Wanneer die kinderjare ’n nagmerrie is
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SPANJE
Vandag—’n tipiese dag in die negentigerjare—sal 200 duisend kinders in guerrillaoorloë veg, 100 miljoen kinders van skoolgaande ouderdom sal nie skool toe gaan nie, 150 miljoen kinders sal honger gaan slaap, 30 miljoen kinders sal op straat slaap en 40 duisend kinders sal sterf.
AS DIE bogenoemde syfers ontstellend lyk, is die gesiggies wat die syfers verteenwoordig hartverskeurend. Hier volg die kort verhale van vyf kinders wie se wanhopige situasies ons help om die betekenis van hierdie sombere syfers te verstaan.
’n Kindersoldaat. Mohammad is net 13, maar hy is reeds ’n geharde soldaat in Suidwes-Asië, ’n veteraan van sewe gevegte. Hy het bokke opgepas voordat hy—op tien—in die oorlog gaan veg het. Nou dra Mohammad ’n ligte AK-47 aanvalsgeweer wat hy nie aarsel om te gebruik nie. Tydens een skermutseling het hy twee vyandelike soldate op kort afstand doodgeskiet. Toe hy gevra is wat hy daarvan dink om iemand dood te maak, het hy geantwoord: “Ek is bly ek het hulle doodgeskiet.” Kinders is beter soldate, verduidelik sy offisier, “want hulle is nie bang nie”.
’n Kinderwerker. Die vierjarige Woodcaby woon in ’n sintelsteenhuis op ’n Karibiese eiland. Hy staan teen 6:00 vm. op om sy daaglikse huiswerk te doen: hy kook, gaan haal water en maak sy baas se huis skoon. Hy kry geen betaling nie en sal waarskynlik nooit skool toe gaan nie. Woodcaby sê hy verlang na sy ouers, maar hy weet nie waar hulle is nie. Sy dag eindig om 9:30 nm., en as hy gelukkig is, sal hy nie honger gaan slaap nie.
’n Honger kind. In die Afrika-dorpie Comosawha trek ’n 11-jarige meisie elke vermoeiende dag gras uit. Die knolhawergras—feitlik al wat in die dor grond kan groei—help om haar en haar gesin aan die lewe te hou. Die bolle word óf gekook óf fyngemaak en dan gebraai. ’n Dodelike kombinasie van droogte en burgeroorlog het die dorpsbewoners op die rand van hongersnood gebring.
’n Straatkind. Edison is net een van die duisende straatkinders in ’n groot Suid-Amerikaanse stad. Hy verdien ’n bietjie geld deur skoene te poets, en hy slaap op die sypaadjie naby die bushalte saam met ander kinders wat gedurende die koue nagte styf teen mekaar lê. Soms maak hy hom aan geringe diefstal skuldig om sy inkomste as skoenpoetser aan te vul. Die polisie het hom al twee keer slae gegee, en hy het al drie maande in die tronk deurgebring. Edison hou vol dat hy nou al “amper” opgehou het om dwelms te misbruik en gom te snuif. Sy droom is om eendag ’n werktuigkundige te word, om ’n ambag te leer.
Die dood van ’n kind. Dit is ’n koue, nat oggend op Dugenberg in die Midde-Ooste. ’n Kindjie, in ’n grafdoek toegedraai, word in ’n vlak graffie gelê. Die baba het gesterf aan diarree—’n algemene oorsaak van sterfgevalle onder kindertjies. Die ma is ’n vlugteling, en haar melk het tydens hulle uitputtende tog na veiligheid opgedroog. Uit radeloosheid het sy haar kind suiker en water gevoer, maar die water was besmet en die baba het gesterf. Soos 25 000 ander kinders wat daardie selfde dag begrawe is, het hy nooit sy eerste verjaarsdag bereik nie.
As hierdie tragiese verslae duisende kere vermenigvuldig word, illustreer dit watter soort lewe baie van die wêreld se kinders lei. Die kinderjare, ’n tyd om in die veiligheid van ’n liefdevolle gesin te leer en te ontwikkel, het vir hierdie kinders ’n nagmerrie geword waaruit baie van hulle nooit sal wakker word nie.
Peter Adamson, redakteur van die verslag The State of the World’s Children, het in 1990 gesê: “Die dood en lyding op hierdie skaal is net nie meer nodig nie; dit is gevolglik nie meer aanvaarbaar nie. Die mens het die vermoë en dus die morele verpligting om die situasie reg te stel.”
[Foto-erkenning op bladsy 3]
Photo: Godo-Foto