Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar.”—Openbaring 21:3-5.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel