Bloeiers ontvang besmette bloed
BLOED het ’n bedryf met ’n jaarlikse omset van sesmiljard rand geword. Die najaging van winste uit hierdie bedryf het in Frankryk tot ’n reusetragedie gelei. HIV-besmette bloed het die dood van 250 bloeiers weens vigs-verwante siektes tot gevolg gehad, met nog honderde wat besmet is.—The Boston Globe, 28 Oktober 1992, bladsy 4.
’n “Onheilige vereniging” van mediese nalatigheid en kommersiële hebsug het tot die dood van ongeveer 400 Duitse bloeiers gelei, met ten minste 2000 bykomende bloeiers wat met HIV-besmette bloed besmet is.—Guardian Weekly, 22 Augustus 1993, bladsy 7.
Kanada het sy eie bloedskandaal gehad. Daar word geraam dat meer as 700 Kanadese bloeiers met HIV-besmette bloed behandel is. Die regering is in Julie 1984 gewaarsku dat die Rooi Kruis vigs-besmette bloed aan Kanadese bloeiers gegee het, maar die besmette bloedprodukte is eers ’n jaar later, in Augustus 1985, aan die mark onttrek.—The Globe and Mail, 22 Julie 1993, bladsy A21, en The Medical Post, 30 Maart 1993, bladsy 26.
Op 21 April 1993 het ’n Reuters-berig uit Madrid, Spanje, gesê dat Spanje, volgens die Gesondheidsdepartement, vergoeding sou betaal aan 1147 bloeiers wat gedurende die tagtigerjare weens bloed- en plasmaoortappings met die vigs-virus besmet is. Meer as 400 bloeiers het reeds vigs gekry en gesterf.—The New York Times, 22 April 1993, bladsy A13.
Teen die einde van 1982 het die Sentrums vir Siektebeheer die NHF (nasionale hemofiliestigting) begin waarsku teen die gevare van die bloedstollingsfaktor VIII—een oortapping hiervan kan ’n konsentraat van 20 000 bloedskenkers wees, waarvan net een skenker vigs hoef te hê om die inspuiting te besmet. ’n Ernstiger waarskuwing is in Maart 1983 uitgereik, maar in Mei van daardie jaar het die NHF ’n bulletin met die volgende opskrif uitgestuur: “NHF dring daarop aan dat die stollingsfaktor steeds gebruik word.” Teen daardie tyd het die sterftesyfer al toegeneem, en duisende lewens is steeds in gevaar gestel. Hierdie stollingsfaktor was nie noodsaaklik vir die oorlewing van bloeiers nie; daar was ander behandelingsmetodes beskikbaar. Duisende lewens kon gered geword het. Teen 1985 het medisynemaatskappye gevind dat die faktor veilig gemaak kon word deur dit te verhit. Selfs toe is die onverhitte faktor wat in voorraad was steeds verkoop.—Dateline NBC, 14 Desember 1993.
[Foto-erkenning op bladsy 31]
CDC, Atlanta, Ga.