Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 4/8 bl. 26-28
  • Die piesang—’n merkwaardige vrug

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die piesang—’n merkwaardige vrug
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Piesangplantasies
  • Die groeiproses
  • Van die plantasie na jou tafel
  • Praktiese waarde en voedingswaarde
  • ’n Besoek aan ’n piesangplantasie
    Ontwaak!—2003
  • ’n Heerlike Internasionale vrug
    Ontwaak!—1995
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2003
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—2001
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 4/8 bl. 26-28

Die piesang—’n merkwaardige vrug

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN HONDURAS

IE Grieke en die Arabiere het dit “’n merkwaardige vrugteboom” genoem. Dit is in 327 v.G.J. deur die leërs van Alexander die Grote in Indië aangetref. Volgens ’n ou verhaal het die wysgere van Indië in die skadu daarvan gesit en die vrugte daarvan geëet. Dit is gevolglik al “die vrug van die wyse manne” genoem. Wat is dit? Die piesang natuurlik!

Maar hoe het die piesang van Asië tot in die Karibiese streek gekom? Wel, vroeë Arabiese handelaars het wortels van die piesangplant van Asië na die ooskus van Afrika geneem. In 1482 het Portugese ontdekkingsreisigers piesangplante daar sien groei, en hulle het van die wortels asook die plant se Afrika-naam, banana, na die Portugese kolonies op die Kanariese Eilande geneem. Die volgende stap was ’n reis oor die Atlantiese Oseaan na die Nuwe Wêreld. Dit het in 1516, ’n paar jaar ná die seereise van Columbus, plaasgevind. Die Spaanse sendelinge het piesangplante na eilande in die Karibiese See en na die tropiese Karibiese vasteland geneem. Hierdie merkwaardige vrugteplant moes dus halfpad om die wêreld reis om Sentraal- en Suid-Amerika te bereik.

Na bewering is die piesang vir die eerste keer in 1690 van die Karibiese Eilande na Nieu-Engeland geneem. Puriteine het die vreemde vrug gekook en nie daarvan gehou nie. Maar in Suid- en Sentraal-Amerikaanse lande, sowel as in ander tropiese lande, kook miljoene mense rou, groen piesangs en eet hulle dit met genot.

Piesangplantasies

Tussen 1870 en 1880 het die moontlikheid om piesangs uit te voer verskeie Europese en Noord-Amerikaanse handelaars begin interesseer. Hulle het maatskappye gestig en piesangplantasies, wat fincas genoem is, op die been gebring. Hiervoor moes arbeiders en ingenieurs oerwoude uitkap, paaie bou en treinspoor- en kommunikasiestelsels aanlê. Dorpies is gebou met huise, skole en selfs hospitale vir die arbeiders en hulle gesin. Roetes vir stoomskepe is ingestel om piesangs oor die hele wêreld uit te voer. Namate die bedryf uitgebrei het, het maatskappye meer grond gekoop in lande waar piesangs verbou is.

Vandag voorsien Latyns-Amerikaanse lande meer as 90 persent van die piesangs wat in Noord-Amerika geëet word. Brasilië is die vernaamste uitvoerder. Honduras is sesde op die lys en voer jaarliks meer as ’n miljard kilogram piesangs uit.

Die groeiproses

Die piesangplant is nie ’n boom nie. Dit het geen houtvesels nie. Dit is eerder ’n reusagtige kruid wat soos ’n palmboom lyk. Die klimaat en die aard van die grond bepaal die groei en grootte van die plant. Piesangs groei die beste in ’n warm, vogtige klimaat en floreer in ryk, sanderige leemgrond met goeie dreinering. Vir die beste groei moet die temperatuur nooit laer as 20 grade Celsius daal nie.

Voordat piesangs geoes kan word, moet steggies, wat suiers genoem word, van die ondergrondse stingels van volwasse plante gesny en geplant word. Gate word 30 sentimeter diep en vyf meter uitmekaar gegrawe. Binne drie tot vier weke verskyn daar groen lote waaruit styf opgerolde groen blare uitloop en ooprol namate hulle groei. Piesangplante groei baie vinnig; ongeveer drie sentimeter per dag. Ná tien maande is ’n plant volgroeid en lyk dit soos ’n palmboom wat 3 tot 6 meter hoog is.

Op ’n volgroeide plant groei ’n groot knop met klein, pers blaartjies uit blare wat in ’n bondel toegedraai is. Dan kom trosse blommetjies te voorskyn. ’n Plant dra slegs een tros piesangs wat tussen 30 en 50 kilogram weeg en tussen 9 en 16 bondels piesangs dra. Elke bondel, wat ’n hand genoem word, dra tussen 10 en 20 piesangs. Daarom word piesangs vingers genoem.

Piesangs groei aanvanklik ondertoe, na die grond toe, dan uitwaarts en boontoe om die bekende piesangboog te vorm. Wat van voeding en beskutting tydens die piesangs se groeiproses? ’n Arbeider kom later en verwyder die knop sodat die piesangs al die krag van die plant ontvang. Dan bedek hy die vrugte met ’n poliëtileensak om insekte uit te hou. Aangesien piesangs boontoe groei en baie swaar word, word die plant aan die onderent van naburige plante vasgebind om te voorkom dat winde of die vrugte se gewig die plant laat omval. Laastens word ’n gekleurde lint aan die sak vasgemaak om aan te dui wanneer die vrugte reg sal wees om geoes te word.

Vliegtuie vlieg elke dag oor die plantasie om die plante se blare te bespuit. Dit beskerm hulle hoofsaaklik teen drie siektes. Een is Panama-siekte, waartydens ’n swam sommige plante vernietig. Maar hierdie plante word met soorte vervang wat die siekte kan weerstaan. ’n Ander siekte is Mako-siekte, wat deur bakterieë veroorsaak word. Dit word beheer deur aangetaste plante en enige blomme te verwyder wat sekere insekte lok wat die siekte versprei. Dan is daar Sigatoka-siekte, wat die plant se blare vernietig, maar nie die piesangs beskadig as chemiese spuitmiddels vroeg genoeg gebruik word nie. Piesangs het baie water nodig, wat deur besproeiing en hoëdruksproeierstelsels voorsien word. Daar kan ook bygevoeg word dat gras en onkruid uit die plantasie gehou word.

Van die plantasie na jou tafel

Wanneer die kleur van die lint daarop dui dat die piesangs reg is om geoes te word, word hulle eers gemeet om seker te maak dat hulle die regte grootte is om afgesny te word. ’n Ander belangrike feit is dat piesangs nooit aan die plant gelos word om ryp te word nie, selfs nie eers wanneer dit vir plaaslike gebruik bedoel is nie. Waarom nie? Omdat hulle hulle smaak sal verloor. Voordat daar besluit word wanneer ’n oes ingesamel gaan word, moet die uitvoerafstand en die soort vervoer in ag geneem word. Dan sny ’n arbeider die trosse met sy kapmes af en word dit na die verpakkingsaanleg gestuur. En wat word ná die oes met die piesangplant gedoen? Dit word afgesny om die nuwe plante te bemes wat in die plek daarvan sal groei.

By die verpakkingsaanleg word die piesangs gewas, en enige gekneusde vrugte word verwyder en mag dan deur die arbeiders en hulle gesinne geëet word. Klein piesangs sal gebruik word om geurmiddels en babakos te maak. Die beste piesangs word in hoeveelhede van 18 kilogram in kartonne verpak en in koelkamers op treine en skepe na die buiteland gestuur.

Wanneer dit daar aankom, word die gehalte van die vrugte nagegaan en die temperatuur daarvan gemeet. Wanneer die vrugte eers afgesny is, moet dit groen bly totdat dit by die mark aankom. Aangesien die piesang bederfbaar is, moet dit binne 10 tot 20 dae gepluk, versend en in die winkels verkoop word. Die vrugte word teen 12 tot 13 grade Celsius koel gehou om te voorkom dat dit ryp word. Piesangs kan met moderne vervoer sonder enige probleme van Sentraal- en Suid-Amerika af na selfs Kanada en Europa toe gestuur word.

Praktiese waarde en voedingswaarde

Daar is honderd of meer piesangvariëteite. Die dwergpiesang is die algemene soort en word hoofsaaklik na Europa, Kanada en die Verenigde State uitgevoer. Kleiner soorte, waarvan die vel te dun vir uitvoer is, word in oorvloed in Honduras aangetref. Hierdie piesangs staan bekend as die manzana (Appel) en die Rooi Jamaika.

Piesangblare bevat nuttige vesels en word vir verskillende doeleindes in tropiese lande gebruik. Wanneer ’n mens ’n markplein besoek, sien jy dikwels hope van die blare wat op straat te koop aangebied word om warm tamales, ’n baie gewilde kossoort in talle lande, in toe te draai.

Baie mense in Honduras geniet dit om wildepiesang saam met hulle maaltye te eet. ’n Heerlike gereg aan die noordkus van Honduras word machuca genoem. Om dit te berei, word die groen wildepiesangs in ’n vysel fyngestamp, speserye word bygevoeg en die mengsel word saam met krappe in kokosolie gekook.

In die Verenigde State word daar jaarliks ongeveer 11 miljard piesangs geëet. ’n Groot hoeveelheid gaan na Kanada en na Brittanje en ander Europese lande toe. Watter voedingsvoordele hou dit in om hierdie vrug te eet? Piesangs is ryk aan vitamiene A en C, koolhidrate, fosfor en kalium.

Daar is soveel gebruike vir die piesang! Dit is ideaal in peuselhappies, ontbytgraan, vrugtekelkies, terte, koeke en, natuurlik, die beroemde roomyspiesang. Maar wanneer jy volgende keer ’n ryp piesang eet, kan jy gerus aan die voortreflike eienskappe daarvan dink. Hierdie vrug is in sy eie verpakking. Dit is ryk aan vitamiene en minerale. Ja, en die piesang het moontlik halfpad om die wêreld gekom om jou tafel te bereik.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel