Wat jou gesondheid beinvloed—Wat jy kan doen
GESONDHEID kan nie soos rys of meel deur ’n noodlenigingswerker uitgedeel word nie. Dit kom nie in ’n sak nie, aangesien dit nie ’n handelsartikel is nie, maar wel ’n toestand. “Gesondheid”, sê die WGO (Wêreldgesondheidsorganisasie), “is ’n toestand van volkome fisiese, verstandelike en sosiale welstand.” Maar wat bepaal die graad van daardie welstand?
’n Beskeie huis word dalk gebou deur planke, spykers en sinkplate te gebruik, maar die verskillende dele word dikwels deur vier hoekpale gestut. Ons gesondheid word eweneens deur baie dinge beïnvloed, maar almal hou verband met vier “hoekpaal”-invloede. Dit is (1) gedrag, (2) omgewing, (3) mediese sorg en (4) biologiese samestelling. Net soos jy jou huis kan versterk deur die gehalte van die hoekpale te verbeter, kan jy ook jou gesondheid verbeter deur die gehalte van hierdie invloedryke faktore te verbeter. Die vraag is: Hoe kan dit met beperkte middele gedoen word?
Jou gedrag en jou gesondheid
Van die vier faktore het jy die meeste beheer oor jou gedrag. Om dit te verbeter, kan help. Armoede beperk weliswaar die veranderings wat jy in jou dieet en gewoontes kan aanbring, maar deur die keuses te benut wat wel beskikbaar is, kan jy ’n wesenlike verskil maak. Let op die volgende voorbeeld.
’n Moeder kan gewoonlik kies of sy haar baba wil borsvoed of met ’n bottel wil voed. Borsvoeding, sê die Verenigde Nasies-kinderfonds, is “fisies sowel as ekonomies die beste keuse”. Moedersmelk, sê deskundiges, is “die heel beste gesondheidskos”, aangesien dit die baba “presies die regte konsentrasies proteïene, vet, laktose, vitamiene, minerale en spoorelemente [gee] wat vir harmoniese groei nodig is”. Borsmelk vervoer ook siektebestrydende proteïene, of teenliggaampies, van die moeder na die baba, en dit gee die kindjie ’n goeie begin om siekte te beveg.
Borsvoeding is veral in tropiese lande met swak sanitêre toestande die beste. Borsmelk, anders as bottelmelk, kan nie oorverdun word om geld te bespaar nie, kan nie verkeerd voorberei word nie en word altyd in ’n skoon houer bedien. Daarenteen “is ’n baba wat in ’n arm gemeenskap met ’n bottel gevoed word se kanse ongeveer 15 keer groter om aan diarree te sterf en vier keer groter om aan longontsteking te sterf as ’n baba wat net geborsvoed word”, sê Synergy, ’n nuusbrief van die Kanadese Genootskap vir Internasionale Gesondheid.
Dan is daar die ekonomiese voordeel. In die ontwikkelende wêreld is poeiermelk duur. In Brasilië kan dit byvoorbeeld een vyfde van ’n arm gesin se maandelikse inkomste kos om ’n baba met ’n bottel te voed. Die geld wat gespaar word deur te borsvoed, kan gesonder maaltye aan die hele gesin verskaf—met inbegrip van die moeder.
Met al hierdie voordele sou jy verwag dat borsvoeding uiters gewild behoort te wees. Tog berig gesondheidswerkers in die Filippyne dat borsvoeding daar “ernstig deur uitwissing bedreig” word, en ’n studie in Brasilië het getoon dat ’n “gebrek aan borsvoeding” een van die hooffaktore is wat verband hou met kindertjies wat aan respiratoriese infeksie sterf. Maar jou baba kan daardie lot vryspring. Jy het ’n keuse.
Moeders se pogings om hulle babas se gesondheid te beskerm, word egter dikwels deur die ongesonde gedrag van ander gesinslede ondermyn. Neem byvoorbeeld een moeder in Nepal. Sy woon in ’n klam vertrek met haar man en driejarige dogtertjie. Die vertrekkie, skryf die tydskrif Panoscope, is met kombuis- en tabakrook gevul. Die kind ly aan ’n respiratoriese infeksie. “Ek kan my man nie keer om te rook nie”, sug die moeder. “Ek koop nou sigarette vir my man en medisyne vir my kind.”
Ongelukkig word haar dilemma algemener namate al hoe meer mense in die ontwikkelende lande hulle broodnodige inkomste mors deur te begin rook. Trouens, vir elke roker wat in Europa of in die Verenigde State ophou rook, begin twee mense in Latyns-Amerika of in Afrika rook. Misleidende advertensies, sê die Nederlandse boek Roken Welbeschouwd, dra baie van die skuld. Slagspreuke soos: “Varsity: vir daardie heerlike, helder gevoel” en “Gold Leaf: baie belangrike sigarette vir baie belangrike mense” oortuig die armes daarvan dat rook met vooruitgang en welvaart verband hou. Maar die teenoorgestelde is waar. Dit vermors jou geld en benadeel jou gesondheid.
Dink hieraan. Elke keer as iemand ’n sigaret rook, verkort hy sy verwagte lewensduur met tien minute en verhoog hy die risiko van ’n hartaanval en beroerte, sowel as long-, keel- en mondkanker, en ander siektes. Die tydskrif UN Chronicle sê: “Tabakgebruik is die grootste enkele voorkombare oorsaak van vroeë dood en ongeskiktheid in die wêreld.” Let asseblief op dat dit “voorkombare oorsaak” sê. Jy kan jou laaste sigaret dooddruk.
Daar is natuurlik nog baie gedragskeuses wat jou gesondheid beïnvloed. Die venster wat op bladsy 11 van hierdie artikel verskyn, gee ’n lys van die leesstof wat jy in die biblioteek van ’n Koninkryksaal van Jehovah se Getuies kan lees. Dit verg weliswaar inspanning om op hoogte van sake te kom. ’n WGO-amptenaar sê nietemin: “Jy kan nie gesondheid hê sonder die betrokkenheid van mense wat oor hulle gesondheidstoestand ingelig en onderrig is nie.” Volg dus hierdie gratis wenk om jou gesondheid te bevorder: Onderrig jouself.
Gesondheid en die huislike omgewing
Die omgewing wat jou gesondheid die meeste beïnvloed, sê die boek The Poor Die Young, is jou huis en jou buurt. Jou omgewing kan ’n gesondheidsrisiko wees as gevolg van die water. Infeksies, velsiektes, diarree, cholera, disenterie, ingewandskoors en ander kwale word veroorsaak deur onvoldoende en onveilige water.
As jy maar net ’n kraan hoef oop te draai om jou hande te was, kan dit vir jou moeilik wees om te begryp hoeveel tyd mense, wat nie lopende water in hulle huise het nie, daagliks daaraan bestee om water te kry. Dikwels gebruik meer as 500 mense een kraan. Dit veroorsaak ’n gewag. Maar mense met ’n lae inkomste werk lang ure, en ’n gewag, sê die boek Environmental Problems in Third World Cities, “neem tyd in beslag wat gebruik kon word om ’n inkomste te verdien”. Dit is geen wonder nie dat ’n gesin van ses tyd sal probeer spaar deur dikwels minder water huis toe te dra as die 30 emmers wat elke dag vir ’n gesin van daardie grootte nodig is. Maar dan is daar te min water om kos, skottelgoed en klere te was en om na persoonlike higiëne om te sien. Dit lei tot toestande wat op hulle beurt luise en vlieë lok en die gesin se gesondheid in gevaar stel.
Dink aan hierdie situasie. As jy op ’n fiets staatmaak om jou verafgeleë werk te bereik, sou jy dit as ’n verlies beskou om elke week ’n bietjie tyd te gebruik om die ketting te olie, die remme te verstel of ’n speek te vervang? Nee, want jy besef dat, selfs al wen jy ’n paar uur nou deur die instandhouding te verwaarloos, jy later ’n hele dag se werk kan verloor wanneer jou fiets breek. Jy sal dalk eweneens elke week ’n paar uur en ’n bietjie geld spaar as jy nie genoeg water gaan haal om jou gesondheid in stand te hou nie, maar later kan jy baie dae en geld verloor wanneer jou gesondheid weens swak instandhouding ingee.
Om genoeg water te gaan haal, kan ’n gesinsprojek word. Hoewel plaaslike kultuur dalk voorskryf dat die moeder en kinders die waterdraers is, sal ’n liefdevolle vader nie huiwer om sy spierkrag te gebruik om water te gaan haal nie.
Nadat die water by die huis aankom, ontstaan daar egter ’n tweede probleem—hoe om dit skoon te hou. Gesondheidsdeskundiges raai ons aan: Moenie drinkwater en water wat vir ander doeleindes gebruik word op dieselfde plek hou nie. Maak altyd die houer toe met ’n deksel wat dig pas. Laat die water ’n ruk staan sodat die onsuiwerhede kan afsak. Moenie met jou vingers aan die water raak wanneer jy dit uitskep nie, maar gebruik ’n skoon beker met ’n lang handvatsel. Maak die waterhouers gereeld met ’n verdunde bleikmiddel skoon, en spoel hulle daarna met skoon water uit. En reënwater? Dit is beslis ’n goeie slag (mits dit reën!), en dit kan veilig wees as daar geen vuilgoed saam met die reënwater in die opgaartenk spoel nie en as die tenk teen insekte en knaagdiere en ander diere beskerm word.
As jy twyfel of die water veilig is, stel die WGO voor dat jy ’n middel byvoeg wat chloor vrystel, soos natriumhipochloriet of kalsiumhipochloriet. Dit werk, en dit is goedkoop. In Peru kos hierdie metode ’n gemiddelde gesin byvoorbeeld minder as sewe rand per jaar.
Gesondheid en gesondheidsorg
Dikwels sien die armes net twee soorte gesondheidsorg: (1) beskikbaar maar nie bekostigbaar nie en (2) bekostigbaar maar nie beskikbaar nie. Donna Maria, een van Sao Paulo se bykans 650 000 krotbewoners, verduidelik die eerste soort: “Goeie gesondheidsorg is vir ons soos ’n artikel in ’n vertoonvenster in ’n luukse winkelsentrum. Ons kan daarna kyk, maar dit is buite ons bereik” (Die tydskrif Vandaar). Donna Maria woon nou wel in ’n stad waar hospitale hartomleidingsoperasies, oorplantings, rekenaartomografiese ondersoeke en ander hipertegnologiese medisyne aanbied. Maar sy kan hierdie dinge nie bekostig nie.
As onbekostigbare gesondheidsorg soos ’n luukse artikel in ’n winkelsentrum is, dan is bekostigbare gesondheidsorg meer soos ’n goedkoop artikel wat honderde stampende kopers tegelykertyd in die hande probeer kry. ’n Onlangse nuusberig in ’n Suid-Amerikaanse land het gesê: ‘Die siekes staan twee dae lank tou om ’n dokter te sien. Daar is geen plek nie. Openbare hospitale het nie geld, medisyne en kos nie. Die gesondheidsorgstelsel is in ’n treurige toestand.’
Om hierdie swak gesondheidsorg vir die massa te verbeter, het die WGO sy werk geleidelik van siektebeheer na gesondheidsbevordering verskuif deur mense aangaande voorkoming en beheer van siektes te leer. Programme wat primêre gesondheidsorg bevorder, soos behoorlike voeding, veilige water en basiese sanitasie, skryf die UN Chronicle, het gelei tot “’n aansienlike verbetering in wêreldgesondheid”. Vind jy by hierdie programme baat? Jy vind dalk by een baat. Watter een? UIP (Uitgebreide Immunisasieprogram).
“Die inenter het die posman as die bekendste besoeker aan huise en gehuggies vervang”, sê ’n berig oor UIP. Gedurende die laaste dekade is mense van die Amasone tot die Himalajas ingeënt, en teen 1990, het die WGO berig, is 80 persent van die wêreld se kindertjies teen ses dodelike siektes ingeënt.a UIP red jaarliks die lewens van meer as driemiljoen kinders. Nog 450 000 wat dalk gebreklik sou wees, kan loop, hardloop en speel. Om siektes te voorkom, neem baie ouers dus die persoonlike besluit om hulle kinders te laat inent.
Soms kan jy nie ’n siekte voorkom nie, maar jy kan dit dalk nog beheer. “Daar word geraam dat baie meer as die helfte van alle gesondheidsorg”, sê die tydskrif World Health, “selfversorging is of versorging wat deur die gesin voorsien word.” Een vorm van sulke selfversorging is ’n eenvoudige, goedkoop mengsel van sout, suiker en skoon water wat mondelike rehidrasieoplossing (MRO) genoem word.
Baie gesondheidsdeskundiges beskou mondelike rehidrasieterapie, wat die gebruik van MRO insluit, as die doeltreffendste behandeling vir dehidrasie weens diarree. Indien dit wêreldwyd gebruik word om die 1,5 miljard voorvalle van diarree wat jaarliks in ontwikkelende lande voorkom te beheer, kan ’n klein pakkie MRO-sout, wat net tien sent kos, die lewens red van baie van die 3,2 miljoen kinders wat elke jaar aan diarreiese siektes sterf.
Dit kan, maar die gebruik van antidiarreïese geneesmiddels in party lande, sê die Essential Drugs Monitor, ’n WGO-nuusbrief, is nog “baie algemener as die gebruik van MRO”. In party ontwikkelende lande word geneesmiddels byvoorbeeld drie keer meer dikwels as MRO gebruik om diarree te behandel. “Hierdie onnodige gebruik van geneesmiddels is baie duur”, sê die nuusbrief. Arm gesinne moet dalk selfs kos daarvoor verkoop. Bowendien waarsku die nuusbrief dat antidiarreïese geneesmiddels geen beproefde praktiese waarde het nie, en party is gevaarlik. “Dokters behoort nie sulke geneesmiddels voor te skryf nie, . . . en gesinne behoort dit nie te koop nie.”
Die WGO stel eerder die volgende behandeling vir diarree voor as om geneesmiddels voor te skryf. (1) Voorkom dehidrasie deur die kind meer vloeistowwe, soos ryswater of tee, te gee. (2) As die kind nog verder dehidreer, moet jy ’n gesondheidswerker na hom laat kyk en die kind met MRO behandel. (3) Voer die kind op die normale manier gedurende en ná die tyd wat hy diarree het. (4) As die kind erg gedehidreer is, moet hy deur aarvoeding gerehidreer word.b
As jy nie voorafverpakte MRO kan kry nie, moet jy hierdie eenvoudige resep noukeurig volg: Meng een gelykvol teelepel tafelsout, agt gelykvol teelepels suiker en een liter (vyf koppies van 200 milliliter elk) skoon water. Gee een koppievol vir elke los stoelgang, die helfte daarvan vir klein kindertjies. Sien die venster op bladsy 10 vir meer inligting hieroor.
Maar wat van faktor nommer vier, ons biologiese samestelling? Hoe kan dit beïnvloed word? Die volgende artikel bespreek daardie vraag.
[Voetnote]
a Die ses siektes is witseerkeel, masels, polio, klem-in-die-kaak, tuberkulose en kinkhoes. Die WGO beveel aan dat hepatitis B, wat die lewens van baie meer mense eis as wat nou deur vigs geëis word, ook by immunisasieprogramme ingesluit word.
b Knyp die kind se maagvel. As die vel langer as twee sekondes neem om na die normale toestand terug te keer, is die kind dalk erg gedehidreer.
[Venster op bladsy 8, 9]
PRIMÊRE GESONDHEIDSORG—HOE WERK DIT?
Om die antwoord op hierdie vraag te vind, het Ontwaak! met dr. Michael O’Carroll, ’n WGO-verteenwoordiger in Suid-Amerika, gesels. Hier volg ’n paar uittreksels.
‘ONS het ’n gesondheidsorgstelsel geërf wat op ’n mediese benadering van gesondheid gebaseer is. As jy siek is, gaan jy na ’n dokter toe. Vergeet die feit dat jy twee bottels whisky gedrink het. Vergeet dat jy nooit oefening doen nie. Jy sien die dokter en sê: “Dokter, maak my gesond.” Dan sit die dokter iets in jou mond, steek iets in jou arm, sny iets af of sit iets aan. Hier praat ek nou grof, soos jy sal verstaan, net om my punt duidelik te maak, maar hierdie soort mediese benadering is iets algemeens. Ons het die samelewing se probleme verkeerdelik mediese probleme gemaak. Selfmoord, wanvoeding en dwelmmisbruik het mediese probleme geword. Maar hulle is nie. Hulle is nie eers gesondheidsprobleme nie. Hulle is sosiale probleme met gesondheids- en mediese gevolge.
‘Toe, gedurende die laaste 20 jaar, het mense gesê: “Wag ’n bietjie. Ons doen dinge op die verkeerde manier. Ons moet weer duidelikheid kry oor wat gesondheid eintlik is.” Sommige beginsels wat die grondslag van die primêre gesondheidsorg-benadering vorm, het ontstaan, soos:
‘Dit is mensliker en op die lange duur lonender om siekte te voorkom as om dit te behandel. Dit is byvoorbeeld in stryd met hierdie beginsel om ’n kliniek te bou om opehartoperasies te doen as jy niks omtrent die oorsake doen nie. Dit beteken nie dat jy nie siektes behandel as hulle ontstaan nie. Natuurlik doen jy dit. As daar ’n gat in die pad is wat elke dag van die week ongelukke veroorsaak, sal jy die arme man behandel wat val en sy bene breek, maar die mensliker en lonender ding om te doen is: Vul die gat op.
‘Nog ’n beginsel is om jou gesondheidshulpbronne doeltreffend te gebruik. Dit is in stryd met hierdie beginsel om iemand na ’n kliniek toe te stuur vir ’n probleem wat tuis behandel kan word. Of om iemand na ’n gesofistikeerde hospitaal toe te stuur om ’n probleem reg te stel wat in ’n kliniek versorg kon word. Of om ’n dokter, wat tien jaar lank by ’n universiteit opgelei is, uit te stuur om inenting te doen terwyl iemand wat ses maande lank opgelei is dieselfde werk kan doen. Wanneer daardie dokter die werk waarvoor hy opgelei is, moet verrig, moet hy beskikbaar wees. Dit is wat primêre gesondheidsorg ons vertel: Onderrig die mense, voorkom siektes en gebruik julle gesondheidshulpbronne wyslik.’
[Venster op bladsy 10]
NOG ’N MRO VIR CHOLERA
Die WGO beveel nou aan dat MRO (mondelike rehidrasieoplossing) met ’n rysbasis, in plaas van die gewone MRO met ’n glukosebasis, gebruik word om cholera-pasiënte te behandel. Studies toon dat cholera-pasiënte wat met MRO met ’n rysbasis behandel is 33 persent minder stoelgange en korter periodes van diarree gehad het as cholera-pasiënte wat gewone MRO gegee is. Een liter MRO met ’n rysbasis word gemaak deur die 20 gram suiker met 50 tot 80 gram gekookte ryspoeier te vervang.—Essential Drugs Monitor.
[Venster op bladsy 11]
VERDERE LEESSTOF OOR . . .
Gedrag: “Goeie gesondheid—Wat kan jy daaromtrent doen?” (Ontwaak!, 8 Desember 1989). “Tabak en jou gesondheid—Is daar werklik ’n verband?” (Ontwaak!, 8 Julie 1989). “Help die kinders om te bly lewe!” (Ontwaak!, 22 September 1988). “Wat alkohol aan jou liggaam doen”—Ontwaak!, 8 Julie 1980.
Omgewing: “Bied die uitdaging van sindelikheid die hoof” (Ontwaak!, 22 September 1988). “Bly skoon, bly gesond!”—Ontwaak!, 22 Januarie 1978.
Gesondheidsorg: “Ander lewensreddende maatreëls” (Ontwaak!, 22 September 1988). “’n Soutdrankie wat lewens red!”—Ontwaak!, 22 September 1985.
[Prent op bladsy 7]
Om water te gaan haal, verg ’n gewag en werk
[Erkenning]
Mark Peters/Sipa Press
[Prent op bladsy 9]
Genoeg veilige water—noodsaaklik vir goeie gesondheid
[Erkenning]
Mark Peters/Sipa Press